Orde uit chaos

 

What is the deepest root of your joy? What God gives to you? Or what God is to you? – John Piper

 

Orde uit chaos

Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters (Genesis 1:2). Chaos. Eers daarna lees ons die bekende: Laar daar … wees. Die wêreld begin met chaos en donkerte. Hier leer ons dus twee baie belangrike waarhede.

 

  1. Die woord bring orde uit die chaos

Toe God alles gemaak het, het Hy met ‘n vormlose vakuum begin en het dit toe met sy woord gevorm. Daarmee wys Hy vir ons dat ons lewens ‘n vormlose vakuum is totdat God se woord vrede, en skoonheid en orde bring. Die teenoorgestelde is ook waar: as God se woord uit ons lewens padgee, verval dit weer in chaos. As God se woord verwerp word, verander orde in wanorde, lig word duisrternis.

 

Sonde skeur die skepping uitmekaar. God se woord skep; sonde breek af – elke keer. Sonde sit donkerte in ons harte. Maar hierdie muntstuk het ook ‘n teenkant.

 

  1. Die woord sal eendag herstel wat sonde vernietig het

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was God self … Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense (Johannes 1:1, 2 – 3).

 

Jesus, die Woord, kom die donker, sonde-gevulde, chaotiese wêreld binne. Hy bring lewe en lig. Jesus doen dit deur sy bediening; Hy genees siekes; Hy open die oë van blindes; Hy laat lammes weer loop. Jesus verdryf enige duisternis in die wêreld met laat daar lig wees.

 

Is jou lewe deur sonde vernietig? Draai na Christus, want Hy maak dinge weer nuut. Jou lewe mag chaoties lyk, maar as God alles uit niks uit kan skep, kan Hy sekerlik alles in jou herskep. Hy doen die gereeld – aanmekaar.

 

 




Die Psalms: Inleiding (2)

 

What does love look like? It has hands to help others. It has the feet to hasten to the poor and needy. It has eyes to see misery and want. It has the ears to hear the sighs and sorrows of men. That is what love looks like – Augustinus

 

Die Psalms: Inleiding (2)

In die oorspronklike Hebreeus beteken psalm ‘n lied. Om te sing is eie aan die mens. En tog: die lied van Israel is anders as dié van byvoorbeeld sy buurlande. Dit het nie oorspronklik ‘n besondere godsdienstige betekenis gehad nie, want vir die Jode het die hele lewe aan God behoort. Hy het immers die lewe aan almal gegee. Tog is al die psalms of aan God gerig of  praat van die liefdevolle wil en doel van God. Party is klagtes uit die hart gerig aan God. Ander is baie persoonlike sondebelydenisse waar die skrywer duidelik aantoon hoe die sonde hom van God vervreem het. Ander is lofprysings waar die digter hom verwonder aan die genade van God. Sommige is klaarblyklik op ‘n siekbed geskryf. Ander is geskryf in die skadu van die dood. Sommige is liedere vergelykbaar met ons moderne vorm van liedskrywing. Sommige kyk terug na die geskiedenis van Israel en God se liefdevolle hantering van sy volk oor baie eeue heen. Dit lei dikwels tot ‘n verklaring van geloof in die toekoms. Ander het te doen met die koning, wat ‘n baie spesiale plek in die geskiedenis van Israel beklee het. Ander beskryf die prag en betekenis van Jerusalem – die heilige stad. Dit is daar waar die koning regeer en dit is vandaar waar, eendag in die toekoms, die Koning sal kom wat oor die hele wêreld sal regeer. Ander verbly hul in die Wet as God se geskenk aan die wêreld – die lig op die pad van die gelowige. Ander staan in eerbied voor die wonder van die natuur, die donderstorm, die aardbewing, die migrasie van die voëls, die indrukwekkende seders van Libanon.

 

Die hele spektrum van die mens se ervaringsveld kom in die Psalms tot uiting. Die skrywers stort hul ware gevoelens uit en skets vir ons die dinamiese, kragtige en lewensveranderlike verhouding wat hul met God het. Hul bely hul sondes, hul gee uiting aan hul twyfel en vrees, hul vra God se hulp in tye van nood en hul prys en loof Hom. Alle psalms erken alles is en bly in die hand van God. Omdat dit so ‘n eerlike boek is, kom mense deur die eeue steeds daarheen terug vir troos in tye van nood en beproewing. Saam met die psalmdigters word hul uit wanhoop tot blydskap opgehef as hul die krag van God se ewige liefde en vergifnis ontdek.

 

 




Tematiese studie van die Bybel

 

Either we trust God by affirming all his revealed wisdom, or we play God by deciding what he got wrong. – John Piper

 

Tematiese studie van die Bybel

Hierdie is ‘n verdere blog van Mel Lawrenz oor hoe om die Bybel te lees.

Soms lees ons die Bybel soos ons deur die Kruger Wildtuin ry –  ons ontdek soos ons ry. Ander kere soek ons vir spesifieke temas of onderwerpe. Hoe doen ons so ‘n tematiese studie? Hoe kry ons die sleutelgedeeltes wat ‘n spesifieke tema dek?

 

Lawrenz beskryf vyf stappe. Hy gebruik die doop as ‘n voorbeeld.

  1. Kry die gedeeltes

Maak ‘n verwysing na al die Bybelse verwysing na ons onderwerp. Ons kan kyk na die woord doop in ‘n konkordansie of  in ‘n digitale soekfunksie (soos Biblegateway.com). Ons moet ook na woorde verwant aan doop kyk. Nou maak ons ‘n lys van al die gedeeltes. Skakel die gedeeltes wat nie met die kernbetekenis van doop verband hou nie, uit.

 

  1. Verstaan die onderwerp/tema in konteks

As jy in die Wildtuin kom en jy kry waarna jy soek, kyk jy nie vinnig en ry verder nie. Jy bestudeer dit. Dit is nie genoeg om die gedeeltes te kry nie – jy moet hulle bestudeer en hulle betekenis in konteks verstaan. Jy moet dus die verse om die vers wat oor doop praat bestudeer – waarskynlik die hele hoofstuk. Maak dan ‘n voorlopige gevolgtrekking oor die betekenis van die konsep in daardie besondere  gedeelte. Maak nota’s. Gaan na ‘n kommentaar en lees wat dit oor daardie gedeelte sê. Dit doen jy vir elke gedeelte.

 

  1. Vergelyk die verskillende gedeeltes

Jy het nou al die gedeeltes en jy verstaan die betekeenis in die konteks. Nou moet jy die verskillende gedeeltes vergelyk. Nou sien ons gedeeltes waar doop verwys na water en gedeeltes waar dit  as ‘n beeld gebruik word.

 

  1. Sintetiseer die kernkonsepte

Ons moet nou die idees bymekaar sit. Hier moet ons nou diep dink en bid.. Moenie haastig wees nie. Soek vir verbindings tussen die verskillende gedeeltes. Ons voeg nou gedeeltes bymekaar volgens hulle tipe. So beskryf Handelinge wat in die vroeë Christelike kerk gebeur het. Paulus vertel ons van die teologie van doop. Sintese beteken ons vergelyk gedeeltes in soortgelyke kontekste. Maak nota’s oor die belangrikste subtemas. Ons let op idees wat herhaal word; ons let op idees wat net een maal vermeld word. Hierdie stap moet ons entoesiasties maak, want ons sien dinge wat ons nie vantevore gesien het nie.

 

  1. Maak gevolgtrekkings

As jy met ‘n tematiese studie begin het jy gewoonlik ‘n vraag in gedagte. Dit is dalk iets soos “wat beteken die doop?” Jou gevolgtrekkings is die antwoord op jou oorspronklike vraag. Op hierdie stadium kan jy ook na ‘n woordeboek of ensiklopedie van die Bybel kyk. Jy mag dalk net verdere aspekte leer of jy mag uitvind jy het nie die onderwerp verstaan nie. Dit is deel van die proses.

 

Om duidelikheid oor die groot idees van die Skrif te kry, is ‘n bevredigende ondervinding wat jou geloof bou. Ons vind dikwels dat as ons die antwoord op een vraag kry nuwe vrae na vore kom. Geen probleem nie. Die ontdekking van die waarhede in die Bybel is ‘n lewenslange proses.

 

 




Sosiale Geregtigheid

Sunshine is delicious, rain is refreshing, wind braces us up, snow is exhilarating; there is really no such thing as bad weather, only different kinds of good weather. -John Ruskin

 

Sosiale Geregtigheid

Daar was ‘n sterk neiging in baie kerke na sosiale geregtigheid. Natuurlik is dit ‘n goeie ding, maar baie van die benaderings het ‘n sterk politieke ondertoon gehad. In die dae van die fundamentalisme het sosiale geregtigheid heeltemal van die tafel afgeval.

 

Wat is sosiale geregtigheid? Scot McKnight sê dat dit drie groot idees behels.

  1. Die woord geregtigheid kry ons dwarsdeur die Ou Testament en in die Nuwe Testament. Die woorde wat gebruik word om geregtigheid te beskryf, verwys na God wat regverdig is, na God wat sy wil aan die mense openbaar na God se mense wat sy wil uitleef. Die regverdige persoon, is die persoon wat God se wil uitleef – en sy wil is omvattend.
  2. In klassieke Grieks verwys die woord regverdig na ‘n deug van iemand wie se karakter gevorm is deur te lewe wat uitgeleef word in die lig van die wette – ‘n lewe geleef vir die gemeenskaplike welstand van die mense.
  3. Vandag is die betekenis van die woord nie meer so duidelik nie. In hulle boek Social Justice Isn’t What you Think it is, sê Michael Novak en Elizabeth Shaw dat daar ses verskillende gebruike van sosiale geregtigheid in die sekulêre wêreld is:
  • Die regverdige verdeling van voor- en nadele. Dit vereis ingryping deur die regering.
  • Wie besluit wat dit is? Hoe kan dit bereik word?
  • Die gemeenskaplike welstand. Hier val die klem op geleenthede.
  • Die progressiewe agenda. Hierdie is aktiviste vir groter regeringsingrype en groter spandering aan hulle gunsteling sake.
  • Nuwe burgerregte soos geslag, seks en reproduksie.

 

Novak se gevolgtrekking is dat sosiale geregtigheid se spesifieke karakter sosiaal is op twee maniere:

  • Die vaardigheid om assosiasies te vorm; en
  • Die doel om die gemeenskap te bevoordeel.

 

Dit is duidelik dat sosiale geregtigheid se betekenis mettertyd aangepas is. Daarom is dit noodsaaklik dat as ons van sosiale geregtigheid praat ons dit moet definieer.