Innerlike vrede

 

Kindness has converted more sinners than zeal, eloquence, or learning – Frederick W. Faber

 

Innerlike vrede

Innerlike vrede is ‘n kosbare seën van God. Ons sien dit uit wat Jesus in sy afskeidspraatjie met sy dissipels sê. Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie (Johannes 14:27); Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin (Johannes 16:33). Paulus sê aan die Filippense dat hulle al hulle behoeftes in gebed na God moet bring. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:7).

 

Baie van die briewe van Paulus, Petrus en Johannes begin deur die ontvangers vrede en genade toe te bid. Vrede is ‘n wonderlike werklikheid. Dit is ‘n gawe van God deur die Heilige Gees aan al sy dissipels wat volgens sy wil probeer leef. ‘n Ou formule wat lank reeds gebruik word, is: Jesus eerste; ander tweede; ek laaste.

 

Vrede is ‘n gawe in die sin dat dit my gerusstel dat my lewe nog op die regte pad is. Die Here is by my teenwoordig om my te beskerm en te help. My skuldgevoelens is weg; my hoop vir die ewige lewe is seker. Niks kan my van die liefde van God skei nie.

 

Wat ons hier het, is ‘n subjektiewe bewustheid van ‘n objektiewe werklikheid. Dit gaan oor ‘n verhouding wat met God versoen is. Hierdie kennis bring tevredenheid en opgewondenheid, As angs of wanhoop of vrees of hartseer my hart infiltreer bly my innerlike vrede die raamwerk waarbinne ek hierdie trouma hanteer.

 

Die onttrekking van God se vrede is ‘n teken dat een of ander aspek van my wandel met God nie is wat dit behoort te wees nie. Die weerhouding van sy vrede is een manier waarop God vir ons wys om weer te dink – aanpassings is nodig.

 

 

 

 

 




Die Psalms: Inleiding (1)

 

Take care of your body as if you were going to live forever: and take care of your soul as if you were going to die tomorrow – Augustinus

 

Die Psalms: Inleiding (1)

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Ons weet menslik gesproke nie hoe die psalms as versameling tot stand gekom het of hoekom dit in die Skrif opgeneem is nie. Waarskynlik het die leierskap van die Joodse gemeenskap in Jerusalem besluit dat al die gebede en lofprysings wat gebruik is of tydens aanbidding gebruik kan word, bymekaar gesit moet word. Die psalms dien as hulpbron by lofprysing en aanbidding.

 

Maar het die psalms nog ‘n rol in die Christelike geloof – hulle kom tog uit die tyd van die Ou Testament? In die Nuwe Testament lees ons: Nee, laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange, en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here (Efesiërs 5:18 – 19).

 

Die Bybel aanvaar dat ons nie instinktief weet hoe om met God te praat nie – ons het hulp nodig. Psalms is ‘n boek van lofprysing en gebed om ons te help. Martin Luther sê dat die psalms aan ons gegee is sodat we can adapt and adjust our minds and feelings so that they are in accord with the sense of the psalms. Eugene Peterson stel dit so: The Psalms are where Christians have always learned to pray – till our age.

 

Die psalms sê egter nie net vir ons hoe om te bid of God te loof nie – dit wys vir ons hoe.  Jesus doen dieselfde as Hy ‘n werklike gebed aan sy dissipels gee toe hulle Hom vra hoe hulle moet bid. Most of Scripture speaks to us; the Psalms speak for us (Atanasius).

 

Die feit dat die Psalms deel is van die Bybel sê vir ons dat God hierdie gebede en lofprysing aanvaar het. Hier het ons dus 150 voorbeelde van dinge wat ons vir God kan sê. Hulle is deel van God se geïnspireerde woord.

 

 




Jesus se versoeking in die woestyn

 

To know what is right and not do it is the worst cowardice – Confucius

Jesus se versoeking in die woestyn

In ‘n vorige blog het ons gesien hoe Aäron op druk gereageer het. Met Jesus se versoeking in die woestyn kry ons ‘n teenoorgestelde reaksie op druk. Hierdie is Jesus se eie storie soos Hy dit aan sy dissipels vertel het. Ons kry dit opgeteken in Matteus, Markus en Lukas. Matteus en Lukas ruil die volgorde van die tweede en derde versoeking om. (Ons gaan Lukas se volgorde gebruik.)

 

Daar is baie vrae wat ons nie kan beantwoord nie. Het Satan sigbaar na Jesus gekom en hoorbaar dinge gesê? Was dit net gedagtes soos ons eie versoekings dikwels is? Wat belagrik is, is Lukas se afsluiting: Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus ‘n tyd lank met rus gelaat. Versoekings is iets wat gereeld kom.

 

Kom ons kyk nou van nader na hierdie versoekings:

Versoeking #1: Jesus was al veertig dae in die woestyn. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was. Satan sê vir Jesus dat Hy vir hierdie klip moet sê om ‘n brood te word. Hy wil hê God se koninkryk moet bonatuurlik in Jesus se fisiese behoeftes voorsien. Jesus sê dat dit verkeerd is deur na sy Vader se wil in die Skrif te verwys: ‘n Mens leef nie net van brood nie.

Versoeking #2: Satan sê dat hy aan Jesus die mag en majesteit oor al die koninkryke van die wêreld sou gee. Die voorwaarde: Jesus moes voor hom buig en hom aanbid. Satan is ‘n leuenaar. Hy het nie die reg om dit wat hy nie het nie, weg te gee nie. Jesus antwoord hom weer met ‘n aanhaling uit Deuteronomium: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Versoeking #3: Jesus staan op die hoogste punt van die tempel. Satan versoek Hom om daar af te spring. Jesus sien dit as sy roeping om ‘n geestelike koninryk te bring. Hier sien ons dat Satan hom op die Skrif beroep (Psalm 91:12) om sy voorstel te ondersteun. Jesus antwoord self uit die Skrif: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.

 

Satan wil elke keer hê dat Jesus die grense moes oorsteek. Maar Jesus is nie mislei nie. Hy hou voortdurend in gedagte wat die Vader se wil is. Satan, daarenteen, blaas die begeertes in die mens aan en buit dit uit. Dit is sy ou taktiek – moenie dat jou begeertes jou denke verwar nie.

Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood (Jakobus 1:14 – 15).

 




Lees jy vir jou kinders?

 

A man can’t be always defending the truth; there must be a time to feed on it. —C.S. Lewis

 

Lees jy vir jou kinders?

CNN het ‘n baie insiggewende artikel gehad oor die verskil wat dit maak as ouers vir hulle kinders lees. Dit geld vir gedrag en akademiese prestasies. Dit geld ook vir breinaktiwiteit. Hierdie studie is by die Cincinnati Kinderhospitaal se Reading and Discovery Center gedoen.

 

Navorsers het na kinders van die ouderdom 3 – 5 jaar gekyk wat breinskanderings ondergaan het – funksionele MRI – terwyl hulle na ‘n storie wat vooraf opgeneem is, geluister het. Die ouers is gevra hoeveel hulle vir hulle kinders lees en met hulle kommunikeer. Die navorsers sien dat as ‘n storie vir hierdie jong kinders gelees word ‘n aantal gebiede in die linker deel van die brein aktief word. Hierdie gebied het te doen met die verstaan van woorde en konsepte sowel as met geheue.

 

Hierdie studie wys dat ontwikkeling van hierdie gebiede reeds op ‘n baie vroeë ouderdom begin. Die breinaktiwiteit in hierdie gebiede was hoër in daardie kinders wie se ouers ‘n geletterdheid vriendelike huis geskep het. Hoe meer jy vir jou kind lees, hoe meer help jy die neurone in hierdie gebied om te groei en te verbind. Dit is tot voordeel van die kind se leesvermoë in die toekoms.

 

Die American Acadamy of Pediatrics beveel aan dat ouers hardop vir hulle kinders lees vanaf geboorte.

 

Ons moet nooit die belang van lees onderskat nie. Dit geld ook vir eenvoudige Bybelstories.