Selfmisleiding en verleiding deur Satan

 

The true gospel is a call to self-denial. It is not a call to self-fulfillment –  John MacArthur

 

Selfmisleiding en verleiding deur Satan

Die sonde in ons harte en Satan in ons ore lei ons om dieselfde basiese foute oor en oor te maak. Ons word dikwels deur ons omstandighede en nie God se geopenbaarde wysheid gelei nie. Kom ons kyk na ‘n voorbeeld.

 

Aäron en die goue kalf

Ons lees hierdie verhaal in Eksodus 32. In hierdie gedeelte sien ons ‘n paar swakhede van Aäron.

  1. Hy word gedryf deur ‘n motivering wat homself en nie vir God dien nie.

Aäron se hart, soos ons almal se harte, was deur trots geïnfekteer. Hy wou respek vir homself behou – hy is immers tweede in bevel. Daarom is hy bereid om aan mense te gee wat hulle wil hê – al is dit die verkeerde ding. Hy was bang hy sou hulle respek verloor as hy nee sou sê.

  1. Aäron aanvaar ‘n mensgemaakte eerder as ‘n godsdiens deur God gegee

Moses het nog nie met die twee kliptafels met die tien gebooie daar aangekom nie. Streng gesproke het hulle dus nog nie die wet gehad nie. Aäron moes egter besef het dat dit wat hulle doen, verkeerd is. Hulle kan tog nie God vereer deur ‘n beeld van ‘n bulkalf te maak en dit te aanbid nie. Die bulkalf was die simbool van brute krag. Om die mense tevrede te stel, gee Aäron toe aan hulle versoek in plaas daarvan om hulle reg te help.

  1. Hy verskoon homself met ‘n verskoning wat homself regverdig.

Aäron sê vir Moses: U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. Maar die ergste kom nog:  Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee. Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom – sommer net so. Trots maak dit moeilik vir mense om hulle foute raak te sien en te erken dat hulle afgedwaal het of verkeerd of dom of naïef opgetree het. Ons, soos Aäron, probeer ons uit ons dilemma praat. Aäron praat met Moses asof hierdie episode van die goue kalf ‘n ongelukkige insident was waarvoor hy nie verantwoordelik gehou kan word nie. Ons lees nie wat Moses se reaksie was nie. Dalk was hy so ontsteld dat hy liewer niks gesê het nie.

 

Aäron het homself mislei. Sy gewete was ten minste tydelik verhard. Aäron voel dat wat hy gedoen het onder die omstandighede reg was en dat alles in die toekoms sal regkom. Alhoewel hier in hierdie gedeelte niks eksplisiet van Satan gesê word nie, kan ons seker wees dat hy aktief op die toneel was.

Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Hebreërs 3:13).

 




‘n Simbool van Christus

 

It is misleading to say that God accepts us the way we are. Rather he accepts us despite the way we are. —Sinclair Ferguson

 

‘n Simbool van Christus

As jy ‘n simbool uit die natuur moes kies om jou te beskryf en te definieer, wat sou jy kies? ‘n Berg as teken van betroubaarheid; ‘n roos as teken van skoonheid; ‘n hings as teken van krag … Jesus kies ‘n graankorrel. ‘n Klein saadjie waaraan ons nie baie dink en raaksien nie … en een wat doodgaan!

Dit verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe bring hy  ‘n groot oes in (Johannes 12:24).

Jesus sê hiermee vir sy volgeling dat Hy moet sterf as Hy meer as net ‘n handjievol volgelinge wil hê.

 

  • Die koringkorrel

Aanvanklik kan ons nie dink dat ‘n koringkorrel ‘n gepaste simbool van Christus se persoon en werk kan wees nie. Christus lyk dikwels vir mense klein en magteloos. Maar soos die graankorrel was daar “onder” sy menslikheid ongelooflike mag, waarde, bruikbaarheid en potensiaal – soos die graankorrel.

 

  • Die val

Jesus was op hierdie stadium gewild, maar Hy staan voor ‘n feit: dit was ‘n klein en kort opwelling van belangstelling. Vir die ewige voordeel moet hierdie graankorrel in die grond val en sterwe. Christus se hele lewe was een van vernedering. Hy daal uit die hemel neer na die aarde; Hy kom uit die warm omhelsing van God na die wrede hande van mense. Uiteindelik word alle beperkings verwyder en Hy kom by Getsemane en die kruis uit.

 

  • Die dood

Soos die graankorrel val Jesus nie op die grond nie, maar in die grond. Hy verdwyn; ons kan Hom nie sien nie; Hy is begrawe in die grond. Dood.

 

  • Die oes

As ‘n koringkorrel gesaai word, lyk dit asof hy dood is Alhoewel die korrel vir ‘n tydperk vergete is, sal die korrel ontkiem. Sonder daardie “dood” bly die koringkorrel net een. Deur sy dood word die lewe weer vrygestel en hy vermenigvuldig. So kan ons ook een van die graankorrels wees wat deur Jesus se dood vermenigvuldig word. Elke saad wat gesaai word, is ‘n herinnering dat die Gewer van lewe moet sterwe.

 

Dit geld nie net vir Christus nie, maar vir alle gelowiges. In net die volgende vers pas Jesus hierdie waarheid op sy dissipels toe: Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit;  en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou (Johannes 12:25).

 

Jy kan jou lewe liefhê; jy kan vir jouself lewe. Maar dan bly jy net een; jy sal jou lewe verloor. Of jy kan in die grond val en sterf van jou sonde. Die resultaat hiervan is die oorvloedige ewige lewe vir jou en ander. Ons sal selfs ‘n oes kry as ons bereid is om in die grond te val en te sterwe.

 

 




Gebed en dissipline

 

If your god never disagrees with you, you might just be worshiping an idealized version of yourself. —Tim Keller

 

Gebed en dissipline

Calvyn het geglo dat jy nie sonder dissipline kan bid nie. Hy waarsku: “Unless we fix certain hours in the day for prayer, it easily slips from our memory.” Hy beskryf dan verskeie reëls om gelowiges te lei in gebed.

 

  1. ’n Diepgevoelde sin van eerbied

In gebed praat ons met God en ons moet gebed dienooreenkomstig benader. Calvyn vra vir ‘n gedissipilneerde hart en denke.

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van behoefte en berou

Ons bid uit ‘n opregte gevoel van behoefte en berou. Ons moet God met die gesindheid van ‘n bedelaar nader altyd bewus van sy heerlikheid.

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van nederigheid en vertroue in God

Ons moet alle vertroue op onsself oorgee en nederig pleit vir vergifnis. Ons moet net op God se genade vertrou vir seëninge – geestelik en fisies. Enige ander benadering tot God bevorder trots.

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van hoop

Die vertroue dat ons gebede beantwoord sal word, is die gevolg van die Heilige Gees wat in ons werk. In die gelowige se lewe oorwin hoop en geloof vrees. Ware gebed glo dit sal suksesvol wees. Gelowiges nader God met vertroue en hoop.

 

Hierdie reëls klink oorweldigend – selfs onbereikbaar. Calvyn erken ons gebede is vol swakhede en mislukkings. Maar God verdra ons stameling en verskoon ons onkunde.

 

 




Leiding deur my roeping: Elemente (2)

 

If money be not thy servant, it will be thy master. The covetous man cannot so properly be said to possess wealth, as that may be said wealth possess him – Sir Francis Bacon

 

Leiding deur my roeping: Elemente (2)

Ons kyk nou na twee verdere elemente.

 

Volhoubaarheid van verbintenis

Moses, Nehemia en Paulus se bediening gaan gepaard met stryd, swaarkry, ontmoediging, die uitdaging van hulle gesag, ens.

Moses: Hy word direk deur Nadab en Abihu (Levitikus 10), Korag, Datan en Abiram (Numeri 16) en selfs deur Aäron en Mirjam, sy oudste suster (Numeri 12), uitgedaag. Daar was ook die eindelose murmurering van die volk.

Nehemia: Hy ondervind voortdurend teenstand tydens die bou van die muur. Toe hy Jerusalem verlaat verval die morele en geestelike orde wat hy met soveel moeite gevestig het. Toe hy terugkeer, moes hy alles weer regstel.

Paulus: Behalwe al sy fisiese ontberings sê hy ook: Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes (2 Korintiërs 11:28).

 

Maar God het hulle onderhou.

Moses: Hy word 120 jaar oud: sy oë was toe nog goed en sy krag het nog nie ingegee nie (Deuteronomium 34:7).

Nehemia: Hy kon alles wat tydens sy afwesigheid skeef geloop het weer regstel.

Paulus: Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom te eer toe tot in alle ewigheid (2 Timoteus 4:18).

Ten spyte van al hulle swaarkry was die laaste woorde positief. God los nie sy getroue dienaars nie.

 

Moed en regstelling

Daar kom tye wanneer God intree om dit wat ons doen aan te pas of te verbeter. Sulke tye moet ons gewillig wees om te verander. ‘n Hardkoppige weiering om te verander  is ‘n teken van trots. Dit sal God se roeping van ons benadeel.

Moses: Hy aanvaar koersaanpassings. Toe Jetro, sy skoonpa, voorstel dat hy sy werkwyse moet verander, doen hy dit. Hy was nederig genoeg om aan te pas.

Paulus: In Handelinge 16 lees ons dat die Heilige Gees hulle verhinder om God se woord in die provinsie Asië te verkondig. In Troas sien Paulus ‘n gesig van ‘n Masedoniese man wat hulle smeek om na Masedonië te kom. So kom die evangelie in Europa.

Koersaanpassings bevestig en brei die aanvanklike roeping uit. Ons moet altyd bereid wees om uit te vind of God nie dalk iets beter en groter in gedagte het nie.