Wat moet ons doen na ons die goeie nuus verkondig het?

 

Live as if Christ died yesterday, rose this morning and is coming back tomorrow – Martin Luther.

 

Wat moet ons doen na ons die goeie nuus verkondig het?

Ons kry verskillende reaksies op ons verkondiging van die evangelie. As mense met Jesus Christus  se opdrag om hulle te bekeer en te glo, gekonfronteer word, reageer baie positief, maar baie reageer negatief. Diegene wat die evangelie verwerp verskil ook, Hier is ‘n paar negatiewe reaksies

  • Ek kan nie besluit nie. Almal van ons sukkel om soms te besluit. Ons wil sekere besluite so lank as moontlik uitstel om ons opsies oop te hou. Sekere mense is onseker oor die belang van die boodskap; sommige is net apaties. Hulle is nie bewus van die gevare van opstand teen God nie. Natuurlik kan ons hulle nie dwing om ‘n besluit te neem nie, maar  ons moet onthou niemand kan neutraal teenoor God staan nie.
  • Ek wil eers wag. Hierdie persoon is nie bereid om die deur onmiddellik toe te klap nie. Hulle wil vryheid hê om self te besluit. Ons kan hulle nie dwing nie, maaar ons moet die gevare van wag duidelik maak. Hou aan met bid vir hulle. Mense besef dat om ‘n Christen te word, gaan ‘n geweldige verandering vereis. Die natuurlike neiging is om te wag en voorraad op te neem. Intussen moet jy vir hulle bid.
  • Nie nou nie – ek sal dalk later daaroor dink, maar ek is nie nou oortuig nie. In die toekoms mag ek dalk anders besluit.
  • Baie selde die reaksie. Hy het gekyk ek het dit oorweeg; die boodskap is nie waar nie – nie vir my nie. Hierdie persoon voel sterk. Ons moet hulle steeds met respek hanteer, ons moet steeds die verhouding behou; ons moet bid. Paulus was ‘n kragtige teenstander van die evangelie, maar hy word ‘n groot evangelis.

 

Positiewe reaksies

Al die opdragte kry ons in die Bybel. Bring hulle in die gemeenskap van gelowiges – die plaaslike gemeente. Hulle kry al die voorregte en verantwoordelikhede – doop, nagmaal. Hulle moet leiding, liefde, ondersteuning, versorging en onderrig kry. Soms is ander vorme van ondersteuning soos regstelling nodig. Die vervulling van evangelisasie is dissipelskap.

 

Sommige wat ja sê, is vals. Sommige sal ons eers in die volgende wêreld agterkom. Sommige kom ons gouer agter – hulle ywer neem af; hulle woon selde die eredienste by.

 

Verkondig die evangelie. Wees voorbereid vir negatiewe en positiewe reaksies.

 

 

 

 

 




Uit die modderige slyk (2)

 

In the end we will remember not the words of our enemies, but the silence of our friends – Martin Luther King Jr

 

Uit die modderige slyk (2)

Psalm 40 leer vir ons baie van ons optrede as dinge in die lewe vir ons baie moeilik word. Ek gaan drie blogs aan hierdie psalm wy. Ek maak baie van die Ou Afrikaanse Vertaling gebruik

 

2. Die psalmis bid vir God se verlossing in die huidige (Psalm 40 :12 – 18)

Vers 12 dien as skanier tussen die twee gedeeltes: U, o Here, sal u barmhartighede van my nie terughou nie; laat u goedertierenheid en u trou my altyddeur behoed. Die psalmis is weer in  ‘n kuil van vernietiging. Hy onthou egter God se goedheid uit die verlede. Dit gee aan hom die vertroue om vir God se verlossing in die huidige te bid.

 

Die psalmis veg op twee fronte – die interne stryd teen sy eie sonde en die eksterne stryd teen sy vyande. Die eksterne stryd om hom woed steeds (vers 14). Hy word omring deur vyande wat hom wil vernietig. Sy situasie is weer desperaat. Hy besef sy eie hopeloosheid en roep na die Here. As hy dit doen verskuif sy aandag van homself na die Here. Hy fokus veral op twee dinge.

 

  • God se barmhartigheid misluk nooit nie

U, o Here, sal u barmhartighede van my nie terughou nie; laat u goedertierenheid en trou my altyddeur behoed (40:12). God is barmhartig en sy liefde beskerm mense. Hy verander nooit nie. Hy het sy barmhartigheid aan die psalmis in die verlede bewys en Hy sal dit weer doen.

 

  • God se beloftes

Laat in U vrolik en bly wees almal wat U soek;  laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is die Here! Al is ek ellendig en behoeftig – die Here dink aan my; U is my hulp en my redder; my God, vertoef tog nie (40:17 – 18). Die psalmis weet uit sy ondervindings in die verlede dat die Here luister na die uitroepe van sy mense. Hulle kan vrolik wees, want die dag van verlossing kom. Die psalmis bid vir verlossing en dan wag hy. Hy vertrou dat God se genade nooit sal misluk nie – sy verlossing kom.

 

In die laaste blog gaan ons kyk na wat die psalm nou vir ons sê.

 




Wat is evangelisasie nie?

 

It is not what you believe that counts; it’s what you believe enough to do – Gary Gulbranson

 

Wat is evangelisasie nie?

Daar is ‘n paar dinge wat gereken word as evangelisasie wat nie waar is nie.

  1. Opleg van iets aan ander

Dit is verkeeerd om dit wat jy glo op ander op te lê – ‘n belangrike beswaar teen evangelisasie vandag. Dit is nie wat die Bybel met evangelisasie bedoel nie. Die boodskap wat jy deel, is nie ‘n mening nie, maar ‘n feit. Die waarhede van die Bybel word ook nie deur jou perspektief en ondervindings bepaal nie – jy het hulle nie uitgedink nie. Jy het dit nie uitgevind nie; jy het geen gesag om dit te verander nie. Al wat gebeur, is dat jy die goeie nuus vertel. Dit is net God wat dinge verder laat groei. Verkondig die goeie nuus akkuraat; leef ‘n lewe van liefde teenoor ongelowiges; bid dat God hulle van hulle sonde sal oortuig en aan hulle die gawes van bekering en geloof sal gee. Ons kan die evangelie verkondig, maar ons kan nie iemand manipuleer om dit te aanvaar nie.

 

  1. Persoonlike getuienis

Persoonlike getuienis is wonderlik. Die waarheid van die evangelie word deur ons daaglikse lewe bewys, Ons moet van hierdie gebeurtenis getuig. Dit kan sekerlik tot evangelisasie bydra. Getuienisse is kragtig. Getuienisse is inspirerend, maar dit is die evangelie wat verduidelik waaroor dit gaan en hoe dit gebeur het.

 

  1. Sosiale optrede en openbare betrokkenheid

Die begeerte om dit wat in ons samelewing verkeerd is, reg te stel is bewonderenswaardig, maar dit is nie die evangelie van Jesus Christus  nie. Dit mag die evangelie aanbeveel. Deur God se goedheid en deernis in ons optrede te weerspieël, is goed en reg. Hierdie optrede beveel die evangelie aan, maar deel dit met niemand nie. Om te evangeliseer moet die evangelie duidelik gekommunikeer word.

 

  1. Apologetika

Dit is ‘n goeie ding – dit antwoord die vrae en besware  wat mense oor God of Christus of oor die Bybel en sy boodskap het. Om vrae te antwoord en dele van die evangelie te verdedig, is dikwels deel van ons gesprekke met nie-Christene. Dit kan wel wonderlike geleenthede vir evangelisasie skep. Ons moet egter onthou dat sekere vrae onmoontlik is om te antwoord. Dit mag ‘n negatiewe effek hê. Dit mag ons aandag van die hoofboodskap aftrek. Ons reageer op ander se vrae. Evangelisasie volg God se agenda – die goeie nuus oor Jesus Christus en die pad van verlossing deur Hom.

 

  1. Die resultate van evangelisasie

Evangelisasie moet nie met sy vrugte verwar word nie. Om mense te bekeer, is nie in ons mag nie. Evangelisasie kan nie in terme van resultate, maar net in terme van trou gedefinieer word. Evangelisasie gaan oor die verspreiding van die goeie nuus. In die gelykenis van die saaier word dieselfde saad op verskillende plekke met verskillende resultate gesaai. As evangelisasie nie onmiddellik vrugte dra nie voel sommige Christene skuldig.

 

Baie evangelisasie vandag is emosionele manipulasie – neem dadelik ‘n besluit. Maar ons vergeet dat bekering die gevolg van ‘n bonatuurlike genadige optrede van God teenoor die sondaar is. As ons betrokke is in ‘n program wat bekeerlinge vinnig tel, waar besluite afgedwing word en evangelisasie volgens die onmiddelike sigbare effek beoordeel word, ondermyn ons ware evangelisasie. Mense kan selfs jare nadat die evangelie aan hulle verkondig is tot bekering kom.

 

Die Chrstelike oproep vir evangelisasie is nie net om mense te oortuig om besluite te neem nie, maar om aan hulle die goeie nuus van verlossing in Jesus Christus te vertel, om hulle tot bekering op te roep en om aan God die eer te gee. Ons misluk nie as ons getrou die evangelie verkondig aan mense wat nie bekeer word nie. Ons misluk as ons nie die evangelie verkondig nie.

 

 




Uit die modderige slyk (1)

 

If we are to be part of this coming kingdom, God expects our lives – our churches and faith communities too – to be characterized by these authentic signs of our own transformation: compassion, mercy, justice and love – demonstrated tangibly – Richard Stearns

 

Uit die modderige slyk (1)

Psalm 40 leer vir ons baie van ons optrede as dinge in die lewe vir ons baie moeilik word. Ek gaan drie blogs aan hierdie psalm wy. Ek maak baie van die Ou Afrikaanse Vertaling gebruik

 

Hoeveel van ons het nie al in die modderige slyk vasgeval nie – ‘n diep put van wanhoop. Daar mag baie verskillende redes daarvoor wees, maar jou situasie voel hopeloos. Dit lyk dat hoe harder ons probeer om daar uit te kom, hoe dieper sak ons weg. Maar God wil nie hê dat ons in ‘n put van ongehoorsaamhed en wanhoop moet rondval nie.

 

In Psalm 40 lees ons dat die Psalmis in die modderige slyk vasgeval het. Hoekom? Want onheile sonder getal het my omring; my ongeregtighede het my ingehaal en ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof, en my hart het my verlaat (40:12 – OAV). Die psalmis is bewus van sy sondes wat hom vasgevang en oorweldig het. Ons weet nie wat die sondes was nie, maar ons weet dit was baie. Hulle het hom oorweldig sodat hy nie meer reguit kan kyk nie en sy hart was flou. Hy het egter ook eksterne probleme van sy vyande: Laat hulle tesame beskaamd staan en rooi van skaamte word wat my lewe soek om dit weg te ruk; laat hulle agteruitwyk en in die skande kom wat behae het in my onheil (40:15 – OAV).

Die psalmis se situasie is desperaat; hy sien geen weg uit sy dilemma nie. Wat doen hy?

 

1.     Die psalmis onthou God verlossing in die verlede (40:1 – 10)

Die psalmis onthou ‘n ander dag toe God hom uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek het. Die psalmis onthou sy desperaatheid en sy hulpgeroepe. Hy onthou die lang wag. Hy spandeer nie baie tyd hieraan nie. Hy fokus op die Here wat hom verlos het. Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ‘n rots gesit; Hy het my gange vasgemaak.En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gegee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die Here vertrou (40:2 – 4 – OAV). Hy dink aan hoe God se verlossing in stadia gekom het:

  • Vers 2: God buig na hom neer en hoor sy hulpgeroep.
  • Vers 3: God trek hom op uit die kuil van vernietiging en die modderige slyk. Die psalmis kon hom nie self daaruit kry nie – net die Here kan hom verlos.
  • Vers 3: God sit sy voete op ‘n rots en maak sy gange sekuur. Hy staan nou vas op soliede groond.
  • Vers 4: God gee aan hom ‘n nuwe lied – ‘n lofsang tot eer van onse God.

 

Hierdie is ‘n lofsang tot eer van onse, nie net my, God nie. God is die God wat verlos. Hy is die God van barmhartigheid. Baie sal hom sien en vrees en op die Here vertrou. Sommige mense sal sukkel om met die psalmis te identifiseer. Miskien was hulle nog nooit in ‘n desperate situasie nie. Maar dié wat al daar wees, sal weet waarvan die psalmis praat.

 

Maar die psalmis doen nog meer. Die wonder van God se verlossing laat die psalmis op drie maniere reageer:

 

  • Hy bevestig sy geloof in God

Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die Here stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuenaars nie. Groot dinge het U gedoen, Here my God – u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel (40:5 – 6). Die  psalmis bevestig dat hy glo dat God se guns op diegene wat Hom vertrou rus, wat nie trotse mense en vals gode volg nie. Niks wat die wêreld aanbied, kan met die God van Israel vergelyk word nie.

 

  • Die psalmis wy hom toe aan God se wil

U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie. Toe het ek gesê: Kyk ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe. Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande (40:7 – 9 – OAV). Ore het U vir my gegrawe, word soms met U het my ‘n oop oor gegee. Die psalmis besef dat God dit vir hom moontlik gemaak het om Hom duidelik te hoor. Hy besef God het geen behae in rituele en eksterne godsdiens nie. Hy soek nie offers nie. Wat Hy soek is ‘n toegewyde hart en ‘n wil om gehoorsaam te wees.

Die psalmis wy hom toe om die Here op hierdie manier te dien. Kyk, ek kom … om u welbehae te doen. Dit is ‘n begeerte om gehoorsaam te wees.

 

  • Die psalmis verkondig God se woord

Ek verkondig u blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering; kyk, my lippe bedwing ek nie. Here, U weet dit. U geregtigheid bedek ek nie binne-in my hart nie; van u trou en u heil spreek ek; u goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie (40:10 – 11). Let op die negatiewes waarmee hy die positiewes beklemtoon: my lippe bedwing ek nie … u geregtigheid bedek ek nie … u goedertierenheid en trou verberg ek nie. Maar hy het: Ek verkondig ‘n blye boodskap van geregtigheid … van u trou en heil spreek ek.

 

Die psalmis onthou dat God hom uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek het en sy voete op vaste grond geplaas het. Dit is die verlossing in die verlede wat hom vertroue gee.

In die volgende blog gaan ons kyk na die psalmis se gebed vir God se verlossing in die hede.