Met oop hande

 

A holy life will produce the deepest impression. Lighthouses blow no horns; they only shine – D. L. Moody

 

Met oop hande

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Om te bid beteken dat ek my hande voor God moet oopmaak. Dit beteken ek moet die spanning wat my hande toe klem geleidelik losmaak. Gebed is ‘n manier waarop jy stilte in die wêreld kan kry – jy maak jou hande oop vir God se beloftes en kry hoop vir jouself, jou naaste en die wêreld. In gebed ontmoet jy God nie net in die sagte briesie nie, maar ook te midde van die geraas van die wêreld; in die nood en vreugde van jou naaste; in die alleenheid van jou eie hart.

 

Gebed lei jou om nuwe paaie te sien; gebed gee aan jou die vryheid om die baie tekens wat die pad na die nuwe wêreld aandui, raak te sien. Gebed is nie net ‘n noodsaaklike kompartement in die daaglikse skedule van ‘n Christen of sy ondersteuning in tye van nood nie. Gebed is nie beperk tot Sondae en maaltye nie. Gebed is om te leef – soos om te eet en te drink. Dit is die voortdurende besef dat God is waar ons is; dat hy ons uitnooi om nader te kom en die gawe van die lewe te vier.

 

‘n Lewe van gebed is ‘n lewe met oop hande waar ons nie skaam is vir ons swakhede nie, maar waar ons besef dat die beter is om deur God gelei te word as om self alles te probeer beheer. Soms mag Hy ons lei na plekke waar ons nie wil wees nie, maar ons aanvaar dit.

Vraag: Vertrou ek volledig dat met God aan my sy sal ek my ware tuiste kry?

 

 

 

 

 

 




Afgode in die kerk

 

Nobody ever learned they were a sinner by being told. They have to be shown – John Newton

 

Afgode in die kerk

In 2 Konings 18:3 lees ons Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here. In die volgende vers lees ons wat hy gedoen het: Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer.

 

Mense sou sekerlik verstaan het dat ‘n sterk geestelike leier die afgode verwyder het. Hulle sou verwag dat hy daarop sou aandring dat hulle nie meer ander gode moet aanbid nie. Wat Hiskia volgende gedoen het, moes vir hulle ‘n verrassing gewees het: hy laat die koperslang stukkend slaan. Hierdie was die koperslang wat God gesê het Moses moes maak om die volk teen slangbyte te beskerm. Hoekom doen hy dit? Omdat hulle die slang met offers vereer het. Instrumente vir verandering kan voorwerpe vir aanbidding word. In ons sondigheid kan ons van omtrent enigiets ‘n afgod maak – ons maak afgode van dinge wat vir ons belangrik is. Die koperslang wat God gebruik het om genesing te bring, word ‘n voorwerp van aanbidding.

 

Vandag is niks anders nie. Ons gebruik steeds instrumente van verandering en aanbid hulle. Hier is drie algemene afgode van die kerk.

  1. Die plek/gebou

God doen groot werke in die harte van mense waar hulle saam vergader. Hierdie vergaderplekke kan verander van ‘n instrument van verandering na ‘n voorwerp vir aanbidding. Ons moet mense gereeld daaraan herinner dat die kerk nie ‘n gebou is nie – die mense is die kerk. God woon nie in die kerkgebou nie – Hy woon in die harte van mense.

 

  1. Die verlede

God het in die verlede op wonderbaarlike maniere gewerk. Die verlede kan ‘n afgod word waar mense na die verlede verlang – meer as na die Here. Om dankbaar vir die verlede te wees, beteken beslis nie dat ek die verlede moet aanbid nie.

 

  1. Die programme

Omdat God lewens deur ‘n program verander het, kan mense hierdie programme tot ‘n ongesonde plek verhef. Hulle bly steeds net instrumente gebruik in die gemeente se dissipelskapsproses. Nou word hulle moderne koperslange.

 

Hoe kan kerkleiers meer soos Hiskia wees? Hulle moet voortdurend die aandag op Jesus Christus vestig. Net Hy is ons aanbidding werd; net Hy kan lewens verander. As ons mense help om die grootheid van Jesus te sien, lyk afgode minder aantreklik.

 

Leiers moet ook lidmate gedurig aan die doel van die gemeente herinner. Die gemeente bestaan om dissipels te maak. Dan word programme blote instrumente. Die gebou word nou net ‘n plek om te help om dissipels te maak.

Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou (2 Konings 18:5).

 

 




Gebed en profetiese kritiek

 

If God only used perfect people, nothing would get done. God wil use anybody, if you’re available – Rick Warren

 

Gebed en profetiese kritiek

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Soos jou gebedslewe verdiep kry jy nie net ‘n groter insig in jouself en jou naaste nie, maar jy ontwikkel ook ‘n beter aanvoeling vir die pols van die lewe. As jy waarlik bid, sal jy kritiese vrae vra oor die probleme van die wêreld. Jy besef dat bekering nie net vir jou en jou naaste belangrik is nie, maar vir die hele wêreld. Dit vereis ‘n profetiese getuienis wat dit waag om te kritiseer.

 

Ons besef die wêreld moet verander; ons besef geen verandering is moontlik sonder optrede nie. Die vraag is: Hoe?

 

Die frustrasie wat so baie mense laat protesteer en demonstreer of in dwelms laat ontvlug is ‘n teken van diepliggende ontevredenheid met die wêreld waarin ons leef. Party mense agiteer vir vryheid en geregtigheid; ander onttrek hulle uit hierdie chaotiese wêreld en sy instellings. Maak nie saak wat ons doen nie die gegriefdheid bly – al word dit onderdruk al word dit deur ‘n gesindheid van passiewe ongeërgdheid onderdruk. Maar daar bly diep binne ons ‘n verlange na ‘n ander wêreld.

 

Vandag se visie van ‘n nuwe wêreld kry dikwels vorm buite die Christelike denke en tradisie. Jy is ‘n Christen as jy vooruit kyk na ‘n nuwe wêreld, solank as wat jy kritiese vrae vra ook die samelewing waarbinne jy leef, en solank jy die bekering van jouself en die wêreld beklemtoon. Jy is ‘n Christen as jy erken dat jy ‘n rol in hierdie nuwe koninkryk te speel het.

 

Dit is moeilik om mense wat stilstaan in die lewe te aanvaar – wat hulle vreugde put uit klein plesiertjies. Jy weet verseker dat iets beter en iets groter op pad is. As Christen glo jy dat hierdie wêreld sal verbygaan en dat ‘n nuwe wêreld gebore moet word. Nooit gaan jy die stadium bereik waar daar niks meer is om te doen nie.

 

Die Christengetuie is ‘n kritiese getuie, want die Christen bely dat die Here weer sal kom en alles nuut sal maak. Die Christelike lewe vereis radikale veranderings. Die Christen as profeet moet die status quo uitdaag; hy is toegewy aan die stryd vir ‘n beter toekoms.

 

Wat is die kenmerke van ‘n ware profeet? Kritiese profete is mense wat ander aantrek deur hulle innerlike krag. Almal wat met hulle in aanraking kom, kry die indruk dat hulle hulle krag van ‘n verborge bron kry. ‘n Innerlike vryheid vloei uit hulle uit. Hulle word geraak deur wat om hulle gebeur, maar laat nie toe dat dit hulle neerdruk nie. Hulle luister aandagtig en praat met gesag. Hulle is nie onsensitief oor dit wat ander motiveer nie, maar evalueer wat hulle sien in die lig van hulle eie visie. Hulle weet wat werklik van die uiterste belang is. Tog behou hulle ‘n innerlike vryheid in die lig van hulle visie.

 

Mense word aangetrek en afgestoot deur hierdie kritiese profete. Hulle word gesien as ‘n bedreiging. Die manier waarop hulle praat en leef daag die waardes waarop baie mense hulle lewens gebou het uit. Maar ons besef ook dat die werklikheid waarbinne hulle leef die werklikheid is waarna ons verlang. Maar dit eis te veel van ons. Ons wil die kalmte en orde behou. Ons begin deur hulle boodskap te ontken. Dan volg verbale aanvalle en selfs die dood. Maar selfs die dood kan nie hulle roeping ontwrig nie – al wat gebeur is dat ander kritiese profete na vore tree.

 

Gebed beteken ons breek deur die sluier van ons bestaan en ons word deur ‘n visie gelei. Ons besef dit is nie ons wat die mag het om hierdie nuwe skepping ‘n moontlikheid te maak nie. Dit is ‘n geestelike krag wat aan ons gegee is en wat ons in staat stel om in die wêreld, maar nie van die wêreld te wees nie. Die persoon wat bid, kyk met deernis na die wêreld. As ons bid, is ons nooit tevrede met die wêreld soos dit tans is nie.

 

As jy bid open jy jouself vir die invloed van die God wat Homself as Liefde geopenbaar het. Nou wieg jy nie heen en weer as gevolg van al die verskillende menings, idees en gevoelens wat deur jou vloei nie. Jy het ‘n middelpunt vir jou lewe gekry.

 

Gebed beteken ek moet bereid wees om van my sekerhede te vergeet en verder te beweeg. Jy maak jouself kwesbaar, maar jy word vry om die wêreld te sien soos hy werklik is. Jy het geen behoefte om jouself te verdedig nie. Maar dit vereis moed. Jy begin wonder of alles nou die moeite werd is. Maar moed is ook ‘n gawe van God waarvoor jy kan bid.

Vraag: Hoe kan ek my roeping om die wêreld in die Naam van Jesus te vernuwe, uitleef?

 




Die waarde van gebrokenheid

 

We live in a world where it is very easy to make converts, very hard to make disciples – David Wells.

 

Die waarde van gebrokenheid

Gedurende tye van beproewing en swaarkry vergeet ons dikwels die waarde van gebrokenheid. Die manier waarop God dikwels swaarkry ten goede gebruik, besef ons dikwels eers jare later. Dit beteken nie dat swaarkry nie steeds seermaak nie.

 

Ron Edmondson beskryf sewe waardes van gebrokenheid:

  1. Gebrokenheid hou jou nederig. God waardeer nederigheid. Ons moet trots uit ons lewe ban.
  2. Gebrokenheid leer vir ons belangrike lewenslesse. Ons leer meer tydens die moeilike tye as tydens goeie tye.
  3. Gebrokenheid bring berou. Ons vergeet soms hoe nodig ons vergifnis het. Gebrokenheid, veral gebrokenheid veroorsaak deur my eie optrede, herinner my dat sonder genade ek hopeloos is.
  4. Gebrokenheid moedig ‘n nuwe begin aan. Om oor te begin is soms ‘n goeie ding. In retrospek mag ons sien dat dit selfs ‘n seën was.
  5. Gebrokenheid nooi God se genade uit. Gebrokenheid bring my op my knieë. Ek verlang na God se beskerming. Dit is ‘n goeie ding as my hart hemelwaarts verlang.
  6. Gebrokenheid herinner my aan my mensheid. Gebrokenheid herinner my daaraan dat swakke mense die lewenstryd stry. Ons is saam in hierdie stryd; ons het almal God se genade nodig; ons enigste hoop is Jesus Christus.
  7. Gebrokenheid bring ons naby aan God. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses (Psalm 34:19). ‘n Vertroosting om voor dankbaar te wees.

 

Is jou verhaal deur gebrokenheid gevorm? Daar is waarde in gebrokenheid.