Gebed en stilte

 

The angel fetched Peter out of prison, but it was prayer that fetched the angel. —Thomas Watson

 

Gebed en stilte

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Ons weet daar is ‘n verband tussen gebed en stilte. Soms is stilte in ons lewens vrede, maar soms maak dit ons bang. Daar is nagte met die sterre en die maan, maar daar is ook nagte wat pikdonker is. So is daar ook twee stiltes: die een vol vrede en die ander een skrikwekkend. Vir baie mense is stilte ‘n bedreiging – hulle weet nie wat om daarmee te doen nie. Dit maak hulle onrustig. Sommige mense kan nie sonder musiek om hulle studeer nie. As hulle in ‘n kamer moet sit sonder ‘n konstante vloei van klank, word hulle senuweeagtig.

 

Vir baie mense is stilte ‘n bedreiging. Dit is nie verbasend dat hierdie mense probleme met gebed het nie. Maar stilte is vol klanke: die wind wat waai, die blare wat ritsel, die voëls wat hulle vlerke klap, die golwe wat op die strand aanspoel. As ons dit nie kan hoor nie, hoor ons steeds ons eie asemhaling, ons sagte voetsteppe. Maar ons is doof vir die klanke van stilte.

 

As ons van ons lawaaierige wêreld na ‘n wêreld van stilte beweeg, word ons bang. Ons word soos verslaafdes wat deur die pynlike proses van onttrekking moet gaan. Maar nog moeilier is innerlike stilte. Mense wat in al die lawaai vasgevang is, verloor voeling met hulle innerlike self. Die innerlike vrae word nie beantwoord nie; onseker gevoelens word nie opgeklaar nie; verwarrende emosies word nie verstaan nie.

 

As ons die daaglikse lawaai uitskakel, kan ‘n nuwe innerlike lawaai dikwels gehoor word. Om in ‘n stil kamer te kom, beteken nie noodwendig innerlike stilte nie. ‘n Innerlike bespreking vind plaas. Baie onopgeloste probleme vereis ons aandag. Almal vereis ons aandag.

 

Is ons nie bang om ontslae te raak van al die afleidings van buite nie, want dit lei tot ‘n konfrontasie met wat binne in ons is? Daarom probeer ons om altyd besig te wees. Kan ons alleen wees van tyd tot tyd – ons oë toemaak, ontslae raak van al die geluide en kalm en stil sit? Om halm en stil en alleen te wees, beteken ons is volledig wakker en gee aandag aan elke beweging in ons. Miskien sal daar vrees en onsekerheid wees as jy die eerste maal hierdie onbekende terrein betree. Stadig maar seker sal jy ‘n orde ontdek wat jou verlange om alleen te wees sal verdiep.

 

Met hierdie nuwe vertroue vang ons weer opnuut ons lewens van binne af vas. In hierdie “innerlike ruimte” waar gevoelens van liefde en haat, teerheid en pyn, vergifnis en gierigheid geskei of versterk of verander word, sien ons ‘n sagte hand. Nou kan ons weer meesters van ons eie huis word. Daar is geen nodigheid om meer bang te wees nie.

 

Hierdie is nie maklik nie. Lawaai van buite eis steeds ons aandag en rusteloosheid van binne maak ons bang Ons is vasgevang tussen hierdie versoeking en vrees. As jy egter hierdie stilte ontdek het, voel dit of jy ‘n geskenk ontvang het Die belofte van hierdie stilte is dat ‘n nuwe lewe gebore kan word. Dit is die stilte van vrede en gebed, want dit bring jou terug na Hom wat jou lei. In hierdie stilte voel jy nie meer dat jy gedryf word nie – jy kan jouself wees.

Nou besef jy dat jy baie dinge kan doen – vryelik en nie ander dwang nie. Jy sien jou lewe in die regte perspektief. Te midde van al jou sorge kan jy bid.

Vraag: Hoekom vermy jy stilte?

 




Hoe moet ek ‘n Bybelgedeelte verstaan?

 

“The gospel does not fall by chance like rain from the clouds, rather it is delivered by human hands to wherever it is sent by God.” — John Calvin

 

Hoe moet ek ‘n Bybelgedeelte verstaan?

Ons gaan voort met Mel Lawrenz se reeks oor How tot Study the Bible.

In die vorige twee blogs het ons gekyk na hoe om ‘n hele Bybelboek te benader en hoe om die betekenisvloei van ‘n Bybelboek te verstaan. Dit het ons gedoen deur ‘n raamwerk te vorm.

 

Nou moet ons meer in diepte na ‘n spesifieke gedeelte kyk. Ons moet altyd die konteks en betekenis van die hele boek eerstens verstaan. ‘n Gedeelte is ‘n segment van die boek wat op een of ander betekenisvolle wyse verbind is. Soms is dit net enkele verse, maar soms mag dit meer as een hoofstuk wees. Die hoofstuk en vers-indelings help ons, maar is nie definitiewe verdelings nie – hulle is eers heeelwat later bygevoeg.

 

Kom ons gebruik Hebreërs 11 as voorbeeld. Dit begin met ‘n wonderlike stelling: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Lees hierdie hoofstuk stadig deur – net lees. Lees dit ‘n tweede en ‘n derde keer. Teen die derde keer merk jy sekere gedeeltes en/of jy maak notas. ‘n Mens “sien” baie meer in ‘n gedeelte as jy hardop lees.

 

Deur net te lees, sien jy die struktuur van die gedeelte. Die inleidende waarheid oor geloof word gevolg deur ‘n reeks bekende Ou Testamentiese mense wat diep geloof gedemonstreer het. In verse 32 – 38 kry ons ‘n afsluiting oor die rol van hierdie geloofshelde, en ‘n beskrywing van die koste van geloof – marteling en martelaarskap. In vers 39 kry ons ‘n breë waarheid: En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie. Hierdie is ‘n waarheid wat op ons lewens toegepas kan word.

 

Dit is die volgende stap in hierdie boek. Hoofstuk 12 gee vir ons ‘n toepassing in die werklike lewe – raak ontslae van dit wat ons hinder en die sonde wat ons vasklem. Laat ons met volharding hardloop terwyl ons die bewaarder van ons geloof, Jesus Christus, volg.

 

Om op een vers te fokus is onvoldoende en gevaarlik. Die betekenis van ‘n enkele sin is net duidelik in sy wyer konteks. Ons moet die hele verstaan, voordat ons die dele kan verstaan.

 

 




Met gebalde vuiste

 

One of the signs of Christian maturity is the ability to disagree with other Christians on secondary matters without vilifying them. —J.R. Vassar

 

Met gebalde vuiste

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Gebed is nie maklik nie. Dit vereis ‘n verhouding waar jy Iemand toelaat om in die middelpunt van jou persoon te kom en te sien wat jy eerder wou verberg het – om dinge aan te raak wat jy eerder onaangeraak wou laat. Dit is gevaarlik en vra dat ons onsself moet verdedig.

 

Die weerstand teen gebed is soos die weerstand van gebalde vuiste. Dit is ‘n beeld van spanning, van ‘n begeerte om styf vas te klou – dit verwys na vrees, As jy bid, word jy gevra om jou gebalde vuis oop te maak en jou laaste bietjie op te gee. Wie wil nou dit doen? Die eerste gebed is dikwels pynlik, want jy ontdek dat jy nie wil laat los nie. Jy klou vas aan wat bekend is – al is jy nie trots daarop nie. Jy glo nie jou lewe kan verander nie; die hoop vir ‘n nuwe lewe het reeds verby gevloei. Jy voel dit is veiliger om vas te klou aan ‘n slegte verlede as om op ‘n nuwe toekoms te vertrou. Jy wil nie oorgee nie.

 

As jy wil begin bid, keer baie dinge na jou toe terug – die bitterheid, die haat, die jaloesie, die teleurstelling en die begeerte om wraak te neem. Hierdie gevoelens is nie net daar nie – jy klou aan hulle vas asof jy nie sonder hulle kan klaarkom nie. Jy kan inderdaad geheg word aan donker magte soos haat. Solank as wat jy weerwraak soek klou jy aan jou verlede vas. Jy staan daar met gebalde vuiste – toe vir ander wat jou graag wil genees.

 

As jy wil bid, is die eerste vraag: Hoe maak ek my gebalde vuiste oop? Nie deur geweld of ‘n  besluit wat afgedwing word nie. Miskien kan jy jou weg na gebed vind deur te luister na die woorde van die engel aan Sagaria, Maria, die skaapwagters en die vroue by die graf: “Moenie bang wees nie.” Moenie bang wees vir Hom wat in jou intiemste spasie wil inkom  en jou uitnooi om dit wat jy so naarstiglik vasklou, te los nie. Moenie bang wees om jou haat, bitterheid en teleurstelling te offer aan Hom wat liefde is nie. Al het jy min om te wys, moenie bang wees om dit te wys nie.

 

Dikwels wil ons ons liefdevolle God ontvang deur alles wat lelik is, terug te hou. Dit is geforseerd en kunsmatig. Dit maak van gebed ‘n foltering. Elke keer as jy een van jou baie vrese oorgee, gaan jou hand oop – jou palms is oop om te ontvang. Jy moet baie geduldig wees totdat jou hande volledig oop is. Dit is ‘n lang geestelike reis. Baie het in jou lewe gebeur om jou vuiste so gebal te maak. Wat jy moet doen is om jou hande sonder vrees oop te maak, sodat Hy wat jou liefhet jou sondes kan verwyder.

 

Nou voel jy ‘n nuwe vryheid; gebed word ‘n vreugde – ‘n spontane reaksie. Nou is dit nie meer ‘n inspanning nie – lewendig, vol vrede en stil. As jy hierdie fees- en stil geleenthede as oomblikke van gebed herken, besef jy dat om te bid, is om te lewe.

Vraag: Wat is dit wat ek so vas in my vuis vasklem?

 




Bly aan God toegewyd

 

If you do not die to sin, you shall die for sin. If you do not slay sin, sin will slay you. —C.H. Spurgeon

 

Bly aan God toegewyd

Die versoeking om van God te vergeet, is altyd daar. Maar ons kan ons toewyding aan God behou. Lees net Josua 23:6 – 11.

  1. Gee aandag aan God se woord

Maar julle moet sterk staan aan die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Gedagtes gevul met die Skrif kan die sekulêre samelewing krities evalueer en kan deur die leë waardes van die wêreld sien. ‘n Teken van ‘n gebrek aan toewyding aan God is ‘n verminderde respek vir sy woord. Josua praat van die uitvoering van alles wat geskryf staan. Dit beteken nie dat ons net God se woord moet hoor nie, maar dat ons dit moet doen.

 

  1. Vermy heidense invloede (Vers 7)

Hoe vermy ons om na die beeld van die heidense volke gevorm te word? Deur God se woord te onderhou en te doen. Ons is altyd in die versoeking om te glo die wêreld is beter af as ons. Met God se woorde op jou lippe en God se lof in jou mond sal jy niks anders kan erken nie.

 

  1. Bly getrou aan God

 Julle moet aan die Here julle God getrou bly, soos julle dit tot nou toe gedoen het. Dit beteken ons moet aan God vashou sodat geen sonde tussen ons kan kom nie. Dit beteken ons beplan tyd met Hom alleen in Bybelstudie en gebed. Ons vertrou op sy beloftes. U is vir my ‘n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my (Psalm 63:8 – 9)

 

  1. Kweek ‘n diep liefde vir God (vers 9 – 11)

Lê julle dus daarop toe om die Here julle God lief te hê. Die klem val hier op ‘n verhouding van liefde. God is nie net God nie – Hy is my en jou God. Sy passie vir ons kan nie geblus word nie.

 

Die vyande waarmee ons vandag te doen het, verskil van dié waarmee Josua te doen gehad het. Die strategie om hulle te konfronteer bly egter dieselfde.