Although the world is full of suffering, it is also full of the overcoming of it – Helen Keller
Uniformiteit en eenheid
Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.
Bybelse eenheid
As beide van ons Christene is, is ons familie – al hou ons nie van mekaar nie, al verskil ons oor sake. Ons moet leer om saam te leef. Ons is verenig deur Jesus Christus nie deur ons keuse nie. Die basis vir Bybelse eenheid is ons verhouding met Jesus Christus Dit is nie afhanklik van dieselfde godsdienspraktyke of voorkeure nie. Dit is nie afhanklik van ons saamstem oor elke teologiese punt nie.
Uniformiteit
Nou is ons klone van mekaar – almal loop, praat en lyk eenders. Dit is maklik om geduldig, goed en verdraagsaam met ‘n kloon van myself te wees. Jesus het nie vir uniformiteit gesterf nie. Hy het nie die mure wat Jode en nie-Jode en mans en vrouens skei, afgebreek sodat ons iewers in middel kan saamvloei nie. Hy kom en red ons ten spyte van ons verskille – Hy red ons nie van ons verskille nie. God het vreugde in ons diversiteit. Hy het ons so gemaak – doelbewus.
As die wêreld sien Christene het mekaar lief en verdra mekaar voel hulle aangetrokke tot ons. Nou het ons geloofwaardigheid om met hulle oor hulle lewens te praat. Dit reflekteer goed op ons hemelse Vader. As die wêreld sien Christene het nie mekaar lief nie en kan mekaar nie verdra nie, vra hulle vrae. Watter soort hemelse Vader sal so ‘n familie hê? Geen wonder hulle stel nie belang in wat ons sê oor die lewe, Jesus Christus en verlossing nie.
As die soeke na uniformiteit die instandhouding van Bybelse eenheid verplaas, is die eerste ding wat ons doen, is om grense te merk. Dit is gedrag, simbole, sienings wat ons as een van ‘n groep identifiseer. Ons optrede, kleredrag, lewenstyl selfs woordgebruik en dinge wat ons beklemtoon, dien almal as grensmerkers.
In ‘n sekere sin is merkers onvermydelik – Jesus Christus het sekere duidelike merkers neergelê toe Hy gesê Hy is God en dat verlossing net deur Hom verkry kan word. Die probleem kom as ons merkers enger is as dié van God. Fariseërs is die meesters van eng merkers – reëls en standaarde vir alles om vinnig te besluit wie is in en wie is uit. Nou hanteer ons mense buite die merkers as vyande van die Here. Die doel mag wees om die kudde te beskerm, maar as hulle enger as God s’n is, verdeel ons die kudde.
As dit by ons eenheid in God kom, is daar voortdurend keuses om te maak. Hoe moet ons reageer teenoor broers en susters in Jesus Christus wat ons nie sou gekies het as ons die keuse gehad het nie? Ons kan altyd iets kry om oor te baklei. Maar ons kan ook altyd ‘n manier kry om oor die weg te kom met mekaar. Ons moet ‘n keuse maak – keuses het belangrike gevolge vir ons en mense wat ons vir Jesus probeer bereik en beïnvloed.