Wat dryf jou?

 

The opposite of joy is not sadness. It’s hopelessness. —Tim Keller

 

Wat dryf jou?

Elke mens word deur iets gedryf. As jy dissipels van mense wil maak, moet jy uitvind wat hulle dryf. Uiteindelik wil jy hulle lei om deur God se agenda gedryf te word. Die HAT sê onder andere dat dryf  tot ‘n daad/handeling beweeg, beteken. Sommige mense word deur ‘n probleem of ‘n pynlike herinnering of vrees gedryf. Daar is honderde omstandighede, waardes en emosies wat mense se lewens dryf. Jy kan hulle net bereik as jy weet wat hulle dryf.

 

Rick Warren identifiseer vyf kragte wat mense dryf.

  1. Sommige mense word deur skuldgevoelens gedryf

Hulle hele lewe is een van weghardloop of wegkruip. Hulle verlede beheer hulle toekoms. Hulle glo hulle foute van die verlede is groter as God. Toe Kain gesondig het, het sy skuld hom van God se teenwoordigheid geskei. God sê vir hom: Jy sal ‘n doellose swerwer op aarde word! (Genesis 4:12).Beskryf dit nie baie mense vandag nie: doellose swerwers deur die lewe.

 

  1. Sommige mense word deur ‘n wrok gedryf

Hulle hou vas aan hulle seerkry van die verlede. In plaas daarvan dat hulle van hulle pyn deur vergifnis ontslae raak, bly hulle daaraan dink. So ‘n reaksie is ongesond. So ‘n wrok maak jou altyd meer seer as die persoon teen wie jy die wrok het. Hy het waarskynlik lankal die oortreding vergeet en aangegaan met sy lewe, terwyl jy nog die verlede herhaal.

 

  1. Sommige mense word deur vrees gedryf

Hierdie vrese mag die gevolg van ‘n traumatiese ondervinding, of onrealistiese verwagtings of ‘n genetiese neiging wees. Vreesgedrewe mense mis dikwels belangrike geleenthede, want hulle is te bang om te waag. Hulle vermy risiko’s en probeer die status quo behou.

 

  1. Sommige mense word deur materialisme gedryf

Die begeerte om nog meer te kry, word die doel van hulle lewens. Hulle glo dat dit hulle gelukkiger of belangriker sal maak. Besittings gee slegs tydelike geluk. Uiteindelik raak ons verveeld met wat ons het en wil ‘n nuwe, groter, beter weergawe hê.

 

  1. Sommige mense word deur die behoefte aan goedkeuring gedryf

Die goedkeuring van ouers, onderwysers, vriende beheer hulle lewens. Hulle is altyd bekommerd oor wat ander sal dink. Diegene wat die skare volg, gaan verlore in die skare. Een sleutel tot mislukking is om te probeer om almal tevrede te stel. As die menings van ander jou lewe dryf, sal jy sekerlik God se doel vir jou lewe misloop.

 

Daar is ander kragte wat mense se lewens kan dryf. Hulle lei almal na ‘n doodloopstraat: ongebruikte potensiaal, onnodige spanning en ‘n onvervulde lewe. As ons hierdie kragte verstaan, sal ons verder as na die optrede van die mense wat ons so frustreer kyk en kyk na dit wat die ware behoefte in hulle lewens is.

 

Een van die grootste gawes wat jy vir hierdie mense kan gee, is om vir hulle te wys hoe om lewens wat deur God gedryf en beheer word, te leef. Niks is belangriker as om God se doel vir jou lewe te ken nie. Niks kan kompenseer as jy nie sy doel vir jou lewe ken nie – nie sukses, rykdom roem of plesier nie.

 

Sonder ‘n doel is ‘n mense se lewe  sonder betekenis. In die Bybel het verskeie mense hierdie hulpeloosheid beskryf.

Ek het gedink: ek het my tevergeefs vermoei, ek het my heeltemal verniet afgesloof  (Jesaja 49:4)

Ek wil nie meer nie, ek sal tog nie vir altyd lewe nie; laat my staan; my lewe is niks meer werd nie (Job7:16)

Die grootste tragedie in die lewe is nie die dood nie, maar ‘n lewe sonder doel

 




Oorwin trots

 

Don’t fail to do something just because you can’t do everything –  Bob Pierce.

 

Oorwin trots

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Die Skrif en gehoorsaamheid is die brood en botter van geestelike volwassenheid. Baie Christene het groot agting vir die Skrif, maar gebruik dit verkeerd – dit lei tot meer trots as geregtigheid. Dieselfde geld vir gehoorsaamheid. Hoe kan die Skrif en gehoorsaamheid Fariseërs produseer? Dit word bepaal deur hoe ons die Bybel gebruik en hoe ons gehoorsaamheid interpreteer.

 

Die Bybel is veronderstel om ons te leer wie God is, wat Hy wil hê en hoe ek hierteenoor vaar. As ek dit korrek lees en die verandering waarvoor dit vra, maak, lei dit tot geregtigheid en seën. Ons gebruik soms die Bybel vir ander doeleindes:

  • Ons gebruik dit as ‘n verkyker – ons sien ander se tekortkominge in die fynste besonderhede. Dit is makliker as om die aaklige dinge wat ek in die spieël mag sien, te hanteer.
  • Die Bybel as stut/kruk – gebruik dit om ons intellektuele vermoëns en kennis af te wys. Bybelkennis en akkurate teologie is belangrik. Regte denke lei tot regte lewens. Goeie Bybelkennis moet kom met ‘n waarskuwing – hoe meer ons weet, hoe meer is ons geneig om op ander wat minder as ons weet, neer te sien. Daar is natuurlik dwaalleer en dit moet onthul word. Meeste van die punte waaroor ons argumenteer en waarop ons trots is, is nie sake van belang vir ons verlossing nie. Dit mag belangrik wees, maar dit is nie noodsaaklik nie. As ons die Bybel as kruk gebruik, word elke verskil ‘n geleentheid om my meerdere kennis en verstaan af te wys – om ons te skei. Trots en die gebrek aan liefde maak ons kennis nutteloos.
  • Die Bybel as afspringplek vir spekulasie. Nou: Hoe lyk antichris/ watter soort vis het Jona ingesluk/ hoekom het God toegelaat dat Satan Job se lewe deurmekaar krap; ens? Die Bybel antwoord nie hierdie vrae nie. Baie teorieë en spekulasie wat sê hulle het die antwoorde. Om hieroor te dink, is intellktueel stimulerend. Ons word kundige oor alle moontlike dinge wat nie geantwoord kan word nie – selfaangestelde kundiges. Die Bybel laat baie vrae onbeantwoord. Sommige dinge is net buite my bestaansvermoë of is onbelangrik of niks van my besigheid nie. Hoe meer tyd ek hieraan spandeer, hoe meer mis ek wat God regtig vir my wil sê – en hoe trotser word ek.

 




Trots se onheilige drie-eenheid

 

It’s not about charity. It’s about Justice – Bono

Trots se onheilige drie-eenheid

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Trots het veral drie paaie om in ons lewens te kom. Saam vorm hulle trots se onheilige drie-eenheid.

  1. Stomp=oog siekte

Maklik om te verduidelik; moeilik om te oorwin. Ons natuurlike geneigdheid is om die splinter in ‘n ander se oog te sien en onbewus van die stomp in ons eie oog te wees. Ons sien en onthou die slegste van ander; ons sien en onthou net die beste van onsself. Jesus waarsku hierteen in Matt 7:1 – 5. Ons het ‘n lys van tekortkominge van ander – maar ons ignoreer ons eie.

 

  1. Selfmisleiding

As ek my geestelike telkaart opstel, is meeste van ons skelm – nie doelbewus nie, maar die subtiele oneerlikheid van selfmisleiding. Meeste van ons het ‘n opgeblase mening van onsself – dit is wensdenkery. Sommige ander het weer ‘n kroniese, patologiese haat van hulleself. Vrae: my vermoë om met ander oor die weg te kom; my eerlikheid; my werksetiek; my basiese intelligensie. Meeste mense evalueer hulle as bo gemiddeld. Dit is nie dat ons nie wil erken dat ons in sommige gevalle onder die gemiddelde is nie – ons glo dit nie. Geen wonder ons kyk af op ander nie.

 

  1. Vergelyking

Ons neiging  is om onsself met ander te vergelyk. Dit is nie ‘n slegte ding per se nie – dit is ‘n natuurlike reaksie. Sonder vergelyking kan ons niks verbeter nie, sal ons nie weet watter boek om te koop nie. Die probleem met geestelike vergelykings – ons kan nie harte lees nie Ons ken nie agtergronde nie. Ons weet nie of iemand al lang pad gevorder het nie. Ons weet nie wat God besig is om agter die skerms te doen nie. Ons sou nooit godlasterlike Saulus as die toekomstige Paulus gesien het nie. Jy het nooit al die feite om te vergelyk nie. Daar is net te veel wat ons nie weet om te vergelyk met ander nie. Ons sien nie wat God sien nie. Daarom vra Hy dat ons oordeel aan Hom moet oorlaat

 

 

 




Oorgawe verskil van offers

 

One death is a tragedy; a million is a statistic –  Josef Stalin

 

Oorgawe verskil van offers

As dit kom by gee, volg ons eerder offers en gehoorsaamheid as dit wat God werklik verlang – oorgawe. Oorgawe begin as ons besef dat alles wat ons het nie eintlik ons s’n is nie. Jy kan offers bring en steeds in beheer wees. Oorgawe is ook anders as gehoorsaamheid – jy kan baie van God se opdragte gehoorsaam en nie oorgee nie.

 

Is baie van ons nie so nie: ons is goeie Christene, ons is aktief in die gemeente, ons gee groot bydraes … maar daar is iets wat ons verkies dat God ons nie daaroor vra nie. Solank as ‘n aspek van ons lewe ‘n geslote deur vir God is, het ons nog nie oorgegee nie.

 

Oorgee is ‘n blanko tjek sonder beperkings. Dit beïnvloed ons gehoorsaamheid en offers, maar dit is dieper as beide. Oorgawe is die reaksie van ‘n dankbare hart. Ons onthou dat God alles prysgege het vir ons. Sonder Hom het ons niks nie. Hy het sy lewe vir ons gegee, daarom kan ek met blydskap alles aan Hom oorgee.

 

Oorgawe beteken dat ek na God met oop hande en ‘n oop hart kom. Wat volgende gebeur is tussen my en die Heilige Gees. Hy mag my vra om ‘n sondige verhouding te beëindig; Hy mag my vra om my geld in sy koninkryk te belê …

 

Moenie na ander kyk as God jou vra om volledig aan Hom oor te gee nie. Kom na Hom met oop hande en sê: Here ek gee my volledig aan U oor.