Laat u Naam geheilig word

My good name I can leave to the Father. My brother’s good name has been entrusted to me. — Andrew Murray

 

Laat u Naam geheilig word

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

God sluit in sy tien gebooie die volgende in: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie (Eksodus 20:7). God plaas ‘n hoë premium daarop dat dit belangrik is dat sy kinders sy Naam as heilig beskou en dat dit so hanteer moet word. Ons sien presies dieselfde in die Ons Vader gebed. Die dissipels het vir Jesus gevra hoe hulle moet bid en Hy sê: So moet julle bid.

 

Laat u Naam geheilig word. Ons lees hierdie woorde asof hulle ‘n bevestiging van ‘n erkende waarheid is. Hierdie is egter ‘n petisie – ‘n versoek. Onthou wat Jesus hier doen, is om die prioriteite waarvoor ons in ons gebede moet vra, vas te lê. En die heel eerste ding wat Hy noem, is dat God se Naam heilig gehou sou word.

 

Wat beteken dit as ons sê dat God heilig is? Hy is anders as alles wat ons nog ooit ondervind het; God die Skepper is anders as sy skepsels – Hy is nie geskep nie en Hy is ewig. Sy wese is van so ‘n aard dat dit almal se aanbidding waardig is. Hy leer ons hier om te vra dat God se Naam as heilig beskou moet word – dat dit met eerbied hanteer moet word.

 

Min van ons sou hierdie as ons eerste prioriteit gepaas het. Dit is vir ons vreemd om soveel klem op die regte hantering van ‘n naam te plaas. Tog voel ons seergemaak as mense ons name vergeet of verkeerd uitspreek. Ons voel mense dink nie baie van ons nie – hulle neem ons nie ernstig op nie. Hierdie eerste drie petisies hou verband met mekaar. Dit help nie om te bid dat God se koninkryk moet kom as sy Naam nie geheilig word nie – God se koninkryk kom nie vir mense wat geen respek vir Hom het nie.

 

Deur hierdie petisie eerste te plaas sê Jesus dat God se Naam die fondament van alles is – hoe ons voor Hom leef, word deur ons gesindheid teenoor Hom en ons siening van wie Hy is, bepaal. Geen aanbidding vir of gehoorsaamheid aan Hom kan vloei uit ‘n hart wat nie respek vir die Naam van God het nie. Jesus sê dat ons nie agting het vir sy Naam nie, wys dit dat ons geen agting vir Hom het nie. Voordat God se koninkryk kan kom en voordat sy wil gedoen kan word, moet ons eers agting vir God se Naam hê.

 

 




Die grootste gevaar van die Christelike geloof

 

The most important daily habit we can possess is to remind ourselves of the Gospel. —C.H. Spurgeon

 

Die grootste gevaar van die Christelike geloof

Die grootste gevaar van die Christelike geloof is nie ateïsme of Islam of ‘n ander godsdiens of onsedelikheid nie. Nee, dit is selfvoldaanheid. Selfvoldaanheid beteken dat ons met die status quo tevrede is – tevrede met hoe dinge is in jou eie persoonlike geestelike lewe en in die kerk.

 

Die Christelike geloof behoort gedurig in ‘n toestand van uitdaging en verandering te wees. Die kerk moet altyd nader aan God se toekomstige koninkryk beweeg. Te veel Christene is heeltemal tevrede om op een plek te bly. Hulle vrees verandering veral as dit beteken dat hulle buite hulle gemaksone moet beweeg.

 

God is dinamies. Hy soek altyd nuwe maniere om sy kerk uit te daag. Natuurlik is tradisie nie net sleg nie. Wat sleg is, is die behoud van die status quo omdat dit gemaklik is. ‘n Gemeente wat te bang is om te verander, is reeds dood. Passie vir die koninkryk van God is ‘n teken van egtheid. Passie vir die koninkryk van God gaan gepaard met kwesbaarheid, aanspreeklikheid en beskikbaarheid. Dit is alles dinge wat ons ongemaklik maak. Dit is egter noodsaaklik vir groei.

 




Hoe moet ons die Bybel benader?

 

A church that lives within its four walls is no church at all –  Morgan Chilulu

 

Hoe moet ons die Bybel benader?

As jy ‘n Christen is, glo jy dat dit belangruk is om die Bybel te lees. Maar hoe moet ons dit benader? Matt Smethurst noem sewe maniere waarop ons die Bybel behoort te benader.

 

  1. Benader die Bybel nederig

Die Bybel gee vir ons bewyse dat die Skepper ‘n God is wat inisieer, openbaar en praat. Of Hy praat of ons raai. Hy het gepraat. Hy praat met ons deur ‘n boek. In die Bybel openbaar God sy gedagtes en wil vir ons. Hy kon ons aan onsself oorgelaat het om in ‘n oseaan van onkunde te sink. Maar Hy doen dit nie. Enige kennis van God is as gevolg van sy selfopenbaring aan ons. Net deur sy woord kan ons weet wie Hy is, wat Hy vereis en hoe ons Hom kan ken. Dit moet ons nederig maak.

 

  1. Benader die Bybel desperaat

Moses sê vir die volk: Neem al hierdie woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte … Dit is nie ‘n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle (Deuteronomium 32:45, 47). Nie alleen word ons geestelike lewens begin deur God se woord nie, maar sy woord onderhou ons geestelike lewens. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God (1 Petrus 1:23). Jesus self verklaar: ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom (Matteus 4:4). Sonder die Bybel sal my siel verwelk en vergaan. Daarom moet ek dit desperaat benader.

 

  1. Benader die Bybel ywerig om te leer

Die werke van die Here is groot, almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na (Psalm 111:2). Die mense van Berea stel vir ons ‘n baie goeie voorbeeld: Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus gesê het (Handelinge 17:11). Kom na die Bybel met die gesindheid van ‘n student; vra die Skrywer om jou  wonderlike dinge te leer.

 

  1. Benader die Bybel gehoorsaam

Ons moenie net God se opdragte verstaan nie, maar dit ook gehoorsaam. U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word … Gee  my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou (Psalm 119:5, 34). Jakobus stel dit selfs sterker: Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself (Jakobus 1:22).

 

  1. Benader die Bybel met blydskap

Die Psalmboek begin met die man wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink (Psalm 1:2). Jeremia het dieselfde gesindheid gehad: Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ‘n vreugde (15:16). Vir baie van ons voel Bybellees soos ‘n plig – iets wat ons moet doen. Bid vir vreugde.

 

  1. Benader die Bybel met verwagting

Die uiteindelike skrywer van die Bybel is God. Daarom kan die Bybel lewens verander. Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4). Die Bybel is daar om ons te onderrig, te bemoedig, te volhard en om hoop in jou hart te gee.

 

  1. Benader die Bybel dikwels

In die oggendskemer al roep ek om hulp en stel my vertroue in u word. Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord (Psalm 119:147 – 148). Ons moet onsself in God se woord versadig.

 

Is dit hoe ons God se woord hierdie jaar gaan benader? Ons sal nie spyt wees as ons dit doen nie.

 

 

.

 




Ons Vader wat in die hemel is

One of the great things about being old is that you know from much experience that seasons of sadness recur but do not last. – John Piper

 

Ons Vader wat in die hemel is

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Meeste van ons gebede begin met Vader. Ons is so geneig om hierdie titel van God sommer net te aanvaar. Ons dink nooit na oor die betekenis daarvan nie; ons besef nie hoe radikaal dit is om na God as Vader te verwys nie. Joachim Jeremias bevind dat in al Jesus se gebede, met een uitsondering, spreek Hy Jesus as Vader aan. Dit lok baie weerstand by sy teenstanders uit. Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem  en Hom so met God gelyk gestel (Johannes 5:18).

 

‘n Baie belangrike leerstelling in die Nuwe Testament is dié van aanneming. God is nie ons natuurlike Vader nie, maar in Christus word ons in die familie van God aangeneem. In hierdie gebed sê Jesus dat nie net Hy die reg het om Jesus as Vader aan te sprek nie, maar sy volgelinge het dieselfde voorreg op grond van hulle aanneming. Elke keer as ons sê ons Vader moet dit ons aan ons aanneming herinner – dat ons in ‘n intieme verhouding met God geplaas is. Dit is iets wat ons nie van nature gehad het nie. Dit is Jesus wat sy erfenis met ons deel.

 

In die 19de eeu word die analogie van die berg ontwikkel. God sit op die kruin van ‘n hoë berg en daar is baie paadjies wat na die kruin gaan. Party gaan reguit na die kruin terwyl ander kronkel.  Die basiese idee is dat dit nie eintlik belangrik is watter pad jy volg nie, want almal kom uiteindelik by die kruin uit. Jy kan dus die pad van Christus of Mohammed of Boeddha loop – dit maak nie saak nie. Almal is net verskillende paaie na dieselfde plek.

 

Dit is nie waar nie. As die Bybel van God as Vader praat, gaan dit nie net oor die skepping nie, maar spesifiek oor verlossing. Die vaderskap van God is dus eksklusief en beperk. God is die Vader van Jesus op ‘n unieke wyse, maar die Vaderskap van God word uitgebrei na die wat aangeneem is as deel van sy uitgebreide familie. Hulle is aangeneem omdat hulle in Christus is. Voortspruitend hieruit is die gemeenskap wat almal wat deel van die familie is, ondervind – gelowiges is dus broers en susters van mekaar. Weereens is ons nie natuurlik deel van hierdie gemeenskap nie – ons moet weergebore word om deel daarvan te word.

 

Nie alle mense is my broers/susters nie – net diegene wat in Christus is. Wat die Bybel wel beklemtoon, is dat alle mense my naaste is en God verwag van my om hulle te hanteer soos ek verwag hulle moet my hanteer. Ek moet my naaste liefhê soos ek myself liefhet. My naaste word nie tot my broers/susters beperk nie. Lees net weer die gelykenis van die barmhatige Samaritaan. Jesus het hierdie gelykenis vertel nadat ‘n wetgeleerde Hom ‘n vraag gevra het: En wie is my naaste? (Lukas 10:29).