Maria Magdalena

 

The Law tells us what to do. The Gospel tells us what God has done for us in Christ. —Michael Horton

 

Maria Magdalena

Daar is baie Maria’s in die Bybel wat verwarrend is. Oor Maria Magdalena is daar baie misverstande. So byvoorbeeld is Magdalena nie haar van nie, maar ‘n verwysing na die dorp in Galilea van waar sy gekom het. Daar is twee vrae wat van belang is:

  1. Was Maria Magdalena ‘n prostituut?

Nêrens in die Bybel lees ons dat sy ‘n prostituut was nie. Pous Gregorius 1 (oorlede in 614) het gesê dat sy die vrou, wie se naam nie genoem word nie, is wat in owerspel betrap is (Johannes 7:58 – 8:11). Dit verskil egter van die Bybelse beskrywing van haar. Tog is dit die wyse waarop sy voorgestel word in Jesus Christ Superstar, The Last Temptation of Christ en The Passion of the Christ. Geen wonder daar is maar min mense wat weet dat die Bybel haar nie as ‘n prostituut beskryf nie.

 

  1. Was Maria Magdalena ‘n apostel?

Maria Magdalena is meer prominent in die evangelies as ander vrouens. Sy is dan ook ‘n getuienis in die mees Christologiese betekenisvolle oomblikke. Die evangelies stem saam oor haar teenwoordigheid by die dood, begrafnis en opstanding van Jesus. Volgens die evangelies van Markus en Johannes het Jesus na sy opstanding eerste aan haar verskyn. In Lukas 8:2 – 3 is sy een van Jesus se volgelinge wat sy bediening ondersteun het: Hierdie vroue het uit die middele vir Jesus en die twaalf gesorg. Daar word ook gesê dat sewe bose geeste uit haar gegaan het.

 

Jesus se verskynings na sy opstanding het gesag verleen aan die getuies daarvan. Dit het hulle as leiers in die Christelike gemeenskap bevestig. Was sy meer as net ‘n toegewyde volgeling van Jesus of was sy ‘n leier? Die gnostiese Evangelie van Maria ondersteun so ‘n gevolgtrekking. In sy gewilde boek The Da Vinci Code sê Dan Brown dat Maria Magdalena die dissipel aan Jesus se regterhand in die bekende Da Vinci skildery is. Sy was ook, volgens Brown, Jesus se swanger vrou tydens sy kruisiging. Die Evangelie van Maria word nie deel van die Bybel nie, want die vroeë kerk het dit as dwaalleer beskou.

 

In die evangelies word Maria Magdalena geskilder as ‘n belangrike getuie en volgeling van Jesus. Ons kry verwysings na haar ook in buite-Bybelse literatuur. Sy was moontlik welvarend – in Lukas 8 word sy met die welgestelde en polities invloedryke Johanna die vrou van Gusa, ‘n hoë amptenaar van Herodes geassosieer.

 

 




Jesus se eerste en tweede koms

 

Men are more in danger from prosperity than adversity. For when matters go smoothly, they flatter themselves & are intoxicated by success. — Johannes Calvyn

 

Jesus se eerste en tweede koms

Jesus het gekom. Jesus sal weer kom. Daar gaan ‘n groot verskil tussen sy eerste en tweede koms wees. Ons kan dit in tabelvorm weergee

 

Jesus se eerste koms Jesus se tweede koms
Hy kom om te sterf Hy kom om te heers
Hy kom op ‘n donkie Hy kom op ‘n oorlogsperd
Hy kom as ‘n nederige dienaar Hy kom as die verheerlikte Koning
Hy kom in swakheid Hy kom in mag
Hy kom om te verlos Hy kom om te oordeel
Hy kom in liefde Hy kom in toorn
Hy kom as gesluierde God Hy kom as geopenbaarde God
Hy kom met 12 dissipels Hy kom met ‘n menigte engele
Hy kom om vrede te bring  Hy kom om oorlog te maak
Hy kry ‘n doringkroon Hy kry ‘n kroon wat by koninklikes pas
Hy kom as die lydende Dienaar Hy kom as die Koning van die konings en die Here van die here.
   

 

 

 




Hoekom het God jou gekies?

 

God eternal became a child so that through his life, death and resurrection, we would become the children of God. —Paul Tripp

 

Hoekom het God jou gekies?

Baie Christene voel dat daar nog iets is wat hulle behoort te doen, maar nie doen nie. Wat is dit? Hulle besef nie dat God hulle vir ‘n doel verlos het nie. Ons doel as gelowiges stem baie ooreen met dié van Abraham in Genesis 18. Hy sê vir ons hoe ons lewens in die lig van die evangelie verander.

 

  1. As ons die evangelie glo, word ons soos die evangelie – vol genade

God gee aan Abraham ‘n voorskou van die vernietiging van Sodom. Hierdie was ‘n gewelddadige stad wat reeds probeer het om Abraham dood te maak. Wat doen Abraham? Hy bid vir genade. Hy pleit by God om sy vyande te vergewe. Hoekom doen hy dit? Omdat hy besef het dat God hom as kanaal gekies het om die ander nasies te seën. Hy vervul hierdie roeping. Maak nie saak dat Sodom vol vyande was nie, want Abraham onthou dat hy op ‘n stadium ‘n vyand van God was. Ten spyte daarvan het God hom geseën. As ontvanger van onpeilbare genade kon hy nie anders nie – hy moes dit ook aan ander doen. Ons moet dit ook doen.

 

  1. Elkeen van ons is in ‘n gemeenskap te plaas om vir daardie gemeenskap te bid en op te offer.

Waar jy nou is, is nie toevallig nie. God het jou in jou familie of gemeenskap geplaas sodat jy vir seën en genade vir hulle kan bid. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon (Handelinge 17:26).  God bepaal in sy soewereiniteit waar mense sal woon en Hom sal soek. Jou bure mag dink hulle het daar ingetrek as gevolg van hule nuwe werk. Christene weet dat God hulle daarheen gebring het om my bure te wees, omdat Hy wil hê dat hulle van Jesus Chrstus moet hoor. Die kerk is ons goddelike bestemming om uit te reik in barmhartigheid na die gemeenskap om ons. Ons is dit aan ons bure en vriende verskuldig om vir hulle te bid en op te offer – Jesus het dit vir ons gedoen. Waar sou ons vandag sonder God se genade gewees het?

 

  1. Ons kan bid en in afwagting gee as gevolg van die offer van Jesus Christus

Toe Abraham bid onderhandel hy as ‘t ware met God. Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad … Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges  daarin nie?  toe 45, toe 40, toe 20, toe 10 … en uiteindelik net 1. Hierdie verhaal bring ‘n vraag na vore wat net die Nuwe Testament kan antwoord: Is daar nie een regverdig genoeg dat God die hele stad kan spaar nie? Daar is iemand: Jesus. Sy offer aan die kruis was voldoende. In Jesus se Naam kan ons God om vergifnis vra. As ons dit verstaan, kan ons groot gebede bid en groot dinge verwag – ons kan groot vir Christus waag. God het groot dinge aan sy kerk en die wêreld belowe, en as gevolg van Jesus is ek seker dat Hy sy beloftes sal nakom.

 

Baie Christene praat oor die toekoms asof hulle mismoedig is. Jesus het ‘n belofte om te vervul en Hy sal dit doen. Hy het nie gesterf sodat ‘n klomp bang Christene op ‘n hopie kan sit nie en wag vir iets beter nie. Nee, Hy het gesterf sodat ons vol moed na alle mense op alle plekke kan uitgaan en sy evangelie verkondig. God is nie vandag kleiner as wat Hy in Abraham se tyd was nie.

 

 




Jesus en Mohammed

 

Human Reason is offended, who although she is blind, deaf, stupid, impious, and sacrilegious with regard to all the words and works of God, is [believed to be] a judge of the words and works of God. — Martin Luther

 

 Jesus en Mohammed

Die verskil tussen Moslems en Christene word teenoor mekaar gestel as ons na die nalatenskap van hulle profete kyk. Dit word goed geïllustreer deur Jesus se intog in Jerusalem en Mohammed se intog in Mekka.

 

Mohammed ry Mekka binne op ‘n oorlogsperd omring deur 400 manskappe op perde en 10 000 voetsoldate. Diegene wat hom ontvang het, word deel van sy beweging. Diegene wat weerstand gebied het, word of doodgemaak of word slawe. Mohammed het Mekka oorwin en neem beheer oor as die nuwe godsdienstige, politieke en militêre leier. In die Topkapi paleis in Istanbul word Mohammed se beweerde swaard trots vertoon.

 

Jesus ry Jerusalem op ‘n donkie binne. Hy word van sy twaalf dissipels vergesel. Hy word deur mense verwelkom wat groen takkies afgebreek het en voor Hom op die pad gegooi het. Hierdie is ‘n tradisionele teken van vrede. Jesus huil oor Jerusalem, want die Jode het verkeerdelik gedink dat Hy ‘n aardse, sekulêre koning sou wees wat hulle van die juk van Rome sou bevry. Jesus het egter gekom om ‘n andersoorrtige koninkryk te kom vestig. Jesus kom nie met mag nie.

 

Wat ‘n verskil.