Hoe bestudeer ek die Bybel?

There is nothing in the law of God that will rob you of happiness; it only denies you that which would cost you sorrow. —C.H. Spurgeon

 

Hoe bestudeer ek die Bybel?

Ons gaan voort met die reeks van Mel Lawrenz.

Die rede waarom ons die Bybel bestudeer is om ons band met ons Skepper sterker te maak. Hy het  met ons deur die profete en apostels gepraat. Ons versterk hierdie band deur die ware betekenis van die teks te soek. Dit kan ons slegs doen as ons eers die geheel ondersoek het voordat ons na die dele kyk.

 

Die basies blok van betekenis is die individuele boek. Hierdie boeke het verskillende vorms – geskiedenis (Josua), ‘n versameling van profetiese uitsprake (Jesaja), ‘n versameling van gedigte en liedere vir aanbidding (Psalms), die verkondiging van die evangelie (Lukas), ‘n persoonlike brief en ‘n beskrywing van ‘n visie van die geskiedenis en toekoms (Openbaring).

 

As ek ‘n boek in die Bybel bestudeer moet ek die volgende verstaan:

  1. Die historiese agtergrond van die boek. Die eerste vyf boeke van die Bybel is geskryf om vir die Israeliete ‘n visie van wie hulle is te gee.  Klaagliedere se oorsprong is die verlies en vernedering van die ballingskap. Openbaring se oorsprong is ‘n tyd van erge vervolging. So kan ons na al die boeke kyk. Hierdie historiese agtergrond help ons om die betekenis van die teks beter te verstaan.
  2. Die kultuuragtergrond van die boek. Hiermee bedoel ons hulle gebruike, taal, kuns, leefwyse en wat hulle geglo het. Kultuur is baie ingewikkeld. Die skrywers het geskryf in ‘n besondere kultuur en ons moet hierdie kultuur verstaan om die teks te verstaan. Die Jode beweeg in Kanaän en die stryd tussen die twee kulture staan vir baie eeue sentraal in die verhaal van die Bybel. Ons moet die afgodsdiens en belang van stamme in hierdie tyd verstaan. 1 Korintiërs verwag dat ons iets van die sosiale onsedelikheid van die Griekse kultuur moet verstaan.
  3. Die geografiese plasing van die boek. Ons moet verstaan dat Esegiël tydens die ballingskap in Babilonië geskryf is. Boeke vanuit ‘n plattelandse gebied gebruik plattelandse beelde en dié geskryf vanuit stede gebruik stedelike taal en vergelykings.
  4. Die politieke agtergrond van die boek. Boeke afkomstig uit ‘n sterk ryk soos tydens die bewind van Dawid en Salomo het een stel bekommernisse. Boeke geskryf tydens oorloë het ‘n ander perspektief. Dié geskryf uit ballingskap het die perspektief van dié wat verslaan en onderdruk is.

 

Watter stappe moet ons neem om die Bybelse boeke as eenhede te benader?

  • Lees ‘n eenvoudige inleiding tot die boek – soos ons dit in studiebybels en Bybelse handboeke kry.
  • Lees die hele boek deur – vergeet van hoofstukke en verse. Hulle is in ieder geval eers eeue later bygevoeg.
  • Maak notas. Die vrae wat jy het; stellings wat jou verbaas, woorde wat herhaal word, die oorgange wat vloei in die boek wys, die hoofpunte en die passie en bekommernisse van die skrywer.
  • Maak ‘n lys van die hoofdele van die boek – jou persoonlike persepsie van die vloei en struktuur van die boek.
  • Lees ‘n meer gedetaillerde agtergrond – ‘n kommentaar of ‘n artikel in ‘n Bybelensiklopedie.
  • Gaan terug en lees weer die hele boek. Jy tel elke keer iets nuuts op.

 

Om die hele boek te lees verhoed dat ons fragmentaries lees. ‘n “Vers-‘n-dag” sal nooit die betekenis duidelik maak nie. Ons moet die geheel sien.

 

 

 




My doel in die lewe (2)

 

The way to do nothing at all is to be continually resolving that you will do everything. —C.H. Spurgeon

 

My doel in die lewe (2)

In die vorige blog het ons in die algemeen oor die doel van my lewe gepraat Nou gaan ons probeer vasstel wat dit is deur ‘n aantal vrae te vra en antwoorde te gee.

 

V: Waarom het God jou gemaak?

A: Om Hom te verheerlik.

Dit is die lewensvraag waarmee elke mens op een of ander stadium van sy lewe worstel. Die Bybel het die antwoord: Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid (Romeine 11:36). Ons bestaan om God te verheerlik. Dit maak ons nederig. As jy dit verstaan en toepas, verander dit alles in jou lewe. Die eenvoudige feit: ek is nie die rede waarom ek hier is nie. As ek vir myself, my eie gemak, heerlikheid en roem lewe, sal ek nie die doel waarvoor God my gemaak het verwesenlik nie.

 

V: Hoe kan ek God verheerlik in my alledaagse lewe?

A: Deur goeie werke te doen.

Word God net verheerlik as ek my Bybel lees en bid? Kan ek Hom in my alledaagse lewe verheerlik? Jesus self het hierdie vraag geantwoord: Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matteus 5:16). Jou goeie werke is soos ‘n lig. As daardie lig skyn verlig dit vir God. As mense daardie lig sien, is hulle veronderstel om God te sien en te sê: Hy is ontsagwekkend. Jy verheerlik nie vir God net as jy oor Hom praat of sy evangelie met ander deel of Hom in die openbaar aanbid nie. Jy verheerlik ook vir God as jy goeie werke doen. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening (1 Petrus 2:12).

 

V: Wat is goeie werke?

A: Dit is dade gedoen tot verheerliking van God en die voordeel van ander mense.

Almal van ons weet hoe om goeie werke te doen wat ons bevoordeel. Maar toe jy verlos is, het God vir jou ‘n hart gegee wat verlang om goed vir ander te doen – al kos dit jou iets. Dit is immers wat God aan die kruis gedoen het. Hy roep ons om Hom na te boots.

 

V: Ek is ‘n sondige persoon: kan ek goeie werke doen?

A: Ja. Christene kan goeie werke doen as gevolg van die voltooide werk van Christus.

As Christen is jy bewus van jou sonde. Jy kan goeie werke doen – dit is die rede waarom God jou verlos het. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Paulus gaan selfs verder in Titus 2:14:  Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen. Ek kan werke doen wat vir God vreugde bring – al doen ek hulle nie so volmaak soos ek graag wil nie en al is ek onseker oor my motiewe. Jou beste dade is ver van volmaak, maar God is tevrede met hulle en aanvaar dit met vreugde.

 

V: In watter lewensgebiede moet jy goeie werke beklemtoon?

A: Te alle tye en op alle lewensgebiede.

Daar is geen gebied in jou lewe waar jy nie aan ander goed kan doen nie. Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God (1 Korintiërs 10:31). In 1 Timoteus 2:9 – 10 skryf Paulus spesifiek vir vroue: Hulle versierings …maar goeie werke , soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. By elke geleentheid en binne elke konteks is dit moontlik om goed aan ander te doen.

 

V: Wat is produktiwiteit?

A: Dit is om ‘n doeltreffende rentmeester van my gawes, talente, tyd, energie en entoesiasme  te wees sodat dit tot voordeel van ander en ter verheerliking van God is.

Produktiwiteit roep jou om jou hele lewe op hierdie een doel te rig: om God te verheerlik en om goed aan ander te doen. Dit roep jou om jou geestelike gawes wat God vir jou gegee het toe Hy jou verlos het, te gebruik. Jy moet jou talente, jou natuurlike sterkpunte, gebruik. Jy moet die 24 uur wat God elke dag vir jou gee bestuur; jy moet jou energie gebruik. Dit betrek selfs jou entoesiasme – die passie en belangstelling wat jy na jou goeie werke kan bring. God roep jou om dit alles te neem en versigtig en getrou te gebruik om aan ander goed te doen.

 

My doel: Om God te verheerlik deur goed aan ander te doen.

 

 




Mislukking

 

One of the most beautiful qualities of true friendship is to understand and to be understood. -Lucius Annaeus Seneca

 

Mislukking

Mislukking maak ons nie bly nie. Dit is pynlik, vernederend en ‘n verleentheid. Ons reaksie op mislukking kan ons lewens verander. Mislukking kan ons bitter of beter maak. Ons kan uit mislukking leer – ons kan harder werk of besef dat ons hulp nodig het.

In Markus 9:14 – 29 lees ons die interessante storie van Jesus se dissipels wat nie ‘n seun wat met ‘n bose gees besete was, kon genees nie. Hoekom kon hulle die seun nie genees nie? Hulle moes eers ‘n belangrike les leer – hulle moes besef dat hulle hulp nodig het.

 

Daaris nog ‘n les wat ons moet leer: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13). Ek kan niks wat werklik saakmaak sonder Hom doen nie. Dit dryf my voortdurend na Hom vir hulp. Ek moet toelaat dat my swakheid my na sy sterkte dryf. Ek moet toelaat dat my beperkings my na sy onbeperkte hulpbronne dryf. Die dissipels moet nog hierdie les leer. ‘n Vader met ‘n seun wat lei gaan die dieptes van hierdie waarheid peil.

 

 




My doel in die lewe (1)

 

The gospel frees us from our addiction to ourselves – Tony Merida

 

My doel in die lewe (1)

Ons kan almal beter in die lewe doen. Dit beteken nie dat ons meer moet doen  of langer ure moet werk en nog minder tyd by ons gesinne deurbring nie Dit gaan oor meer doen van dit wat werklik saakmaak – en om dit beter te doen. Die probleem is dat baie van ons skuldig voel omdat ons sekere verantwoordelikhede verwaarloos. Jy voel soos die ou wat die borde draai – jy hardloop vorentoe en agtertoe en in sirkels.

 

Dit hoef nie so te wees nie. Jy kan ‘n kalm en rustige lewe leef met volle vertroue in jou vooruitgang. Jy kan saans rustig slaap. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap (Psalm 127:2). Hoekom sukkel ons dan so om ‘n rustige lewe te leef?

 

Die probleem is dat die fondament waarop ons ons lewens bou nie sterk genoeg is nie. Wat is hierdie fondament? Ek moet seker wees oor die doel van my lewe – waarom leef ek? Kom ons probeer hierdie vraag antwoord deur ‘n paar vrae te vra en antwoorde te gee.

 

Daarna gaan ons volgende keer kyk.