Die nuwe fondament

 

“The friend who can be silent with us in a moment of despair or confusion, who can stay with us in an hour of grief and bereavement, who can tolerate not knowing… not healing, not curing… that is a friend who cares.” – Henri Nouwen

 

Die nuwe fondament

Jesus teken sy onderrig as’n huis gebou op ‘n rots. Ten spyte van al die aanslae  het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots (Matteus 7:24 – 27). Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus self die hoeksteen is (Efesiërs 2:19 – 20). Hoekom is die apostels en profete die fondament? Hulle dra die woorde van Jesus oor aan ander. In die proses gebruik die Vader die Heilige Gees wat julle alles leer  en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26).

 

Ons hoor nie meer die apostels direk met ons praat nie. Ons het egter hulle woorde opgeteken in die Skrif. Die beste nuus is dat Jesus iets gebring het wat Moses  nie kon bring nie. Moses se wet kon vir ons wys wat sonde is en wat die straf vir sonde is. Maar die wette en diereoffers kan nie vergifnis van sonde bring nie. Daarvoor het ons God se Gesalfde nodig. God het die wet deur Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom (Johannes 1:17). Daarom kan die Hebreërskrywer skryf: Oor die ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie (8:12).

 

As jy God nodig het om jou sondes te vergewe, as jy genade nodig het, het jy die nuwe verbond nodig. Anders as die ou verbond geld hierdie verbond nie net vir Jode nie, maar vir alle mense.

 




Hoe lees ek die Bybel? Waarneming

 

“Dare to love and to be a real friend. The love you give and receive is a reality that will lead you closer and closer to God as well as those whom God has given you to love.” – Henri Nouwen

 

 

Hoe lees ek die Bybel? Waarneming

Ons gaan voort met Mel Lawrenz se reeks.

Baie mense hou van speurverhale. Hoekom? Om te sien hoe iemand die waarheid ontdek deur noukeurige waarneming. Speurders sien besonderhede raak wat niemand anders raaksien nie. Hulle sit leidrade bymekaar om ‘n groter waarheid te ontdek. Ons wil almal dinge sien soos hulle werklik is.

 

Die eerste ding wat ons doen as ons die Bybel bestudeer, is waarneming. Ons lees die Bybelse teks aandagtig. Ons lees om te verstaan. Dit beteken ons moet aandag gee aan die kleinste besonderhede, maak ook die groter prentjie. Bybelstudie is ‘n proses van ontdekking. Baie kundiges verdeel Bybelstudie in drie stadia: Waarneming – wat sê die teks, interpretasie – wat beteken dit – en toepassing – hoe maak dit vandag ‘n impak.

 

Ons moet eers die werk van waarneming doen. Waarvoor soek ons?

  1. Die basiese vrae: wie, wat, wanneer, waar, hoe, hoekom

Dit is die basiese vrae wat ons in enige nuwe situasie vra. Deur hierdie vrae te antwoord, verstaan ons die konteks van die stellings wat gemaak word. Elke antwoord sal verskil.

 

  1. Beklemtoning en herhaling

Elke gedeelte het hoofpunte en punte wat minder belangrik is. Die skrywer sê vir ons wat die hoofpunt is deur dit soms te herhaal. Ons moet ons waarneming op daardie punt fokus.

 

  1. Sleutelwoorde en frases

In elke gedeelte is daar tipies ‘n paar sleutelwoorde of frases. Dit is soms moeilik om dit raak te sien.

 

  1. Vergelykings en kontraste

Bybelgedeeltes vergelyk dikwels een waarheid met ‘n ander een of kontrasteer ‘n waarheid met iets wat vals is. Kyk maar net na die gelykenis van die saaier en die kontraste tussen die verskillende tipes grond.

 

  1. Oorsaak en gevolg

Baie Bybelgedeeltes beskryf wat gebeur as iemand ‘n fout maak of ‘n goeie besluit neem. Kyk maar net na Spreuke.

 

Daar is nog ander besonderhede waarna mense kan kyk. Ons moet die Skrif so lees dat ons die dieper betekenis kan raaksien. Die beste ding wat ons kan doen, is om ‘n diep verlange te ontwikkel om alles in ‘n gedeelte raak te sien. Oppervlakkige lees kom nooit by die waarheid uit nie.

 

 

 




God se verbond

 

“…real care means the willingness to help each other in making our brokenness into the gateway to joy.” –Henri Nouwen

 

God se verbond

As God mense kies om aan Hom te behoort, maak Hy ‘n verbond met hulle. Hierdie verbond bind hulle aan God. So ‘n verbond help mense om te verstaan waar hulle met mekaar staan – wat elkeen moet gee en gaan ontvang. Een van die bekendste verbonde is dié wat God met Abraham gemaak het (Genesis 17). Die Israeliete was Abraham se kinders. Toe hulle getalle toegeneem het en hulle ‘n volk geword het, stuur God vir Moses na hulle toe. God lei hulle uit Egipte en maak dan ‘n spesiale verbond met hulle by Sinai. Die Here het vir Moses gesê: “Teken al hierdie gebooie op, want hierop berus my verbond met jou en Israel.” (Eksodus 34:27).

 

Die Israeliete het geglo dat hierdie spesiale verbond tussen God en Israel na die koms van die Messias voortgesit sal word. Daar sal egter ‘n groot verandering kom. Selfs die Ou Testament verwys daarna: Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here (Jeremia 31:31 – 32). Hierdie nuwe verbond gaan verskil van die ou verbond – dit is nie die ou verbond wat net voortgesit gaan word nie.

 

Hebreërs 8 beskryf hoe die belofte van ‘n nuwe verbond beskryf in Jeremia 31 waar geword het. Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond was (8:6). Die skrywer verwys na die ou verbond en kom dan tot die volgende gevolgtrekking: Deur van ‘n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn (8:13).

 

Ons kan steeds baie van die ou verbond leer, maar ons word nie meer deur die ou verbond beheer soos die Israeliete nie. Ons is nou bedienaars van ‘n nuwe verbond, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend (2 Korintiërs 3:6 – 11). Beteken dit nou dat die tien gebooie nie meer geld nie? Kan ons nou maar moor en steel en egbreek? Nee, want God het dit met iets beter vervang. Neem as voorbeeld moord. Jesus brei hierdie gebod uit: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank … (Matteus 5:21 – 22).

 

Ons kan dieselfde van feitlik al die gebooie sê. God herhaal hulle nie net in sy nuwe verbond nie, maar gee aan hulle ‘n groter betekenis. Die enigste gebod wat nie herhaal word nie is die gebod oor die Sabbat: Daarom moet julle nie toelaat dat iemand vir julle voorskrywe … dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat nou kom; die werklikheid in Christus (Kolossense 2:16 – 17). Skaduwees is belangrik, want hulle wys na Jesus Christus. Omdat Jesus gekom het, is dit nie meer skaduwees nie, maar die werklikheid. Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees (Hebreërs 8:10).

 

 




Met wie spandeer jy tyd?

God cannot give us a happiness and peace apart from Himself, because it is not there. There is no such thing. —C.S. Lewis

 

Met wie spandeer jy tyd?

“Jy is die geselskap wat jy hou.” Die ouer mense het graag hierdie spreekwoord teenoor hulle kinders gebruik. Is dit waar? Is ons net die voorwerp van hulle invloed of moet ons probeer om ander te beïnvloed om te verander? Hoe kan ek ‘n persoon beïnvloed om ‘n dissipel van Jesus Christus te word?  As ons dissipels wil maak, het ons ‘n strategie daarvoor nodig. Hierdie strategie moet soos Jesus se strategie lyk. Met wie het Jesus tyd gespandeer? Mense met leierskapspotensiaal (nie noodwendig bewese leiers nie) en mense op die rant van die samelewing.

 

Elke leier wat soos Jesus wil lei het ‘n verpligting om in mense in hierdie twee kategorieë te belê.

 

  1. Diegene met leierskapspotensiaal

“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif.. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk (Lukas 22:31 – 32).

Alle leiers lei; goeie leiers ontwikkel. Ongelukkig meet ons leierskap volgens die persoon se vermoë om take af te handel. Die belangrikste leierskapsvaardigheid is  om mense met leierskapspotensiaal te identifiseer. Groot leiers help dan mense om hulle potensiaal te bereik. Die grootste nalatenskap van ‘n leier is nie wat hy gedoen het nie, maar wie hy ontwikkel het.

 

Ons sien dit in Jesus se lewe. Al sy dissipels, met die uitsondering van Judas,  is voorbeelde van Jesus wat leierskapspotensiaal ontwikkel – en dit in ‘n groep alledaagse manne.  Petrus is ‘n goeie voorbeeld.  Hy was ‘n oorywerige man wat eers gedoen en dan gedink het. Maar onder Jesus se leiding ontwikkel hy tot die leier van die vroeë kerk. Ons lees van sy preek op daardie eerste pinksterdag toe 3000 mense hulle bekeer het. Dit verskil hemelsbreed van die Petrus wat enkele dae vantevore ‘n diensmeisie beledig het omdat sy gesê het dat hy ook ‘n volgeling van Jesus is. Jesus ontwikkel leiers.

 

  1. Diegene op die rant van die samelewing

Die Seun van die mens het gekom en geëet en gdrink en hulle sê: “Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.” (Matteus 11:19).

Jesus het ook geglo en belê in mense op die rant van die samelewing. Om aan hierdie mense liefde te bewys en aan hulle ‘n stem te gee, is nie juis die aanvaarde patroon in ons samelewing nie. Dit behoort ‘n prioriteit vir elke Christen, veral Christenleiers, te wees. Jesus het bande gehad met groepe wat nie in die samelewing waardeer is nie: vroue, Samaritane, kinders, sondaars, armes, siekes … Jesus was aan elk van hierdie groepe toegewy. Hulle kon nie iets van groot waarde vir Jesus gee nie. Hy het nie probeer om iets uit die verhouding te kry nie.

 

Identifiseer ons ooit diegene wat op die rant van ons samelewing staan? Is dit nie tyd dat ons dit doen en ‘n ware vriendskap/verhouding met hulle aanknoop nie? Christus heg waarde aan hulle. Elkeen van hulle is ‘n beelddraer van God. Ons moet vir die wêreld wys dat ons hulle waardeer en liefhet. Ons moet vir hulle modelleer hoe dit lyk as Jesus Christus in ons lewens is.

 

Met wie spandeer jy tyd? Wie is jou vriende? As ons soos Jesus wil wees, moet dit wees met mense met leierskapspotensiaal en mense op die rant van ons samelewing.