God het deur sy woorde gepraat

 

“… marriage is foremost a vocation. Two people are called together to fulfill a mission that God has given them. Marriage is a spiritual reality. That is to say, a man and a woman come together for life, not just because they experience deep love for each other, but because they believe that God loves each of them with an infinite love and has called them to each other to be living witnesses of that love. To love is to embody God’s infinite love in a faithful communion with another human being.” – Henri Nouwen

 

God het deur sy woorde gepraat

Geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig (2 Petrus 1:20 – 21).

God se profetiese boodskap kry ons in die Skrif. Wat die profete geprofeteer het, was nie hulle eie boodskap of interpretasie of persoonlike mening nie. Ware profesie is nooit die produk van die menslike wil nie. Die profesie kom van God en sy Heilige Gees het die profete gelei om neer te skryf wat God beplan het.

 

Die profete skryf in die taal en wyse van hulle tyd – Hebreeus, Aramees en Grieks. Ons kan dikwels uit hulle skrywes sien watter soort persoon hulle was. Die Heilige Gees gebruik alles – tyd, plek, taal en persoon self – om te skryf presies wat God wou gehad het, neergeskryf moet word. Daarom kan Paulus met vertroue sê: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17).

 

Soek jy onderrig wat van God kom? Gaan na die Skrif. Het jy regstelling nodig? Gaan na die Skrif. Daar gee God self vir jou rigting sodat ons na Hom kan terugkeer. Die Skrif berei ons deeglik vir elke goeie werk voor. God het ten volle en duidelik deur die Skrif gepraat. Die Bybel is in werklikheid ‘n biblioteek met 66 boeke. In die proses het God veertig verskillende skrywers oor ‘n tydperk van 1500 jaar gebruik. Tog vertel almal een verhaal. Die Bybel is die Here se boek.

 

Maar hoe praat God met ons? In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in die laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun (Hebreërs 1:1 – 2). Beteken dit dat die profete niks meer vir ons te sê het nie? Nee, in die Hebreërboek self kry ons baie aanhalings en lesse uit die Ou Testament. God se hoofmanier van praat, is egter deur sy Seun. In Hebreërs 3:1 – 6 sien ons dat Jesus is groter heerlikheid  waardig geag as Moses.

 

God het in twee dele gepraat:

Tyd: In die verlede … nou, in die laaste dae.

Groepe: Ons voorvaders … met ons.

Metodes: Deur die profete … deur die Seun.

 

In die verlede was die belangrikste manier waardeur God gepraat het deur sy profete. God het egter die hele tyd beplan om ‘n beter metode – sy Seun – te gebruik. Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (Hebreërs 1:3).

 

Die ou profete gee baie van die basiese kennis wat ons nodig het. Wat hulle gesê het, is steeds waar. God wil egter hê dat ons meer volledig moet weet hoe Hy is. God het baie om vir ons te sê, en daarom moet ons na sy Seun luister.

 

 




Met Jesus verander alles

 

Want to see your troubles evaporate? Help others with theirs. – Max Lucado

 

Met Jesus verander alles

Ou vorms van godsdiens en rituele kan nie die goeie nuus van Jesus se nuwe koninkryk voldoende kommunikeer nie.

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17).

Jesus het nie gekom om ons te verbeter nie, maar om ons nuut te maak. Die geld op persoonlike en korporatiewe vlak. Die evangelie het nie by Judaïsme bygevoeg of dit hervorm nie. Dit het Judaïsme vervul en vervang. Die nuwe verbond het die oue vervang.

 

Dit is baie gewild om vandag te sê dat alle godsdienste dieselfde is – alle paaie lei na God. Hierdie godsdienstige pluralisme sê byvoorbeeld dat as jy die onderrig van Boeddha volg jy uiteindelik in die regte verhouding met God kom. So is daar ‘n Moslem, Hindoe en Christelike pad na God toe. Maak nie saak watter pad jy volg nie, jy kom uiteindelik by diesefde bestemming uit – alle paaie lei na God!

 

Daar is ook die idee dat daar twee paaie na God is: die Joodse en Christelike pad – die sogenaamde twee verbondteologie. Hiervolgens verseker God se verbond met Israel deur Abraham die Jode se guns by God. Geloof in Jesus Christus is dus onnodig vir ons verlossing.

 

In Markus 2:18 – 22 word hierdie misverstand hanteer. Die Here maak dit duidelik dat daar ‘n diskontinuïteit tussen Judaïsme en die Christelike geloof is. Die nuwe wyn van die Christelike geloof kan nie  deur die ou sakke van die Judaïsme hanteer word nie. Met die koms van Jesus verander alles.

 

 

 




God is Gees

“Our greatest fulfillment lies in giving ourselves to others.” Henri Nouwen

God is Gees

‘n Mens wil graag jou eie idees oor God vorm. Miskien is dit om Hom maklikr te verstaan en te beheer. Die ware God is egter te groot vir ons om te verstaan. By die inwyding van die tempel sê Salomo: Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het (1 Konings 8:27). Paulus sê vir die Ateners dat God nie ver van enigeen van ons is nie (Handelinge 17:27). Hoe is dit moontlik dat een mens die heelal vul en tog naby aan elkeen van ons is?

 

Die antwoord kry ons in Johannes 4:24: God is Gees. ‘n Gees het nie vleis en bene nie. Die menslike liggaam  is beperk – hy word op dieselfde plek en tyd vasgevang. ‘n Mens kan nie op twee plekke gelyk wees nie. Sulke beperkings geld nie vir ‘n Gees nie. God as Gees is so groot dat Hy oral teenwoordig is – op alle plekke en op alle tye. Hy kan dus alles beheer; ons kan nie van Hom wegkruip nie.

Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontvlug?  Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas (Psalm 139:7 – 10).

 

Maar tog lees ons dat die Bybel van God se hande en oë praat. Hoe is dit moontlik as Hy Gees is? God gebruik dinge wat ons kan verstaan om dinge te verstaan wat veel groter as ons verstaansvermoë is. Hy het nie ons aardse soort hande en voete nie. Hy gebruik die woord oë as Hy sien en hande en voete as Hy oor sy optrede praat.

 

Ons moet altyd onthou dat ons baie klein teenoor Hom is. Daar is baie dinge van God wat ons nooit ten volle sal kan verstaan nie. Daarom  moet ons in vertroue aanvaar wat God sê. Hy weet die beste oor hoe om ons van dinge veel groter as onsself te vertel.

 

 

 

 

 




Om dankbaar te wees, is God se wil

 

Your existence is not accidental. Your skills are not incidental. God shaped your destiny, so don’t settle for someone else’s story. – Max Lucado

 

Om dankbaar te wees, is God se wil

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag (1 Tessalonisende 5:18).

Mense wil weet wat God se wil vir hulle lewens is. Hier kry ons een ding wat God van gelowiges verwag: dankbaarheid. Hoekom wil God hê dat, maak nie saak wat in my lewe gebeur nie, ek altyd dankbaar moet wees? Rick Warren noem vyf redes.

  1. Dankbaarheid eer God

Ons moet leer om God te dank, nie net vir wat Hy doen nie, maar ook vir wie Hy is. Ons moet God dank vir sy wysheid, sy liefde, sy genade … Om hierdie gesindheid van dankbaarheid te hê, eer God. Gaan sit net en maak ‘n lysie van dinge waarvoor jy vir God dankbaar moet wees. Dit maak jou dag sommer beter.

 

  1. Dankbaarheid lei tot dieper verhoudings

Dankbaarheid bou dieper verhoudings tussen jou en ander mense. As jy jou verhouding met iemand wil verbeter, spandeer tyd om dankbaarheid teenoor hulle te bewys. Wees meer doelgerig in jou bewys van dankbaarheid. Skryf notas; stuur SMS’e en e-posse. Sê net vir hulle hoe dankbaar jy is. Dit bring mense nader aan mekaar.

 

  1. Dankbaarheid ontwikkel geloof

Kan jy God dank as jou lewe skeef loop? As jy deur moeilike tye gaan, moenie kyk na wat verlore gaan nie – kyk na wat oor is. Maak nie saak hoe sleg dinge in my lewe is nie, daar is altyd iets om God voor te dank. Hy het belowe om my deur moeilike situasies te help. Hy kan alles ten goede vir my laat uitwerk. Sy plan is in aksie. Dit vereis geloof om dit raak te sien.

 

  1. Dankbaarheid dien ander

Dit dien ander; dit word ‘n bediening. Ons is verlos om ander te dien. As jy ander waardeer, verhoog jy sy waarde. Almal van ons het bemoediging nodig. Ons het ‘n behoefte aan waardering, liefde. Waardeer almal; bewys dankbaarheid aan almal. Dan kan God jou gebruik.

 

  1. Dankbaarheid is ‘n getuienis teenoor ongelowiges

Die beste manier om jou geloof met ander te deel, is deur dankbaarheid te bewys Dankbaarheid skok mense, want meeste mense vandag is ondankbaar. Die Bybel sê dat ons so moet leef dat dit die waarheid van God vir ander aantreklik maak. Kyk hulle na jou lewe en wil meer weet wat jou so ‘n dankbare gesindheid gee?

 

Die lewe vandag is sinies en sarkasties en krities. Dankbare mense wat ander aanmoedig staan uit. Christene moet bekend wees vir hulle radikale liefde, goedheid, vreugde en dankbaarheid. Daar is ‘n woord daarvoor: om meer en meer soos Christus te wees.