Hoekom ly ons in hierdie wêreld?

 

 “Faith never knows where it is being led, but it loves and knows the One who is leading.” – Oswald Chambers

 

Hoekom ly ons in hierdie wêreld?

Daar kom tye waar die oeste misluk, waar werk skaars is, waar mense gebrek ly. Hoe verstaan ons dit in die lig van God se liefde? Die wêreld wat God gemaak het, is tog nie ‘n wêreld van tekorte, siekte en dood nie. God se wêreld is tog ‘n wêreld van oorvloed, gesondheid en lewe. Die mens se sonde bring egter lyding en swaarkry. [Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (Romeine 8:22 – 23).

 

Hoekom verwag ons iets meer as pyn en dood? Die wêreld is tog vol opstand teen sy Skepper. As ons die Gewer van alle lewe verwerp, moet ons lyding en dood verwag. God laat mense toe om sy aarde te bewoon en Hy seën hulle. [Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen – Matteus 5:45] God gee aan ons tyd om, voor dit te laat is, van Hom te leer en na Hom te draai. Baie van ons is ondankbaar en hou aan sonde doen. Ons sien nie sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld raak nie. [God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil bring lei nie? – Romeine 2:4]

God gebruik soms hartseer en lyding om mense na Hom toe terug te bring. ‘n Goeie voorbeeld is Jeremia. Jeremia en sy mense geniet goeie tye, maar dit verander nie hulle harte nie. [Hulle het nie vir hulleself gesê: Ons moet die Here ons God dien wat ons die groot reëns gee, die vroeë en die laat reëns, elkeen op die regte tyd, wat vir ons gesorg het met oeste op die regte tyd,” nie – Jeremia 5:24.] Later volg moeilike tye – oorlog en hongersnood. Dit wys vir mense die gevolge van sonde. [Julle oortredings het dit laat verander, julle sondes het die voorspoed van julle weerhou – Jeremia 5:25.] Steeds wou die volk nie luister nie. Die gevolg is dat Jerusalem vernietig word en baie in ballingskap weggevoer word.

 

Klaagliedere vertel ons hoe die skrywer huil terwyl hy sien hoe sy mense van honger sterf. Hy weet hoe hard God probeer het om hulle terug te wen. [Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie; dit is elke môre nuut. U trou is groot – Klaagliedere 3:22 – 23.]

God is ‘n God van liefde; God is verdraagsaam. Soms moet ons egter verstaan dat opstand teen Hom nie altyd ongestraf sal bly nie.

 

 

 




Liefde van die begin af

 

Christianity is, in its very essence, a religion of the Word of God (John Stott)

 

Liefde van die begin af

Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie” (Eksodus 34:5 – 6).

By Sinai wys God ‘n deel van sy heerlikheid aan Moses. God gee in hierdie verse ‘n beskrywing van Homself. God ontken nie dat Hy kwaad oor die sonde is nie, maar as Hy Homself openbaar, waarvan praat Hy heel eerste? Hy praat eerste van sy liefde. Is sy liefde net vir baie goeie mense? Nee, sy liefde vergewe diegene wat teen Hom in opstand was. Daar is dus hoop vir almal van ons wat sondig. God praat eerste van sy genade en deernis wat na ons toe uitreik ten spyte van ons sonde.

 

God bewys sy liefde vir ons nie net in woorde nie, maar ook in dade – van die begin af. Die Skepping was ‘n liefdesdaad. Toe God alles gemaak het, het Hy na alles gekyk en dit was baie goed (Genesis 1:31). Nadat God alles gemaak het, maak God die mens om in hierdie mooi en goeie huis te woon. [Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers  oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip (Genesis 1:25 – 26)]. As beeld en verteenwoordiger van God kan die mens op God en sy dade reageer – meer so as enige dier.

Daar is egter een ding in die skepping wat nie goed was nie. Dit is nie goed dat die mens alleen is nie (Genesis 2:18). God besef dat dit nie goed was vir Adam om alleen te wees nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke (Genesis 2:18). God maak hulle as ‘n gawe vir mekaar. Uit die vreugde van hulle eenheid word kinders gebore – ‘n verdere gawe van God. Ten spyte dat Adam en Eva God se gebod verontagsaam het, het God vir hulle in die tuin kom soek. Hy het selfs vir hulle velklere gemaak (Genesis 3:21).

 

Die heelal is veel groter as ons klein mensies, maar God kies om spesiale aandag aan die mens te gee. Hieroor kan ons maar net in verbasing staan. God het ons lief – van die begin af.

 




Vyf vrae wat ons altyd van elke teks vra

 

Let us consider it certain and conclusively established that the soul can do without all things except the Word of God, and where this is not there is no help for the soul in anything else whatever (Martin Luther).

 

Vyf vrae wat ons altyd van elke teks vra

Ons lees die Bybel, maar dink ons werklik na oor wat in die teks staan? Probeer ons dieper grawe in die betekenis van die teks of is Bybellees ‘n roetine taak wat ons so gou as moontlik moet afhandel? As ons werklik dieper kennis soek, is daar vyf vrae wat ons sal help. As voorbeeld gaan ons kyk na Jesus wat die verlamde man genees (Markus 2:1 – 12).

  1. Wat leer die teks my van God?

As die Bybel God se openbaring van Homself in geskrewe vorm is, moet ons eerstens weet wat dit van Hom sê. Uit hierdie gedeelte kan ons sekerlik sê dat God sondes vergewe. Ons kan ook sê dat God ‘n God van deernis is teenoor diegene wat seergekry het deur hulle sonde. Hy genees beide geestelik en fisies.

 

  1. Wat leer die teks my oor die sondige mensdom?

Ons moet altyd onthou dat ons na die heerlike beeld van God gemaak is, maar dat daardie beeld deur sonde besoedel is. Hierdie gedeelte wys vir ons dat ons grootste behoefte nie fisiese genesing is nie, maar geestelike vergifnis. Dit leer ook vir ons dat diegene wat die godsdienstigste is dikwels die meeste oordeel. Die skrifgeleerdes en Fariseërs wys dit dwarsdeur die evangelies. Ons sien ook dat soms (nie altyd nie) fisiese siektes en sonde verband het met mekaar.

 

  1. Wat leer die teks my van Jesus Christus?

Hierdie is die kern van die hele Bybel. Ons moet vra wat die teks ons van die persoon, werk en onderrig van Jesus sê. Markus openbaar Jesus as God wat ons harte ken, ons sondes vergewe en ons siektes genees. Hy is die Seun van die mens wat die heerlike visie van Daniël 7:13 – 14 vervul – Hy het volle gesag in die hemel en op die aarde.

 

  1. Wat wil God hê dat ek moet weet?

Watter waarhede is daar in hierdie gedeelte wat ek moet leer? Hier leer ons dat ons die bediening van die woord nodig het. God se woord in ons hart is wat ons nodig het om ons lewens te verander. Ons moet na Jesus, en na Hom alleen kom, vir vergifnis van sonde.  God wil ook hê dat ons moet weet dat Jesus ons sondes kan vergewe, want Hy is God.

 

  1. Wat wil God hê dat ek moet doen?

Hoe verander die teks die manier waarop ek lewe. God wil hê dat ons op ons geloof moet reageer. Hy wil ook hê dat ons Hom moet verheerlik vir alles wat Hy vir ons in Jesus doen. Aanbidding is die enigste toepaslike reaksie op die werk van God in die lewe, dood en opstanding van sy Seun, Jesus Christus.

 

Kom ons probeer hierdie jaar meer in diepte Bybelstudie doen. Mag hierdie vrae ons hierin help.

 




Jesus: die Vriend van sondaars

The story of every great Christian achievement is the history of answered prayer. —E.M. Bounds

 Jesus: die Vriend van sondaars

In Markus 2:13 – 17 lees ons van Jesus se roeping van Levi, die tollenaar. Is jy ‘n vriend van sondaars? Spandeer jy tyd saam met mense wat Jesus Christus nie ken nie? Wie se lewens vir jou onaanvaarbaar is? Wie se reputasie onder “goeie mense soos ons” ‘n verleentheid of selfs ‘n skandaal is? Hou jy van sondaars? Gee jy om vir hulle? Reik jy uit na sondaars? Dien jy hulle? Is ons soos Jesus?

 

Hierdie gedeelte sal baie van ons oortuig. Hoekom?

  • Meeste van ons spandeer maar min tyd saam met sondaars.
  • Baie van ons dink soos moderne Fariseërs. Ons is soos die Fariseër in Lukas 18:11: O God, ek dank U dat ek nie soos  ander mense is nie: diewe, bedriërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ons glo ons is super-heiliges en God is bevoorreg dat ons deel van sy span is. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my inkomste (18:12). Dit sou baie beter gewees het as ons maar soos die tollenaar gebid het: O God. Wees my, sondaar, genadig (18:13). Sondaars besef hulle het God se genade desperaat nodig – hulle is op niks geregtig nie. Ons kan dankbaar wees, want ons is sondaars van wie die sonde vergewe is deur genade onbeskryflik groot. Daardie genade moet my lei om, soos Jesus, ‘n vriend van sondaars te wees.

 

In hierdie gedeelte sien ons vir Jesus, die vriend van sondaars, waar Hy na iemand uitreik wat sosiaal verwerp en geestelik ongesond is. Kyk na al die karakters in die gedeelte en vra dan: “Met wie identifiseer ek my die meeste? Het ek sondaars lief en dien ek hulle soos Jesus gedoen het?”

 

Jesus was ‘n vriend van sondaars. Hy reik uit na diegene wat sosiaal verwerp is; Hy genees diegene wat geestelike siek is; Hy versorg hulle en spandeer tyd saam met hulle; Hy het hulle liefgehad. As dit waar is van ons Meester, moet dit nie ook waar wees van ons nie. Dit moet een van ons voornemens vir 2016 wees: “Ek gaan meer tyd met sondaars spandeer.”