Ek bepaal my prioriteite op dit wat ek kan sien

 

“Prayer is not getting things from God, that is the most initial stage; prayer is getting into perfect communion with God; I tell Him what I know He knows in order that I may get to know it as He does.” – Oswald Chambers

 

Ek bepaal my prioriteite op dit wat ek kan sien

Om prioriteite te bepaal is ‘n belangrike leierskapsfunksie – veral aan die begin van ‘n nuwe jaar. Jy moet weet wat moet eerste kom – wat is krities belangrik vir jou roeping. Dit geld ook vir die koninkryk van God. Die keuses wat ons elke dag maak, het ‘n dramatiese effek op ons lewens. Dit is dikwels nie ‘n keuse tussen wat goed en sleg is nie, maar tussen beter en goed.

 

  1. D. Greear sê dat ons in Genesis 13 ‘n goeie gevallestudie kry. Abraham en Lot moes kies, maar hulle prioriteite verskil.
  2. Lot se prioriteit is dit wat hy kan sien

Toe Lot die twee opsies moes oorweeg, baseer hy sy keuse op wat hom die rykste kan maak. Om rykdom bo alles anders te plaas, verontagsaam Lot geestelike dinge. Ons lees nie dat hy bid of God raadpleeg voor hy besluit nie. Sy tuiste maak hy naby Sodom, bekend vir sy boosheid. Hy plaas sy hele familie in geestelike gevaar. Hoekom? Sodom was waar die geld was. God roep ons soms om na bose plekke te gaan, maar Lot gaan nie Sodom toe om te getuig nie. Gebeur dit nie vandag nog nie?

 

  1. Lot prioritiseer selfbelang

Lot kies wat die beste vir hom is. Hy neem glad nie vir Abraham, sy oom, in ag nie. As die oudste en as die een aan wie God die belofte gemaak het, het Abraham beter verdien. Lot moes die keuse aan Abraham oorgelaat het. Kry alles wat jy kan kry, was sy leuse.

 

Teenoor Lot kry ons vir Abraham.

  1. Abraham se prioriteit was God se koninkryk

Abraham vra vir God waar Hy wil hê hy moet bly. Hy gaan woon naby Hebron: Daar het hy ‘n altaar vir die Here gebou. God het vir Abraham in die verlede gelei. Daarom nader hy nou weer  God vir leiding. Hy soek vir God in elke besluit wat hy neem.  Hy besef dat al sy besittings, seëninge en voorspoed van God af kom.

 

  1. Abraham prioritiseer vrygewigheid en nie selfbelang nie

Abraham dink eers aan God en dan aan Lot. Eers daarna dink hy aan homself. Wie sorg vir hom? God. Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed (Spreuke 19:17).  Baie van ons sukkel met vrygewigheid, want ons is bang. Ons vertrou nie dat God sal doen wat Hy belowe het nie.

 

Is jy ‘n Lot of ‘n Abraham? Is jy Lot wat desperaat die ryksom wat jy kan sien aangryp: Is jy Abraham wat vir God jou eerste en beste gee – al voel dit soos ‘n waagstuk?

 

 




Ken die Bybel: Feite en geloof

 

“God’s silences are His answers. If we only take as answers those that are visible to our senses, we are in a very elementary condition of grace.” – Oswald Chambers

 

Ken die Bybel: Feite en geloof

Ons gaan voort met Mel Lawrenz se reeks oor hoe om die Bybel te lees. Voordat ons na metodes om die Bybel te bestudeer kyk, moet ons eers vasstel waarom ons die Bybel lees. Dit gaan oor ons gesindheid en motiewe voordat ons na die uitdagende taak om die stem van die lewende God te hoor, oorgaan.

 

Ons kan die Bybel benader as ‘n soeke na feite. Wie het hierdie gedeelte geskryf? Waar was hy toe hy dit geskryf het? Aan wie skryf hy en hoekom skryf hy aan hulle? Wanneer is dit geskryf? Ons kan na geskiedenis, aardrykskunde en taal kyk. Ons moet dit doen, want die enigste manier om die teks deeglik te verstaan is om aandag te gee aan die inhoud en omstandighede van die teks. Dit beteken ons respekteer die skrywer en die inhoud. Ons kan nie sommer net begin lees en wonder watter indruk die woorde sal maak nie.

 

God se woord kom na ons in ‘n verskeidenheid vorme: gedigte en liedere, vergelykings en beelde, evangelies en briewe, ens. Ons lees ‘n gedeelte in sy konteks, want so sien ons sy betekenis.

 

Dit is die een kant van die vergelyking. Ons lees die Skrif om die feite te verstaan, maar ons kan nie daar ophou nie. Ons lees ook die Skrif met geloof. Baie mense stel net in die feite belang en nie in die geloofsreis nie. Nie almal wat die Bybel lees, glo dat hulle na die stem van God luister nie. Ons kan die Bybel as ‘n suiwer akademiese oefening lees. Dan is die Bybel soos enige ander antieke boek. Ons moet die Skrif lees vir feite en geloof.

 

I believe in order that I may understand (Anselmus van Kantelberg – 1033 – 1109). Om die Bybel te ken, is nie die hoofdoel nie. Om God te ken is. Om God te ken moet ons sy selfopenbaring ken. Dit kry ons in die Bybel. Om die Skrif te bestudeer gaan oor feite en oor geloof.

 

 




Hoekom het Jesus sy Messiasskap tydens sy bediening verberg?

No man more truly loves God than he that is most fearful to offend Him. —Thomas Adams

Hoekom het Jesus sy Messiasskap tydens sy bediening verberg?

Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie (1:34). Nadat Jesus die melaatse man genees het, sê Hy vir hom: Moet vir niemand iets hiervan vertel nie (1:44). By drie geleenthede word bose geeste beveel om niks te sê nie (1:25, 1:34, 3:11). Jesus vereis stilte na vier wonderwerke (reiniging van ‘n melaatse man – 1:44; die opwekking van Jaïrus se dogtertjie – 5:43; die genesing van ‘n doofstom man – 7:36;  die genesing van ‘n blinde man – 8:26). Twee maal word sy dissipels beveel om stil te bly (8:30; 9:9). Twee maal onttrek Jesus Hom sodat die mense nie te wete moet kom waar Hy is nie (7:24; 9:30). Dit is ironies dat hierdie opdrag om stil te bly dikwels die teenoorgestelde effek het – die mense hou aan praat oor Jesus.

 

Wat kan ons hieruit aflei?

  • Jesus wou die indruk dat Hy net ‘n wonderwerker is, vermy. Mense wat toordery beoefen, soek die aandag vir hulleself. Jesus het gekom om die mag en gevolge van sonde in hierdie wêreld te oorwin.
  • Jesus wou publisiteit wat nie gehelp het nie, vermy. Hy wou tye hê vir die private onderrig van sy dissipels. Jesus se reputasie maak dat mense om Hom saamdrom. Hierdie skare vereis aandag. Elke oomblik wat Hy met hulle deurgebring het, was ‘n oomblik wat Hy nie intiem met sy dissipels kon verkeer en hulle leer nie.
  • Jesus wou die mense se wanbegrip oor die Messias vermy. Jesus se messiasskap word deur diens en lyding gekenmerk – nie sensasionele vertonings van  wonderwerke nie. Tog het die mense steeds geglo dat Hy gekom het om die Romeinse heerskappy omver te gooi.
  • Jesus wou die nederigheid van die lydende Dienaar van die Here beliggaam.
  • Jesus wou die mense inlig dat net deur geloof in ‘n gekruisigde Verlosser kan die messiasskap persoonlik toegeëien word. Ons kan nie sy volheid begryp sonder om te besef dat Hy moes gesterf het nie. Ons hou nie van Hom net omdat Hy  wonderwerke gedoen het nie. Ons vertrou Hom, want Hy het vir ons gesterwe en sy opstanding is vir ons oorwinning.
  • Jesus wou identifisering vanuit ‘n bron soos demone en vals godsdiensleiers verhoed.
  • Hy wou sy identiteit wegsteek om te wys na die vyandigheid van die politieke en godsdiensleiers van sy tyd. Daar was ‘n groot kontras tussen Jesus se nederige liefde en die Fariseërs se opgeblase godsdienstigheid.

 

Die rede waarom mense Jesus nie as die Messias herken het nie, was omdat hulle ‘n politieke en militêre Messias gesoek het – iemand wat die Romeine juk van hulle skouers kon afgooi. Hy was nie die soort Messias waarvoor hulle gehoop het nie, maar Hy was wel die Messias wat hulle en ons nodig gehad het. Ons het nie ‘n Messias nodig wat ons net van politieke onderdrukking en siekte sou vrystel nie. Ons het ‘n Messias nodig wat sy lewe as losprys vir sondaars sou gee. God het vir ons die soort Messias gestuur wat ons nodig gehad het.

 

 

 




Hoe moet ons sondaars hanteer?

“Once we deeply trust that we ourselves are precious in God’s eyes, we are able to recognize the preciousness of others and their unique places in God’s heart.” (Henri Nouwen)

Hoe moet ons sondaars hanteer?

As ons nie saamstem met ‘n besluit nie, beskuldig ons mekaar oor en weer. Hoe het Jesus sondaars hanteer?

  1. Moenie ander oordeel nie

Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word (Matteus 7:1 – 2). Ons kan nie verwag dat ongelowiges soos gelowiges moet optree nie. Ons moet fokus daarop om vir hulle ‘n lig te wees – om hulle lief te hê. Herhaaldelik sê die Bybel dat ons ander moet liefhê Dit is baie moeilik om ander lief te hê as ons kwaad is vir hulle of hulle haat.

 

  1. Jesus bewys barmhartigheid aan die een wat in sonde betrap is

Jesus was in die tempel besig om die mense te leer. Die skrifgeleerdes en Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op owerspel betrap is daar aan. Hulle beskuldig haar en vra vir Jesus wat hulle met haar moet doen. Jesus buk en skryf iets in die sand – wat weet ons nie. Uiteindelik kom Hy regop en antwoord hulle: Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi (Johannes 8:7). Hy buk weer en skryf weer in die sand. Een vir een loop die mense weg – die familiehoofde eerste. Jesus bewys verbasende, oorweldigende barmhartigheid vir hierdie vrou. Hy reageer eers toe al die ander mense weg was. Hy vra vir haar: Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie? … Ek doen dit ook nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie. Jesus het die reg om te oordeel, maar Hy bied genade aan almal van ons.

 

  1. Jesus het nie die waarheid verberg nie

Jesus was dikwels barmhartig met sondaars, maar daar was tye dat sy onderrig maar moeilik was – so erg dat baie mense Hom verlaat het. Lees net Johannes 6:60 – 68. Jesus was duidelik oor die waarheid al was dit nie gewild nie. Hy het nie net probeer om ‘n groot aantal volgelinge te werf nie – sy roeping was om die waarheid en liefde te deel op ‘n manier wat die wêreld sou skud. Die skare het nie  uitmekaar gegaan omdat Jesus onbeskof of veroordelend was nie. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.  Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God (1 Petrus 3:15). Daar is ‘n tyd om mense te waarsku teen die gevare van ‘n wêreldse leefwyse. Ons het teerheid en die heilige waarheid nodig. Ons mag nie bang wees vir God se waarheid nie al maak dit ons ook ongewild.

 

Moenie oordeel nie; bied oorweldigende barmhartigheid aan sondaars; moenie die waarheid wegsteek omdat jy bang is vir die skare nie.