‘n Profeet soos Moses (4)

 

The Bible simultaneously pictures God as utterly sovereign, and as a prayer-hearing and prayer-answering God. —D.A. Carson

 

‘n Profeet soos Moses (4)

Ek sal ‘n profeet vir julle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18).

Jesus het herhaaldelik voorspel dat Hy deur die Romeinse en Joodse leiers doodgemaak sou word (Matteus 16:4; 17;12 en 23; 20:18 – 17; 26:2). Hy het ook besef dat Hy deur kruisiging sou sterwe. Hoekom moes Hy sterwe? Om sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Matteus 20:28) en vir die vergewing van sondes (Matteus 26:28).

 

Die grootste teken van alles was dat Hy op die derde dag uit die dood opgewek is. Jesus het dit reeds voor sy dood belowe: Hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word (Matteus 17:23). Geen profeet het ooit so ‘n belofte oor homself gemaak nie; geen profeet het nog ooit uit die graf opgestaan nie. Jesus Christus het dit voorspel en gedoen. Daar is geen twyfel dat Jesus Christus die profeet is wat Moses voorspel het nie.

 

Petrus was ‘n ooggetuie van hierdie gebeure. Op ‘n stadium het hy hom by Jesus se vyande gevoeg en Hom selfs verloën. Na Jesus se opstanding besef Petrus dat die dood nie meer iets is wat gevrees moet word nie. Met die krag van God se Gees staan hy voor hierdie selfde vyande op en hou ‘n toespraak in die Pilaargang van Salomo (Handelinge 3:17 – 24). In hierdie toespraak haal hy Deuteronomium 18 aan. Aangesien Jesus Christus ‘n profeet soos Moses is, is Hy nou die nuwe Middelaar vir sy mense. ( Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus – 1 Timoteus 2:5).

 

Wat sal gebeur as ons nie luister nie? Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word (Handelinge 3:23). So ‘n persoon is nie meer deel van God en sy mense nie. Ons lewens hang daarvan af of ons versigtig na hierdie Profeet luister. God se teenwoordigheid is vir ons te groot – ons kan Hom nie direk sien of hoor nie. Daarom het ons ‘n Middelaar nodig.

 

Vir die Jode by Sinai gee God ‘n middelaar – Moses – maar Hy belowe dat ‘n ander Middelaar sou kom. Die Nuwe Testament wys vir ons dat hierdie nuwe Middelaar Jesus Christus is. Daarom moet ons sy boodskap met respek hanteer as ons ons lewe met Hom en sy mense wil deel.

 

 




Die belang van kerse in tye van terreur

You may choose to look the other way, but you can never say again that you did not know. –William Wilberforce

 Die belang van kerse in tye van terreur

Kort na die onlangse gebeure in Parys het mense op verskillende plekke in verskillende lande bymekaar gekom. Hulle het kranse gelê; Hulle het gebid; hulle het Amazing Grace gesing; hulle het mekaar se hande vasgehou; hulle het die kleure van die Franse vlag vertoon; hulle het gehuil. Hulle het ook kerse aangesteek. Die aansteek van kerse het deel van die openbare liturgie na terroriste aanvalle geword. In die Weste het kerse ‘n godsdienstige aura om hulle, maar selfs ateïste steek hulle aan.

 

As jy vir mense vra waarom hulle dit doen, gaan jy waarskynlik baie verskillende antwoorde kry. Ons doen dit dikwels vir ‘n rede waarvan ons nie bewus is nie. Miskien laat dit ons terugdink aan twee geheimenisse in die lewe, sê Mark Galli.  Johannes beskryf dit so: Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Johannes 1:5).

 

Sien die duisternis

Kerse gee maar ‘n klein bietjie lig. Sy swak vlammetjie is kwesbaar teen wind. Kerslig maak ons van die duisternis bewus en die dreigemente van meer duisternis as die vlam uitgedoof word.  “Look at how a single candle can both defy and define the darkness.” Dit was Anne Frank se woorde in die teenwoordigheid van Nazi-terreurdade. ‘n Kers druk die duisternis uit tot op die grens van die lig en gee aan ons die geleentheid om na te dink. Onder andere dink ons na oor terrorisme.

 

Die Lig van Hoop

Om ‘n kers aan te steek saam met die kerse van ander mense is een manier om die duisternis weg te dryf. Kerse wat in die duisternis flikker bring mense saam. Kerse is uniek in hierdie opsig. Mense kom nie met flitse in hulle hande bymekaar na ‘n tragedie nie. Dikwels steek hulle kerse aan deur  die vlam van ‘n ander persoon se kers te gebruik. Hulle staan saam; Hulle huil saam. Kerse kan ‘n gemeenskap skep soos geen ander bron van lig nie.

 

Die lig word nie uitgedoof nie.

“In the light of Jesus Christ the darkness is revealed as such. It is made plain that man is a sinner. It is shown in what his sin consists.” (Karl Barth)  In Christus sien ons die kloof wat God en mens skei. Maar hierdie Lig wat in die duisternis skyn is ook die Lig wat die duisternis nie kan uitdoof nie. Hierdie is die Lig van God se versoening met die wêreld. Hierdie lig verminder ons vrees, en wys vir ons dat ons nie alleen is nie.

 

Ons sê mense vandag leef ver van God af. As die terroriste toeslaan kom ons in donker plekke bymekaar en steek kerse aan. Maar na ons saam met diegene wat rou gerou het, kom daar ‘n tyd om te praat. Wat kan ons aan ‘n angstige wêreld sê? In die kerslig waarin jy die wêreld se duisternis gesien het en die gevoel van hoop gevoel het, kan ons sê: waarvoor jy gehoop het, is waar – daar is inderdaad ‘n Lig wat in die duistenis skyn en die duisternis sal dit nooit uitdoof nie.

 

 




Die gesondheid van my huwelik

With a friend we don’t have to say or do something special. With a friend we can be still and know that God is there with both of us.” Henri Nouwen

 

Die gesondheid van my huwelik

Hoe kan ek die gesondheid van my huwelik bepaal? Kevin DeYoung stel voor dat ons die volgende vrae vra.

 

  1. Bid ons nog saam? Hierdie is moeilik in ons besige lewe, maar dit is nie onmoontlik nie. DeYoung sê hy weet van geen slegte huwelik waar man en vrou gereeld saam bid nie.
  2. Sien julle mekaar nog raak? Sien jy nog jou vrou se aantreklikheid raak?
  3. Hou julle nog mekaar se hande vas? As hierdie eenvoudige liefdesdaad nie daar is nie, mag daar nog ander dinge wees wat ook afwesig is.
  4. Wanneer laas het jy gesê: “Ek is jammer”? Hier verwys hy na ‘n opregte verskoning wat uit ‘n gebroke hart kom.
  5. Wanneer laas het jy “dankie” gesê? Dit gaan hier oor ‘n spesifieke uitdrukking van dankbaarheid.
  6. Wanneer laas het jy ‘n verrassing beplan? Verraas jy nog jou vrou met verrassings? Met blomme? Met ‘n soen uit die bloute?
  7. Wanneer laas het julle julle kinders in die verleentheid gestel? Sien hulle julle ooit dans? Mekaar soen? Kinders moet sien hulle ouers het ‘n aangename tyd saam.
  8. Wanneer laas het julle oor iets anders as die kinders gepraat? Kom net weg van die kinders en moenie op hulle fokus as hulle nie daar is nie.
  9. Wat sal ander van jou eggenoot dink deur na jou te luister?
  10. Dink jy meer oor wat jy nie gee of oor wat jy nie ontvang nie? Almal van ons kry seer in die huwelik. Almal van ons word soms teleurgestel. Fokus jy op jou vrou/man se tekortkominge of op die plekke waar jy moet verbeter?

 

The couple that laughs together lasts together.

 

 




‘n Profeet soos Moses (3)

By faith we expect rich harvest fields and breaking nets, for the gospel is specifically designed to bear fruit. —Jack Miller

 

‘n Profeet soos Moses (3)

Ek sal ‘n profeet vir julle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18).

Na hierdie belofte het baie jare verloop, maar geen profeet wat Moses se gelyke was, kom na vore nie. God het egter nie stil gesit nie. Hy rig die geskiedenis op die pad wat Hy verkies het. Langs die pad gebruik Hy profete om betekenis aan sy optrede te gee. Hierdie profete wys vooruit na wat Hy beplan het. Hierdie profete vertel herhaaldelik van Een wat sou kom.

 

Ons weet dat hierdie Een wat sou kom uit die geslag van Dawid sou kom; dat Hy as priester vir altyd sal dien; dat Hy uit die hoogste plek – God se regterhand – sal regeer. Hulle sien hierdie Een as profeet, priester en koning – almal in dieselfde Persoon. Hy is die beloofde Messias.

 

In Israel is ‘n persoon as koning of priester of profeet met olie gesalf. Dit was dan die teken van sy gesag om leiding te gee. Messias of Christus beteken beide gesalfde. Jesus Christus pas die beskrywing van die Messias, soos deur die Ou Testamentiese profete geskilder. Hy doen magtige dade; Hy genees blindes, dowes, stommes, lammes; Hy maak storms stil; Hy loop op die water; Hy gee lewe terug aan dooies. Na die opwekking van die weduwee van Nain se seun deur Jesus sê die mense: “‘n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.” (Lukas 7:16).

 

Die mense van sy tyd het baie geargumenteer oor wie hierdie Jesus nou werklik is. Van hulle kom tot die gevolgtrekking: Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie? (Johannes 7:31).

 

Toe Jesus Jerusalem vir die laaste keer op ‘n donkie binnery, het die skare hulle klere en boomtakkies op die pad voor Hom gegooi. Hulle roep onder andere uit: Prys die Seun van Dawid … Loof die Koning (Matteus 21:8 – 11; Lukas 19:37 – 38).