‘n Profeet soos Moses (2)

Apparently it never occurred to the early Christians to question their belief in God or even God’s goodness because they were unjustly suffering for their beliefs. Rather, their faith gave them direction in the face of persecution and general misfortune. Suffering was not a metaphysical problem needing a solution but a practical challenge requiring a response. — Stanley Hauerwas

 

‘n Profeet soos Moses (2)

Ek sal ‘n profeet vir julle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18).

Was al die profete in die Ou Testament maar net soos Moses nie? Daar was tog ander profete in daardie tyd – dink maar aan Aäron en Mirjam. God self maak dit duidelik dat Moses anders as hulle was. As daar ‘n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. Maar met my dienaar Moses is dit anders. Hy is die betroubaarste in my diens. Met hom praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte  van die Here (Numeri 12:6 – 8). Voor Moses se dood lê hy sy hande op sy opvolger – Josua. Maar dan lees ons: Daar het nie weer ‘n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Die Here het hom gestuur om in Egipte al die tekens en wonders vir die farao en sy amptenare en sy hele land te doen. Moses het al die magtige dade, al die groot dade wat vrees inboesem, voor die oë van die hele Israel gedoen (Deuteronomium 34:10 – 12).

 

God het Moses as sy spesiale agent en sy wetgewer gebruik. Daarom sien ons dat al die latere profete die mense oproep om die wet van Moses” te volg. Hierdie profeet wat belowe word, sal ook as God se Middelaar dien. Hy sal met spesiale gesag van God toegerus word om opdragte aan mense te gee.

 




‘n Profeet soos Moses (1)

 

“Cowardice asks the question, is it safe? Expediency ask the question, is it politic? Vanity asks the question, is it popular? But, conscience ask the question, is it right? And there comes a time when we must take a position that is neither safe, nor politic, nor popular, but one must take it because it is right.” (Martin Luther King, Jr.)

 

‘n Profeet soos Moses (1)

Ek sal ‘n profeet vir julle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18). Hier gee God aan Moses die belofte van ‘n toekomstige profeet. Hierdie profeet sal ‘n volksgenoot van Moses wees – ‘n Israeliet of Jood. Hierdie profeet sal soos Moses wees – Hy sal uitstaan sodat die mense Hom sal erken.

 

Hoekom is dit belangrik? Ons kry die antwoord in verse 15 en 16: Die Here jou God sal ‘n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: Ék kan nie weer ‘n keer die stem van die Here my God aahoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’’ By Horeb (ook genoen Sinai) het God die Israeliete na hulle vertrek uit Egipte ontmoet. Hierdie was ‘n dramatiese verskyning van God: donderslae, weerligte, rook op die berg, die klank van die ramshoring – en uiteindelik praat God self.

 

Die volk bewe van angs en bly op ‘n afstand staan. Hulle was bang dat God dalk met hulle sou praat, want dan sal ons sterf (Eksodus 20:19). Hulle pleit dat God eerder met Moses moet praat. Mense sien God as te groot om direk met Hom te praat. Luister na Paulus: Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag (1 Timoteus 6:16).

 

Israel het iemand nodig gehad om hulle voor God te verteenwoordig – ‘n middelaar. Dit was Moses. Hy dra God se boodskappe aan die volk oor, maar hy lê ook die mense se behoeftes aan God voor. God weer dat mense in die toekoms ook ‘n Middelaar nodig sou hê. Daarom die belofte in Deuteronomium 18:18 van ‘n ander Profeet wat sou kom.

God besef dat mense antwoorde vir die baie probleme van die lewe nodig het. Ons moet gedurig keuses maak oor hoe om te leef. Die probleem is dat ons dikwels op die verkeerde plekke antwoorde soek. Moses waarsku die volk teen besweerders, towenaars, goëlaars, slangbesweerders of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie (Deuteronomium 18:9 – 13). Mense het al hierdie metodes gebruik, maar God waarsku daarteen, want Hy wou hulle van vals antwoorde weerhou.

 

In Jeremia 27:9 – 10 lees ons: Julle moenie luister na julle profete, julle droomuitlêers, julle towenaars, julle goëlaars wat vir julle sê om nie die koning van Babel te dien nie. Dit is vals profete wat vir julle optree, en daardeur sal julle ver weggevat word uit julle land. Ek sal julle verban en julle sal omkom. God gee vir die mens ‘n pad  waar hy al die antwoorde kan kry. Net nadat God teen allerhande vals profete gewaarsku het (Deuteronomium 18:9 – 13) gee Hy aan hulle die belofte van ‘n nuwe profeet – soos Moses (Deuteronomium 18:18).

 

Hierdie boodskap van God is waar en betroubaar en ons kan dit met gerustheid volg. Hoekom? Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. Wat duidelik is uit hierdie gedeelte is dat die mens ‘n middelaar nodig het en dat God self hierdie Middelaar voorsien.

 

 




Kersfees

 

God is too wise to err, to good to be unkind; leave off doubting Him, and begin to trust Him, for in so doing, you will put a crown on His head (Spurgeon).

 

Kersfees

Een van die voordele van die Kersseisoen is dat mense meer oop is om oor Jesus te praat. Mense aanvaar Hom makliker as Hy as ‘n klein baba in ‘n krip voorgestel word. Maar te midde van hierdie geleenthede vir bespreking is daar ook baie misverstande oor Christus se ware identiteit. Dit geld selfs vir Christene Hulle weet dat Hy die Seun van God en hulle Verlosser is, maar verder weet hulle maar min van Hom. Hulle kan nie verduidelik wie Jesus werklik was nie en hoekom hulle in Hom glo nie.

 

Charles Stanley gee vir ons ses Bybelse waarhede oor Jesus se ware identiteit.

  1. Jesus het bestaan voor Hy in sy moeder se baarmoeder bevrug is.

Omdat die Kersverhaal oor sy geboorte gaan, aanvaar mense  dat sy lewe toe begin het. Daarom dat Jesus soveel ontsteltenis veroorsaak toe Hy sê: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is (Johannes 8:56 – 59). Net voor sy kruisiging, terwyl Hy met sy dissipels was, bid Hy tot die Vader: U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het (Johannes 17:24) Jesus het saam met die Vader geleef voor tyd begin het.

 

  1. Jesus het ‘n aardse moeder en ‘n hemelse Vader gehad

Dit is waarom Hy die Seun van God genoem word. Op die vasgestelde tyd het Hy sy plek in die hemel verlaat en kom die wêreld binne deur die baarmoeder van ‘n maagd. Dit was ‘n noodsaaklike deel van God se verlossingsplan. ‘n Volmaakte offer was nodig om vir die mense se sondes te betaal. Jesus, omdat Hy deur die Heilige Gees bevrug is, het nie Adam se sondige natuur geërf nie. Hy alleen het ‘n volmaakte lewe geleef. Daarom is Hy ons Verlosser.

 

  1. Jesus was beide God en die Seun van God

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God (Johannes 1:1). Dwarsdeur sy bediening sê Jesus dat Hy God is: Ek en die Vader is een (Johannes 10:30). Hy sê verder: Wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het (Johannes 12:45).

 

  1. Die Vader en die Seun het alle dinge gemaak

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie … Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand (Kolossense 1:16 – 17). Jesus is gebore in die wêreld wat Hy gemaak het.

 

  1. Jesus se Naam is soos geen ander naam nie

Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Handelinge 4:12). Dit is een van die redes waarom die wêreld sê dat Christene onverdraagsaam is – hulle verkondig dat Jesus die enigste weg na die Vader toe is.

 

  1. Jesus sal een dag na die wêreld terugkeer as die Koning en Regter oor alle mense

Nou sal Hy egter nie as ‘n hulpelose baba kom nie. Kyk, Hy kom op die wolke, en al die mense sal Hom sien (Openbaring 1:7). Jesus was nie ‘n gewone baba nie. Dit was nooit die bedoeling dat Hy een maal per jaar as deel van ‘n storie ten toon gestel sal word nie.

 

Jesus is baie groter as wat mense dink. Kersfees is die ideale geleentheid om sy ware identiteit aan ander te vertel. God open deure vir ‘n gesprek oor sy Seun. Skraap jou moed bymekaar en stap deur daardie deur. Dit is die belangrikste boodskap wat die wêreld moet hoor, want Hy is ons enigste hoop.

 




Is Kersfees nog fris en vol passie?

 

When you realize that the antidote to being bad is not just being good, you are on the brink of understanding the Gospel. —Tim Keller

 

Is Kersfees nog fris en vol passie?

Kersfees is vir ons ‘n besige tyd – ons hardloop heen en weer in oorvol winkels op soek na geskenke; ons koop speiale kos vir ‘n spesiale Kersmaaltyd. Hoe kan ons Kersfees vars hou?

 

  1. Keer terug na jou eerste liefde

Ons fokus graag op die “wat” van Kersfees – die besonderhede van Jesus Christus se geboorte. Ons moet meer op die “hoekom” fokus – hoekom is dit die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld. In Openbaring 2 skryf Jesus ‘n brief aan die gemeente in Efese. Hy het een ding teen hulle: Maar Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie (2:4). Hulle doen die werk, maar hulle het hulle passievolle “eerste liefde” verloor. Daarom herinner Hy hulle: Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het (2:5).

 

  1. Fokus op die “hoekom”

Jaar na jaar fokus ons op wat daardie eerste Kersfees gebeur het. As jy jaar na jaar op hierdie besonderhede fokus, word dit naderhand vervelig, want hulle verander nie. Die “wat” praat met ons denke; die “hoekom” praat met ons hart. Natuurlik moet ons nie die “wat” heeltemal vergeet nie. Verduidelik die “wat” om mense tot by God se “hoekom” te bring. Die doel waarom God sy Seun gestuur het, het baie fasette – verlossing, vergifnis, hoop, liefde, ens. As jy onder leiding van die Heilige Gees op die “hoekom” fokus, gaan baie moontlikhede vir jou oop.

 

  1. Bring Jesus tot op straatvlak

Baie gemeentes het spesiale programme vir Kersfees. Word hulle jaar na jaar herhaal word die program maar vaal. Kyk na wat jy doen, hoekom jy dit doen en of dit bereik wat die Here graag deur die gemeente gedoen wil hê. Doen een of ander diensprojek op straatvlak. Hier is ‘n paar moontlikhede:

  • Maria was ‘n krisis swangerskap – sy was ongetroud en ‘n tiener.
  • Die feit dat daar geen plek vir Josef en Maria in die herberg was nie, is ‘n behuisingskrisis.

[Daar is nog baie ander moontlikhede.]

Hier is twee wesentlike probleme in ons samelewing. Kom ons wees hierdie Kersfees vennote met organisasies wat hierdie  probleme hanteer en maak so weer die kersboodskap vars en lewend.

 

Mag die Gees van God ons lei om hierdie Kersfees na ons eerste liefde terug te keer. Kom ons fokus op die “hoekom” van Jesus se menswording. Laat ons die gelowiges oproep om op straatvlak by ander mense betrokke te raak.