Wie verdien hulp?

“God has one destined end for mankind – holiness! His one aim is the production of saints. God is not an eternal blessing-machine for men. He did not come to save men out of pity. He came to save men because He had created them to be holy.” – Oswald Chambers


Wie verdien hulp?

God se werk om lewens te verander, gaan meer oor God se liefde as oor verdienste. Niemand verdien God se hulp nie. Wat ons nodig het, is God se genade. Maar ons is geneig om armes te verdeel in dié wat hulp verdien en dié wat nie hulp verdien nie. Armes wat dit nie verdien nie, glo ons, probeer nie hard genoeg nie – hulle is lui, hulle drink te veel, hulle rook dagga …

 

Om te vra of mense ons hulp verdien of nie, is die verkeerde vraag. En as jy die verkeerde vraag vra, gaan jy elke keer die verkeerde antwoord kry. In Jesus se tyd is gestermdheid en armoede gesien as die gevolg van sonde. Jesus verwerp hierdie siening. Jesus en sy dissipels kom by ‘n man wat blind was. Sy dissipels vra: Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n? (Johannes 9:2). Jesus besluit om op ‘n belangriker vraag te fokus: Dit is nie deur sy sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.

 

Jesus maak dit baie duidelik dat God se werk om lewens te verander, gaan oor God se liefde en nie verdienste nie. In Matteus 25 plaas Jesus nie die mense in kategorieë – sondaars of nie sondaars – nie. Sy oproep was eenvoudig om uit te reik na diegene met behoeftes en om hulle lief te hê. “Ek was honger; Ek was dors; Ek was sonder klere; Ek was siek.”

 

As ons met mense wat ons glo nie ons hulp verdien in aanraking kom, moet ons drie beginsels  in gedagte hou.

  1. Gee aan hulle dieselfde genade as wat ons ontvang het

Doen aan ander wat ons graag wil hê dat hulle aan ons moet doen. Almal van ons het gesondig; almal van ons skiet tekort aan God se standaarde in ons lewens. As ons sou meet hoeveel genade, vergifnis of liefde ons verdien, skiet ons ver tekort. Ons weet nie genoeg om ons naaste te oordeel nie. Ons weet nie wat werklik in hulle lewens aangaan nie. Net God weet dit. My rol is om lief te hê, te dien en te bid vir verandering.

 

  1. Probeer om te verstaan en nie te oordeel nie

Ons is baie gou om diegene wat ons glo nie ons hulp verdien te oordeel – hulle is nie ons liefde en pogings werd nie. Weerspieël hierdie gesindheid die liefde van Jesus? Probeer eerder verstaan wat met hierdie persoon op ‘n persoonlike vlak aangaan. Hoekom is hy ontmoedig? Hoekom neem hy aan vernietigende gedrag deel? Maar ons moet ook probeer om die sistemiese oorsake vir armoede te verstaan. Hoekom word mense uit die sisteem uitgesluit? Vir mense wat uit ‘n bevoorregde agtergrond kom, probeer jou voorregte verstaan. Onthou dit is makliker vir iemand met hulpbronne om hulp vir sy verslawing te kry.

 

  1. Vra die regte vrae

Die vraag is nie of hierdie persoon my hulp verdien of nie. Die vraag is: “Hoe kan ek God se liefde aan hierdie persoon bewys?” oF: “Watter optrede sal die meeste liefde en verandering in hierdie persoon se lewe teweegbring?” Hierdie vrae beteken dat ek nie oordeel nie. My klem is nou op lewensverandering. Dit laat my toe om in genade te reageer – die genade wat Jesus aan ons gebied het. Jesus kan hierdie mense “wat dit nie verdien nie,” genees. As Hy na hulle kyk, sien Hy ‘n geliefde seun/dogter wat desperaat liefde, genade en vergifnis nodig het.

 

Daar is so baie mense wat ons dink nie genade en hulp verdien nie. Ek verdien dit ook nie. Dit maak van ons die volmaakte kandidate vir genade. Kom ons reik in hierdie Kerstyd uit na mense “wat dit nie verdien nie.”

 




Kersfees: Dickens en Starbucks

 

Nobody stands under the wrath of God save those who have chosen to do so. —J.I. Packer

 

Kersfees: Dickens en Starbucks

Kersfees, volgens Dickens, gaan oor sing en blydskap en groot familie-etes met kalkoen. Dit gaan oor Kersbome, kinders wat kersliedere sing en sneeu op die grond en sterre in die hemel. Nou kom Starbucks met ‘n rooi koffiebeler vir Kersfees – sonder enige van Dickens se beelde van Kersfees. Baie mense is kwaad, want Starbucks het nou ons kultuur van Kersfees gestroop.

 

Scot McKnight sê dit is nie so nie. Kom ons kyk na die temas van die eerste Kersfees.

  • Israel se langverwagte Messias het gekom – die hooftema was Jesus as Messias.
  • Israel het nie sneeu of mooi koffiebekers of kersbome met baie geskenke gehad nie.
  • Daar was ‘n jong meisie, Maria, wat swanger was al was sy ongetroud. Maria aanvaar haar rol.
  • Josef verloor sy reputasie, want hy besluit om met ‘n ongetroude vrou wat swanger was, te trou.
  • Sterrekykers uit die Ooste het hierdie eerste Kersfees gevier. Hulle het nie geweet wat die belang van die geboorte van Jesus was nie Hulle gee geskenke om te vier wat God gedoen het al het hulle dit nie mooi verstaan nie.
  • Herodes was so geïrriteerd deur die nuus dat hy al die seuntjies twee jaar en jonger laat vermoor het. Josef, Maria en Jesus was so bedreig deur Herodes dat hulle na Egipte gevlug het.

Dit was die eerste Kersfees.

 

Om die wêreld van Jesus as die Messias te vertel, is nie Starbucks se werk nie – dit is die kerk se roeping. Maar dit is nie die kerk se taak om die wêreld van ‘n Kersfees volgens Dickens te vertel nie. Dit is die kerk se taak om die wêreld die ware verhaal van Kersfees te vertel – ‘n God wat in die wêreld gekom het in ‘n familie wat sosiaal beskaamd was om ‘n wêreld wat sosiaal beskaamd was op te lig na die hoogste Naam. Starbucks kan nie daardie storie goed vertel nie.

 

 

 




‘n Storie om ons te laat dink

 

By the cross, God sets aside and shatters all human pretensions to strength and wisdom. —D.A. Carson

 

‘n Storie om ons te laat dink

Een van die wonderlike stories vertel hoe Jesus in die hemel aankom. Die merke van sy kruisdood is nog duidelik sigbaar. Een van die engele sê vir Hom: “U moes darem verskriklik gely het op aarde.” Jesus antwoord: “Ja, Ek het.” Die engel vra: “Weet almal wat U vir hulle gedoen het?” Jesus antwoord: “Nee, nog nie.” Die engel: “Wat het U gedoen om seker te maak almal weet?” Jesus: “Ek het vir Petrus en Jakobus en Johannes gevra om vir ander te vertel wat op hulle beurt weer vir nog ander moet vertel totdat almal die verhaal gehoor het.” Die engel lyk maar skepties, want hy is goed bewus van die mens se swakhede: “Ja, maar wat daarvan as Petrus en Jakobus en Johannes vergeet? Wat as hulle sou moegword van die vertellery? Wat daarvan as mense 2 000 jaar later nie meer die storie van God se liefde vertel nie? Het U nie ook ‘n ander plan nie?” Jesus antwoord: “Ek het geen ander plan nie. Ek vertrou op hulle.” Jesus het gesterf om die evangelie aan ons te gee. Hy vertrou op ons om die boodskap aan alle mense oor te dra.

 




Hoe lees ek die Bybel?

 

“In a time of universal deceit — telling the truth is a revolutionary act.” (George Orwell). 

 

Hoe lees ek die Bybel?

Ons lees baie – koerante, stories, blogs, sosiale media, ens. Ons lees ook nie-fiksie meestal om ‘n probleem op te los – watter interessante plekke moet ek besoek, watter dieet moet ek volg … Ons evalueer wat ons lees en besluit dan of ons dit glo of nie. Ons gebruik die inligting vir ons praktiese behoeftes. Ons lees dit en dan vergeet ons dit – ons kan net soveel inligting onthou.

 

Dit is hoe baie mense die Bybel bestudeer: hulle soek inligting om ‘n probleem op te los … en vergeet dit weer. Maar as die Bybel bestaan, want die Skepper praat deur apostels en profete met ons om ‘n verhouding met Hom te vestig en te verdiep, dan moet ons sekerlik die Bybel anders lees. Ons lees die Bybel nie net vir inligting nie, maar vir vorming. Dit moet ons gedagtes oopmaak vir ‘n groot waarheid of dit moet ons hart versag of dit moet ons met ons sonde konfronteer of dit moet waardes by ons inskerp. Ons mag nie elke dag daarvan bewus wees nie, maar oor die langtermyn word ons deur God se waarheid gevorm en verander.

 

Robert Mulholland (Shaped by the Word) beskryf vormende lees soos volg:

  • Dit het niks met hoeveelheid te doen nie.
  • Dit is lees in diepte.
  • Dit moet toelaat dat die teks jou bemeester.
  • Dit vereis ‘n nederige, liefdevolle en gewillige benadering.

 

Dit vereis toewyding. In ons besige lewe lees ons meestal vinnig en oppervlakkig. Daarom gaan Bybellees en gebed hand aan hand. Ons praat met God en Hy praat met ons.

Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen (Jakobus 1:22 – 25).