God praat met ons deur die profete

 

“Where there is charity and wisdom, there is neither fear nor ignorance.” – Franciskus van Assisi

God praat met ons deur die profete

Ons het gesien dat God met ons deur die natuur praat. Dit is nie voldoende nie – ons het meer as dit nodig. Natuurlik kan ons baie wardevolle lesse uit die natuur leer. Die orde van alles in die natuur vertel vir ons van God se wysheid en mag.

 

Ons is dikwels onseker of God kan praat. As God spesiale boodskappers gebruik, kan Hy tog sekerlik met ons praat. God sê vir Moses: Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind. Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê (Eksodus 4:11 – 12). Hy wat die mond gemaak het, kan tog verseker dat ons ‘n duidelike boodskap kry, Daarom sê die Hebreërskrywer: In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete (1:1).

 

God bly nie stil nie; Hy laat ons nie alleen nie en onkundig nie. God praat met ons. Hy doen dit op verskillende maniere – in die verlede onder andere deur die profete. Ons kan ook let op aanhalings van die Ou Testamentiese profete in die Nuwe Testament. Die woord wat die profete gepraat het, was nie hulle woord nie, maar God se woord. U het u goeie gees gegee om hulle te onderrig … U was geduldig met hulle, baie jare lank, U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete, maar hulle het nie geluister nie (Nehemia 9:20, 30).

 

Die probleem is dat enigeen daarop aanspraak kan maak dat hy ‘n profeet is. God was daarvan bewus dat daar vals profete sou kom. Hoe sou ons weet of ons met ‘n ware of vals profeet te doen het. Moses het hierdie probleem voorsien. Hy het in Egipte grootgeword en was nie as ‘n profeet bekend nie.  Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie? (Eksodus 4:1). God stel Moses in staat om sekere wondertekens te doen. Die probleem was dat die Egiptiese towenaars ook sekere tekens kon doen. God se tekens was egter altyd groter en die mense kon dit sien.

 

Maar nie alle profete kon wondertekens doen nie. Daarom sê Moses vir die volk: Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie? moet jy weet: as ‘n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie (Deuteronomium 18:21 – 22).

 

Daar is dus drie tekens om ‘n ware profeet te identifiseer:

  • Wondertekens wat God se mag oor die skepping bewys.
  • Wat voorspel word, word waar.
  • Wat voorspel word, is in ooreenstemming met wat God oor Homself geopenbaar het.

 

God se groot wysheid word onder andere daarin geopenbaar dat Hy mense met mense laat praat – hulle praat in die taal van mense wat ons kan verstaan. Dink net hoe donker ons lewe sou gewees het as God nie met ons deur sy profete gepraat het nie.

 

 

 




Hoekom moet ons die Bybel ernstig opneem?

 

It is difficult to express how ingenious almost all men are in counterfeiting a love which they do not really possess (Calvyn).

Hoekom moet ons die Bybel ernstig opneem?

In ‘n vorige blog het ons gesien dat die Bybel die woord van God is en dat ons dit as padkaart vir ons lewe kan gebruik.

 

Die Bybel is vol praktiese wysheid vir ‘n suksesvolle lewe. Wat is jou behoeftes in die lewe? Die Bybel hanteer hulle. Kom ons kyk na ‘n paar van die mens se behoeftes en hoe hulle in die Bybel hanteer word:

  • My behoefte aan liefde (Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Galasiërs 2:20).
  • My behoefte aan ‘n familie (Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God –  Efesiërs 2:19).
  • My behoefte aan lewe (Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê. En dit in oorvloed – Johannes 10:10.
  • My behoefte aan leiding (Jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus – 2 Timoteus 3:15).
  • My behoefte aan krag (Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee – Filippense 4:13).
  • My behoefte aan sekuriteit (my hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het … Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd – Psalm 121:2, 7 – 8).
  • My behoefte aan vergifnis (Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid – 1 Johannes 1:9).
  • My behoefte aan gesondheid (As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid …En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak – Jakobus 5:13, 15).
  • My behoefte aan vrede (Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus – Filippense 4:6 – 7)
  • My behoefte aan kos en klere (Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek ‘n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie – Psalm 37:25).
  • My behoefte aan vriendskap (Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het – Johannes 15:13 – 15).
  • My behoefte aan hoop (Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is – Hebreërs 6:19).
  • My behoefte aan alles (En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus – Filippense 4:19; En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk – 2 Korintiërs 9:8).

 

Ons het hierdie blog begin deur te sê dat die Bybel vol praktiese wysheid is en ons behoeftes kan hanteer. Hier het ons nou ‘n klompie voorbeelde genoem om te wys dat god ons behoeftes kan hanteer.

 

 




God se teenwoordigheid in die natuur

 

“It is no use walking anywhere to preach unless our walking is our preaching.” – Franciskus van Assisi

God se teenwoordigheid in die natuur

In die begin het God die hemel en die aarde geskep (Genesis 1:1) Dit is hoe die Bybel die geskiedenis van die wêreld begin. Van die begin af was God daar en Hy was aktief. Maar hoe weet ons daar is ‘n God? Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self ook God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak (Johannes 1:18). Ons kan nie vir God sien nie, maar ons weet Hy is daar. Hoe weet ons dit? Deur te kyk na die resultate van sy kragtige werk.

 

So wys die skepping vir ons na die Skepper. Ons sien die Skepper in sy skepping. Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie (Romeine 1:19 – 20). As ons na die wonderlike skepping om ons kyk, help dit ons om iets van God te weet. Ons sien die gevolge van sy werk om ons. Ons het dus geen verskoning om te sê ons twyfel aan sy bestaan nie.

 

Vandag sê ons die skepping was toevallig. Ons leef asof daar geen God is aan wie ons verantwoording moet doen nie. Elke huis moet tog ‘n bouer hê: Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het (Hebreërs 3:4). Die psalmis sê: Hy oordek die hemel met wolke, Hy voorsien reën vir die aarde en laat gras op die bergland uitspruit. Hy gee aan die diere hulle weiding en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu (Psalm 147:8 – 9).

 

Die psalmis maak dit baie duidelik dat die skepping van God vertel: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:1). Ook die mens het God wonderbaarlik gemaak.

 

Onthou ons dat alles wat ons het en wat ons is van Hom af kom? As ons dit besef, is dit vir ons maklik om God te loof en te dank. Ons hoef nie God te bewys nie. Die skepping maak die teenwoordigeid van God aan die wêreld bekend.

 

Maar God praat ook met ons deur die profete. Daarna kyk ons volgende keer.

 

 




Rigting in jou lewe

 

No man should be surprised when life collapses if he insists on living it alone (Barclay)

 

Rigting in jou lewe

Mense het ‘n sin vir rigting nodig in hulle lewe – ‘n kaart waarvolgens jy kan lewe. Een moontlikheid is die Bybel. In die Bybel kry ons herhaaldelik die versekering dat die Bybel God se woord is. Hoe dikwels lees ons nie in die profete-boeke nie: Die Here het vir my gesê … of: Hierdie is die woorde van die Here … of: Dit is wat die Here sê. Ons kry hierdie of soortgelyke woorde meer as 2000 maal in die Bybel. Hier is ‘n paar voorbeelde:

Die Here het direk met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend (Eksodus33:11)

Dawid: Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe. Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê (2 Samuel 23:2 – 3)

Ek het nou my woorde in jou mond gelê (Jeremia 1:9).

 

Jesus self het bevestig dat wat die profete gesê het, waar is:

  • Hy het op hulle verslae van die geskiedenis vertrou (Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van die groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees – Matteus 12:40).
  • Hy vertrou op alles wat hulle geskryf het (Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê – Lukas 24:29; Jesus aan die Emmausgangers).
  • Hy baseer sy onderrig op woorde wat hulle gebruik het (Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees – Matteus 19:5, Jesus praat hier oor egskeiding en haal Genesis 2:24 aan).
  • Hy vra hulle (Het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie – Matteus 22:31).

 

Ook Paulus en Petrus bevestig dat die Skrif God se woord is.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17).

Geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig (2 Petrus 1:21).

 

Elke mens het rigting in sy lewe nodig. Daarvoor het hy ‘n padkaart nodig. Besluit vandag om die Bybel as jou padkaart te gebruik. Jesus self het bevestig wat ons in die Bybel lees, waar is.

 

Hoekom moet ek die Bybel ernstig opneem? Daarna kyk ons in ‘n volgende blog.