In Christus

If we learn anything from church history, its that the church fights the same battles over and over again.  Michael Kruger

 

In Christus

Die oproep om in Christus te bly, word dikwels misverstaan. Dit is nie ‘n ondefinieerbare ondervinding nie. Sinclair B. Ferguson sê dat ‘n aantal konkrete werklikhede insluit.

  1. Eenheid met die Here word deur sy genade bepaal

Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen (Johannes 14:12) Ons word aktief en persoonlik aan God verbind deur geloof. Geloof self se fondament lê egter in die optrede van God. Dit is die Vader, die goddelike Tuinier, wat ons in Christus ingeënt het. Dit is Christus, deur sy woord, wat ons reg gesnoei het (Johannes 15:3).

 

  1. Eenheid met God beteken gehoorsaamheid aan Hom

As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry (Johannes 15:7). Paulus sê dieselfde: Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly (Kolossense 3:16). Om in Christus te bly, beteken dat ons toelaat dat sy woord ons gedagtes vul en ons wil rig. Ons verhouding met Christus is intiem verbind met wat ons met ons Bybels doen. As Christus se woord in ons bly en as die Gees ons vul, bid ons in ooreenstemming met God se wil – ons ontdek die waarheid van sy belofte: vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry (Johannes 15:7).

 

  1. Die gelowige se lewe rus in die liefde van Christus

Julle moet in my liefde bly (Johannes 15:9). Hy is die Een wat sy lewe vir ons afgelê het (Johannes 15:13). Hierdie liefde vir ons het Hy aan die kruis bewys Om in Christus se liefde te bly, kry konkrete uitdrukking: gehoorsaamheid aan Hom is die vrug en bewys van ons liefde vir Hom (Johannes 15:10 – 14).

 

  1. Ons moet ons aan God se snoeisker onderwerp

God, in sy voorsiening, snoei alles wat nie belangrik is nie. Maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra (Johannes 15:2).

 

Bly in Christus is ‘n konkrete werklikheid.




Ware vrees

 

The fewer the words, the better the prayer. ― Martin Luther

 

Ware vrees

John Bunyan se boek Pilgrim’s Progress is naas die Bybel die boek wat die meeste gelees word. Christian is die hoofkarakter. Hy is op pad na die hemelse stad. Hopeful is ‘n jong gelowige wat later by Christian op sy reis aansluit. Luister na hierdie beskrywing van Christelike vrees.

 

Christian: “Sonder twyfel is die regte vrees ‘n goeie ding, want soos die woord sê: ‘Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis.’” (Spreuke 1:7 – OAV)

 

Hopeful vra: “Hoe sal jy die regte vrees beskryf?”

 

Christian verduidelik: “Die ware of die regte vrees word aan drie dinge geken. Eeerstens deur wat dit veroorsaak: die regte soort vrees word veroorsaak deur die oortuiging van sonde. Tweedens, die regte soort vrees dryf die siel om vinnig aan Christus vir verlossing vas te hou. Derdens, die vrees begin en onderhou  in die siel ‘n groot eerbeid vir God, sy woord en sy weë. Dit hou die siel teer, dit maak die siel bang om links of regs van sy woord en weë af te draai. Dit maak die siel sensitief vir enigiets wat God oneer kan aandoen of die Gees hartseer kan maak of die vyand rede te gee om teen God te praat.”

 

Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand (Spreuke 9:10 – OAV)

Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid (Psalm 111:10 – OAV)

Kyk, die vrees van die Here is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand (Job 28:28 – OAV)

 

 




Jou hoogste voorreg as gelowige

 

We are not building God’s kingdom. He is building his kingdom, and we are praying for the privilege of being involved — Francis Schaeffer

 

Jou hoogste voorreg as gelowige

Adoption is the highest priviledge that the gospel offers: higher even than justification (J. I. Packer)

Packer sê dat vryspraak God se grootste seën vir sondaars is. Dit is die primêre geestelike seën, want dit hanteer ons grootste geestelike behoefte.  Maar dit is nie die hoogste seën nie. Hy glo aanneming is die hoogste seëning, want dit behels ‘n ryker verhouding met God. Vryspraak is ‘n forensiese idee – God is die regter wat verklaar dat Christene nou vry is van die eise van die wet. Aanneming is ‘n ryker familieverhouding waarin ons God as Vader sien. Aanneming beteken dat God ons deel van sy familie maak – ons is sy kinders en erfgename. Nabyheid, liefde en vrygewigheid is die hart van hierdie verhouding. To be right with God the judge is a great thing, but to be loved and cared for by God the father is greater (Packer).

 

Dank ons ooit vir God omdat Hy ons as sy kinders aangeneem het? As dit ons hoogste voorreg is, moet dit ons grootste vreugde wees: om God te dank vir wat Hy in sy genade aan ons gegee het.

 

 




Hoe herken ek geestelik-ontvanklike mense in my gemeenskap?

 

 “A single sunbeam is enough to drive away many shadows.” – Franciskus van Assisi

 

Hoe herken ek geestelik-ontvanklike mense in my gemeenskap?

Ons is almal deur grond omring – alle soorte grond. In jou gemeenskap het jy mense wat gereed is om op die evangelie te reageer en mense wat nie sal reageer nie. Jesus het dit vir ons in die gelykenis van die saaier geleer (Matteus 13). Soos verskillende soorte grond reageer mense verskillend op die evangelie. Almal is nie ewe gereed om Christus te ontvang nie.

 

Rick Warren sê dat as jy doeltreffend wil evangeliseer, jy jou energie op die regte tipe grond moet fokus – die grond wat ‘n honderdvoudige oes sal lewer. Die boodskap van Christus is te belangrik om tyd, energie en geld te mors op onproduktiewe metodes en grond. Ons moet ons pogings fokus op waar dit die grootste verskil gaan maak.

 

Geestelike ontvanklikheid kom en gaan in mense se lewens. Soms is hulle meer ontvanklik vir geestelike waarhede. Baie faktore beïnvoed geestelike ontvanklikheid. Wie is die ontvanklikste mense? Daar is veral twee breë kategorieë:

  1. Mense in oorgang

As mense groot verandering ondervind – positief of negatief – ontwikkel hulle ‘n honger na geestelike stabiliteit. Mense is meer ontvanklik vir die evangelie as hulle voor verandering te staan kom: ‘n huwelik, ‘n nuwe baba, ‘n nuwe huis, ‘n nuwe skool, ‘n nuwe werk …

 

  1. Mense onder spanning

God gebruik allerlei emosionele pyn om mense se aandag te kry: egskeiding, die dood van ‘n geliefde, werkloosheid, finansiële probleme, familieprobleme, eensaamheid, skuldgevoelens … As mense angstig is, soek hulle na iets groter as hulleself om die leemte in hulle lewe te vul.

 

Die groot voordeel om op ontvanklike mense te fokus is dat jy nie druk op hulle hoef uit te oefen om Christus te ontvang nie. As jy besef wie jou teiken is en wie die ontvanklikste mense is, is jy greed om ‘n strategie vir evangelisasie in die gemeente uit te werk.