God se teenwoordigheid in my lewe

 

The unrighteous look for the good in themselves and for evil in others … the righteous try to see their own faults and overlook those of others – Martin Luther

 

God se teenwoordigheid in my lewe

Is ek bewus van God se teenwoordigheid in my lewe? Selfs vir gelowiges voel dit soms asof God afwesig in ons lewens is. Daar is weer ander tye wanneer ons baie naby aan Hom voel. Ons is geneig om te oordeel of God by ons is deur ons omstandighede. As alles reg verloop en Hy antwoord ons gebede, is Hy naby aan ons. Maar as ons swaarkry, glo ons dat God afwesig is.

 

Ons moenie toelaat dat omstandighede ons persepsie beïnvloed nie. Ons moet vertrou op wat die Skrif sê. Luister wat sê die psalmis: Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig (Psalm 23:4). As gelowiges het ons dieselfde belofte – die Here stap saam met ons in goeie en in slegte tye. Glo ons dit? As ons dit nie glo nie, sal ons die voordele en seëninge van sy teenwoordigheid verbeur.

 

As ons van God se teenwoordigheid bewus wil wees, moet ons ons verhouding met Hom verdiep. Die plek om te begin is by sy woord. Lees elke oggend sy woord en ons gedagtes word die hele dag op Hom gerig. As ek vertrou op God se kragtige teenwoordigheid in my, word my lewe verander.

 

  1. My perspektief verander

Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig (Psalm 16:8 – 9). As ek van God se teenwoordigheid bewus is, is daar ‘n gevoel van vrede en veiligheid oor my. Al lyk dinge donker hoop ek steeds, want my vertroue is op Hom – nie in my omstandighede nie. Ons skryf nou nie ons seëninge aan geluk toe nie, maar ons word bewus dat God die bron van alle goeie dinge is.

 

  1. As ons van God se teenwoordigheid bewus is motiveer dit gehoorsaamheid

Ons sal nie sonde in ons lewens verdra nie want dit pas nie by ons identiteit in Christus in nie. Nou sif ons elke besluit wat ons neem deur sy wil, want ons wil doen wat Hy begeer.

 

  1. Ons liefde vir God en ons sensitiwiteit vir Hom neem toe

Gebed word nou ‘n geleentheid om met die Here te praat – nie net ‘n tyd om versoeke te rig nie. Ons kan die hele dag lank ons gesprekke met Hom in ons harte dra. Aanbidding word nou meer as ‘n roetine – dit is ‘n geleentheid om die Here te eer.

 

God wil hê dat ons meer bewus van Hom sal wees. Maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie, Hy is by jou. Niks is vir Hom verborge nie; niks is buite sy bereik nie.

 




Die belangrikste vers in die Bybel

 

Learning to pray doesn’t offer us a less busy life; it offers us a less busy heart. —Paul Miller

 

Die belangrikste vers in die Bybel

  1. D. Greear sê dat hy dink Romeine 4:5 is die belangrikste vers in die Bybel. Hier kry ons die evangelie. Kom ons kyk na die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel:

En aan die een wat nie werk nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose regverdig maak, word sy geloof gereken tot geregtigheid.

Die kernwoord om hierdie vers te verstaan, is gereken. Kom ons kyk eers na wat hierdie woord nie beteken nie.

 

  1. Gereken beteken nie dat geloof mense regverdig maak nie

Paulus praat hier van Abraham. Ons sien dat Abraham se lewe hom nie outomaties ‘n regverdige man gemaak het nie. Hy word steeds deur kompromië gepla. Hy twyfel aan God se beloftes en slaap met  Hagar om ‘n erfgenaam te kry. By twee geleenthede los hy vir Sara oor aan die genade van magtige konings. Deur God se genade het die konings nooit dit gebruik nie. Alles gebeur na Abraham se verklaring van sy geloof in Genesis 15:6. Dat Abraham se geloof aan hom gereken word, beteken nie dat hy nou skielik regverdig optree nie.

 

  1. Gereken beteken nie dat geloof regverdigheid is nie

Baie mense glo dat as jy geloof het, is niks anders belangrik nie. Geloof is die goue standaard van gehoorsaamheid. Maar geloof is nie die belangrikste deug wat daar is nie. Paulus sê dat dit liefde is. Hy sê dat geloof sonder liefde feitlik waardeloos is. Jesus het ook die hele wet opgesom met liefde – liefde vir God en liefde vir jou naaste.

 

Maar wat beteken gereken dan? Gereken beteken dat God my geloof as regverdigheid tel al is dit nie. Regverdigheid is nie iets wat ons bereik nie; dit is iets wat ons ontvang. Dit is ‘n gawe van God wat ons op grond van ons geloof ontvang – nie verdien nie. Ware geloof is ‘n verklaring van bankrotskap. Ek së as ‘t ware vir God: “Ek vertrou U, want ek het niks anders om aante bied nie.”

 

As ek op Jesus se voltooide werk vir my verlossing vertrou, reken God dit as regverdigheid. God sê: “Noudat jy na my met leë hande kom, kan ek hulle vul.” Die evangelie sê nie: “Doen dit en jy verdien jou plek in die hemel” nie. Die evangelie sê: “Dit is klaar gedoen. Kom stukkend en vol sonde soos jy is; kom leeg en ontvang die ewige lewe.”

 

 

 




Kan die kerk die wêreld verander?

 

Christian prayer is complete only when we intercede for the common good of all and not merely for ourselves – Martin Luther.

 

Kan die kerk die wêreld verander?

The great use of a life is to spend it on something that outlasts it – William James

Die waarhid van hierdie stelling word treffend geïllustreer in die eerste paar bladsye van Handelinge. ‘n Klein groepie ongekwalifiseerde mense het letterlik die wêreld omgekeer. Nou, 2 000 jaar later, volg miljoene mense hierdie beweging wat God begin het deur hierdie mense te gebruik. Hoekom kon God hulle so kragtig gebruik? In Handelinge 1 – 2 kry ons sekere eienskappe wat hierdie vraag beantwoord. Wat bemoedigend is, is dat hierdie selfde eienskappe vandag steeds deur ons gebruik kan word. Kom ons kyk na hulle.

 

  1. Hulle het geloof gehad wat tot gehoorsaamheid gelei het

Hulle het God vertrou en eenvoudig gedoen wat Hy gesê het hulle moet doen. God beveel hulle om nie van Jerusalem af weg te gaan nie (1:4). Nou Jerusalem was nie juis ‘n vriendelike plek vir hierdie groepie nie. Dit was die laaste plek waar hulle sou wou bly. Hoekom bly hulle dan in Jerusalem?  Omdat Jesus hulle beveel het om daar te bly. As ons die wêreld wil verander moet ons na God luister en doen wat Hy sê. Ongelukkig is ons gedurig besig om strategieë en planne te ontwikkel. Ons het nie tyd om na God te luister nie. Onthou: ons gaan nie die wêreld verander nie. Ons moet by God se missie om die wêreld te verander, aansluit.

 

  1. Hulle het ‘n passie gehad wat eenheid bevorder het

Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed (1:14). Van hoeveel van ons gemeentes kan ons sê dat die lidmate eensgesind is. Hoe het dit in die vroeë kerk gebeur? Die sleutel kry ons in 1:3: Na sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. Jesus het met hulle oor die koninkryk van God gepraat. Vir veertig dae na sy opstanding praat Jesus met hulle oor die koninkryk. Die koninkryk is God se soewereine optrede in die wêreld wat verseker dat mense in die regte verhouding met Hom is. Niks was vir hulle belangriker as juis God se roeping nie.

 

  1. Hulle het gebid

Lees net 1:8 – 11. In vers 8 sê Jesus vir hulle: “Hierdie is my plan … julle gaan in Jerusalem waar die mense julle haat bly … dan gaan julle na Samaria, daar waar julle die mense haat … daarna gaan julle na die uithoeke van die wêreld waar julle nie weet wat om te verwag nie.” Asof dit nie genoeg is nie, word Jesus in die hemel opgeneem – hulle is alleen. Hulle kyk stip na die hemel. Twee engele verskyn aan hulle en vertel die dissipels dat hulle nou besig moet raak. Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk. Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel sien opgaan het.

 

Met hierdie woorde verander alles: Jesus kom weer. Hulle gaan terug na Jerusalem en kom in die bovertrek bymekaar. En dan: Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed (1:14). Hulle besef dat hulle sonder God se hulp hopeloos was. Vandag het ons tyd vir allles … behalwe gebed.

 

  1. Hulle het die Heilige Gees wat vir hulle krag gegee het, gehad.

Ons kan nie presies verduidelik wat in Handelinge 2 gebeur het nie. Ons weet egter verseker dat die Gees van God die kerk bemagtig het. Wat ons vandag nodig het, is die vars teenwoordigheid van die Heilige Gees. Dan word gewone mense op ongewone wyses gebruik. As die Gees van God beweeg, moet ons seker maak dat ons seile gespan is om by Hom aan te sluit waar Hy besig is om te werk.

 

 




Volg My (4)

 

Truth is so obscure in these times, and falsehood so established, that unless we love the truth, we cannot know it – Blaise Pascal

 

Volg My (4)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Om sonde te los en onsself af te sterwe, is duur. Toe Jesus die vier vissermanne gevra het om Hom te volg, vra Hy hulle om hulle besittings, beroep, drome, ambisies, familie, vriende en sekuriteit agter te laat. Hulle moes alles los. In ‘n wêreld waar alles om myself draai – beskerm, bevorder, vermaak sorg vir jouself – sê Jesus ons moet ons eie self doodmaak. Hierdie vier vissers het ‘n groot prys betaal –Petrus is onderstebo gekruisig, Andreas is in Griekeland gekruisig, Jakobus is onthoof en Johannes is verban.

 

Tog het hulle geglo dat dit die moeite werd was om Jesus te volg – hulle het iets gevind wat dit die moeite werd gemaak het om alles te verloor. In Christus vind hulle ‘n liefde wat alle verstand te bowe gaan, ‘n bevrediging wat die omstandighede verplaas het, ‘n doel wat enige ander doel in die wêreld oortref het. Hulle het gewillig en met blydskap hulle lewens verloor om Hom te ken, te volg en te verkondig.

 

Hoe ver het ons nie van hierdie pad afgedwaal nie. Ons probeer Jesus se oproep vergeet. Die kerke is vol mense met ‘n oppervlakkige verhouding met Jesus Christus. Baie mense glo dat om ‘n volgeling van Jesus Christus te word, moet jy sekere feite erken en sekere woorde sê. Die uitnodiging om Jesus Christus te volg, is nie ‘n uitnodiging om ‘n gebed te bid nie – dit is ‘n oproep om ons lewens af te lê.

 

Volgende keer kyk ons verder na die koste om Jesus Christus te volg.