Hoe kan ek ‘n uitstekende luisteraar word?

 

The Lord frequently upsets the purposes of his saints in order to humble them, and by such humiliation to teach them to look to His providence, om which they are to depend – Calvyn

 

Hoe kan ek ‘n uitstekende luisteraar word?

The word listen contains the same letters as the word silent – Alfred Brendel

Luister is soos intelligensie – meeste mense glo dat hulle bokant die gemiddelde is. Dit is tog nie moontlik nie. Luister is ‘n vaardigheid waarin elkeen van ons moet uitblink. In ‘n onlangse studie van die George Washinton Universiteit is bevind dat luister 40% van ‘n leier se prestasie kan beïnvloed.

 

Mense praat baie. Daarom is daar baie geleenthede om te luister. Ons praat om terugvoer te gee, opdragte uit te reik en om teikendatums te kommunikeer. Behalwe dit wat ons hoor, kry ons waardevolle inligting deur na ‘n persoon se stemtoon te luister en na sy liggaamstaal te kyk.

 

Doeltreffende luister kan aangeleer en bemeester word. Soms is dit moeilik; soms is dit vervelig, maar doeltreffende luister kan bemeester word. Jy moet net weet wat om te doen. Dr Travis Bradberry, medeskrywer van Emotional Intelligence 2.0, gee ‘n paar riglyne.

 

  1. Fokus

Meeste mense fokus so op wat hulle volgende gaan sê dat hulle nie hoor wat die ander persoon sê nie. Die woorde is duidelik, maar die betekenis gaan verlore. Om te fokus is nie so maklik as wat dit klink nie. Jou gedagtes kan jou aandag aflei.

 

  1. Sit weg jou foon

Jy kan nie doeltreffend luister en jou foon terselfdertyd monitor nie. Niks ontstel mense meer as wanneer jy na jou foon loer terwyl julle met ‘n gesprek besig is nie. As jy met ‘n gesprek besig is, moet jy al jou aandag daaraan gee. Dit maak die gesprek aangenamer en doeltreffender.

 

  1. Vra goeie vrae

Mense wil weet of jy luister. ‘n Vraag ter verduideliking wys vir hulle dat jy luister, maar ook dat jy belangstel in wat hulle te sê het. Onmiddellik wen jy respek en waardering. Jy probeer bevestig wat jy gehoor het, maar jy vra ook vrae om meer inligting te bekom. Goeie vrae is: Hoekom sê jy dit? Wat het volgende gebeur? Jy moet seker maak dat jou vrae sal bydra om die spreker te verstaan. Moenie vrae vra om die onderwerp te verander nie.

 

  1. Oefen nadenkende luister

Dit is die luisterstrategie waar jy die betekenis van wat gesê is, parafraseer. So maak jy seker dat jy die spreker se woorde korrek geïnterpreteer het. Deur dit te goen, gee jy aan die spreker die geleentheid  om te verduidelik wat sy bedoel het om te sê. Moenie net die spreker se woorde herhaal nie. Gebruik jou eie woorde om te bewys dat jy die inligting geabsorbeer het.

 

  1. Gebruik positiewe liggaamstaal

Wees bewus van jou uitdrukking, stemtoone en handbewegings en maak seker dat hulle positief is. Deur ‘n positiewe stemtoon te gebruik; deur nie jou arms te vou nie; deur oogkontak te behou is almal tekens van positiewe liggaamstaal. Dit kan al die verskil aan ‘n gesprek maak.

 

  1. Moenie oordeel nie

As jy ‘n goeie luisteraar wil wees moet jy nie oordeel nie. Dit maak dat mense gemaklik voel om jou te nader. Niemand wil ‘n gesprek voer met iemand wat alreeds besluit het en nie gewillig is om te luister nie. Om toeganklik te wees beteken dat jy toegang tot nuwe idees het. Om dit reg te kry, moet jy die wêreld deur ander mense se oë sien. Dit beteken nie dat jy glo wat hulle glo nie of dat jy hulle gedrag goedkeur nie. Dit beteken jy oordeel nie voordat jy presies verstaan wat hulle sê nie.

 

  1. Bly stil

As jy nie vrae vra om duidelikheid of meer inligting te kry nie, moet jy stilbly. As jy dink oor wat jy volgende gaan sê, neem dit die aandag van die spreker af weg. As jy die gesprek kaap, wys dat jy dink dat jy iets belangriker as die spreker te sê het. Moenie te gou met allerhande oplossings na vore kom nie. Almal van ons wil mense help – veral as dit iemand is vir wie jy omgee. As ons te gou met oplossings inspring, maak ons die ander persoon stil.

 

Die lewe is besig. Almal van ons probeer elke dag baie dinge doen. Maar aktiewe, doeltreffende luister is nie iets wat jy sommer so in die loop van sake kan doen nei. Dit vereis ‘n doelbewuste poging.

 

 

 




Volg My (3)

 

What we live is what we really believe. Everything else is just so much religious talk – Vance Havner

 

Volg My (3)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Hoe word ek ‘n volgeling van Jesus? Hoe word hierdie verlossing ‘n werklikheid in my lewe? Jesus begin sy bediening met die woorde: Bekeer julle. Dit ook wat Johannes die Doper ter voorbereiding van Jesus se koms verkondig het. Dit was ook die basis  vir die eerste Christelike preek – dié van Petrus op pinksterdag.

 

Bekering behels ‘n elementele transformasie in iemand se hart, verstand en lewe. As mense hulle bekeer, draai hulle deur 180 grade om. Van nou af dink hulle anders, voel hulle anders, glo hulle anders, leef hulle anders en het hulle anders lief. Toe Jesus sê “bekeer,” praat Hy met mense wat teen God in opstand was. Hulle vertrou op hulleself vir hulle verlossing. Jesus se oproep was dus dat hulle sonde moet verwerp en ook alle vertroue op hulleself vir hulle verlossing.

 

Bekering beteken ek verwerp ‘n lewenswyse en vervang dit met ‘n nuwe lewenswyse. Baie Christene glo dat as ons sondes vergewe is, is alles reg. Maar as daar nie ‘n ware opregte verandering in ons lewens is nie, is dit nie voldoende nie.

 

As ek na Jesus kom, vergeef Hy nie net my sonde nie, maar Hy vul my ook met sy Gees. Dit is die boodskap van die Christelike geloof: Jesus het vir jou gesterf sodat Hy in jou kan leef. Hy verbeter nie my ou natuur nie – Hy gee aan my ‘n volledige nuwe natuur. Alles wat aan Hom behoort, word nou joune. Sy geregtigheid verplaas jou ongeregtigheid; sy Gees vul jou gees; sy liefde word jou liefde; sy vreugde word jou vreugde; sy begeertes word jou begeertes; sy wil word jou wil; sy mag word jou mag. Die Christelike lewe is die uitlewing van die inwonende Christus. Dit is wat dit beteken om Jesus Christus te volg.

 

Kos dit iets om Jesus te volg? Daarna kyk ons volgende keer.

 




Volg My (2)

 

Where truth is denied, only therapy remains – Al Mohler

 

Volg My (2)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Sonde is nie tot een of twee dinge beperk nie – dit gaan na die kern van wie ons is en maak dit vir ons onmoontlik om na God te draai op ons eie. Dit is wat die Bybel bedoel as hy sê dat ons dood in ons sonde is. Volledig dood.

 

As sonde ons probleem is en as ons dood is as gevolg daarvan, wat beteken dit? Hoe kan ons onsself help? Onmoontlik. In jou dood het jy iemand buite jouself nodig om jou te help. Dit is presies wat Jesus gedoen het.

 

Jesus het gekom om die lewe te leef wat ons nie kon leef nie (‘n lewe sonder sonde) en om die dood te sterf wat ons as sondaars verdien het om te sterf. Jesus het gekom om die heilige toorn van God wat ons as sondaars verdien, te verduur. Ons sonde bestaan nie buite ons nie – dit is in die kern van ons wese. Ons sondig nie net nie, ons bestaan as sondaars. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy nie net vir ons sonde gesterf nie – Hy het die straf wat ons as sondaars verdien, betaal. Hy sterf in ons plek – vir ons. Hy verduur die volle straf wat ons as sondaars verdien het.

 

Almal van ons is sondaars. God is heilig en sy toorn teen sonde en sondaars is geregverdig. Maar God is ook genadig en het ‘n heilige liefde vir sondaars. Hoe kan God dan heilige toorn en heilige liefde teenoor sondaars bewys? Die antwoord is: die kruis van Jesus Christus. Daar sien ons die volle uitdrukking van God se toorn en sy liefde.

 

Hierdie reiniging van sondaars is ‘n gawe van God en berus nie op ons meriete nie. Ons word nie gered oor die dinge wat ons gedoen het nie, maar slegs deur sy genade. Geloof is Christus alleen is die enigste manier om van sonde gereinig te word. Daar is niks wat ons kan doen behalwe om te vertrou op dit wat reeds in die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus gedoen is nie. Geloof is die besef dat God se aanvaarding van jou nooit van jou prestasies afhanklik is nie. Dit berus altyd op wat Christus vir jou gedoen het.

 

Volgende keer gaan ons kyk na hoe ek ‘n volgeling van Jesus word.

 




Wil jy hê dat mense na jou moet luister?

 

Followers of Jesus who count the cost and are willing to take up their crosses after him must have broad shoulders. —Os Guinness

 

Wil jy hê dat mense na jou moet luister?

Meeste konflikte in die kerk is die gevolg van swak kommunikasie.. Jou beste planne, idees en voorstelle is waardeloos as jy hulle nie doeltreffend kan kommunikeer nie. Net omdat iemand hoor dat jy iets sê, beteken nie dat hulle luister nie. Daar is sekere vaardighede wat jy kan ontwikkel om te verseker dat mense na jou luister. Volg net hierdie Bybelse riglyne. Rick Warren noem die volgende riglyne:

  1. Kies die regte tyd. Jy mag gereed wees om te praat, maar is hulle gereed om te luister? Elke ding het sy tyd en sy manier (Prediker 8:6).
  2. Beplan jou voorlegging. Dink voordat jy iets sê – veral jou inleiding. Moenie met die besonderhede begin nie. ‘n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde sodat hy ander kan leer (Spreuke 16:23)
  3. Begin met sy/haar behoeftes. ‘n Luisteraar wil altyd weet waarom hy na iets moet luister – hoe gaan dit my bevoordeel? As jy hierdie vrae antwoord, gee mense hulle onverdeelde aandag aan wat jy sê. Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goed kan kom (Efesiërs 4:29).
  4. Luister eers. Ons kom in die moeilikheid as ons sommer aannames maak. Luister eers na die ander kant. Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19).
  5. Sê dit positief. Niemand hou van slegte nuus nie. Leer om realisties en optimisties te wees. As jy slegte nuus het, sê dit aan die begin op ‘n feitelike manier. ‘n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem, en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer (Spreuke 16:21).
  6. Verduidelik jou gevolgtrekkings. Som op dit wat jy gesê het; wees spesifiek; sê weer wat jy besluit het. Ek vermaan … om eensgesind te wees in die Here (Filippense 4:2b).
  7. Eindig met ‘n bemoedigende woord. Hoe jy ‘n gesprek afsluit, is belangrik Probeer altyd op ‘n hoë noot eindig. ‘n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik (Spreuke 12:14).

 

Probeer hierdie riglyne en kyk watter verskil hulle maak.