Bly Positief

 

Childlike confidence makes us pray as none else can. It makes a man pray for great things, which he would never have asked for if he had not learned this confidence – Charles Spurgeon

 

Bly Positief

Craig Groeschel sê dat daar baie goeie redes vir Christene is om optimisties te wees. Daar is vandag ‘n epidemie van negatiwiteit – ook hier in Suid-Afrika. Daar is mense wat van nature meer optimisties as ander is. Natuurlik is daar dinge wat skeef loop, maar daar is ook baie om oor optimisties te wees. Jy sal altyd kry waarna jy soek: Wie die goeie nastreef, kan goedkeuring verwag; wie op die kwaad uit is, kry dit (Spreuke 11:27).

 

Hoekom kan ons optimisties wees? Kom ons kyk net na Romeine 8:

  1. My sondes is vergewe en my ewigheid is seker. Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van die sonde en dood (8:1 – 2). Dit moet ons optimisties maak.
  2. Jesus is aan die regterhand van God en Hy pleit vir ons (8:34). Hy weet waardeur ons gaan. Dit moet ons baie vertroue gee as ons weet dat Jesus vir ons pleit.
  3. My toekomstige oorwinning is groter as die pyn wat ek tans ondervind. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (8:18).
  4. My gedagtes is vol van die vrede van God. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede (8:6). God se woord vernuwe ons gedagtes en help ons om sy vrede te ondervind.
  5. As God vir my is, kan niemand teen my wees nie. God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? … Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (8:31, 34). Mense mag jou spot en selfs vervolg, maar aangesien God by jou is, maak dit nie saak nie.
  6. God se Gees help my in my swakheid. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by (8:24 – 26). As ek swak is, leer ek God op ‘n meer intieme wyse ken, want dit is sy krag wat my dra.
  7. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (8:28).
  8. Niks kan ons van die liefde van God skei nie – die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (8:38 – 39).

 

Ons God is so groot en goed. Hoe kan ons dan negatief in die lewe wees.

 




Hoekom moet ek die eredienste bywoon?

 

Jesus isn’t an escape from life’s trials, but he’s our closest friend through them. —Burk Parsons

 

Hoekom moet ek die eredienste bywoon?

Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede (Handelinge 2:42).

Die kerk leef in moeilike tye. ‘n Groot behoefte is dat die kerk weer sy identiteit en karakter herwin. In hierdie vers word die vroeë kerk, net na die uitstorting van die Heilige Gees, beskrywe. Petrus verkondig die boodskap van Christus aan die skare. Baie glo en hulle vergader saam as die kerk. Hoekom het hulle kerk toe gekom? Hoekom moet ons kerk toe kom?

 

  1. Hulle is verander deur die evangelie van Jesus Christus

Petrus het verkondig: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak (2:36). Die hoorders is diep getref deur sy boodskap en vra: Wat moet ons doen, Petrus? Toe antwoord Petrus hulle : “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Hier sien ons die sondaar se behoefte om hom te bekeer, sy sonde te bely, in Christus te glo vir sy verlossing en dan deur die doop deel van Christus se kerk te word. Ook ons moet kerk toe kom, omdat ons deur Christus gered is.

 

  1. Hulle kom om geleer te word in die waarhede van God se woord

Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels. Ware Christene hou van God se woord en wil graag meer daarvan weet. Hulle moet teen onkunde beskerm word en deur kennis bemagtig word. Dit word van Christene verwag om God se woord uit te dra, maar hoe kan hulle dit doen as hulle nie die nodige kennis het nie?

 

  1. Gemeenskap met ander gelowiges

Hulle het hulle heelhartig toegelê op … die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Ware Christene word na mekaar aangetrek.

 

Hierdie verslag van die vroeë kerk eindig deur te sê dat hulle elke dag getrou by die tempel bymekaargekom … Die hele volk was hulle goedgesind.  Ons moet die eredienste met bly en vrygewige harte bywoon om Hom te verheerlik. Wat sal gebeur as ons in die gees van die vroeë kerk bymekaarkom? En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

 

 




Mites wat Christene oor depressie glo

 

It is treason against the King of kings to tone down the word of the Lord. —C.H. Spurgeon

 

Mites wat Christene oor depressie glo

Daar is ‘n paar vals idees wat onder gelowiges voortleef.

  1. Depressie is ‘n geloofsaak

Ons hoor dikwels dat ware gelowiges nie aan depressie ly nie. Dit is vals, maar ook teenstrydig met die boodskap van Christus. Nêrens word ‘n pynvrye, siektevrye, probleemvrye lewe aan gelowiges belowe nie. Wat wel belowe word, is ‘n Verlosser en ‘n Vriend – Iemand wat ons sal vertroos. In sommige mense is depressie eerder ‘n katalis vir ‘n dieper geloof. As dinge baie moeilik raak, is geloof dikwels die enigste ding wat mense het.

 

  1. Ons kan depressie wegbid

Vryheid van depressie vereis gebed en medikasie. Dit kan in die vorm van ondersteuning, terape of geneesmiddels wees. God het vir ons wysheid en navorsing gegee om ons te help om depressie te verstaan.

 

  1. Depressie is nie fisies nie

Ons sal nie ‘n pasiënt met kanker of ‘n diabeet laat skaam voel oor hulle liggame nie. Ons moet ook ons perspektief oor depressie verander. Depressie is ‘n siekte van die liggaam wat ‘n impak het op ons emosies en gedagtes. Daar is baie oorsake vir dpressie, maar dit affekteer altyd die liggaam. Ons moet leer om mense met depressie te ondersteun en nie weg te druk nie

 

  1. Ons moenie oor depressie praat nie

Dit is nie ‘n skande om depressie te hê nie. Ons moet leer om daaroor te praat en daaroor te preek. Depressie is ‘n siekte wat in isolasie floreer. Daarom moet ons uitreik.

 

Wat moet die kerk doen? Ons moet ‘n omgewing skep waarbinne ons mense wat sukkel nader sal trek en nie wegdruk nie. Ons moet ook deursigtig wees. Onthou dat ons swakheid ons altyd rig op Hom wat ons sterk kan maak – Jesus Christus.

 

 




Die belang van kleingroepe

 

Unbelief seizes truth, grasps it roughly, silences its voice and twists it away from God’s intended purpose. —Os Guinness

 

Die belang van kleingroepe

Intussen het daar ‘n klompie mense aangekom wat ‘n verlamde man op ‘n draagbaar gedra het. Hulle wou hê dat Jesus hom gesond moet maak. Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie. Hulle het toe op die dak geklim, ‘n klomp dakteëls uitgehaal en die man op die draagbaar met toue laat afsak tot reg voor Jesus. Jesus was baie beïndruk met hulle geloof. Hy sê toe vir die verlamde man: “Vriend, Ek gaan jou ‘n goeie rede gee om weer te lag. Ek sal sorg dat God nie meer vir jou kwaad sal wees oor jou sondes nie. Jou sondes is vergewe.” (Lukas 5:1 8 – 29 – Die Boodskap)

Soms is dit nodig om iets radikaal te doen om iemand by Jesus te kry. Soms is die versorging en liefde van ‘n klein groepie mese al wat nodig is.

 

Rick Warren sê dat kelingroepe doeltreffende instrumente vir evangelisasie kan wees as hulle omgee vir mense wat Jesus nie ken nie. Hierdie vier vriende in hierdie verhaal  het omgegee vir die verlamde man. Die evangeliese roeping van kleingroepe moet ook by liefde begin. Voordat jy ander kan versorg, moet jy eers bewus van hulle word. Sodra hulle bewus is van mense wat Jesus nie ken nie, moet hulle vir hulle begin bid.

 

Jou kleingroep moet vir drie dinge bid:

  • ‘n Geleentheid om jou geloof, op ‘n manier wat nie die ongelowige bedreig, te deel.
  • Dat God hulle harte sal sag maak.
  • Dat God diegene in die kleingroep se harte sag sal maak.

 

  1. Jou kleingroep moet glo dat God die persoon kan bereik

Niemand is hopeloos nie. Toe hierdie vier vriende na die verlamde man gekyk het, moes hulle gedink het dat die situasie hopeloos is. Wat sou Jesus kon doen? Nee. Hulle het geglo dat Jesus hom kon genees – hulle het geloof gehad. Ons lees dat Jesus, toe Hy die geloof van die vier mans sien,  vir die verlamde man sê: Jou sondes is vergewe.

Daar is steeds mense in die samelewing wie se geloof verlam is. Of dit nou die gevolg van vrees of twyfel of eensaamheid of iets anders is, die gevolge is dieselfde – hulle het die geloof van ander nodig. Die geloof van jou kleingroep moet hulle na Jesus toe bring.

 

  1. Jou kleingroep moet ‘n plan maak

Geloof en gebed is belangrik, maar jy moet ook nog iets anders doen – jy het ‘n plan nodig. Toe die vier vriende sien dat hulle nie by Jesus gaan uitkom nie, maak hulle ‘n plan om die verlamde man by Jesus te kry. Het jou kleingroepie ‘n plan om mense by Jesus uit te bring? Sonder ‘n plan gaan jy niemand by Jesus Christus kry nie.

 

  1. Jou kleingroep moet die probleme oorwin

Die vier vriende kon toe hulle al die mense sien mismoedig geword het. Hulle gooi nie tou op nie. Hulle soek ‘n ander manier om die man by Jesus te kry. Almal van ons voel soms mismoedig, maar as ons mense by Jesus Christus wil kry moet ons, ten spyte van die probleme, volhard.

 

  1. Jou kleingroep moet die moed hê om iets anders te doen

Hierdie vier vriende doen iets anders – hulle gaan deur die dak! Soms moet ons iets buite die gewone doen om mense by Christus te kry.

 

  1. Kleingroepe moet saamwerk om die taak te doen

Om ‘n draagbaar te dra, het jy meer as een mens nodig. Soms is ‘n groeppoging nodig om iemand by Christus te kry – hulle soek ‘n ondersteunende gemeenskap.

 

  1. Jy kleingroepe moet gewillig wees om die prys te betaal om iemand na Jesus Chrisrtus te bring

Om iemand na Jesus Christus te bring vereis ‘n offer. Soms is dit my eie gemak. Baie kleingroepe word so gemaklik dat hulle bang is om nuwe mense by te voeg – hulle sal net die groepdinamika deurmekaar krap. Ons moet eers uit ons gemaksone kom.

 

Die belang van kleingroepe moenie onderskat word nie. Rick Warren wys vir ons hier op enkele voordele van kleingroepe.