Is ek verlos?

 

 

“There is no greater honour, after living for Christ, than to die for Him.” C. T. Studd

 

Is ek verlos?

Hoe kan ek weet dat ek verlos is? Dit is ‘n algemene vraag onder Christene. ‘n Gedeelte wat ons hiermee kan help, is 1 Johannes 5:13 – 18. Johannes identifiseer hier twee maniere waardeur ons kan seker maak dat ons verlos is.

 

  1. Ons hoop vir die ewige lewe is volledig in Jesus Christus

Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo (5:13). Ons kan verseker wees as ons in Jesus Christus glo. Dit is die evangelie. As ons op Hom vertrou, hou ons op om die ewige lewe te probeer verdien. Die evangelie gee vir ons versekering, want die evangelie verkondig “Jesus in my plek.” My versekering hang nie af van hoeveel en hoe goed ek gedoen het nie. Dit word alles bepaal deur wat Jesus Christus vir my gedoen het. Dit gaan alles oor geloof in Jesus Christus.

 

  1. Ek het ‘n nuwe natuur (5:16 – 18)

As ek glo en weergebore is, het ek ‘n nuwe natuur. Hierdie nuwe natuur gaan gepaard met nuwe begeertes. As gevolg van hierdie nuwe natuur hou ek nie aan om te sondig nie. Dit is hoe God my verander: nie deur my met ‘n stel reëls te dreig nie, maar deur vir my ‘n nuwe hart te gee. Ek vermy nie die verkeerde dinge as gevolg van dreigemente van God nie, maar omdat hierdie dinge my siek maak.

 

Dit beteken nie dat ek nou onmiddellik volmaak word of dat ek nie langer teen sonde moet stry nie. Ek raak egter nie willens en wetens by sonde betrokke nie. Ek kan nie vir God en die dinge wat Hom seermaak terselfdertyd liefhê nie. Ek kan nie vir God met my mond prys, maar Hom met my lewe openlik kruisig nie. En as ek nou in die sonde terugval? Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie (5:18). ‘n Teken dat my verlossing opreg is, is dat as ek val dit nooit permanent is nie. Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op (Spreuke 24:16).

 

My nuwe natuur beteken nie dat ek nooit weer val nie, maar deur wat ek doen as ek val. Verlossing beteken nie volmaaktheid – sonder sonde – nie … dit beteken wel ‘n nuwe rigting

 

 

 

 

 




Die goeie nuus van Jesus is noodsaaklik

 

The gospel has versatility to address the particular hopes, fears, and idols of every culture and every person – Tim Keller

 

Die goeie nuus van Jesus is noodsaaklik

Alasdair MacIntyre (After Virtue) sê dat stories noodsaaklik is as ons betekenis aan iets wil gee. Die Bybel is nie net ‘n diverse groep stories nie – alles saam vorm een oorkoepelnede storie. Daar is ‘n basiese lyn waarmee al die dele van die Bybel ‘n verband het en wat van al die verskillende dele sin maak.

 

Die Bybel begin met God wat die wêreld goed maak – sonder die verydeling en verganklikheid wat tans die wêreld oorheers. Hy maak die mens as sy beeld en verteenwoordiger in die wêreld. Ons is gemaak om God te verheerlik en te dien en om ander lief te hê. Maar ons wou gehad het dat God ons moet dien. Ons leef nou selfgesentreerde lewens. Omdat ons verhouding met God verbreek is, is alle ander verhoudings verbreek.

“Things fall apart; the center cannot hold

Mere anarchy is loosed upon the world”

Dit is William Butler Yeats (“The Second Coming”) se beskrywing van die wêreld vandag.

 

Hoe het God gereageer? Met toorn of met liefde? Beide. God dring daarop aan dat ons doen wat reg is; Hy dreig om alle ongehoorsaamheid te straf. Maar Hy sê sy bedoeling is om te red. Hy roep mense na Homself om ‘n nuwe gemeenskap te vorm. Aanvanklik was dit ‘n uitgebreide famile (Gensis 12:1 – 8). Uit hierdie familie skep God ‘n hele volk: Israel. Hy red hulle uit slwaerny; Hy maak ‘n verbond met hulle. Die geskiedenis van die verbond is een van voortdurende mislukking.

 

In die Ou Testament kry ons ‘n oënskynlike onoplosbare  probleem wat die storie vorentoe dryf. Sal God die vloek wat op sonde rus oor die volk bring of sal Hy sy mense, ten spyte van hulle sonde, liefhê. Weereens is die antwoord: beide. Dit is Jesus Christus, die Seun van God. Hy leef die lewe wat ons veronderstel is om te lewe; Hy sterf die dood wat ons behoort te gesterf het – in ons plek. Hy leef ‘n volmaakte lewe; Hy sterf aan die kruis en neem so die vloek vir ons ongehoorsaamheid op Hom.

 

Die beste stories het verbasende en onverwagte oplossings. Hier het ons nou die grootste storie ooit. Letterlik alles en almal word geraak. Dit lyk onmoontlik dat God regverdig kan wees en vir ons verlos. Oorwinning word behaal deur Jesus Christus se offer aan die kruis. Daar straf God sonde en gee aan ons verlossing.

 

Die Bybel vertel van die spanning tussen God se geregtigheid en sy genade. Dit word alles in Jesus Christus opgelos. Daarom kon Jesus na sy opstanding vir die reisigers na Emmaus sê dat die wet van Moses en die profere en die Psalms gaan oor Hom. Paulus sê dat God se beloftes dwarsdeur die Skrif in Jesus Christus vervul is. Alles in die Bybel wys na Jesus. Die Bybel is ware geskiedenis en ‘n verenigde storie hoe God ons in Jesus Christus gevind het. Hieruit kry ons bepaalde insigte en beginsels oor hoe om te lewe. Die Bybel is egter nie primêr oor ons en wat ons moet doen nie. Dit gaan hoofsaaklik oor Jesus Christus en wat Hy gedoen het.

 

Hoe ons op lyding, die dood, seks, geld en mag reageer, word beïnvloed of ons die storie van die Bybel oor Jesus verstaan en glo

 

 




Rut en Simson

 

Praying without ceasing isn’t meant to burden us but to liberate us from all our burdens. —Burk Parsons

 

Rut en Simson

Die boek Rigters sluit op ‘n donker, amper desperate, noot af: In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë (Rigters 21:25). Hierdie wat “reg is in sy eie oë” was dikwels gruwelik. Aan die begin was dit baie aanloklik om God te definieer soos hulle Hom graag wou hê. Mettertyd vind hulle hulle fout uit.

 

As Rigters die enigste boek was waaruit ons die geskiedenis van Israel op hierdie spesifieke stadium kon leer, was dit maar ‘n droewige prentjie. Maar daar is ook ‘n ander boek – Rut. Die boek Rut speel af in die laaste dae van die rigters. Dit was regtig nie ‘n baie goeie tyd om ‘n vrou in Israel te wees nie. Tog is die sentrale karakter in hierdie boek ‘n vrou. Nog erger: sy is nie eers ‘n Israeliet nie. Sommer vroeg in die storie is sy ‘n weduwee. Sy is so laag en swak as wat ‘n mens kan kry – ‘n vrou, ‘n weduwee en ‘n nie-Israeliet.

 

Intussen is die sterk mans en heersers besig om die nasie in die grond te bestuur. Maar die oënskynlike swak en hulpelose Rut staan uit, want sy vertrou God al lyk dit of alles teen haar is. As gevolg van haar geloof te midde van onsekerheid sou God haar gebruik om Israel te red. Dwarsdeur die boek Rigters wonder ons of een van hierdie rigters nie Israel sou verlos nie … maar nie een van hulle was opgewasse vir die taak nie. God kies vir Rut om sy beloftes lewend te hou. Rut het ‘n seun Obed gehad. Hy het ‘n seun Isai, die vader van Dawid, gehad. Die koning wat Israel nodig gehad het, Dawid, kom nie uit die krag van Simson nie, maar uit die swakheid van ‘n weduwee uit ‘n ander land.

 

Dawid was nie dié koning wat Israel nodig gehad het nie. Geslagte later kom die koning wat Israel nodig gehad het – Jesus. Jesus, soos Rut, was arm en swerf rond sonder ‘n huis. Soos Rut was Hy nie die Verlosser wat Israel verwag het nie. As gevolg van sy swakheid, was Hy die Verlosser wat hulle nodig gehad het.

 

Jesus sou veel erger dinge as Rut moes verduur. Rut het vir ‘n tyd lank swaar gekry, maar sy eindig haar lewe in ‘n stabiele en ryk familie. Jesus eindig sy lewe en al sy vriende verlaat Hom. Hy sterf arm – sy enigste besitting, sy klere, word van sy lyf geskeur. Hy sterf ‘n afskuwelike dood.

 

Miskien moet ons weer na die boek Rigters kyk. Die einde van die boek is donker en aaklik, maar dit is nie die donkerste hoofstuk in die Bybel nie. Die donkerste oomblik in die Bybel is wanneer God se Seun gemartel, gespot en gekruisig word deur godsdiensleiers wat gedink het dat hulle God se werk gedoen het. Die groot verskil tussen die aaklige toneel aan die kruis en die tonele in Rigters 17 – 21 is dat Jesus dit vrywillig aanvaar het. Die mans in Rigters was gemaklik om ander mense, veral vrouens, aan straf te onderwerp, maat Jesus het die straf vir ons vrywillig aanvaar.

 

As ons sonde sien vir wat dit is en as ons besef dat wat Jesus verduur het, het Hy vir ons gedoen, kan ons maar net uitroep: “Genade!”

 




Ons vergader saam

 

Interactions with different cultures help us lose our blinders and slowly but surely move to a more rounded biblical Christianity – Tim Keller

 

Ons vergader saam

Moderne tegnologie het baie voordele. Ons kan baie vinnig inligting uitruil; ons kan met mense aan die ander kant van die aarde praat. Maar tegnologie het ook sy donker kant. Dink maar net aan die maklike toegang tot pornografie.

 

Daar is egter ‘n meer subtiele strik in hierdie onmiddellike toegang tot inligting wat Christene op ‘n unieke manier raak: die versoeking om toe te laat dat preke aanlyn ons verpligting om God se woord saam met ander gelowiges in die plaaslike gemeente te hoor, vervang. Om na preke aanlyn te luister is goed, maar as dit die gereelde eredienste in die gemeente verplaas, gaan baie verlore.

 

Hoekom is dit belangrik dat elke Christen saam met ander gelowiges in die plaaslike gemeente elke week bymekaarkom om die prediking van God se woord te hoor?

  1. Die Christen se geloof word deur die aanhoor van God se woord aangevuur

Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus (Romeine 10:17). Ons is meer geneë om te luister en betrokke te raak as ons saam met ander, wat ook gekom het om God se woord te hoor, teenwoordig is Dit is een van die redes waarom die Hebreër-skrywer gelowiges waarsku om nie van die samekomste van die gemeente af weg te bly nie (Hebreërs 10:25).

 

  1. Om God se woord van jou eie herder te hoor, is uniek

Natuurlik is daar niks mee verkeerd om na ‘n bekende prediker te luister nie. Dit is egter ‘n heel ander ondervinding om in die kerk te sit en om te hoor hoe God se woord verkondig en toegepas word deur jou leraar wat bewus is van jou probleme en twyfel en wat rekenskap van jou moet gee. Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee (Hebreërs 13:17).

 

  1. Moet nooit die krag van persoonlike verbintenisse onderskat nie

Daar is ‘n kragtige verbintenis tussen ‘n herder en sy kudde as hy God se woord verkondig aan diegene aan wie hy gedink en vir wie hy gebid het tydens die voorbereiding van die preek. Die Heilige Gees gebruik op ‘n unieke wyse oogkontak, gesigsuitdrukkings en liggaamstaal in beide herder en hoorders as ‘n kragtige verbintenis tussen hulle  tydens ‘n preek.

 

  1. Geestelike vrugte kom as ek saam met ander luister

As die gemeente vergader, werk die Heilige Gees op unieke en kragtige maniere wat afwesig is in private byeenkomste. As ‘n gemeente saam na ‘n preek luister word aanspreeklikheid gevestig – die hoorders moedig mekaar aan om dit wat hulle gehoor het toe te pas. Daar is ‘n groter verpligting om iets te doen met die preek. Ons vertrou op mekaar vir krag en hulp om dit te doen. Dit is nie daar as ons in afsondering na ‘n preek luister nie.

 

  1. Openbare preke lei tot korporatiewe dissipelskap

Een-tot-een dissipelskap is noodsaaklik vir persoonlike groei van Christene. As die hele gemeente hoor as God se woord verkondig word, word dit die basis vir verdere gesprekke en groei in die een-tot-een gesprekke oor dissipelskap wat volg. Die preek kry almal op dieselfde bladsy.

 

Ons kan moderne tegnologie op baie maniere gebruik vir God se doel en verheerliking. Wat tegnologie nie kan doen, is om God se model vir ons geestelike groei, te verplaas nie. God het ‘n unieke doel vir elke gelowige in die plaaslike gemeente. Baie van daardie doelwitte kom net tot hulle reg as God se mense weekliks saam bymekaar kom om te hoor wat God vir ons wil sê.