Weet wat die wêreld aanbied, maar nie kan gee nie (1 Johannes 2:15 – 17).

 

Study the Bible to know about God. Obey the Bible to really know God – Adrian Rogers

Weet wat die wêreld aanbied, maar nie kan gee nie (1 Johannes 2:15 – 17).

In verse 12 – 14 het Johannes sy lesers bemoedig. In hierdie gedeelte waarsku hy hulle teen wat hy die wêreld noem. Hiermee verwys hy na ‘n wêreldse perspektief gelei deur Satan. Dit word gekenmerk deur die begeertes van die menslike natuur, sy oë en sy trots in sy besittings. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie (vs15). Ons gee ons oor aan dinge wat tydelik en verbygaande is – dinge sonder enige ewigheidswaarde.

 

Johannes sê dat ons nie van ons gedagtes, waardes en gedrag wat teenstrydig met God se woord is afgode moet maak nie. Johannes noem drie dinge wat die wêreld belowe, maar nie vir ons kan gee nie.

 

  • Die wêreld kan nie vir jou gee wat jy nodig het nie (1 Johannes 2:15)

Die verlange van die mens se hart is om ander lief te hê en om deur ander liefgehê te word. Hierdie liefde moet op die regte dinge gerig word. Daarom sê hy: Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. Hoekom?? As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Liefde vir die Vader is wat ons nodig het – dit is waarvoor jy gemaak is. Kies wie jy liefhet versigtig en wyslik. Ons moenie ons liefde aan iets minder gee nie, want die kan nooit vir ons gee wat ons werlik nodig het nie.

 

  • Die wêreld kan nie vir jou gee wat dit beloof nie (1 Johannes 2:16)

Hier lees ons duidelik van die wapens wat die wêreld gebruik om mense te mislei om by hom aan te sluit. Al hierdie dinge is in ons – die vyand is in ons. Dit is dieselfde drie wapens wat Adam en Eva mislei het: Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet (begeertes van die menslike natuur) en mooi om na te kyk (begeertes van die oë) en begeerlik omdat dit kennis kan gee (trots). Dit is hierdie selfde drie versoekings wat Jesus in die woestyn oorwin het (Lukas 4:1 – 13). Hierdie versoekings is algemeen en alhoewel hulle oud is, is hulle nog doeltreffend. Ons moet hulle herken en teenstaan deur die krag van die Heilige Gees en die woord van God.

 

  • Die wêreld kan nie vir ons gee wat ewig sal hou nie (1 Johannes 2:17)

Die wêreld en sy begeertes gaan verby. Die lig en dit wat ewig bly, het gekom in Jesus Christus. Wat bly? Die een wat die wil van God doen.

 

Een van die treurige verhale in die Bybel is dié van Demas. In Kolossense 4:14 hoor ons die eerste keer van hom. Hy word saam met ander genoem oor sy getroue diens aan Christus. Ons hoor weer van hom in 2 Timoteus 4:10: Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat.  Ons moet uit hierdie verhaal van Demas leer: moenie dat die liefde vir die teenswoordige wêreld jou liefde vir die Vader uitdoof nie.

 

 




‘n Wetenskaplike rede om te vergewe

 

Waiting is the hardest work of hope. ~ Lewis Smedes
‘n Wetenskaplike rede om te vergewe

Jesus het nooit oor vergifnis ophou praat nie. Hy praat van ‘n God wat vergewe en wat verwag dat sy volgelinge ook moet vergewe. Hy sê vergifnis is noodsaaklik as jy ‘n oorvloedige lewe wil hê.

 

Jesus en die wetenskap stem hieroor saam. Daar is wetenskaplike bewyse vir baie van die dinge wat die Bybel oor vergifnis sê.

  • As jy vergewe, genees jy gouer

Mense wat mishandel is en hulle aanvaller vergewe se sielkundige en fisiese gesondheid verbeter vinniger as diegene wat nie vergewe nie. Daar is egter ‘n vangplek: vergifnis is nie ‘n eenmalige laat dit agter gebeurtenis nie. Dit is ‘n voortdurende proses. Jy kan ook nie vergewe en vergeet nie – ons breine werk nie so nie. Jy kan maar net aanbeweeg.

 

  • As jy nie vergewe nie, beperk dit jou fisies

As ek ‘n wrok teen iemand dra, is dit nie vir hom nadelig nie, maar vir my. Dit affekteer ons breine en liggame. Dit verhoog die vlakke van streshormone in ons sirkulasie; dit kan ons bloeddruk verhoog; dit kan ons laat gewig optel. Dit onderdruk ook ons vermoë om te fokus.

 

  • Vergifnis beteken nie dat ek verdere skade aanvaar nie

Vergifnis is voordelig en doeltreffend – selfs in die ergste gevalle van mishandeling, onderdrukking en verwaarlosing. Maar ons moet vergifnis definieer. Vergifnis beteken dat ek aanvaar wat gebeur het en ek beweeg aan. Dit beteken nie dat jy jou in ‘n situasie plaas waar jy weer seergemaak of misbruik gaan word nie. Jy kan iemand vergeef en steeds sekere grense in ‘n verhouding stel. In gevalle van mishandeling mag hierdie grens selfs geen verdere kontak wees nie.

 

Vergewe, want dit is goed vir jou fisiese en emosionele gesondheid.

 

 

 

 

 

 




Die voorspoedsteologie

 

Your faith will not fail while God sustains it; you are not strong enough to fall away while God is resolved to hold you. —J.I. Packer

 

Die voorspoedsteologie

Vroeër vanjaar was die sosiale media in rep en roer omdat die televangelis Credo Dollar fondse vir ‘n $65 miljoen private vliegtuig bymekaar gemaak het. Sy motivering? Hy wou die boodskap van Christus versprei. Hy is gekritiseer deur Christene en nie-Christene. Sy verweer is dat diegene wat hom kritiseer nie die Bybel verstaan nie.

 

Hierdie predikers het al die Christelike geloof vir dekades lank geïnfiltreer. Hulle het hulle persoonlike vliegtuie, hulle dra duur klere en hulle woon in duur huise. Hulle boodskap is eenvoudig: God wil hê dat sy volgelinge finasieel ryk moet wees, uitstekende gesondheid moet geniet en gemaklike lewens moet leef.

 

Hulle leuse is: “Noem dit en maak daarop aanspraak.” God deel dan al die goodies uit – ‘n goeie werk, ‘n bankrekening wat groei en selfs fisiese genesing. Alles hang van jou geloof af – soms bewys deur hoeveel jy vooraf bereid is om te gee. Geloof is wat God laat beweeg. Om ons hemelse voorregte te ontvang, moet ons onsself ondersoek en ontslae raak van ons ongeloof. Hierdie tipe “geloof” is problematies. Dit trek die werklikheid skeef. Dit is wensdenkery.

 

God belowe nooit finansiële rykdom aan sy volgelinge nie. Inderwaarheid waarsku Paulus sy lesers hierteen: Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal (1 Timoteus 6:10).

 

Jesus het nie aan die kruis gesterf om vir ons aardse dinge te geen nie. Hy weet dat geld nie sleg is nie, maar te veel mag nadelig wees. Daarom beveel Hy sy volgelinge om skatte in die hemel bymekaar te maak.

 

Die voorspoedsteologie leer dat pyn en lyding nie deel van ‘n Christen se lewe moet wees nie. Maar die werklikheid is anders. Geliefdes gaan steeds dood. Dallas Willard definieer die werklikheid as dit what you run into when you’re wrong. Dit verpletter die voorspoedsteologie, maak nie saak hoeveel geloof jy het nie.

 

Om Christus te aanvaar is nie ‘n paspoort na ‘n pyn-vrye lewe nie. Enige teologie wat nie die werklikheid van pyn en lyding aanvaar nie, is skokkend. God skuld ons niks nie. Normal Christianity is pain … It’s sorrowful, yet always rejoicing (John Piper). Ons kan vertrou dat God uiteindelik alles gaan herstel – of nou of in die lewe hierna.

 

Die voorspoedsteologie skep swak Christene. Dit ontneem ons van God se ware seëninge, want dit skep ‘n illusie dat ek op sekere dinge geregtig is.

Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Romeine 5:3 – 5).

 




Ek kom iets kort

 

Nowhere in Scripture do we find doctrine studied for its own sake or in isolation from life. —Wayne Grudem

 

Ek kom iets kort

Die Bybel vertel die verhaal van ‘n man wat volgens ons wêreld se standaarde alles gehad het wat hom gelukkig en vervuld kon maak: mag, invloed, rykdom. Maar tog ondervind hy ‘n leegheid. Hy gaan op ‘n reis om God te soek. Hy het ‘n hoë pos aan die hof van die koningin van Etiopië beklee – hy het haar geldsake beheer. Maar hy was ongelukkig. Hy gaan na Jerusalem om te aanbid. Hy kry nie wat hy gesoek het nie. Op pad terug vind hy totaal onverwags ‘n antwoord op al sy vrae. Hy het ‘n afspraak met God gehad wat sy hele lewe verander het.

 

Hierdie man se storie vertel vir ons wat gebeur as jy ‘n Christen word. As iemand waarlik in Jesus Christus glo, verander sy lewe dramaties. Sy lewe gaan van leegheid na oorvloedige vreugde. Sy storie eindig met ‘n stelling: die amptenaar het sy reis met blydskap voortgesit (Handelinge 8:39). Dit is nie ‘n oordrywing as die Bybel sê dat ons van die duisternis na die lig oorgaan as ons in Jesus Christus glo nie. Dit beskryf wat in ons lewens besig is om plaas te vind. Alle gevalle is nie identies nie – mense kom op verskillende maniere tot geloof. Die Christelike geloof is om in geloof te wandel en nie ‘n gevoel nie.

God het ons nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Romeine 5:1).