Klaagliedere

 

God’s loving care comes to us largely through the labor of others – Tim Keller

 

Klaagliedere

Ons leef in ‘n wêreld vol pyn en hartseer – oorloë, onderdrukking, hongersnood … In ons aanbidding is daar dikwels min plek vir klaagliedere. Ook die boek word verwaarloos. In The Message of Lamentations stel Christopher J. H. Wright  ons bekend aan hierdie boek wat ons kan help om menslike lyding te verstaan.

 

Die boek het sy ontstaan kort na die vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs in 587 vC. Hierdie was ‘n traumatiese gebeurtenis in die geskiedenis van Israel. Die skrywer skilder ‘n prentjie van totale vernietiging en erge lyding: hongersnood, siekte, verkragting, steel en die ontheiliging van heilige dinge.

 

Anders as in die geval van Job en die Psalms sê God niks vir die skrywer nie. Hoe verklaar ons dit?

  • God laat toe dat die mense wat swaarkry hulle sê ten volle kan sê – Hy luister sonder om hulle te onderbreek om hulle te vertroos of reg te help.
  • Die profete het reeds verduidelik dat dit sal gebeur en hoekom dit sou gebeur.
  • God praat nie in die boek nie, maar Hy praat wel deur hierdie boek in sy woord in te sluit.

 

Daar is verskille tussen Klaagliedere en Job en die Psalms. Job se lyding was duidelik onverdiend. In die Psalms is lyding soms die gevolg van sonde, soms as gevolg van bose vyande en soms onverklaarbaar. Selfs al is Jerusalem deur die bose Babiloniërs vernietig, word dit aanvaar as God se oordeel oor die morele, sosiale en geestelike agteruitgang van die volk. Klaagliedere aanvaar God se straf terwyl dit terugdeins vir die omvang daarvan.

 

Kan Klaagliedere nog vir ons vandag iets bied? Daar is vandag steeds mense wat moord, verkragting, die verlies aan huise en die ontheiliging van heilige plekke ondervind. Vir hulle beskryf Klaagliedere die werklikheid. Ons kan en moet saam met hulle hartseer wees. Ons roep na God vir diegene wat swaarkry as gevolg van sonde, ongeregtigheid en onderdrukking. Klaagliedere beskryf die aakligheid van hierdie lyding en vra Hom om regverdig op te tree. Die boek bevestig ook God se soewereiniteit. Die tempel op aarde is vernietig, maar sy troon staan steeds in die hemel.

 

In ons moderne Westerse kerk is daar min plek vir klaagliedere. Ons laat die gedeeltes oor lyding en onderdrukking, waarvan die Bybel baie sê, uit. Ons gee voor ons het emosies wat ons nie regtig het nie of ons onderdruk die emosies wat ons het. As ons by die kerkdeur uitstap, kom al hierdie emosies maar net weer terug, want ons het dit nie in God se teenwoordigheid uitgebring nie.

 

Klaagliedere help ons om die wêreld se lyding te hanteer en daaroor te huil – selfs daarteen te protesteer. Dit gebeur in die oorkoepelende verhaal van die Bybel met Jesus Christus as middelpunt. Ons sien met hoop vooruit na die nuwe skepping sonder lyding, trane en die dood,

 

 

 




Versoeking

It is better to preach five words of God’s Word than five million words of man’s wisdom. — C.H. Spurgeon

 

Versoeking

Sal jy toelaat dat versoeking jou verteer of sal jy dit gebruik om in geregtigheid te groei? Tim Chaddick (The Truth About Lies: The Unlikely Role of Temptation in Who you will Become) sê dat as ons dramatiese materiaal vol waarhede wil lees, moet ons die preke van Engelse predikers van die 17de eeu lees. John Owen is een van daardie predikers. Luister wat sê hy van versoeking: “Temptation is like a knife, that may either cut the meat or the throat of a man; it may be his food or his poison, his exercise or his destruction.” Dus: Versoeking kan jou of doodmaak of sterker maak.

 

Ons is almal seker dat versoeking jou kan doodmaak, maar wat minder duidelik is, is hoe versoeking ‘n geleentheid vir groei kan wees. Hoekom sien ons dit nie raak nie?

  • Ons siening van versoeking is te vlak. As dit gebeur leef ons in ontkenning – ons gee toe sonder dat ons eers daarvan bewus is.
  • Of ons verstaan van versoeking se rol in ons lewens is te nou. Nou word ons wanhopig en ontmoedig, want ons besef nie wat God se doel hiermee is nie.

 

As ons net luister na wat die Skrif oor versoeking sê, kan ons baie pyn gespaar word. Natuurlik moet ons besef dat versoeking ons kan vernietig, maar ons moet ook besef dat versoeking kan veroorsaak dat ons groei – mits ons God in die midde daarvan raaksien.

 

Voor Jesus sy openbare bediening begin het, is Hy eers in die woestyn versoek. Hierdie was ‘n belangrike gebeurtenis, want dit word in drie van die evangelies beskryf. Daarom is dit belangrik dat elke mens verstaan wat versoeking is en hoe ons dit in ons daaglikse lewens moet hanteer. Onthou: as versoeking in die woestyn kan voorkom, kan dit feitlik oral voorkom.

 

Elke versoeking bevat ‘n leuen. As ons dit glo, verswak dit ons geestelike gesondheid en lei ons op ‘n pad wat op vernietiging uitloop. Maar elke versoeking is ook ‘n geleentheid wat ons verder op God se pad sal lei. Binne in elkeen van ons is daar botsende begeertes. Ons wil graag ander mense liefhê en tog word ons na selfgesentreerdheid aangetrek. Elke keer as ons die waarheid en nie die leuen kies nie, bult ons as ‘t ware ons geestelike spiere – ons word sterker met elke uitdaging. Ons word meer volwasse en ons karakter groei. Elke oomblik van versoeking is ‘n oefening van wat dié belangrikste in jou lewe is.

 

 

 

 

 

 




Na die oorwinning

 

There can be no keener revelation of a society’s soul than the way in which it treats its children – C. S. Lewis

 

Na die oorwinning

Josua het van Jerigo af manne gestuur na Ai toe, naby Bet-Awen, oos van Bet-El, en vir hulle gesê: “Gaan verken die land.” Die manne is toe weg en het Ai verken.  Toe hulle by Josua terugkom, sê hulle vir hom: “Dit is nie nodig dat al die manskappe gaan nie. so twee of drie duisend man kan gaan en Ai inneem. Die manskappe hoef hulle nie almal daar te gaan moeg maak nie, daar is min mense in Ai.” (Josua 7:2 – 3).

Israel het pas vir Jerigo ingeneem. Na Jerigo kom Ai. In vergelyking met Jerigo was Ai maar ‘n klein stadjie. Daarom glo die Israeliete dat hulle Ai sommer in hulle slaap kan inneem. Hulle het nie eers die hele leër nodig gehad nie – net so twee of drie duisend man is meer as genoeg. Hulle dink so, want hulle het pas die groter stad Jerigo ingeneem en verwoes.

 

As daar een ding is wat ons uit die oorwinning by Jerigo kan leer, is dit dat Israel bitter min met die oorwinning te doen gehad het. God het dit gedoen. Die Israeliete was egter nederig genoeg om dit op God se manier te doen. Daarom die groot oorwinning. Toe hulle by Ai kom, tree hulle op asof hulle sonder God hierdie stad sal kan inneem en vernietig. Hulle hoef nie op God te vertrou nie.

 

God se plan was dat die Israeliete die hele Kanaän moes inneem. Maar hulle moes God se wil op sy manier doen. Hulle ly ‘n vernederende nederlaag by Ai. Soms is ons baie kwesbaar na ‘n oorwinning – meer kwesbaar nadat God ons geseën het. Ons moenie verbaas wees as God iets groot in ons lewe doen en net daarna word ons geestelik aangeval nie.

 

By Jesus se doop daal die Heilige Gees in die vorm van ‘n duif op Hom neer. Net daarna word Hy in die woestyn deur die duiwel versoek – na die duif kom die duiwel.

Let us be as watchful after the victory as before the battle (Andrew Bonnar, Skotse prediker).

 




Is my werk wettig?

 

We become what we worship – G. K. Beale

 

Is my werk wettig?

Nick Walenda is die eerste man in ‘n eeu wat oor die Niagara waterval op ‘n tou geloop het. Hy is ‘n Christen. Terwyl hy geloop het, het hy voortdurend gebid. Hy praat voor, tydens en na sy lopie van hoe Christus hom ondersteun het – dit voor ‘n TV en Internet gehoor wat luister. Maar is dit ‘n wettige Christelike roeping? Deur gedurig God aan te roep, maak dit ‘n beroep heilig? Gee die Bybel vir ons sekere riglyne oor watter werke vir ‘n Christen wettig is?

 

Hier is ‘n paar riglyne:

  1. Kan ek God in my werk verheerlik?

Kan ek sy Naam verhoog? Skaad my werk nie God se reputasie nie? As ek God se Naam herhaaldelik gebruik, verheerlik ek werklik vir God of is ek net besig om myself te verheerlik? Jesus is ook versoek om van ‘n hoë plek af te spring. Wat antwoord Jesus? Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie (Lukas 4:12).

 

  1. Kan ek goed doen aan ander in my werk?

My werk moet van waarde vir die samelewing wees – ek moet iets wat die moeite werd is, kan bydra. Dit beteken ook dat ek nie iets moet doen wat ander onnodig skade aandoen nie.

 

  1. Het God aan my die talent gegee vir die werk?

God roep ons nie vir ‘n taak sonder om ons vir daardie taak toe te rus nie. Net omdat ons die talente het om iets te doen, beteken nie dat ons dit moet doen nie.

 

  1. Kan ek God in hierdie werk gehoorsaam?

As my werk teen God se woord is, is dit onwettig.

 

Is dit nie tyd dat ons die “gewone” Christene wat daagliks getrou hulle Godgegewe gawes gebruik om God te verkeerlik en hulle naaste lief te hê, bewonder nie?