Blydskap en Geloof

 

There are many who preach Christ, but not so many who live Christ. My great aim will be to live Christ. —Robert Chapman

 

Blydskap en Geloof

In Paulus se brief aan die Filippense staan blydskap sentraal. John Piper vra: wat is die verhouding tussen blydskap en geloof? Meeste teoloë voel dat 1:27 dié belangrikste punt in die brief is:

Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.

Hoofsaak is dus dat ons lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie moet wees – die evangelie waardig moet wees. Maar wat beteken dit om in ooreenstemming met die evangelie te leef? Kom ons lees 1:27 verder:

As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.

 

Dit is Paulus se manier om te sê hoe ons kan wys dat die evangelie waardevol is: saam jaag ons die geloof van die evangelie na. As die evangelie geglo word, is die waardig en waardevol. Hoekom is dit so?

  1. Geloof self of die vrug van geloof?

Ons kry die leidraad vroeër in Filippense 1. Paulus praat hier of dit vir hom beter sal wees om hemel toe te gaan of hier op aarde te bly. Hoekom sê hy dit?

Omdat ek daarvan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê (1:25).

Is blydskap dan die brug van die geloof? Piper glo dat blydskap ‘n deel van geloof is:

Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry (Filippense 3:8).

Wat is die verband tussen Paulus se blydskap en om Christus te ken deur geloof?

 

  1. Sien is glo; glo is om bly te wees

En een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo (Filippense 3:9).

Filippense 3: 8 sê dat Paulus alles as waardeloos beskou, want om Christus te ken oortref alles in waarde. Filippense 3:9 sê dat ons Christus as bate kan kry, nie deur die wet te onderhou nie, maar deur geloof in Jesus Christus. Daarom: ‘n noodsaaklike element van verlossende geloof is om Christus bo alles te stel.

 

Filippense 1:27 sê dat ons lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. Dit doen ons deur volkome eensgesind te wees. Alles saamgevat beteken dat om die evangelie te glo nie voldoende is nie, maar dat ons Jesus Christus moet waardeer – waarde aan Hom heg.

 

  1. Werk met blydskap

Ons sien hierdie verband tussen blydskap/geluk en geloof ook in 2 Korintiërs 1:24:

 Ons wil nie as heersers voorskryf wat julle moet glo nie. Julle staan immers vas in die geloof. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder.

Geluk/blydskap is deel van geloof.

 

Die evangelie van Christus is veral waardevol in ons as die Christus van die evangelie deel is van ons.

 




Christofobie

 

It is good to be weary and frustrated with the fruitless search for the good, so that one can reach out one’s arms instead to the Redeemer – Blaise Pascal

Christofobie

[Christofobie – ‘n onwerklike/onredelike vrees en haat van Christus en Christene.]

In Lukas 8:26 – 39 lees ons van Jesus wat ‘n besetene in die land van die Geraseners van bose geeste bevry. Maar die mense is nie bly oor dit wat Jesus gedoen het nie, maar vra Jesus om hulle land te verlaat. Selfs die man wat genees is, smeek Jesus om by Hom te kan bly.

 

Christofobie is besig om toe te neem in die wêreld. Die pous het hom onlangs skerp uitgespreek teen die vervolging van Christene. Oral word pogings aangewend om die Christelike geloof uit die openbare sfeer te verwyder. Geen godsdiens in skole nie; vergaderings mag nie met gebed geopen word nie. So kan ons voortgaan.

 

Kom ons keer terug na Lukas 8. Hoekom Christofobie?

  1. Mense is bang dat ander mense verander sal word

Toe Jesus in die besetene se lewe kom, verander alles vir hom: klere, taal, optrede, liggaam, siel en denke. Maar in plaas daarvan dat die mense hierdie verandering verwelkom, is hulle bang. Hoekom is mense bang as ander tot bekering kom?

  • Baie mense wil nie hê dat diegene wat slegter as hulle is beter as hulle word nie, want dit laat hulle sleg lyk. Dit is ongemaklik. Baie sondaars sê dat hulle meer liefde en simpatie van gelowiges gekry het voordat hulle bekeer is.
  • Bekering bewys die teenwoordigheid van ‘n bonatuurlike en goddelike mag. Mense besef onmiddellik dat hulle nie hier met die werk van mense te doen het nie. Dit is ‘n getuienis van God se mag en genade.

 

  1. Mense is bang die samelewing word verander

Toe Jesus die bose geeste bevel om die man te verlaat, gee Hy aan hulle toestemming om in ‘n trop varke in te vaar. Die trop varke hardloop toe in die see en versuip. Hierdie was nie ‘n normale dag nie; Jesus verander die status quo. Hierdie verandering ontstel die plaaslike inwoners. Wat sien hulle toe hulle by Jesus kom? Die besetene is genees en die trop varke het versuip. Was hulle bly oor die verandering – die man wat genees was? Nee, hulle verkies dinge soos dit was.

 

Daarom is mense bang vir die Christelike geloof. Hulle is bang vir verandering in hulle kultuur, besigheid, ontspanning en openbare sedes. Hulle sien eerder ander mense swaarkry as dat hulle sake geraak word.

 

  1. Mense is bang hulle word self verander

Toe die mense die verandering in die besetene sien, word hulle bewus van hulle eie behoefte aan verandering. Sommige mense wil graag hê dat ander moet verander of selfs dat die samelewing moet verander, solank as wat hulle nie self hoef te verander nie. Miskien ‘n klein persoonlike veranderinkie, maar nie ‘n radikale verandering soos hierdie man ondergaan het nie. Mense is bang dat God dalk hulle verhoudings, hulle vermaak, hulle besigheidspraktyke, ens sal verander.

 

Hoe kan mense Jesus Christus wat mense so lief het so haat? Wys dit nie vir ons hoe nodig ons self  verandering nodig het nie?

 




Motiveer mense vir hulle voordeel

 

“I want to start by saying just two simple sentences about the church. First, the church exists to worship God in Jesus Christ. Second, the Church exists to make new disciples of Jesus Christ. Everything else is decoration. Some of it may be very necessary, useful, or wonderful decoration – but it’s decoration.” – Justin Welby

 

Motiveer mense vir hulle voordeel

Hoe kan ek mense oorreed – nie intimideer nie.

 

  1. Weet presies wat jy wil bereik

Jy moet presies weet waarheen jy op pad is. Kyk na hierdie stelling van President Kennedy: This nation should commit itself to achieving the goal, before this decade is out, of landing a man on the moon. Die president stel ‘n duidelike, bereikbare doelwit. ‘n Doelwit is ‘n droom met ‘n teikendatum. Onthou altyd:

  • Watter reaksie word verwag
  • Wat moet ek doen om hierdie reaksie te kry – geloofwaardigheid
  • Wat moet ek sê om die nodige reaksie te kry – inhoud
  • Hoe moet ek dit sê – oortuiging
  • Watter stappe is nodig om die nodige reaksie te verkry.

 

  1. Plaas jouself in die ander persoon se skoene

Hoekom moet die ander persoon oorreed word en hoekom hy dit weerstaan? Deur jouself in die ander persoon se skoene te plaas, ontwikkel jy ‘n sensitiwiteit vir sy behoeftes en kan jy dit wat hom pla beter hanteer. Vooraf moet ons drie vrae antwoord:

  • Wat weet hulle? Vind uit wat vir hulle belangrik is.
  • Wat voel hulle? Oorreding moet mense se gevoelens in ag neem. Mense sal volg as jy vir hulle ‘n goeie rede gee om dit te doen. Mense doen dinge vir hulle en nie jou redes nie. Hierdie redes is emosioneel – hoe hulle voel.
  • Wat wil hulle hê? Mense het sekere behoeftes en verwagtings.

Begin waar daardie persoon is en werk dan verder.

 

  1. Lê onmiddellik die probleme bloot

Plaas hulle onmiddellik op die tafel en kry die emosies uit die pad sodat jy by die belangrike dinge kan kom. Deur dit aan die begin te hanteer, skep jy vertroue. Jy sal dit in ieder geval op een of ander stadium moet hanteer. Moenie die probleme kans gee om te broei nie.

 

  1. Wees bereid om te waag

As jy mense moet oortuig, kan jy weerstand verwag. Baie mense as hulle ander probeer oortuig, is bang hulle misluk. Hierdie vrees word oorgedra na die persoon wat hulle probeer oortuig. Vrees is dié oorsaak vir mislukking. Leiers het twee belangrike kenmerke: hulle is op pad iewers heen en hulle het die vermoë om ander te oortuig om saam met hulle te gaan.

 

  1. Appelleer na ‘n hoër visie

Mense wil graag die regte ding doen. Hulle is egter nie altyd seker wat die regte ding is nie. As jy hulle van jou saak wil oortuig, moet jy hulle bewus maak van die onderliggende waardes van jou saak. Hulle moet empatie hê met wat jy probeer bereik.

 

  1. Weet wanneer om te stop

As jy net aanhou en aanhou bou daar weerstand op in die persoon wat jy probeer oortuig. Eenvoud is net so belangrik. Dit praat hard en duidelik sonder om die intelligensie van die ander persoon te beledig.

 

  1. Hanteer jou onderwerp met entoesiasme

‘n Toespraak sonder entoesiasme is soos ‘n skildery van ‘n landskap in verskillende skakerings van grys.

 

 

 

 

 

 

 

 




God se toorn

 

“In this world two things are essential: a healthy life and friendship…” – Augustinus

 

God se toorn

Om mense vir Christus te wen sluit in dat hulle besef dat daar ‘n behoefte is wat net Christus kan vervul. Een hiervan is die behoefte om God se toorn te ontsnap. Hierdie waarheid kry ons in 1 Tessalonisense. Paulus het die woord in hierdie stad verkondig.

 

In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom (1:6). Wat was so oortuigend in Paulus se prediking? Hoe julle julle van die afgode bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat uit die dood opgewek is, uit die hemel verwag. Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom (in die ou vertaling van die toekomstige toorn verlos) (1:9 – 10).

 

Paulus het hulle gewaarsku: Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval … en niemand sal ontkom nie (5:3). Hy het die gelowiges aangemoedig: Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die verlossing te verkry deur ons Here Jesus Christus (5:9 – OAV). Paulus weet dat Jesus self gesê het: Wie egter aan die Sun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Johannes 3:36).

 

John Piper sê dat dit lyk asof moderne mense min slaap oor God se toorn verloor. Hy sê dat alle ongelowiges bewus is van God se toorn wat sal kom … en dat hulle dit verdien. Hulle het hierdie kennis onderdruk, maar dit is daar. God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk (Romeine 1:18). Hulle ken God; alle mense ken God, maar hulle onderdruk hierdie kennis.

 

Wat ken hierdie mense? Hulle is mense wat die verordeninge van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen (Romeine 1:32).  Hulle ken God se verordeninge, en weet dat wat hulle doen verkeerd is. Hulle weet dat as hulle hierdie dinge doen hulle die dood verdien.

 

Alle mense weet dit – hulle weet hulle doen die verkeerde dinge; hulle weet dat hulle voor ‘n persoonlike Regter skuldig is; hulle weet hulle verdien die straf. Ons almal weet dat God se toorn gaan kom. Ons mag hierdie kennis onderdruk het, maar dit is daar. Maar ons as gelowiges het die goeie nuus: daar is ‘n manier om God se toorn te ontsnap. Jy is dalk die een wat deur God aangestel is om hierdie waarheid weer in hulle wakker te maak en aan hulle hoop te gee.

 

Almal wat die evangelie van Jesus en mense liefhet, moet duidelik praat – insluitend die waarheid dat Jesus ons van die toorn van God verlos.