Dit is al wat nodig is

 

Only he who believes is obedient; only he who is obedient, believes – Dietrich Bonhoeffer.

 

Dit is al wat nodig is

Dit word vertel dat Johannes, die apostel, by geleentheid op ‘n draagbaar na die kerk gedra is. Hy was reeds baie oud en naby die einde van sy lewe. Hy het na die geloofsgemeenskap gekyk en al wat hy gesê het was: “Julle moet mekaar liefhê.”

 

Toe hy gevra is hoekom dit al was wat hy vir hulle gesê het, was sy antwoord: “Want dit is genoeg.” Hy sê dieselfde in 1 Johannes 2:5: Wie sy woord egter gehoorsaam – in Hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik.  Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Deur ons liefde bewys ons dat ons aan Christus behoort en dat Hy aan ons behoort.

 

 

 

 

 

 




Kenmerke van doeltreffende leiers (2)

 

The fault, dear Brutus, is not in our stars, but in ourselves – Shakespeare

 

Kenmerke van doeltreffende leiers (2)

Ons het gesien dat die eerste kenmerk van ‘n doeltreffende leier roeping is. Ons kyk nou na ander kenmerke.

  1. ‘n Doeltreffende leier moet kan kommunikeer

Goeie kommunikeerders word vertrou – mense glo in hulle. Alle hulpbronne  – geld, prosedures, tegnologie, ens – depresieer en mettertyd word dit  nutteloos. Menslike hulpbronne kan egter in waarde toeneem. Een van die sleuteltake van ‘n leier is om sy mense te ontwikkel. Die geheim van sukses is dat jy nie alles self kan doen nie. Die leier sien die groot prentjie, maar hy moet dit met ander deel. Hy moet hierdie groter prentjie in ‘n eenvoudige agenda met duidelike prioriteite oordra – iets wat mense maklik kan verstaan.

 

Hoe kan jy hierdie groter prentjie/visie oordra? Jy moet dit self duidelik kan sien. Jy kan nie iets oordra wat jy nie kan sien nie. Dan moet jy dit op so ‘n manier oordra dat mense dit kan verstaan. Jy moet dit ook voortdurend voor die mense plaas om hulle daaraan te herinner. Leiers moet in hulleself glo anders gaan ander ook nie in hulle glo nie.

 

  1. ‘n Doeltreffende leier hanteer probleme op ‘n kreatiewe manier

Almal kom voor probleme te staan. Die vermoë om kreatiewe oplossings te kry bepaal sukses of mislukking. Die Chinese simbool van krisis beteken gevaar, maar ook geleentheid Die geheim is om elke probleem as ‘n geleentheid vir verandering te sien. Adversity has the effect of eliciting talents which in prosperous circumstances would have lain dormant (Homeros).

 

Kreatiwiteit is ‘n talent wat dikwels nie deur mense wat nie die talent het, bewonder word nie. Hulle sien dikwels kreatiewe mense as onprakties.

 

Walt Disney was in Graad 5 toe die onderwyseres die klas vra om ‘n blomtuin te teken. Sy  loop tussen die banke deur en ondersoek elke leerling se werk. Sy stop by Walt se lessenaar, want sy tekening was ongewoon.

Onderwyseres: “Walt, dit is nie reg nie. Blomme het tog nie gesigte nie.”

Vol vertroue antwoord die jong Walt: “Myne het.”

Hy gaan voort en voltooi sy skildery.

 

Blomme in Disneyland het steeds gesigte!

 

  1. ‘n Doeltreffende leier dra vrygewig by

The measure of a leader is not the number of people who serve him but the number of people he serves – John Maxwell.

Ware leiers het iets om te gee en hulle gee dit. Moenie sinies wees nie; moenie twyfel nie; moenie bang wees nie; moenie ongelowig wees nie. Groot leiers is groot gewers.

 

  1. ‘n Doeltreffende leier tree elke dag dieselfde op

Die oomblik as mense agterkom dat ons nie betroubaar is nie, is die oomblik wat hulle nie meer ons leierskap erken nie. The first key to greatness is to be in reality what we appear to be – Sokrates. Jesus waarsku ook teen sulke mense: Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe (Matteus 7:15).

 

‘n Leier moet elke dag dieselfde wees op veral drie gebiede:

  • Mense – dit bou vertroue en sekerheid
  • Beginsels – dit gee rigting
  • Projekte – dit bou moraal

 

Die roeping om ‘n leier te wees, is ‘n uitdagende een. Die behoefte aan sterk leierskap is duidelik. Die prys van leierskap was nog nooit hoër nie. Die versoekings van leierskap was nog nooit groter nie. Aanvaar die uitdaging.

 

 




Ek stel uit.

 

The reason we come away so cold from reading the Word is because we do not warm ourselves at the fire of meditation. —Thomas Watson

 

Ek stel uit.

Ek hou daarvan om dinge tot op die laaste minuut uit te stel. Hoekom? Omdat ek dan beter onder druk sou werk!  Om uit te stel, is ‘n baie algemene probleem. Die probleem is dat dit mettertyd ‘n leefstyl word – hoe meer jy uitstel, hoe beter word jy daarmee.

 

Jakobus 4:17 sê: As iemand weet wat die regte dinge is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde. Maar as ons dan weet wat om te doen, hoekom doen ons dit nie?

  • Besluiteloosheid

So ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weê (Jakobus 1:8 – OAV). As ek besluitloos is, stel ek uit.

  • Perfeksionisme

As jy wag vir die volmaakte omstandighede gaan jy nooit iets gedoen kry nie. Jy het net nie tyd en geld vir dinge om volmaak te word nie.

  • Vrees

As ek bang is, stel ek dinge uit. Dink maar net hoe ons ‘n besoek aan die tandarts uitstel. Ek is ook bang om van my geloof by die werk te getuig.

 

Hoe kan ek ophou om uit te stel?

  • Hou op om verskonings te maak

Mense wat goed is met die maak van verskonings is selde goed met enigiets anders. Wat is die algemeenste verskoning om dinge uit te stel? Ek wag net totdat dinge rustiger is – die stof gaan lê het. Ons woon in ‘n samelewing waar die rotteresies hoogty vier. Dinge gaan nooit rustiger word nie.

  • Begin vandag

Wat jy ook al gaan doen, doen dit nou. Ons weet in ieder geval nie wat tussen nou en môre gaan gebeur nie. Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ‘n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies (Spreuke 21:1). Ek sal dit een van hierdie dae doen – een van hierdie dae is nooit. Daarom doen dit nou.

  • Stel ‘n skedule op en bly daarby

If you fail to plan, you plan to fail. Skeduleer spesifieke tydsgleuwe vir spesifieke take. Die lewe is nie maklik nie. Druk deur die frustrasie en kyk wat jy wen as jy deur die pyn gegaan het. Kyk na die beloning en nie na die tydelike ongemak nie. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel (Galasiërs 6:9). Die verkeerde vraag is: “Wat wil ek graag doen?” Die regte vraag is: “Wat wil God hê, moet ek doen?”

 

Jesus het nooit gesê dat die lewe maklik sou wees nie. Die lewe gaan oor opoffering en toewyding, maar daar is ‘n groot beloning vir diegene wat deurdruk.

 

 

 

 




Kenmerke van doeltreffende leiers (1)

 

If He has said much about prayer, it is because He knows we have much need of it. —C.H. Spurgeon

 

Kenmerke van doeltreffende leiers (1)

Daar is vyf ononderhandelbate kenmerke wat elke doeltreffende leier moet hê.

 

  1. Roeping

Ware leiers voel ‘n innerlike drang om te lei; hulle het ‘n verantwoordelikheidsgevoel. Vir die kerkleier is daar ‘n spesiale roeping van God – ‘n diep innerlike gevoel of begeerte wat veroorsaak dat hy dit doen waartoe hy geroep is. In Jesaja 6:1 – 9 kry ons die voorbeeld van iemand wat spesifiek deur God geroep is. In verse 1 – 5 ontdek Jesaja vir God en vir homself. Hy word oorweldig deur die grootheid en heerlikheid van God in die tempel. Dit staan in teenstelling met sy eie onwaardigheid en onreinheid. Mense wat geroep word, ontdek iets groter as hulleself: ‘n uitdaging, ‘n doel wat hulle in die arena intrek.

 

Maar as iemand geroep word om te lei, kry hy ook ‘n gevoel van oorwinning. Een van die serafs het toe ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar gevat en na my toe gevlieg. Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen (6:6 – 7). Die leier kry die versekering dat hy die werk sal kan doen. Hierdie voorsmaak van oorwinning  stel hom in staat om voort te gaan ten spyte van hindernisse langs die pad.

 

Leiers sal ook altyd hulle spesifieke tyd vind. Daar kom tye wat ‘n leier se besondere gawes en talente nodig is ten tye van ‘n krisis. Leiers gebruik hierdie gawes vir God se heerlikheid. Hulle voel ook ‘n sterk drang om deur God gebruik te word. In vers 8 kry Jesaja die geleentheid as die Here vra: Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?  Dan antwoord Jesaja: Hier is ek! Stuur my!

 

John Maxwell noem hierdie begeerte in ‘n leier se hart die “moet doen” gevoel. Die leier voel dat hy iets moet doen. Dit is nie ‘n gevoel dat hy ‘n keuse het nie. Inteendeel, daar is tye wat die leier eerder sal wil terugsit en kyk hoe iemand anders die uitdaging aanvaar. Maar as ek sien of voel dat God besig is om iets te doen dan dwing hierdie “moet doen” gevoel my. ‘n Leier mag ‘n goeie leier wees sonder hierdie gevoel van roeping, maar hy sal nooit ‘n groot leier wees nie.

 

Hoe weet ek dat ‘n leier geroep is? Een leidraad is dat hy volhard – hulle gooi nie sommer tou op nie. ‘n Ander leidraad is dat God diegene wat Hy roep as leiers ook toerus. Sy arbeid dra vrugte; hy rus nuwe leiers toe.

 

Volgende keer kyk ons verder na die kenmerke van doeltreffende leiers.