Gewoon en onverdiend

 

Some want to live within the sound of church or chapel bell; I want to run a rescue shop within a yard of hell – C. T. Studd

 

Gewoon en onverdiend

God soek nie spesiale mense om sy werk te doen nie. Daar was niks ongewoon aan Maria nie. Sy kom nie uit ‘n ryk en beroemde familie nie. Toe die engel aan hierdie tienerjarige meisie verskyn, was sy verloof. Sy het waarskynlik nie verwag dat haar lewe op ‘n buitengewone manier gebruik sal word nie. Die belang van Maria se lewe berus nie op enige ding waaraan die wêreld soveel waarde heg nie – agtergrond, skoonheid, intelligensie, opvoeding en vermoëns. Dit was haar verhouding met Jesus wat aan haar lewe betekenis gegee het.. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” (Lukas 1:28) Dit is wat al die verskil in hierdie jongmeisie se lewe gemaak het … en in ons lewens maak.

 

God het nie vir Maria gekies omdat sy die eer werd was nie. As enigeen van ons deur God aanvaar word, is dit as gevolg van genade – nie iets wat ons gedoen het nie. Gereeld in die Bybel lees ons dat God mense kies wat dit nie verdien nie. Maria was verbysterd oor die woorde van die engel – hoekom sou God nou juis vir haar gekies het?

 

As ons nie meer onsself as instrumente in God se hand wat dit nie verdien nie sien, is ons nie meer bruikbaar in sy hande nie.

 




Hoe kan ek vertroue ontwikkel? (1)

 

Because of the gospel, I no longer live for approval; I live from approval. —Dave Harvey

 

Hoe kan ek vertroue ontwikkel? (1)

Ons het gesien dat vertroue belangrik is. Maar hoe kan ons vertroue ontwikkel?

  • Ek moet my waarde volgens God se waardesisteem vestig. God het ons belangrikheid gedemonstreer: Hy het ons gemaak na sy beeld en deur Jesus Christus het Hy vir ons sondes gesterf. God het so baie van jou gedink, in jou geglo dat Hy toegelaat het dat sy Seun aan die kruis sterf sodat jy kan leef. Sien ons hierdie optrede van God raak? As jy besef hoe kosbaar jy vir Hom is, vermeerder jou vertroue.

 

  • Fokus op God en nie op jouself nie. Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? As misdadigers op my afstorm om my dood te maak, my teëstanders en my vyande, dan is dit juis hulle wat struikel en val. Al sou ‘n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê (Psalm 27:1 – 3). Uit hierdie gedeelte kan ons drie gevolgtrekkings maak:
  • Vertroue is nie die afwesigheid van probleme nie. Die psalmis ondervind baie probleme. Hy verwys na sy teëstanders, misdadigers, vyande en ‘n leër wat teen hom stelling inneem.
  • Vertroue is as ons God met ons probleme vertrou. Te midde van alles fokus die psalmis op God en nie op sy situasie nie. Die Here is my toevlug.
  • Oorwinnings in die verlede gee meer vertroue vir vandag. Vertroue vandag is as gevolg van oorwinnings gister.

 

  • Knoop vriendskappe aan met mense met vertroue. Oppas vir mense wat net altyd dit wat jy verkeerd doen uitwys. As jy jou met sulke mense omring, gaan jy maar sukkel om vertroue te ontwikkel. Daarom is dit belangrik om jou met mense wat in jou glo en jou gedurig aanmoedig te omring.

 

Volgende keer gaan ons verder kyk na maniere om vertroue te ontwikkel.

 

 




Waarom moet ek soggens bid?

 

Private faith’ doesn’t exist.  It is a lie the uncommitted tell themselves – Jim West

 

Waarom moet ek soggens bid?

U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag (Psalm 5:4).

Matthew Henry (How to begin a Day with God) noem verskeie redes waarom ons met gebed moet wakker word.

  1. Die oggend is die eerste deel van die dag en dit is gepas dat dit aan die Here behoort. Hy is die eerste en Hy behoort die eerste te kry.
  2. Soggens is ons vars en op en wakker. Om God te aanbid vereis die beste wat ons het en wanneer ons op ons beste is.
  3. Soggens is dit stiller – dit is die beste tyd vir afsondering en nadenke.
  4. Soggens het ons vars genade van God ontvang wat ons met dankbaarheid en lof moet erken.
  5. Sogens het ons, of behoort ons te hê, vars gedagtes oor God wat ons in gebed moet verwoord.
  6. Soggens dink ons aan ons sinvolle gedagtes van die nag.
  7. Soggens maak ons ons gereed vir die werk van die dag. Daarom moet ons bid dat God deur die dag by ons teenwoordig sal wees en ons sal seën.

 

Maak soggens voor jy besig raak met jou daaglikse aktiwiteite tyd vir God.

 




Vertroue help my as leier

 

You must be asking which door is the true one; not which pleases you best.” ~ C.S Lewis

 

Vertroue help my as leier

Vetroue help ‘n leier om in ander mense te glo. Ons sien tog ander mense soos ons onsself sien. ‘n Onseker leier glo nie in homself en ook nie in ander nie. Onseker leiers is bang om ander met komplimente op te bou, want hulle het voordurend self komplimente nodig.

 

Die oomblik as jy ‘n etiket aan iemand koppel begin jy hom dienooreenkomstig hanteer. ‘n Leier met vertroue bring positiewe veranderinge in mense na vore. Mense het bevestiging en lof nodig om ‘n hoë vlak van prestasie te handhaaf. Om negatiewe kommentaar terug te hou, is nie so belangrik as om positiewe insette te gee nie. Maar net mense wat positief oor hulleself voel, kan dit doen. Werk met lof vermeerder energie; werk sonder lof dreineer energie.

 

Die belangrike ding is dat daar ‘n balans in ons vertroue moet wees: vertroue in God, vertroue in jouself en vertroue in ander mense. Hierdie drie gebiede hou verband met mekaar. Sonder vertroue in God word ons egosentries en trots; sonder vertroue in onsself is ons kragtelose Christene; sonder vertroue in ander is ons suspisieus en vertrou niemand nie.

 

Volgende keer gaan ons die belangrike vraag oor hoe om vertroue te ontwikkel, behandel.