Die grootste probleem van jongmense

 

There is no sin that exists that is more powerful than the grace that is to be found in the person and work of the Lord Jesus Christ. —Paul Tripp

 

Die grootste probleem van jongmense

I have seen more young people ruined by pride than perhaps by any other lust whatsoever – Matthew Henry in Sober-Mindedness Pressed Upon Young People. In sy boekie maak hy veral van twee verse gebruik:

  • Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle verstandig te gedra (Titus 2:6).
  • Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het (Romeine 12:3)

Hoe doen ons dit? Henry sê dat ons so min van wat ons bereik het, moet maak soos meeste mense van hulle foute maak. Ons moet eerder ander se prestasies besing en min maak van hulle foute.

 

As Henry en nie Mark Zuckerberg Facebook ontwerp het, sou ons ons status opgedateer het ten opsigte van ons foute, mislukkings en slegte dae. Ons sou foto’s van ander mense se oorwinnings, prestasies en suksesse geplaas het.

 

Henry sien nie nederigheid as ‘n doel in sigself nie, maar as ‘n weg na ‘n ander wonderlike einde: Voortdurende afhanklikheid van Christus en sy genade waarsonder ons niks sal wees nie.

 

 




Die kerk vandag (9)

 

There will be no peace in any soul until it is willing to obey the voice of God. —D.L. Moody

 

Die kerk vandag (9)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Baie gemeentes, veral nuwe gemeentes, probeer aanvanklik te veel doen. ‘n Reeks programme en bedienings word aangebied in ‘n poging om die gemeente vir die gemeenskap aanvaarbaar en aantreklik te maak. Hoe groter die gemeente word, hoe meer programme en bedienings glo hy moet hy aanbied. Dit is die probleem van enige gemeente wat hom as ‘n verskaffer van dienste en hulpbronne sien.

 

Die lewe in baie gemeentes is vol aktiwiteite wat lidmate se aandag aftrek en meeding met dit wat werklik saakmaak. Elke bediening ding met die ander vir aandag mee. Mense spandeer baie tyd om “hulle” bediening te bevorder in plaas daarvan om hulle bediening te lei. Energie word verdun en die gemeente verwar. Hoekom doen ons dit? Omdat ons dink dat dit gedoen moet word. Ons glo dit is die enigste manier om mense te trek, tevrede te stel. Miskien moet ons eerder snoei as byvoeg.

 

Een groot probleem is die leen van suksesvolle modelle van ander gemeentes. Ons doen dikwels dinge net omdat ons veronderstel is om dit te doen. We depend on plans, programs, vision statements – but somewhere along the way we have succumbed tot the temptation to displace the foolishness of the cross with the wisdom of strategic planning – D. A. Carson. Luister na Paulus se eenvoudige visiestelling: Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Korintiërs 2:2).

 

Wat is die probleme van te veel programme?

  1. Jy kan baie dinge middelmatig doen of ‘n paar dinge baie goed. Te veel programme verdeel die energie en fokus. Bly by dit wat die Bybel sê ons moet doen. Dit is moeilik, maar dit is nie gekompliseerd nie.
  2. Te veel programme skep die illusie van vrugbaarheid.’n Groot skare by ons eredienste mag geestelik onaangetas wees en glad nie betrokke by die visie wees nie. Die lewe wat ons sien is nie werklik lewe nie. Daar is ‘n illusie van vrugbaarheid, maar dit is nie die werklikheid nie.
  3. Te veel programme is nadelig vir fokus op die gemeenskap.
  4. Te veel programme se gevaar is dat dit die gemeente verander in ‘n gasheer van buite-kurrikulêre aktiwiteite. Dit is ideaal vir mense wat aktiwiteite wil hê.
  5. Te veel programme water die doeltreffendheid van bedienings af. Administrasie word vermeerder en hulpbronne kom onder druk.
  6. Te veel programme lei tot segmentering volgens ouderdom, lewensfases en belangstellings wat verdeling kan veroorsaak.
  7. Te veel programme versmoor sending. Hoe meer ons binne die vier mure van die gebou vasgevang word, hoe minder kan ons die sout en lig vir die gemeenskap wees.
  8. Te veel programme beteken lidmate kan te besig wees – en uitbrand. Sabbatsrus word uitgedruk uit die program.
  9. Te veel programme beweeg die kerk al verder weg van die Nuwe Testamentiese siening van die plaaslike gemeente.
  10. Te veel programme is gewoonlik die gevolg van refleksreaksies ten op sigte van behoeftes en die onvermoë om heilige koeie dood te maak.

 




Hoe kan die kerk nominale Christene bereik?

 

The gospel is not made more powerful by a dynamic preacher or a rockin’ band; the gospel cannot be improved. —Jared Wilson

 

Hoe kan die kerk nominale Christene bereik?

Of ons nou ongelowiges, soekers, nominale Christene of wie ook al probeer bereik, is daar ‘n unieke manier om dit te doen. Die doel is altyd dieselfde, maar die metode mag verskil. Jy moet ‘n verskillende strategie gebruik as jy met mense uit die kerkkultuur  te doen het as wanneer jy met mense wat niks met die kerk te doen wil hê nie, wil bereik. In elke geval moet jy die evangelie so verkondig dat dit die luisteraars uitdaag om op Christus te reageer.

 

Vroeër het ons mense se geheue geprikkel: “Dit is die kerk van jou ouers en grootouers. Kom terug en word deel daarvan.” Vandag is ‘n belangrike groep die sogenaamde nominale Christene. Hulle was deel van die kerk, maar nie regtig nie. Hulle glo nie werklik nie. Hulle het vroeër die Bybel gewaardeer, maar nooit juis geken nie. Hulle het ‘n sekere morele kode gehad. Hulle is nie dissipels wat deur die Heilige Gees verander is nie. Hulle weet iets van Christus, maar ken Hom nie werklik nie.

 

Hulle beskou hulleself as Christene, want hulle is nie ‘n Hindoe nie! Miskien het hy veertig jaar vantevore ‘n gebed by ‘n jeugkamp gebid. Hulle haat nie vir God nie, maar het Hom nie met hulle hele hart, verstand, siel en krag lief nie. Hulle sien God as die bron van goeie dinge in die lewe, maar nie die enigste bron nie. Hulle sien waarde in die kerk.

 

Om hulle te bereik, moet ons vir hulle wys wat dit werd is om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees – om deel van God se familie te wees. Deel van so ‘n strategie is om hulle weer aan ‘n gemeente te verbind. Hulle moet leer dat die geloofsgemeenskap voordelig is om jou geloof uit te bou; dat die Bybel nie net ‘n boek vol goeie idees is nie; dat Jesus nie net ‘n goeie vriend is in moeilike tye nie, maar dat Hy dié weg en die waarheid en die lewe is – die enigste weg na die Vader en die ewige lewe.

 

Die groot probleem met nominale Christene is gewoonlik nie om hulle te oortuig dat daar net een weg is, maar om hulle te oortuig dat hulle nie op daardie weg is nie.

 

Daar is een groep wat vandag baie vinnig groei – hulle het nie eers ‘n nominale verbintenis met die Christelike geloof nie – hulle is sekulêr of die sogenaamde “nones.” Hulle het geen verbintenis met God nie. Ons moet ‘n ander strategie volg om hulle betrokke te kry. Hulle mag met sekere dinge wat die Bybel leer saamstem as dit met hulle lewensiening saamstem. Hulle aanvaar beslis nie alles net omdat dit in die Bybel staan nie. Hulle glo dat hulle hulle eie gemeenskap kan vorm om aan hulle behoeftes te voldoen. Met hulle moet ons verhoudings bou.

 

Beide groepe het dieselfde Jesus en dieselfde evangelie nodig, maar vereis verskillende strategieë. Die probleem is dat meeste van ons in ‘n kultuur met ‘n Christelike basislyn grootgeword het. Nou is daar mense wat glad nie die Bybel ken nie en beslis nie glo dat dit waar is nie. Hierdie is ‘n nuwe uitdaging vir die kerk.

 

 

 




Die kerk vandag (8)

 

Cold prayers are as arrows without heads, as swords without edges, as birds without wings. They pierce not, they cut not, they fly not up to heaven. Cold prayers always freeze before they reach heaven. – Thomas Brooks

 

Die kerk vandag (8)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Die primêre boodskap van die Bybel is dat die werk reeds gedoen is. Ons wil dikwels vir Jesus Christus hê vir die voordele wat dit inhou, maar nie vir sy kruis nie. Dit is ‘n ernstige probleem in die kerk. Meeste mense erken dat Jesus Christus ‘n goeie rolmodel is – ook ateïste. Baie wens dat Christene meer soos Hy sal wees. In baie gemeentes gaan die boodskappe meestal oor lewenstoepassing. Dit is veronderstel om die Christelike lewe meer prakties of aantreklik te maak.

 

Die beste prediking bevat beide verkondiging (wat God gedoen het) en toepassing (wat ons moet doen). Maar die krag van toepassing berus op die inhoud van die verkondiging. Meeste preke is basies verduidelikings van algemene waarhede, maar die Bybel het nie die agenda van die boodskap bepaal nie.

 

Die tipiese toepassingsboodskap neig om die goed wat ons moet doen te oorbeklemtoon. ‘n Goeie verkondigingsboodskap beklemoon wat God reeds gedoen het. Almal wil sien dat mense groei, maar as ons kom by hoe mense groei, verskil ons antwoorde. Ons beklemtoon stappe en leidrade. Is dit die beste manier om te groei? Dink hieraan:

  • Die prediker moet glo dat verandering veroorsaak word deur die interaksie van God se woord en die Heilige Gees. Die Heilige Gees gebruik altyd die woord van God om die oë van mense oop te maak vir die wonder van die evangelie.
  • Die prediker dra nie die las van die verandering nie – sy las is getroue uitleg en verkondiging van die teks. Hy moet vertrou dat die woord van God nooit leeg na hom sal terugkeer nie.

 

As ons wil hê dat mense moet wegstap en dink dat Jesus Christus belangrik is, moet ons Hom belangrik voorhou. Jy kan nie net vir mense sê dat Hy belangrik is nie – hulle sal jou nie glo nie. Jy moet vir hulle wys wat belangrik is. Ons moet meer aandag aan sy werk as aan ons goeie werke spandeer. Ons moet glo dat die verkondiging van dit wat Jesus Christus vir ons verlossing gedoen het die belangrikste is. Ons moet lidmate oproep om ‘n meer Christelike lewe te leef, maar ons klem moet meer op die goeie nuus van genade wees. Ons is dikwels meer bekommerd oor werke en gedrag as oor Christus se werk in ons harte. Vandag maak ons dikwels mense opgewonde met ‘n Christelie vorm van selfhelp en gedragsverandering wat niemand kan red nie.

 

Ons moet die Skrif verkondig met God as die onderwerp en die evangelie voorop. Ons moet vertrou dat nie ons woorde nie, maar die Heilige Gees siele sal wen. Die Fariseërs het die evangelie gemis as gevolg van hulle klem op “doen” en “moenie doen nie.”

Jesus came to raise the dead. Not to improve the improvable, not to perfect the perfectable, not to teach the teachable, but ro raise the dead – Robert Capon

 

The gospel is not the ABC’s of the Christian life; it is the A to Z – Tim Keller.