Moenie in jou denke vasgevang word nie

 

Hell will be filled with people who were avidly committed to Christian values. —Al Mohler

 

Moenie in jou denke vasgevang word nie

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:2).

Breinnavorsing wys dat elke bewuste gedagte wat ons het in ons interne harde skyf aangeteken word. As ons weer dieselfde gedagte het, word die baan van die oorspronklike gedagte verdiep – ‘n geheuespoor. Met elke herhaling word die spoor dieper en ‘n patroon word gevorm en ingebed. As ons nog ‘n emosie aan hierdie patroon koppel, word die spoor eksponensieel sterker.

 

Ons sal nie nuwe reaksies ontwikkel voor ons nuwe denke ontwikkel het nie. Daarom is vernuwing van ons brein met nuwe denke krities belangrik. Nuwe denke kom van nuwe perspektiewe. Die Bybel moedig hierdie proses aan. God het immers die menslike brein gemaak en weet beter as enigiemand anders hoe dit werk.

 

Romeine 12:2 sê dat ons ons kan verander deur ons denkpatrone te verander. Maar die Skrif gaan verder: ons kan gedagtes aannnem of weier. In plaas daarvan dat ou denkpatrone ons gevange hou, kan ons deur Christus dit verander: Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Korintiërs 10:4 – 5).

 

Ek kan nie die dinge wat elke dag met my gebeur beheer nie, maar ek kan hoe ek daaroor dink beheer. Ek het ‘n keuse. As ek nuwe perspektiewe kry, sien ons nuwe maniere van dink. As ek die manier waarop ek dink verander, verander ek die manier waarop ek optree.

In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie (2 Korintiërs 4:8)

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Jy moet nie ontsteld wees nie, en jy moet nie bang wees nie (Johannes 14:27).

 

 

 




Hoe word ek ‘n Christen?

 

Ill thoughts are as little thieves, which, creeping in at the window, open the door to greater thieves – Richard Sibbes

 

Hoe word ek ‘n Christen?

Jesus het vir Nikodemus gesê dat hy slegs die koninkryk van God kan binnegaan as hy weergebore word.

 

Almal van ons, konings en eenvoudige mense, word fisies op dieselfde manier gebore. Daarom, sê Josh McDougal, moet almal van ons  op dieselfde manier ‘n Christen word. Dit geld vir alle mense oral en te alle tye – geen uitsonderings nie. Jesus stel dit baie duidelik: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). Hy sê ook: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die die koninkryk van God nie sien nie (Johannes 3:3). Ons was geestelik dood en daarom het ons ‘n geestelike geboorte nodig. Maar wat is dit? Die geestelike geboorte bestaan uit twee fasette:

 

  1. Ons moet besef dat op ons eie ons dit nooit sal maak nie. Ons is sondaars wat hulp nodig het. ‘n Sondaar is iemand wat van God geskei is – wat gekies het om sy eie pad te loop. Dit word gekenmerk deur selfgesentreerde trots en selfsugtigheid. Ons moet erken dat ons ‘n Verlosser nodig het. Die enigste persoon wat dit kan doen, is Jesus Christus. Hy het die enigste lewe geleef wat vir God aanvaarbaar was. Hy het aan die kruis vir ons sondes gesterf. Uit ons eie kan ons God nooit tevrede stel nie. Die eerste stap is om te besef dat ons sondaars is en daarom God se oordeel verdien. Die loon wat die sonde gee, is die dood (Romeine 6:23).
  2. Sodra ons ons hopelose situasie besef en besef dat Jesus Christus die antwoord is, moet ons Jesus Christus se aanbod aanvaar. Die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here (Romeine 6:23). As ons Jesus Christus as ons Verlosser aanvaar en God se genadegawe aanvaar is ons weergebore.

 

Dit is maklik – ‘n kind kan dit doen, maar dit is moeilik, want ons moet eers besef dat ons dit nie op ons eie kan doen nie. As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die Hemel kom nie (Matteus 18:3). Wat belangrik is die gesindheid van ons harte en begeerte as ons bid en vertrou dat Christus die verskil sal maak.

 

 

 




Ons soek ‘n verduideliking; God gee ‘n openbaring

 

The ungodly are not half so restrained in their blasphemy as we are in our praise. —C.H. Spurgeon

 

Ons soek ‘n verduideliking; God gee ‘n openbaring

Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet (Deuteronomium 29:29). Hierdie was Calvyn se gunsteling Bybelvers. Maar hierdie waarheid pla baie mense, want dit beteken dat daar waarhede is wat nie aan ons geopenbaar is nie. Baie mense sukkel om ‘n God wat hulle nie ten volle kan verduidelik nie, te aanvaar. As dit by God kom, wil ons graag ‘n verduideliking hê.

 

Dit is interessant hoe dikwels God vir ons ‘n openbaring gee as ons ‘n verduideliking eis. J. D. Greear verwys na die geboorteverhaal van Simson. ‘n Engel van die Here verskyn aan Simson se ouers en sê dat die vrou swanger sal word. Manoag (die vader) vra vir die Engel: Wanneer u belofte waar word, hoe moet die kind hom dan gedra en wat moet hy doen? Later vra Manoag vir die Engel: Wat is u naam? Wanneer u belofte waar word, wil ons aan u eer betoon.

 

Kyk na die reaksie wat Manoag kry: Waarom vra jy my Naam? Dit is te wonderlik om uit te spreek. Skielik besef Manoag en sy vrou dat hulle nie met ‘n engel te doen het nie. Manoag wil besonderhede hê van wat om te doen. In plaas daarvan sê God vir hom: “Dit is wie Ek is.” Gelowiges moet aan sulke reaksies gewoond word. “God, hoekom het dit gebeur?” “God wat gaan volgende gebeur?” Dikwels antwoord God nie ons vrae nie, maar wys vir ons wie Hy is.

 

As jy antwoorde op elke “hoekom” en “wat” vraag verwag voordat jy glo, sal daar altyd nog een vraag wees. As ek daarop aandring dat God my vrae beantwoord sê Hy vir my: “Sien jy my Naam? Sien jy dat dit wonderlik is? Vertrou jy my genoeg om My te volg?” In plaas van antwoorde te soek, moet ons oor die wonderlike Naam van God nadink.

 

Ons dien ‘n God wie se mag ons nie kan peil nie. Dink maar net aan alles wat Hy gemaak het. Kan ek nou so ‘n God bevraagteken? Ek dink aan sy deernis vir my wat Hy aan die kruis bewys het. Hy het my lief ten spyte daarvan dat ek teen Hom in opstand gekom het. “To create the heavens and the earth costs Him no labour, no anguish; to take away the sin of the world costs Him His own life-blood.” (Lesslie Newbigin).

 

Ons kan God vertrou met die vrae waarvoor ons nie antwoorde het nie; met ‘n toekoms wat vir ons onseker lyk. Ons soek ‘n verduideliking; God gee aan ons ‘n openbaring. Ons wil antwoorde hê; God gee aan ons sy teenwoordigheid. Ons soek redes; God gee aan ons die onbeperkte liefde van Christus. Elke keer gee Hy meer as dit waarvoor ons gevra het.

 

 

 

 

 

 

 




Die kerk vandag (7)

 

Prayer will make a man cease from sin, or sin will entice a man to cease from prayer. – John Bunyan

 

Die kerk vandag (7)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

As ons sê dat ons nie die Bybel as handboek moet gebruik nie, waaroor gaan die Bybel dan? Die Bybel gaan oor Jesus. Dit is tog logies. Van begin tot einde gaan die Bybel oor Jesus. In Lukas 24 sien ons twee van Jesus se dissipels op pad na Emmaus. Hulle praat oor wat hulle gehoor het: dat Jesus opgestaan het. Skielik kom Jesus nader en loop saam met hulle. Hulle herken Hom nie. Hy vra vir hulle waaroor hulle gesels. Hulle verduidelik vir Hom dat hulle praat oor die dinge in verband met Jesus van Nasaret. Hulle verstaan nie hoekom Hy gekruisig is nie, want ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Hulle weet ook nie mooi wat hulle moet maak van hierdie storie oor sy opstanding nie. Dan doen Jesus iets baie interessant: Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

 

Basies gaan Jesus deur die Ou Testament – stap vir stap – en wys vir hulle dat dit alles op Hom betrekking het. Hy begin by Moses en gaan dan sistematies deur die werke van die profete. Dit was ook Christus gesentreerd. Hy het nie net die verse aangehaal nie, maat hulle ook geïnterpreteer. In 2 Korintiërs 1:20 sê Paulus vir ons dat al die Bybelse beloftes se “ja” in Christus lê.

 

Die begin van die Hebreërboek sê dat God in die verlede op baie maniere gepraat het, maar nou praat Hy met ons deur sy Seun. Die Ou Testament gaan nie oor die groot helde van die verlede nie, maar  oor die belofte van die Christus wat gaan kom. Alles wat die Bybel leer, moet ons nader na Christus trek – ons moet Hom duideliker sien en Hom liefhê.

 

Is hierdie benadering enigsins van waarde? Of is dit net ‘n intellektuele oefening? Kyk na die reaksie van Jesus se dissipels op pad na Emmaus: Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pas met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie? Iets het met hulle gebeur toe Jesus vir hulle die woord uitelê het – iets meer as net ‘n opwindende ondervinding of ‘n bemoedigende gevoel. Ons sien hoe dit hulle gemotiveer het om uit te gaan en almal van Jesus te vertel.

 

Ons kry iets soortgelyks in Nehemia 8. Esra en span lees die hele wetboek voor aan die mense wat daar versamel het. Hulle verduidelik die wet aan die gemeente (vers 8). Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat voorgelees word (Vers 9). Wat doen die gemeente? Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet. Die prediking het hulle oortuig. Esra en Nehemia sê vir hulle dat die dag van treur verby is. Gaan vier fees, eet en drink. Wat het hier gebeur? Hulle preek direk uit die woord van God; die mense word deur die prediking getref; die gevolg was aanbidding. Maar nou kom ons by ‘n tweede waarheid: die werk is reeds gedoen. Daarna kyk ons volgende keer.