Maak vrede

 

The things you do often create the things you believe – David McRaney.

 

Maak vrede

Konflik kom oral voor – ook in gemeentes. Die manier waarop ek op konflik reageer sal dinge maak of breek. Daarom gebeur dit dikwels dat mense – veral in die kerk – konflik vermy, want hulle is bang hulle vererger dinge net verder.

Ons weet dat konflik:

  • Onvermydelik is – dit kan in die beste van verhoudings voorkom.
  • Positief mag wees. Nie alle konflik is sleg nie. Verskillende perspektiewe kan produktiewe dialoog stimuleer, kreatiwiteit aanmoedig en verandering bevorder.
  • ‘n Mens mag verbaas. Soms kom dit op die mees onverwagte tye en van die mees onvoorspelbare mense.
  • Skadelik is. Konflik beskadig verhoudings, maar ook my geestelike, emosionele en fisiese gesondheid.
  • My openbaar. Dit bring die slegste in my na vore; dit stel my hart aan myself en aan ander bloot.
  • ‘n Geleentheid is. Hier kan ek leer om myself onder moeilike omstandighede te beheer en ander leer om konflik te hanteer.

 

Daarteenoor, is om vrede te maak:

  • Dit vereis harde werk.
  • Vir Christene is dit nie ‘n opsie nie.
  • Dit kan selfs beter verhoudings as vantevore tot gevolg hê.
  • Ook in die kerk. Daarom is dit ‘n baie goeie geleentheid om te getuig.
  • Dit herstel verhoudings en verbeter my gesondheid.
  • Sonder die Heilige Gees in my gaan ek nie slaag nie.

 

Christene is bevoorreg, want hulle het ‘n uitstaande model – Jesus Christus. Sy model as vredemaker moet ons motiveer om ook vrede te maak.

 




Die kerk vandag (4)

 

Each day of our lives we make deposits in the emotional memory banks of our children.” – Charles R. Swindol

 

Die kerk vandag (4)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Die Bybel is eintlik vaag oor hoe om kerk te doen. Ons kry nie ‘n bloudruk nie. Wat ons van die vroeë kerk lees, is einlik meer beskrywend as voorskriftelik. Ons weet ons moet die nagmaal vier. Hoe dikwels? Net druiwesap of wyn ook? Ongesuurde brood? Moet ons dit voor gaan ontvang? Wat sê die kerk van lidmaatskap of kerkregering?

 

Die kerk moes nog altyd die evangelie kontekstualiseer vir sy tyd en kultuur. Ons moet egter seker maak dat dit nie oor akkommodasie van die kultuur gaan nie – dat ons onbewustelik die waardes van ons kultuur aangeneem het nie. Kontekstualisering is belangrik, maar ook gevaarlik. Omdat die Bybel redelik vaag oor metodologie is, beteken nie dat alle metodologieë aanvaarbaar is nie. Nie alle metodes is neutraal nie. Ons moet ons aannames ondersoek. Net omdat ons dink ons kan iets doen, beteken nie dat ons dit moet doen nie.

 

Daar is veral twee ideologieë wat baie van dit wat die kerk doen dryf: pragmatisme en ‘n verbruikersmentaliteit.

  • Pragmatisme

As dit werk, kom ons doen dit. Ons moenie pragmatisme verwar met prakties wees nie. Die Bybel is prakties – lees net Spreuke. Pragmatisme is die soort denke wat waarde aan iets heg net omdat dit oënskynlik prakties is. Dit beoordeel die bruikbaarheid van ‘n praktyk bloot op resultate. Dit beteken ook dat as iets nie werk nie, moet ons dit nie gebruik nie. Natuurlik is dit soms waar.

 

Pragmatisme berus op ‘n voorafbepaalde maatstaf vir sukses. As ons glo ons kan ons eredienste vul deur ‘n kar weg te gee, is dit die regte ding om te doen. Maar sê nou net om ons eredienste te vul is nie ‘n neutrale resultaat nie? Wat daarvan as ons motiewe om ons eredienste te vul nie suiwer is nie? Sê nou net om die eredienste te vul gebruik meer hulpbronne as om mense te help om geestelik te groei? Hoe gebeur dit? Ons glo dat die resultate wat ons begeer ook deur God begeer word. As Paulus sê dat hy geplant, Apollos natgegooi het, maar dat God die groei gegee het, neem hy nie krediet vir die metodes wat hy en Apollos gebruik het nie – God gee die groei. Ons dink ons weet waarheen ons wil gaan, maar waar ons gaan eindig hang van God en nie van ons goeie idees af nie.

 

In Jesaja 6 roep God vir Jesaja om profeet te wees. Hierdie is ‘n praktiese saak. Maar Jesaja se bediening sou die pragmatis hewig ontstel het. Wat sê God: Julle sal hoor en hoor en tog sal julle niks verstaan nie. Hy sal 90% van die mense verloor. Is dit die soort visie waarvoor jy jou beskikbaar sal stel? Volgens die pragmatis lei bediening altyd tot groei, maar nie altyd soos ons verwag of begeer nie. Ons lees: So sal daar vir die land ‘n stomp oorbly: die gewyde geslag. Dit is die geslag waaruit Christus gekom het.

 

Pragmatisme is vandag aan die orde, ook in die kerk. Pragmatisme is anti-evangelie, want dit hanteer evangelisasie as ‘n soort piramiedeskema. Dit vergeet dat in die evangelies dit juis diegene aan die onderkant van die sosiale leer, die sonder invloed, juis vir die evangelie ontvanklik was. Ons draai ook Jesus se groot opdrag om: dit is nie meer gaan en vertel nie, maar kom en sien. Pragmatisme glo dat evangelisasie ‘n formule met gewaarborgde resultate is – as ons dit doen, sal dat gebeur.

 

Pragmatisme glo dat God se vermoë om enigiets te gebruik aan ons die vryheid gee om enigiets te gebruik. Die probleem is dat die onsigbare werk van die Heilige Gees nie iets is wat ons kan skeduleer nie. Dit gaan dikwels alles oor kwantiteit as ons dissipels maak en nie oor kwaliteit nie. Die dissipelskap wat volg, is vlak en dikwels kunsmatig. Pragmatiese dissipelskap maak pragmatiese dissipels. Die manier waarop die kerk sy mense trek, vorm sy mense.

 

Volgende keer kyk ons na die tweede ideologie: die verbuikersmentaliteit in die kerk.

 




Die kerk vandag (3)

 

Religious people find God useful. Christians find God beautiful. – Tim Keller

 

Die kerk vandag (3)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

As gelowiges God aanbid, kommunikeer dit aan die verlore wêreld wie God is en wat Hy gedoen het. Die probleem is dat aanbidding vandag dikwels meer op die gemeente se gevoel van opwinding en betrokkenheid gerig is as op die verheerliking van God. As die doel van ons aanbidding is om goed te voel, aanbid ons nie meer vir God nie.

 

Dit is nie net die fokus van aanbidding wat belangrrik is nie, maar ook die resultate. Navorsing wys vir ons dat hierdie kerke nie hulle teikenmark – kerklos mense – bereik nie. Dit is duidelik dat die onvermoë om kerklos mense te bereik nie met aanbiddingstegnieke of –styl te doen het nie. Die ironie is dat die aantal megakerke toeneem en hulle bywoning vermeerder, maar die mense wat elke Sondag oor die land eredienste bywoon, neem af.

 

Wie vul hierdie kerke? Christene. Soms is dit Christene wat in ander gemeentes ontnugter is of wat ontevrede is. Meestal is dit Christene wat verveeld is met die dienste en goedere in die een gemeente wat na ‘n ander een trek – ‘n gemeente met aantrekliker aanbidding, meer dinamiese prediking, mooier en beter fasiliteite, beter koffie, beter kinderbediening … Na ses jaar is hulle weer ontevrede en skuif weer. Die retensiesyfer is laag. Dat hierdie gemeentes kerklos mense trek, is ‘n mite. Die hele paradigma is een van onsekerheid.

 

Om getalle te tel, is nie genoeg nie. As die getalle hoog is, beteken dit nie dat ons doen wat die Bybel van die gemeente verwag nie. Meeste mense wat na hierdie kerke kom, is reeds gelowiges, bly net vir ‘n kort rukkie en word nie doeltreffend op die pad van geestelike groei gelei nie. Getalle is nie die primêre  instrument wat die Bybel gebruik om die getrouheid van die gemeente te meet nie.

 

Groot gemeentes sit baie geld, energie en tyd in hulle strukture. Vraag: Is dit nie dalk ‘n vermorsing van hulpbronne nie? ‘n Gemeente kan die voorkoms van sukses hê en tog nie suksesvol wees nie; hy kan die voorkoms van lewe hê en tog dood wees. Ons sê altyd dat gesonde dinge groei, maar kanker groei ook. ‘n Gemeente kan groot en suksesvol lyk, sonder om groot en suksesvol te wees in daardie sake wat regtig saakmaak. Gemeentes kan toeneem in getalle en agteruitgaan in gesondheid. Dit gaan nie oor die grootte van gemeentes nie, maar oor die ongesonde obsessie met getalle.

 

In baie van hierdie groot gemeentes is daar baie vrywilligers betrokke by die eredienste oor die naweke. Vrywilligers voel asof hulle maar net nog ‘n rat in die wiel is. As dit hulle totale betrokkenheid by die gemeente is, kry hulle beslis nie die voeding wat hulle nodig het om geestelik te groei nie. Vra hulle vir versorging, word daar gesê dat hulle onvolwasse is. Die neiging is om lidmate nie as skape wat voeding nodig het te hanteer nie, maar eerder as osse wat ‘n vrag het wat hulle moet trek. Natuurlik moet lidmate tot die bediening in die gemeente bydra.

 

Is dit wat ons in en deur ons gemeente doen dit wat God gedoen wil hê?  Is dit wat die Skrif ons leer? ‘n Gemeente kan groot en opwindend wees en tog nie doen wat God van hulle verwag nie. Ons kan die voorkoms van sukses met getrouheid en vrugbaarheid verwar.

 

 




God help diegene wat hulleself nie kan help nie

 

There is no such thing as a great man of God, only weak, pitiful, faithless men of a great and merciful God. —Paul Washer

 

God help diegene wat hulleself nie kan help nie

Mense haal dikwels ‘n algemene spreuk aan en vra dan waar dit in die Bybel staan. Dikwels is dit egter net iets wat mense gesê het. Een hiervan is: “God help diegene wat hulleself help.” Dit kom nie in die Bybel voor nie. Waarskynlik is dit iets wat Benjamin Franklin gesê het.

 

Dit klink baie goed, maar ons moet verstaan dat die enigste ding wat ons kan doen om onsself te help sodat God ons kan help, is om ons vertroue in Hom te plaas om ons te help. God wil sy kinders help; as gevolg van sy liefde wil God sy kinders seën. Wat belangrik is, is sy liefde vir ons en ons liefde vir Jesus Christus – nie dit wat ons gedoen het om onsself te help nie.

 

Toe die Israeliete deur die farao agtervolg word, sê Moses vir hulle: Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg (Eksodus 14:14). Ons taak is nie om onsself te help nie, maar om kalm te bly en toe te laat dat God sy plan in ons lewens uitvoer.

 

Miskien het jy probeer om jouself te help sodat God jou kan help. Hou op. Wees kalm; wag vir die Here; laat Hy jou help – op sy tyd en volgens sy plan. Jy is tog sy kind.

Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het (1 Petrus 5:6).