Vergifnis

 

The deepest principle in human nature is the craving to be appreciated – William James

 

Vergifnis

Earnest Hemingway het ‘n kortverhaalThe Capital of the World geskryf. Hierin vertel hy die verhaal van die vader en sy tienerseun wat in Spanje gewoon het. Hulle verhouding was moeilik en uiteindelik is dit verbreek – die seun het weggehardloop. Die vader begin ‘n lang reis op soek na sy opstandige en verlore seun. Hy kry hom nie. Ten einde raad besluit hy om ‘n advertensie in ‘n koerant in Madrid te plaas. Sy seun se naam was Placo, ‘n baie algemene naam in Spanje.

 

Dit was ‘n eenvoudige advertensie: “Liewe Placo, ontmoet my môremiddag om 12 uur voor die koerant se kantoor. Alles is vergewe. Ek is lief vir jou.” Die volgende dag op die bestemde tyd daag daar 800 “Placo’s” by die koerant se kantoor op – almal op soek na vergifnis.

 

Daar is baie Placo’s in die wêreld op soek na vergifnis – meer as enigiets anders. Een van die uitstaande kenmerke van ‘n Christen is dat hy vergewe. Ongelukkig is baie van ons nie bereid om totaal te vergewe nie. Mense wat nie bereid is om te vergewe nie, is of baie arrogant of baie onseker van hulleself. Mense wat nie vergewe nie, maak hulleself seerder as diegene wat hulle nie vergewe nie.

 

 




n Kort Kursus in menseverhoudings

 

You cannot always control what happens to you, but you can control what happens in you. John Maxwell

 

‘n Kort Kursus in menseverhoudings

John Maxwell beskryf ‘n kort kursus in menseverhoudings soos volg:

  • Die onbelangrikste woord: Ek, want ek kry maar min gedoen
  • Die belangrikste woord: ons. Dit verwys na verhoudings. Ons kry meer gedoen as ek.
  • Die twee belangrikste woorde: dank u – waardering vir wat ander vir jou doen
  • Die drie belangrikste woorde: alles is vergewe – vergifnis
  • Die vier belangrikste woorde: wat is jou mening? – luister na ander
  • Die vyf belangrikste woorde: jy het goeie werk gedoen – bemoediging.
  • Die ses belangrikste woorde: ek wil jou beter leer ken – ek wil jou verstaan

 

In die lewe gaan jy mense of as vyande of as bates sien. As jy hulle as vyande sien, gaan jy gedurig jou posisie verdedig. As jy hulle as ‘n bate sien, sal jy hulle help om hulle volle potensiaal te bereik. Jou gelukkigste dag gaan wees as jy besef dat “ons” die belangrikste woord in Afrikaans is.

 

 




Gemeentes wat mense uitstuur (4)

 

Take away the cross of Christ, and the Bible is a dark book. —J.C. Ryle

 

Gemeentes wat mense uitstuur (4)

  1. D. Greear en Mike McDaniel het pas ‘n klein e-boek gepubliseer: Sending capacity, not seating capacity. Dit gaan oor gemeentes wat mense in die wêreld uitstuur.

 

Die beperkende faktor om meer kerke te plant, is die beskikbaarheid van gekwalifiseerde kerkplanters. Jy moet jou beste mense stuur, maar dit is juis die mense wat jy wil behou. Hier is ‘n belangrike beginsel om te onthou: om leiers vry te stel, skep nuwe leiers. As jy jou beste leiers uitstuur, vervang God hulle. Klink onwaarskynlik, maar dit is waar. Hoekom gebeur dit? Leiers word aangetrek na plekke waar hulle hulle volle potensiaal kan bereik. In werklikheid trek jy jong leiers. Maar God is vrygewig: as jy iets weggee verplaas Hy dit. Hy vermenigvuldig jou leierskapshulpbronne. As jou gemeente nie leiers ontwikkel nie, kan jy nie leiers in die wêreld uitstuur nie. Daar is tans 4,72 biljoen mense in die wêreld wat nie vir Christus ken nie. Ongeveer 2 biljoen van hulle het min of geen toegang tot die evangelie nie. Maar ook in sogenaamde “Christelike” lande woon minder as 20% van die mense nog eredienste by. Dit behoort mense aan te spoor tot optrede. Hierdie syfers mag mense motiveer, maar gewoonlik word dit nie volgehou nie.

 

In die Bybel lees ons van ‘n ander manier om mense vir sending te motiveer. Daar is by Paulus groot droefheid en voortdurende hartseer. Waaroor? Oor my broers, my eie volksgenote. Dan sê hy: Ek sou self vervloek wil wees, afgesny van Christus, as dit tot julle voordeel kan wees (Romeine 9:3). Hierdie passie dryf Paulus om swaarkry en vervolging te verduur om te kom waar Christus nie geken is nie. Hierdie passie het, ten spyte van alles wat hy moes verduur, nooit verflou nie. Hoe kan ons hierdie passie in ons mense kry? Dit sal nie gebeur deur aan hulle ontstellende statistiek te gee of stories van geloofshelde te vertel nie. Blywende motivering vir sending kom as ek onthou wat God gedoen het om my te verlos. As ek deur ‘n gevoel van dankbaarheid oorweldig word as ek besef dat ek niks gedoen het om my verlossing te verdien nie, dan sal ek deernis met ander hê. Dit gebeur as jy besef dat jy in presies dieselfde posisie was toe Jesus jou gevind het. Dit gaan nie oor ‘n verpligting nie, maar oor dankbaarheid. Die evangelie veroorsaak ‘n lewenskragtige heroriëntering van die hart.

 

 

 

 

 

 

 

 




Die koste van vriendskap

 

What will really save the lost world? Let me tell you: none of our complaints against it. —Jared Wilson

 

Die koste van vriendskap

Ons gebruik van die woord vriend is dikwels taamlik onverskillig. Deels is dit die gevolg van Facebook waar “like” gelyk is aan vriend. Hiermee verloor ons die betekenis van wat vriendskap in die Bybel werklik is. Vriendskap is meer as aangename geselskap. Miskien is ware vriendskap vandag skaars omdat dit baie kos om ‘n ware vriend te wees.

 

Kom ons kyk na die koste van vriendskap.

  1. Vriendskap kos jou persoonlike gemak

Die ware toets vir vriendskap kom as my vriend iets wil doen of iets nodig het wat my nie pas nie. Dan moet ek my persoonlike voorkeure eenkant plaas: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3). Miskien beleef hulle ‘n moeilike tyd; miskien het hulle ‘n guns wat ‘n las op my gaan plaas nodig. Vriendskap mag soms vir my persoonlik ongemaklik wees, maar as ek sê “iemand is my vriend” moet ek bereid wees om op te offer.

 

  1. Vriendskap kos tyd

Die mens is gemaak vir gemeenskap. God het gesê dat dit nie goed is vir die man om alleen te wees nie (Genesis 2:18). Dit was voor die sondeval – dit is vandag nog meer waar. Jy kan nie ‘n betekenisvolle vriendskap verwag as jy nie bereid is om tyd daarin te belê nie. Maar as twee of meer nie gereeld bymekaar is nie, is dit moeilik om mekaar te ken en te dien.

 

  1. Vriendskap kos intimiteit

Aan die begin sien ek net die goeie in my vriende. As dit al is wat ek sien, is ons vriendskap maar oppervlakkig Almal het ‘n donker kant. Sonde is ons gemeenskaplike vyand. Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word. Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie (Prediker 4:9 – 12). Om dit reg te kry moet jy die hart van jou vriend ken en hy moet jou hart ken. Ek moet bereid wees om die goeie en die slegte te deel.

 

  1. Vriendskap kos gemak

Vriendskap is maklik as alles goed gaan. Maar wat gebeur as die storms kom? Wat doen ons as ons verskil? Ware vriendskap vergewe en soek herstel. Dit is sekerlik die moeilikste deel van vriendskap. As ek ‘n vriend aanvaar, aanvaar ek ook ‘n verantwoordelikheid. Ek weet nie watter laste ek sal moet dra of watter opofferings ek sal moet maak nie of watter hartseer saam met die vriendskap kom nie. As ons eers vriende is, moet ons getrou wees – maak nie saak wat die koste is nie.

 

  1. Vriendskap kos gebed

Vriende bid vir mekaar. Hoe kan ons die mense wat ons sê ons vriende is nie aan God in gebed opdra nie. Ware vriende bid nie net af en toe vir mekaar nie – hulle bid gereeld en lê mekaar se behoeftes voor God.

 

  1. Vriendskap kos liefde

Hoe meer tyd ek met vriende spandeer, hoe meer word hulle en my sondes geopenbaar. Ons moet mekaar aanhou liefhê al sien ons die lelike raak. As God ons roep om vriende te wees, roep Hy ons om mekaar lief te hê en mekaar te vergewe. Om dit te kan doen, het ons die krag van Jesus Chriistus nodig.

 

Jesus was ‘n vriend van sondaars. Hy het vir ons gesterf en het opgestaan sodat ons vriende van God kan wees. Net as ons na ons Verlosser kyk en van Hom leer, kan ons ware vriendskappe met ander aanknoop.