Die paradoks van God

 

We’re to love our children for who they are, not for what we want them to become. —Alistair Begg

 

Die paradoks van God

[Paradoks – ‘n uitspraak wat ‘n teenstrydigheid bevat]

 “My deepest awareness of myself is that I am deeply loved by Jesus Christ and I have done nothing to earn it or deserve it.” –Brennan Manning, The Ragamuffin Gospel.

Baie van ons glo dat God kwaad is en Hy sit in die hemel en hou telling. Hy het ‘n lys wette en reëls en hou ons dop. Hy wag net tot ons ‘n foutjie maak en dan slaan die weerlig ons. Waar kry ons hierdie idee? Miskien is dit as gevolg van vurige, kwaai preke. Maak nis saak hoekom ons hierdie beeld het, maar een ding is seker: hierdie is ‘n verkeerde beeld.

 

Toe Moses vir God vra om self teenwoordig te wees as hulle verder trek, antwoord God: Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam (Eksodus 33:17). God is ons goedgesind. Ons mag onmiddellik antwoord dat God hier met Moses praat en ek is nie Moses nie. Moses is immers hierdie groot leier. Ja, Moses is veronderstel om te wees. Wat het net voor hierdie gedeelte gebeur? Die volk het ‘n goue kalf gemaak. Sou ons nie verwag het dat die volk Moses as die groot leier sou volg nie?

 

Die mense was, net soos ons, in ‘n swak toestand. Maar tog is God goedgesind teenoor ons – ten spyte van ons swak prestasie. Dit is moeilik om te verstaan. Die mensdom is gebroke, maar God het ons steeds lief. Dank ons God genoeg dat Hy goedgesind met ons is?

 




Doel en Passie

 

 “The Bible was not given to increase our knowledge but to change our lives.” – D. L. Moody

 

Doel en Passie

Paulus het ongelooflik baie in net twee dekades bereik. Hoe het hy dit reggekry? In Filippense 3:7 – 9 lees ons van Paulus se passie vir sy roeping. Doeltreffende leiers, soos Paulus, weet wat hulle doel in die lewe is en streef dit met passie na.

 

Voor sy dramatiese bekering het Paulus ‘n ander doel in sy lewe nagestreef. Hy was ‘n Fariseër en kon oor sy opleiding en praktyk gespog het. Sy CV sou meeste mense beïndruk het. Maar toe ontmoet hy die Here op pad na Damaskus. Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus. Paulus was bereid om alles wat hy in die lewe bereik het, weg te gooi om vir Christus te ken.

 

Paulus verkondig dat hy en alle gelowiges in Christus vryspraak kry: Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo. Daarom wy Paulus sy hele lewe daaraan om Christus te ken. Dit was sy doel en passie. Hierdie doel het alles wat hy gedoen het gevorm en het almal wat hy gelei het, beïnvloed.

 

Wat is my doel en passie – die een ding wat bo alle ander dinge uitstaan? Hoekom staan ek soggens op? Min mense het ‘n duidelike doelstelling vir hulle lewe. Ons doel in die lewe moet op God en sy koninkryk gerig wees.

Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil (2 Korintiërs 5:9).

 

 




Gemeentes wat mense uitstuur (1)

 

The man who has God for his treasure has all things in one – A. W. Tozer.

 

Gemeentes wat mense uitstuur (1)

  1. D. Greear en Mike McDaniel het pas ‘n klein e-boek gepubliseer: Sending capacity, not seating capacity. Dit gaan oor gemeentes wat mense in die wêreld uitstuur.

 

Om mense uit te stuur, klink goed op papier, maar ons het hier met ware mense wat gapings gaan laat as hulle weggaan, te doen. Maar, God bou sy koninkryk nie as ons aan mense vasklou nie, maar as ons hulle laat los. Die sleutel om die wêreld te bereik, is om mense te stuur. Elke gemeente is geroep om ‘n gemeenskap te bereik, maar die ware roeping van die kerk is nie om gelowiges bymekaar te maak nie, maar om dissipels te maak en dan uit te stuur.

 

Om te stuur is God se strategie om die Groot Opdrag van Matteus 28 te vervul. Maar om te stuur kos iets: ons moet die vrugte wat God aan ons gegee het, loslaat. Is dit moontlik? Wat help dit nou om gemeentes te plant en jou eie gemeente gaan dood? In die praktyk is presies die teenoorgestelde gevind. Nie alleen is dit moontlik om te stuur nie, maar dit help die gemeente wat stuur. Dit beteken nie dat dit maklik is nie. Dit skep spanning. Maar mettertyd glo mense dat om in die gemeenskap uit te reik, die gemeente sal laat groei.

 

Om te stuur klink goed, maar is dit die storie van elke gemeente? Is dit nie wat God vir elke gemeente beplan het nie? Is dit normaal of is dit die uitsondering? Om mense uit te stuur is vandag die uitsondering en nie die reël nie. Die Nuwe Testament skep ‘n ander beeld. Om gemeentes elders te plant is nie traumaties nie – dit is normaal en algemeen.  Lees net weer die boek Handelinge: die evangelie word verkondig; dissipels word gemaak; gemeentes word geplant; herhaal die proses. Om te stuur is in die materiaal van die kerk ingeweef.

 

Om te stuur is een van die dinge wat ‘n gemeente moet doen – soos dissipelskap en aanbidding. Wat nodig is, is ‘n kultuur van stuur. Jy kan ‘n kultuur van kerkplanting ontwikkel, maar as die kultuur van stuur nie teenwoordig is nie, gaan dit of nooit of selde gebeur.

 




Preek soos Jesus

 

Jesus had every reason to be proud yet he was humble, and we have every reason to be humble yet we’re proud. —Burk Parsons 

 

Preek soos Jesus

Rick Warren sê dat Jesus se onderrig prakties en eenvoudig was. Dit was duidelik, relevant en toepaslik. Sy doel was nie om mense in te lig nie, maar om hulle te verander. Kom ons kyk na die grootste preek wat nog ooit gepreek is: die bergrede:

  • Jesus begin deur agt geheime van werklik gelukkig wees, te deel.
  • Dan praat Hy oor ‘n voorbeeldige lewe, die beheer van die humeur, die herstel van verhoudings, en sake soos kuisheid en egskeiding.
  • Volgende praat Hy oor die hou van beloftes en om kwaad met goed te vergeld.
  • Daarna gaan Hy oor na ander belangrike lewensake soos hoe om met die regte gesindheid te gee, hoe om te bid, hoe om vir jou ‘n skat in die hemel bymekaar te maak en hoe om die sorge van die lewe baas teraak.
  • Hy eindig sy boodskap deur te sê dat ons nie ander moet oordeel nie, om te volhard in gebed en waarsku ons teen vals leermeesters. Hy eindig met ‘n eenvoudige storie wat die belang van doen wat jy geleer is, beklemtoon.

Dit is die soort prediking wat ons vandag steeds nodig het, want dit verander lewens. Dit is nie genoeg om te sê: “Christus is die antwoord” nie – ons moet vir kerklos mense wys hoe Christus die antwoord is. As ons mense oproep om te verander, maar nie vir hulle wys hoe om te verander nie, lei dit net tot skuldgevoelens en frustrasie.

 

Baie van wat ons vandag in ons kerke hoor, is net klagtes oor die samelewing – en ons veroordeel mense. Daar is baie diagnose en min genesing. Dit laat Christene meerderwaardig voel teenoor “diegene daar buite,” maar dit verander nie juis iets nie. As ek na ‘n geneesheer toe gaan wil ek nie net hoor wat met my verkeerd is nie – ek wil hê hy moet vir my spesifiek sê hoe ek beter kan word. Die diepste onderrig is daardie onderrig wat ‘n verskil in mense se lewens maak.

The Bible was not given tot increase our kmowledge but to change our lives (D. L. Moody)

 

Jesus het gesê dat Hy gekom het sodat ons lewe kan hê. Hy het nie gesê dat Hy gekom het sodat ons godsdiens kan hê nie. Die Christelike geloof is ‘n lewe en nie ‘n godsdiens nie. As Hy klaar was met sy onderrig, het Hy dikwels vir sy gehoor gesê dat hulle moet gaan en dieselfde moet doen.

 

Kerklos mense vra nie dat ons die boodskap moet verander of afwater nie, maar dat ons vir hulle die toepaslikheid van die boodskap moet wys – watter verskil maak dit? Dit is ‘n mite dat jy kompromieë moet aangaan as jy mense wil trek. Jesus het nie.

You don’t have to transform the mesaage, but you do have to translate it (Rick Warren)