Lesse uit die kankersaal

 

The gospel is not the ABC’s of the Christian life; it is the A to Z – Tim Keller.

 

Lesse uit die kankersaal

Wat het jy uit hierdie beproewing geleer? Hoe antwoord ‘n mens so ‘n vraag vanuit die kankersaal? Wat moet ons doen as ons by so ‘n pasiënt is?

  1. Ware luister is belangrik. Laat die pasiënt sy gevoelens uitdruk, sonder dat jy raad gee – tensy jy daarvoor gevra word.
  2. As jy sê: “Ek sal vir jou bid,” maak dit ‘n prioriteit en hou aan intree vir die persoon.
  3. Praktiese hulp is belangrik – voorsien maaltye, vervoer die pasiënt en haar kinders, sit by die pasiënt terwyl die versorger uit is.
  4. Moenie oordeel nie. Don’t criticize your neighbour, until you have walked a mile in his mocacasins (‘n Ou Indiaanse spreekwoord).
  5. As die siekte lank duur onthou om te bid, te besoek en te bemoedig. Mense wat chronies siek is, moet weet ons het hulle nie vergeet nie. Onthou jou lewe gaan voort soos altyd, maar hulle lewens het drasties verander. Moenie moeg word om goed te doen nie.
  6. Begin jou dag met God. Ons lewens is so besig dat ons dikwels ons stiltetyd tot later uitstel. Dit is dwaas, want ons het Hom elke minuut nodig.

 

Moenie jou vriende wat slegte nuus ontvang het of wat chronies siek is, vergeet nie.




Lesse geleer uit mislukking

 

Jesus came to raise the dead. Not to improve the improvable, not to perfect the perfectable, not to teach the teachable, but ro raise the dead – Robert Capon

 

Lesse geleer uit mislukking

Almal van ons gaan op een of ander stadium misluk. Die vraag is wat ons met ons mislukkings doen. Hier is ‘n paar lesse om uit ons mislukkings te leer:

  1. My mislukkings is gewoonlik die gevolg van te veel vertroue

As ek misluk, is dit dikwels omdat ek te veel op myself vertrou en nie genoeg op God nie. Gelukkig lei dit dikwels tot meer afhanklikheid van God veral in gebed.

 

  1. Mislukking maak my meer simpatiek teenoor ander

As ek nog nooit misluk het nie, sou ek geen geduld, simpatie en hulp vir ander wat misluk het, gehad het nie.

 

  1. My mislukkings het my gehelp om my lewe in ‘n nuwe rigting te stuur

‘n Mens besef dat jy net nie die gawe het om sekere dinge te kan doen nie – dinge wat ek graag sou wou doen. Dan besef ek dat ek op daardie gebiede waarvoor God my die gawes gegee het, moet fokus. Natuurlik is dit pynlik as dit gebeur, maar ons kan met dankbaarheid terugkyk omdat God my lewe in ‘n nuwe rigting gestuur het.

 

  1. Mislukking laat my die mense wat geslaag het waar ek misluk het, waardeer.

 

  1. Mislukking het my geleer dat ek my suksesse aan God moet krediteer

As dinge goed gaan, besef ek dat dit net God is wat my bemagtig, gehelp en geseën het. Dit lei tot dankbaarheid en nederigheid.

 

  1. Baie mislukkings gebeur as ek te moeg of te besig is

Ek besef ek moet my lewe beter beplan en baie rus as ek beter besluite wil neem.

 

  1. My mislukkings maak dat ek Christus meer aanbid

As ek na al my mislukkings kyk word ek oorweldig om daaraan te dink dat Hy 33 jaar op aarde gespandeer het sonder dat Hy een maal misluk het.

 

Wat het jy uit jou mislukkings geleer?

 




Waar is God?

 

I cannot have God in my heart if he is not in my head. Before I can believe in, I must believe that. —R.C. Sproul

 

Waar is God?

Hierdie is vrae waarmee Job gestoei het (23:1 – 9). Waar is God? Wat doen Hy? Soms is dit ook ons vrae. Soms antwoord ons maar soos Job: As ek maar geweet het waar om God te vind. Maar Job kom met ‘n baie beter antwoord na vore: Hy ken my pad (Vers 10a). Hy weet waar ek is en waarheen ek op pad is. Ek hoef nie te weet nie, solank as Hy net weet nie.

 

God weet ook wat Hy doen: As Hy my toets, is ek so suiwer soos goud (vers 23b).

  • Hy toets my – soos ‘n ambagsman sy werk tot die perke toets, want hy het vertroue in sy werk, toets God ook vir ons.
  • Hy is besig om ons te verbeter – soos ‘n goudsmit hou hy die horlosie en die termostaat dop. Hy weet presies hoe lank en hoe warm hy my in die vuuroond kan hou om my soos goud te suiwer.

 

God weet waar ek is en Hy weet wat Hy doen.

 




Afsondering en aanvulling

 

We are not the reason the gospel works; the gospel is the reason the gospel works. —Ligon Duncan

 

Afsondering en aanvulling

Sommige mense rus nooit werklik nie. Hulle is te besig met die aktiwiteite van die lewe – dit lyk asof hulle altyd op pad iewers heen is. Jesus het nie daardie probleem gehad nie. Hy het doelbewus afsondering vir geestelike aanvulling gesoek. Hy het besef hoe belangrik sulke tye was om weer sy geestelike batterye te laai. Daarom het Hy elke moontlike geleentheid gebruik om dit te doen.

 

Maar wat van ons? Wanneer laas was jy stil in die teenwoordigheid van God met geen agenda anders as die begeerte om aan sy voete te sit nie? Baie mense sien afsondering in ‘n negatiewe lig – net iets wat jy doen as dit absoluut noodsaaklik is. Afsondering, as ons dit reg doen, gee energie aan ons interaksie met ander en voed ons siel.

 

Almal van ons se tyd is waardevol. Tyd met God alleen – sonder fone, skootrekenaars en menslike en tegnologiese afleidings – selfs gebedsvriende – is krities. Tydens sulke tye vul die Gees ons weer. In afsondering kan ons God se lewegewende asem ontvang. Daarna het ons weer ‘n nuwe sensitiwiteit en deernis met ander mense – en ons liefde vir Hom word versterk. Ons kry dit net by die Bron van alle krag en waarheid.

 

Breek gereeld weg om alleen met God te kan wees. Dit is tyd baie goed gespandeer.