Dissipline

 

A man was meant to be doubtful about himself, but undoubting about the truth; this has been exactly reversed. Nowadays the part of a man that a man does assert is exactly the part he ought not to assert—himself. The part he doubts is exactly the part he ought not to doubt—the Divine Reason. — G.K. Chesterton

 

Dissipline

John Maxwell sê dat talent vir jou ‘n posisie kan kry, maar dat dissipline jou daar sal hou … en jou selfs verder sal dra. Wat is jou droom? Wat wil jy graag word? Om jou potensiaal te bereik, moet jy ‘n lewe van dissipline aankweek.

 

Daar is ‘n paar waarhede aangaande dissipline waaraan ons aandag moet gee:

  1. Dissipline kos iets

Dissipline vereis ‘n voortdurende belegging van tyd, energie en toewyding – dikwels ten koste van tydelike plesier. Dissipline beteken ek doen afstand van die korttermyn voordele. My hoop is op die toekoms. Jy is nie tevrede met die gemiddelde nie.

 

  1. Dissipline verander talent in grootheid

Ons sien dikwels dat te veel talent teen ‘n persoon kan werk Super talentvolle mense verwaarloos dikwels daardie daaglikse gewoontes wat nodig is vir volgehoue sukses. Die digter Henry Wadsworth Longfellow help ons baie:

The heights by great men reached and kept

Were not attained by sudden flight,

But they, while their companions slept,

Were toiling upward in the night.

As jy jou volle potensiaal wil bereik, moet jy ‘n sterk werketiek by jou talente voeg.

 

  1. Dissipline fokus op jou keuses en nie op jou omstandighede nie

Sommige mense fokus op die eksterne – hulle laat toe dat omstandighede bepaal of hulle gedissiplineerd is of nie. Omdat omstandighede tydelik is en gereeld verander, verander hulle vlakke van dissipline voortdurend. Mense met interne dissipline, daarenteen, fokus op keuses. Hulle weet hulle kan nie die omstandighede beheer nie. Deur op keuses te fokus en deur gereeld die regte keuses te maak, bly jy gedissiplineerd.

 

  1. Dissipline buig nie voor gevoelens nie

Nothing is easier than saying words. Nothing is harder than living them, day after day. What you promise today must be renewed and redecided tomorrow and each day that stretches out before you.” (Arthur Gordon)

As jy doen wat jy beoort te doen net as jy so voel, gaan jy nie gedissiplineerde gewoontes bou nie. Soms moet jy teenstrydig tot jou emosies optree. As jy weier om toe te gee aan jou impulse, al laat hulle jou tydelik goed voel, gaan jy slaag.

 

Dissipline beteken dat ek verantwoordelikheid vir my toekoms aanvaar. Ek gaan verder as my natuurlike talent; ek maak gereeld wyse besluite. Kies dissipline as die pad na jou potensiaal.

 

 




Aktiwiteite vir seniors

 

Whatever sin the heart of man is most prone to, that the devil will help forward. —Thomas Brooks

 

Aktiwiteite vir seniors

In Psalm 92 vergelyk God seniors met vrugbare palmbome en sterk Lebanese seders. Beteken dit nou dat seniors nie meer verantwoordelikhede het nie? Nee, hierdie beskrywing daag seniors juis uit om te lewe soos God hulle hier beskryf.

  • Rentmeesterskap

Aging is not for wimps (J. I. Packer). Dit gaan moeilik en veeleisend wees. Ons moet rentmeesters van ons hulpbronne wees – gedagtes, fisies, finansieel en geestelik.

  • Gedagtes – ons moet voortdurend ons gedagtes en denke uitdaag om hulle lewendig te hou.
  • Finansieel – ons moet deeglike beplanning aan die dag lê.
  • Fisies – versorg jou liggaam; eet gesond en doen oefeninge.
  • Geestelik – versamel genoeg hulpbronne om ons deur die senior jare te dra.

 

  • Dankbaarheid

Psalm 92 begin met ‘n aantal verse van lof en danksegging aan God vir sy goedheid. As ons eers die senior jare bereik, is daar nog meer rede om God te dank vir sy ondersteuning.

 

  • Leer

As ons los van die eise van ons beroep/werk is, kan seniors al daardie boeke lees wat hulle nog altyd wou gelees het, maar nooit die tyd daarvoor gehad het nie. Dit sluit in om meer van die Bybel en veral hoe om te bid, te leer. Seniors moet trots en hardkoppigheid beveg en bereid bly om te leer.

 

  • Lei

Senior jare is wyse jare. Met verloop van jare het seniors baie wysheid en ondervinding bymekaar gemaak. Daar is baie geleenthede om jonger mense te beïnvloed en te mentor.

 

  • Diens

Die wêreld se wysheid is om af te skaal, jouself te geniet en gholf te speel. Hiermee waarborg jy ‘n gevoel van waardeloosheid. Daar moet tyd wees om te ontspan, maar ons het nou meer tyd vir dienswerk. Die belangrikste vraag vir seniors moet wees: “Waar kan ek dien?” Dit is ook die bevredigendste.

 

  • Beplanning

In plaas van soggens wakker word en wonder wat ons gaan doen, moet ons beplan en doelwitte stel.

 

  • Hardloop

Packer sê dat ons beelde van ‘n resies voor ons moet hou. Dink maar aan Paulus se beeld van ‘n resies:

  • Hy stel doelwitte – hy hardloop om te wen.
  • Hy beplan doelgerig – jy dink hoe jy moet hardloop en berei voor.
  • Konsentrasie – jy fokus volledig op jou voorbereiding vir die resies.
  • Groot inspanning – jy hardloop voluit.

 

  • Maak klaar

Ons moet ons senior jare gebruik om vir ons dood voor te berei. Ons berei voor met geloof in Jesus Christus. Ons moet daaroor lees, dink en bid.

 

Hoe moet die jonger geslag seniors hanteer?

  • As individue – elke senior het ‘n eie persoonlikheid en unieke gawes.
  • Respekteer hulle menings – hulle menings berus gewoonlik op wysheid en ondervinding. Luister versigtig as hulle praat.
  • Onthou jy sal ook waarskynlik eendag ‘n senior wees – berei voor deur by seniors raad te vra.
  • Jy mag dalk nie die senior ouderdom bereik nie – berei voor sodat jy gereed is om te gaan en jou Maker te ontmoet.

 

 

 




God se tuin

 

Legalism lacks the supreme sense of worship. It obeys but it does not adore. —Geerhardus Vos

 

God se tuin

In Psalm 92:13 – 16 gee God aan ons ‘n begeleide toer deur sy tuin. Hy sien sy mense – die regverdiges – soos palmbome en seders. Maar Hy stel veral belang in die ouer en meer volwasse dissipels. Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees.

 

Vandag se kerk fokus op die jeug en daarom word senior burgers dikwels verwaarloos. Kyk weer na God se vriendelike en bemoedigende woorde aan hulle.

  • Hulle groei

Moegheid, agteruitgang, swakheid is die woorde wat ons gewoonlik met ouderdom assosieer. Hulle is Bybelse woorde – kyk maar net na Prediker 12:1 – 8 – veral die ou vertaling. Hier gee die Here egter aan ons ‘n ander perspektief. Seniors word fisies swakker, maar geestelik sterker: Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe (2 Korintiërs 4:16). Hulle groei in geloof, heiligheid, wysheid, hoop en liefde, want hulle is in die ryk grond van God se kerk geplant.

 

  • Hulle is vrugbaar

Die psalmis verwys hier spesifiek na die palmbome, want hulle het nie alleen kos vir die nomades in die woestyn voorsien nie, maar was ook ‘n aanduiding van waar water was. Hulle diep wortels het die ondergrondse water gekry. Baie bome dra nie meer vrugte as hulle oud word nie, maar God se seniors dra steeds vrugte. Hierdie vrugte is ‘n teken dat hulle gesond is, maar is ook tot voordeel van ander. Hulle is goed gesnoei en dra takke vol geestelike vrugte.

 

  • Hulle is fris

Fris hier beteken hulle is nog vol sap. Hierdie is ‘n innerlike sap – onsigbaar en ‘n bron van vog diep in hulle. Hulle uitwendige groei, is die gevolg van inwendige krag. Hulle word voortdurend inwendig vernuwe deur die innerlike sap van die Heilige Gees.

 

  • Hulle is lewenskragtig

Dit staan in teenstelling met die goddeloses: Al is die goddelose voorspoedig, al floreer almal wat onreg doen, hulle sal vir goed uitgewis word (Psalm 92:8). Die regverdiges, daarenteen, floreer selfs in hulle senior dae. Natuurlik word Christene ook oud, maar hier word nie na die liggaam verwys nie, maar na geestelike vermoëns:

  • Hulle oë sien nie meer nie, maar in geloof sien en glo hulle God se beloftes.
  • Hulle ore hoor nie, maar hulle hoor steeds die stem van die Verlosser.
  • Hulle stem kraak, maar daar is steeds ‘n melodie in hulle harte.
  • Hulle voete bewe, maar hulle stap nog stewig op die pad van geregtigheid.
  • Hulle vel is vol rimpels en plooie, maar hulle is mooi in die oë van die Here.
  • Hulle aptyt neem af, maar hulle honger en dors steeds na geregtigheid.
  • Hulle smaak neem af, maar hulle kan steeds proe en sien dat God goed is – die brood van die lewe.
  • Hulle hart versaak, maar hulle geestelike hart klop sterk.
  • Hulle belangstelling in die wêreld verminder, maar hulle belangstelling in die wêreld wat kom, neem toe.

 

  • Hulle getuig

Seniors getuig met hulle lippe, maar ook met hulle lewens. Hulle verklaar dat die Here regverdig is: Hy is my rots.

 

Seniors glo nie dat hulle groei of vrugbaar of fris of lewenskragtig is nie. Seniors moet meer waarde aan God se woord as aan hulle spieëls heg.

Volgende keer gaan ons na sekere aktiwiteite wat seniors moet doen, kyk.

 




Die soeke na die diepste antwoord

 

The essence of gospel-humility is not thinking more of myself or thinking less of myself, it is thinking of myself less (Tim Keller).

 

Die soeke na die diepste antwoord

Ons leef in ‘n glodale tydperk. Die globale tyd is ‘n produk van die Weste, net soos die Weste grootliks ‘n produk van die Christelike geloof is. Die Christelike geloof is die wêreld se eerste waarlike globale geloof. Wat is verkeerd met die Christelike kerk in die Weste as die kerk in die Suide en oor die wêreld ontplof, maar in die Weste is dit ontrou en besig om agteruit te gaan? Hoe verklaar ons die geestelik dorre situasie in Wes-Europa, Kanada, Australië en Nieu-Seeland? In die VSA is die kerk numeries steeds sterk, maar is oppervlakkig en lawaaierig. Geen wonder die mense sien neer op die kerk nie.

 

Die grootste uitdaging vir die Westerse kerk kan in drie woorde opgesom word: integriteit, geloofwaardigheid en beleefdheid/vriendelikheid. Die grootste hiervan is integriteit. Ten opsigte van Jesus Christus moet ons weer die integriteit van ons geloof herwin. Ten opsigte van buitestanders moet ons weer die geloofwaardigheid van die kerk herwin. Ten opsigte van mense van ander gelowe moet ons weer die beleefdheid van ons geloof herwin. Dit is die uitdaging as ons getrou aan ons Here wil wees, maar terselfdertyd betrokke by die lewe in hierdie moderne lewe wil wees.

 

Daar is honderde boeke wat vir ons sê dat die kerk probleme het. Min boeke sê egter vir ons hoekom. Wat veroorsaak die probleme in die Westerse kerk? Daar is baie antwoorde – baie van hulle is onvoldoende of verkeerd. Daar moet ‘n dieper, meer omvattende rede wees. Ons het die gees, styl en sisteem van die wêreld aanvaar – ‘n ontrou wat die krag van die kerk tap. Hoe het ons dit gedoen? Ons is ondermyn deur die moderne wêreld wat die Christelike geloof gehelp het om tot stand te bring.

 

Eenvoudig gestel: Die Christelike geloof het beslissend bygedra tot die opkoms van die moderne wêreld, maar dit is beslissend deur hierdie moderne wêreld ondermyn. Die Christelike geloof het sy eie grafgrawer geword.

 

Die vraag vir die volgelinge van Jesus in die Westerse wêreld vandag is: Kan ons die volle integriteit van geloof in Christus herwin terwyl ons ten volle betrokke is by die moderne wêreld?