Praat God met ons?

 

Reasonable people adapt themselves to the world. Unreasonable people attempt to adapt the world to themselves. All progress, therefore, depends on unreasonable people.” ― George Bernard Shaw.

 

Praat God met ons?

Ons kan tog nie praat van ‘n persoonlike verhouding met iemand wat nooit met jou praat nie. Baie mense is ongemaklik met die idee dat God met hulle kan praat. Hulle sê dan ook dikwels dat God nie met hulle praat nie. Maar God praat met ons. Ons moet leer om wat Hy sê te verstaan – om sy stem te herken. Daar is wonderlike stories hieroor in die Bybel. In Genesis 24 lees ons van Abraham wat sy dienaar stuur na die land van sy geboorte om daar vir Isak ‘n vrou te kry. Dit is ‘n belangrike taak. Die dienaar is bekommerd en vra vir Abraham wat hy moet doen as hy nie ‘n vrou kan kry wat saam met hom sal terugkom nie. Abraham antwoord: Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun ‘n vrou van my land af sal kan bring.

 

Die dienaar glo dit nie, maar toe hy daar aankom, vra hy tog vir die Here, die God van Abraham, vir sukses op sy sending. Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan.

 

God praat voortdurend met mense, maar meeste  besef nie wat aangaan nie. Hulle is soos Samuel. Die Here roep hom terwyl hy nog in sy bed gelê het. Onmiddellik dink hy dat dit Eli is wat hom geroep het. Maar Eli verseker hom dat hy hom nie geroep het nie: Gaan lê maar weer (1 Samuel 3). Dit gebeur nog ‘n paar keer. Uiteindelik besef Eli wat aangaan. Hy sê vir Samuel: Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!

 

Ons moet leer hoe God praat, want anders gaan dit my persoonlike verhouding met Hom ondermyn. Soms doen God snaakse dinge om mense se aandag te trek, maar meestal bring Hy gedagtes op in ons denke. Hierdie gedagtes het ‘n kenmerkende kwaliteit, inhoud en gees oor hulle. God het baie maniere om gedagtes in jou te veroorsaak. In Numeri 11 en Eksodus 33 sien ons dat God met Moses soos met ‘n vriend praat. In Jeremia 23:28 – 29 lees ons: Die profeet wat ‘n droom gehad het, mag vertel wat hy gedroom het, maar hy wat my woord ontvang het, moet my woord eerlik oordra. ‘n Mens kan tog nie strooi met die beste koring vergelyk nie, sê die Here. My woord is soos vuur, sê die Here, soos ‘n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.

 

Mense het dikwels iets nodig om hulle aandag te rek – soos Saulus op pad na Damaskus toe. Ons kan nie enige opsies uitskakel nie, maar God se voorkeur metode is om met gewillige hoorders deur hulle gedagtes en deur sy woord te praat.

 

 




Die Christelike reaksie

 

Your holiness is not dependent on your happiness – Tim Keller

 

Die Christelike reaksie

Hoe reageer ons as ons hoor dat God wat al hierdie dinge soos pyn en lyding toelaat, onmoontlik nie ‘n goeie God kan wees nie??

  1. Ons erken dat baie dinge op hulle eie gesien nie goed is nie. Hulle is inderdaad tragies. Ons moenie sommer ‘n eenvoudige antwoord vir iemand wat ly gee nie. Ons moet die volle werklikheid van lyding aanvaar en dit nie probeer weg verduidelik nie. Luister na diegene wat ly se storie. God is altyd daar waar lyding is. Diegene wat na Hom vra, sal Hom daar kry. Niks wat jy sê kan die pyn verminder nie; jy kan dit nie weg verduidelik nie. Jy kan sê dat daar iets groter as die pyn is.
  2. God is nie die oorsaak van hierdie dinge nie. God doen nie bose dinge nie. God het ‘n wêreld gemaak waar mense die ruimte het om oor hulle eie optrede te besluit – dit het reeds by Adam en Eva begin. Daar is ‘n vyand wat hierdie vryheid uitbuit. Die boek Job laat ons verstaan dat ons in ‘n stryd gewikkel is. God martel nie mense nie; God stuur nie lyding na sy mense toe nie. Hy laat hulle toe om lyding te ondervind, omdat hulle van Hom af weggedwaal het. Lyding gebeur nie altyd vir hierdie rede nie. Dit gebeur, want daar is ‘n vyand wat wil hê dat jy in God moet twyfel. Midde in al sy swaarkry sê Job: Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir Hom stel (13:15).Wat van belang is, is jou vertroue in God. Ons moenie aan God twyfel nie; ons moet aan Hom vasklou. Dit is nie nodig vir God om my te toets om alles van my te weet nie – Hy weet dit reeds.
  3. Die wêreld met ‘n orde waar in pyn en die bose moontlik is, is goed. Dit gee aan die mens die geleentheid om te ontwikkel in ‘n mens van die hoogste waarde. There are no ordinary people. You have never talked to a mere mortal – S. Lewis
  4. Earth has no sorrow that heaven cannot heal – Thomas Moore. Die stryd is nie verby nie en God gaan wen. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Dink maar aan God se belofte aan Joël na die vreeslike sprinkaanplaag: Dan sal julle besef dat Ek by Israel is, dat Ek die Here julle God is, dat daar buiten My nie ‘n ander is nie! My volk sal nooit weer in die skande kom nie (2:27).

 

Die Christelike geloof glo aan ‘n beeld van God en die wêreld waarin elke ding verlos kan word. Alle mense, selfs die mossies word versorg. Ons kan met oortuiging sê: Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Gelukkig het die gelowige nie net hierdie lewe nie.

 




Karakterontwikkeling

 

Work as hard as you can, make as much as you can, then give as much as you can (John Wesley).

 

Karakterontwikkeling

Daar is groot waarde in ‘n omgewing wat mense van ‘n keuse voorsien – die moontlikheid om ‘n goeie of ‘n slegte karakter te ontwikkel. ‘n Wêreld wat die ontwikkeling van ‘n morele karakter toelaat, is van groot waarde. Dit laat die mens toe om kosbare wesens te word. As daar geen bose in die wêreld was nie, sou daar ook geen goed gewees het nie. Dit is as gevolg van die groot waarde van wat goed in die lewe is, dat ‘n wêreld wat die bose toelaat, meer waardevol is. Ook die verantwoordelikheid vir wat goed is en die pyn wat daarmee gepaard mag gaan, is waardevol.

  • As persoonlikheid en karakter nie waardevol beskou word nie, sou dit verkeerd van God gewees het om lyding en swaarkry toe te laat. Die ontwikkeling van ‘n mens se persoonlikheid is slegs moontlik in ‘n wêreld van ware vryheid. Mense moet kies; mense moet leer; mense moet groei. Om morele volmaaktheid na te streef en nie die verkeerde toe te laat nie, is onmoontlik. As kinders nooit toegelaat word om die verkeerde te doen nie, sal hulle nooit ‘n karakter wat onverskrokke die goeie kies, kon ontwikkel nie. Goeie mense moet leef in ‘n wêreld waar die doen van die verkeerde ‘n opsie is. Jy kan nie mense van karakter ontwikkel sonder om vir hulle ‘n keuse te gee nie, want die vermoë om te kies is deel van ons karakter.

 

  • Die karakter van ‘n individu ontwikkel deur optrede waarin nagedink word oor die gevolge van die optrede en aanpassings gemaak word. Dit word dan oor en oor herhaal totdat dit ‘n gewoonte word. Die mens se persoonlikheid berus op vroeëre geslagte vir sy aanvanklike karakter – sy kulturele en genetiese beginpunt. Daarna ontwikkel hy dit.

 

Karakterontwikkeling sonder dat mense keuses het, is onmoontlik.




Skei pyn van die bose

 

I believe in the discipline of silence – and could talk about it for hours – George Bernard Shaw

 

Skei pyn van die bose

Pyn op sigself is nie boos nie. Ons hou net nie daarvan nie. Omdat ek nie van pyn hou nie, beteken nie dat dit  sleg of verkeerd is nie. Die probleem is dat ons geneig is om dit waarvan ons nie hou nie gelyk te stel met iets wat verkeerd of sleg is nie. Pyn en lyding op sigself is nie sleg nie.

 

Kan pyn dalk ‘n goeie doel dien? Beslis.

  • Die maak die mens se lewe soos ons dit ken moontlik. Plesier en pyn is die positiewe en negatiewe pole waartussen die stroom van die lewe vloei. Maak een van die pole los en daar is geen lewe nie.
  • Dit is slegs in die hitte van pyn en lyding, geestelik en fisies, dat die menslike karakter gevorm word. Ons ontwikkel nie moed sonder om voor gevare te staan nie; ons ontwikkel nie geduld sonder beproewings nie; ons ontwikkel nie volharding sonder lyding nie; ons ontwikkel nie eerlikheid sonder versoekings nie. Dit is juis hierdie dinge waaraan ons waarde in mense heg. Jy kan tog nie sonder hierdie deugde wees nie en ons kan hulle op geen ander manier bekom nie. Ons moderne mense doen alles in ons vermoë om pyn en lyding te vermy. Daarom is hierdie deugde skaars vandag.

 

Ons moenie pyn en lyding gaan soek nie. Ons moet net ‘n eerlike poging aanwend om te bepaal wat goed of sleg, reg of verkeerd  is. En as ons dit gedoen het, gaan ons uit in die lewe. Jy sal nooit jou karakter ontwikkel deur van slegte situasies weg te hardloop nie.