Wat is die voordele van heilige gewoontes?

 

Experience immitates, the gospel enlightens; the gospel interprets, experience confirms – Peter Jensen.

 

Wat is die voordele van heilige gewoontes?

In ‘n vorige blog het ons na gewoontes in die algemeen en na Daniël as iemand wat heilige gewoontes gehad het, gekyk. Heilige gewoontes is dinge soos gebed,, Bybellees en nadenke oor wat gelees is. Hoekom is dit belangrik om hierdie gewoontes aan te leer?

  1. Hulle vorm karakter

Slegte gewoontes lei tot ‘n slegte karakter; goeie gewoontes lei tot ‘n goeie karakter. Saai ‘n optrede en oes ‘n gewoonte; saai ‘n gewoonte en oes ‘n karakter; saai ‘n karakter en oes ‘n lewensbestemming. Soos Daniël sal ‘n mens wat hierdie gewoontes aanleer ‘n heilige karakter ontwikkel. Daniël se optrede was die gevolg van jarelange vorming van sy karakter deur sy gewoontes.

 

  1. Hulle verbeter jou gevoelens

Daniël kon maklik gesê het dat hy nie daardie dag lus was om te bid nie. Dink jy dit is hoe hy gevoel het? Nee, want hy weet dat gebed, Bybellees en nadenke sy gevoelens sou lig en vir hom vreugde bring.

 

  1. Hulle maak dit moeilik om nie te bid of jou Bybel te lees nie

Gewoontes was eers moeilik om te doen, maar mettertyd word dit moeilik om dit nie te doen nie. Ons kan ‘n gewoonte nie sommer verbreek al is daar dinge wat ons wegroep. Daar was baie druk op Daniël om daardie besondere dag nie te bid nie, maar hy kon nie sy gewoonte breek nie. Hoe meer jy ‘n gewoonte doen, hoe makliker word dit.

 

  1. Hulle openbaar Jesus Christus vir die siel

Hoe meer ons hierdie gewoontes beoefen, hoe meer insig kry ons in die Skrif en in die persoon en werk van Jesus Christus.

 

Heilige gewoontes is ‘n seën. Ons moet egter versigtig wees om te verseker dat dit nie meganisties word nie. As ons egter soos Daniël volhard sal ons Jesus Christus al beter en dieper ken.

 

In die volgende blog gaan ons kyk na hoe ‘n mens gewoontes ontwikkel..

 

 




‘n Goeie gewete is ‘n gewete wat bemoedig

 

“In Heaven, to look into God’s eyes will be to see what we’ve always longed to see: the person who made us for His own good pleasure. Seeing God will be like seeing everything else for the first time.” ~ Randy Alcorn

 

‘n Goeie gewete is ‘n gewete wat bemoedig

Hierdie is die derde kenmerk van ‘n gewete wat die wêreld kan verander.

Paulus was ‘n man met baie moed. Ons sien dit duidelik in Handelinge 24. Hy word onregverdig aangekla  van ‘n misdaad wat die doodstraf verdien. Hy word deur een van die beste advokate vervolg; hy word deur ‘n korrupte goewerneur verhoor. Tog huiwer hy nie. Hy praat reguit as hy die hoofaanklagte teen hom ontken. Dan gaan hy voort om sy aanklaers van ernstige ongeregtigheid te beskuldig in die hantering van sy saak.

 

Sy verdediging het ‘n groter doel gehad as net sy eie vrylating. Hy het die aanklagte teen hom ontken. So bou hy ‘n brughoof om Feliks se siel vir die Here te wen. Sy skoon gewete gee aan hom die moed om homself te verdedig en om die gewete van Feliks met die evangelie aan te val. Sy skoon gewete gee aan hom vertroue voor God en mense.

 

Skuldige gewetens verander mense in lafaards. Dit maak Christene stil. Hulle is bang vir mense, meerderheidstemme, moontlike gevolge, ens. Cowardice asks the question, ‘Is it safe?” Expediency asks the question, ‘Is it politic?’ Vanity asks the question, ‘Is it popular?’. But, conscience asks the question, ‘Is it right?’ (Marin Luther King). Soms moet ons ‘n besluit neem wat nie veilig of polities korrek of gewild is nie. Ons moet daardie besluit neem, want ons gewete sê vir ons dat dit reg is.

 

As ons nie vertroue voor God het nie, sal ons dit nie voor mense hê nie. As ons ‘n skoon gewete voor God behou, kan ons voor mense staan, nie net om onsself te verdedig nie, maar om ook vir Christus te getuig. Ons moet altyd dat die gerusstellende stem van ons gewete ons aanmoedig om voort te gaan al hoor ons ook ontmoedigende stemme van ons kritici.

 

 




Wat is gewoontes?

 

Silence will save me from being wrong (and foolish), but it will also deprive me of the possibility of being right. –Igor Stravinsky, Komponis (17 Junie 1882-1971)

 

Wat is gewoontes?

‘n Gewoonte is ‘n gedrag wat deur gereelde herhaling ‘n feitlik onwillekeurige en instinktiewe deel van ons lewe word. Almal van ons het gewoontes. Party is sleg – om te vloek, pornografie te kyk, ens. Party is goed/voordelig – soos gebed en Bybellees. Party is nog goed nog sleg. Hierdie gedrag is onwillekeurig. Dit beteken ons hoef nie daaraan te dink nie; dit word deur ons onderbewussyn beheer.

 

Ons hoor soms mense praat van heilige gewoontes. Anders gestel: watter gewoontes maak ons heilig? Wat is dit? Hier dink ons aan persoonlike gebed, Bybellees en nadenke oor wat ons gelees het. Ons moet tyd en plek maak vir hierdie aktiwiteite in ons lewe, sodat dit later instinktief word. Natuurlik moet ons gebed en Bybellees en nadenke nie instinktief wees nie, maar wel dat ek elke oggend om sewe uur dit doen.

 

Iemand wat heilige gewoontes gehad het, was Daniël. Koning Darius vaardig ‘n dekreet uit dat niemand vir dertig dae ‘n ander god as die koning mag aanbid nie. Dan lees ons: Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank (6:11). Daniël se gebede was nie meganisties nie.

 

Daniël is vir ons ‘n goeie voorbeeld van wat heilige gewoontes is. Volgende keer gaan ons na die voordele van heilige gewoontes kyk.

 




‘n Goeie gewete is ‘n geoefende gewete

 

“When I cannot understand my Father’s leading, And it seems to be but hard and cruel fate, Still I hear that gentle whisper ever pleading, God is working, God is faithful — only wait.” ~ A.B. Simpson

 

‘n Goeie gewete is ‘n geoefende gewete

Hierdie is die tweede kenmerk van ‘n gewete wat die wêreld kan verander.

Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê (Handelinge 24:16 – OAV). Paulus is gedurig besig om sy gewete tot aksie aan te spoor – hy laat dit dink en werk; hy daag sy gewete uit; hy oefen sy gewete; hy roep sy gewete op tot aksie.

 

Volgens Paulus is die gewete soos ‘n spier – dit moet gedurig geoefen word anders gaan dit agteruit. Let daarop dat hy altyd sy gewete oefen. Hy laat nie toe dat sy gewete lui word nie. Hy vra gedurig vrae aan sy gewete: “Is dit reg of verkeerd, waar of vals, goed of sleg?”

 

Maar Paulus het ook sy gewete vir ‘n doel geoefen. Dit was nie vir hom net ‘n filosofiese tydverdryf nie. ‘n Interne debat was nie vir hom genoeg nie – die regte optrede moet volg. Vir hom is ‘n skoon gewete soos ‘n hardloper wat vinnig beweeg oor ‘n gelyk pad sonder hindernisse en pyn. As die gewete verwerp word, is dit soos om op skerp klippe te hardloop. God laat ons pyn in ons gewetens voel as ons sondig sodat ons moet stop en nie verder kan gaan nie.

 

Nou het ons twee opsies: ons kan die pyn ignoreer en voortgaan. Die gevolg: Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is (1 Timoteus 4:2) – ons gewetens word toegeskroei. Mettertyd voel ons nie meer die pyn nie. Ons kan al hoe verder in sonde gaan. The person that loses their conscience has nothing left worth keeping (Izaak Walton).

 

Die twee opsie is dat ons ons bloeiende, pynlike wonde na Christus se wonde neem. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien (Hebreërs 9:14); Laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water (Hebreërs 10:22). Sy bloed kan ons gewetens gesond maak. Die eindresultaat is ‘n gewete wat selfs meer sensitief is. Oefen ons ons gewetes gereeld?