Dink aan jou Skepper in jou jeug

Are you a champion of Christ on Twitter, but not in your neighborhood? —Michael Oh

 

Dink aan jou Skepper in jou jeug

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voordat die swaar dae kom (Prediker 12:1)

Die wêreld sê: die jeug vir plesier; die middeljare vir besigheid; die ouderdom vir godsdiens. Dit is so dat ons veral in ons jong dae geneig is om ons Skepper te vergeet. Jongmense moet werk daaraan om Hom te onthou – om te onthou dat Hy ons gemaak het, dat Hy vir ons voorsien, dat Hy ons versorg, dat Hy ons beskerm, dat Hy ons verlos …

 

Hoekom moet ons begin in ons jong dae?

  1. Dit is jare waar jy baie energie het

Hoekom moet ons wag tot ons afgeleef is voordat ons ons Skepper begin dien? God wat ons gemaak het, verdien ons aktiefste en gesondste jare – terwyl ons nog sterk is, ons verstand nog skerp is en ons nog baie entoesiasme het.

 

  1. Dit is die jare waar jy baie sensitief is

Hoe ouer ons word, hoe harder word ons harte. Ons gewetes is dikwels al toegeskroei en die sonde het al diep wortels in ons lewe. Ons moet ons jeugdige sensitiwiteit en ontvanklikheid gebruik om aan ons Skepper te dink.

 

  1. Dit is die jare waar jy makliker leer

Ons leer meer as ons jonk is as in enige ander tydperk van ons lewe.

 

  1. Dit is gevaarlike jare

Ons jong dae is ‘n mynveld. Oral is gevare – ook binne in ons. Daar is baie versoekings vir jongmense. In ons jong dae het ons ons Skepper nodig om ons deur hierdie mynveld te dra.

 

Ons sien daar is goeie redes om aan ons Skepper in ons jong dae te dink.

 




Ek is moedeloos

 

We have met the enemy, and it is us – Walt Kelly

 

Ek is moedeloos

In 2 Korintiërs 4 skrywe Paulus oor moed verloor. Hy begin deur te sê dat God Hom oor hom ontferm het en hierdie bediening aan ons opgedra het. Daarom word ons nie moedeloos nie. In vers 16 lees ons weer: Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Baie mense word moedeloos te midde van uitdagings en teenstand. Paulus het seker soms moed verloor met die gemeente in Korinte – hy het maar ‘n moeilike verhouding met hulle gehad.

 

Hoekom het Paulus nie moedeloos geword nie? In Hoofstuk 4 praat Paulus oor drie werklikhede vir Christene wat moedeloos word.

  1. Die roeping na die Christelike bediening

Ons sal gou moedeloos word as ons nie meer ons roeping onthou nie. Dit het Paulus versterk en beskerm hom van ‘n bediening sonder vreugde. In vers 1 verwys hy na hierdie bediening. Dan beskryf hy die aard van hierdie bediening:

  • Ons maak die waarheid openlik bekend.
  • Hy verwys in vers 3 na ons evangelie.
  • Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus.
  • Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here.

Paulus se bediening was om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Dit was sy roeping na hierdie bediening wat Paulus laat volhard het – wat gekeer het dat hy nie moedeloos word nie. Dit het Paulus staande gehou ten spyte van teenstand.

 

Paulus se roeping was sekerlik uniek, maar ook ons is geroep na een of ander bediening. Ook ons moet die waarheid van die evangelie verkondig deur mense wat deur hierdie wëreld verblind is. Omdat ons geroep is om die evangelie te verkondig, moet ons dit met integriteit doen: Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Ons is nie innoveerders van die woord nie, maar verkondigers. Ons is verkondigers van ‘n spesifieke boodskap – Jesus Christus as die Here. Ons roeping is suiwer uit genade – God het Hom oor ons ontferm.

 

  1. Die konteks van Christelike bediening

Paulus het geen illusies gehad oor wat sy bediening behels het nie. Paulus het geweet dat hy nie net geroep was om te verkondig nie, maar ook om te ly en te dien. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek (4:7). In vers 8 en 9 noem hy sommige van die werklikhede van bediening in ‘n gevalle wêreld: verdrukking, teneergedruktheid, radeloos, neergegooi, vernietig. Paulus het elkeen van hulle in sy lewe ondervind. Ook ons bediening sal lyding, teenstand, vervolging en beproewings insluit, want ons werk in dieselfde gevalle wêreld.

 

Hierdie dinge gebeur nie sommer toevallig met ons nie. Die krag wat alles oortref kom dus van God, nie van ons nie. Ons sien sy krag veral te midde van ons swakhede. Lees weer verse 8 en 9. Hier lees ons van harde werklikhede, maar elke keer lees ons ook maar nie. Paulus erken die werklikhede van die lewe, maar hy vestig veral ons aandag op God se genade. Dit versterk ons as ons neig om moedeloos te word.

 

  1. Die hoop van Christelike bediening

Paulus word nie moedeloos nie, want hy behou ‘n ewigheidsperspektief. Hy besef dat al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Daarom kan hy sê: Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. As ons die aard en omvang van Paulus se lyding onthou, skok hierdie vergelyking vir ons. Hy kon dit net doen, want hy was besig om dit met sy toekomstige heerlikheid te vergelyk.

 

Om hierdie perspektief van Paulus te ontwikkel, moet ons op die regte plek kyk. Waar kyk Paulus? Na die heerlikhede van die onsigbare toekoms verwerf deur Christus se dood aan die kruis. Dit vereis geloof om verder as ons huidige swaarkry te kyk. As ons na hierdie toekomstige heerlikheid kyk, verander dit ons perspektief van die huidige.

 




Leer en lewe

 

Hope without a time of fulfillment is a delusion – Graeme Goldsworthy

 

Leer en lewe

Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister (1 Timoteus 4:16). Let daarop dat Paulus  die lewe en die leer beklemtoon, want ons kan op beide gebiede oortree.

  • Let goed op jou leer

Die ware evangelie  lei tot geloof. Dan moet die vals evangelie tot ‘n ramp lei. Daar is sekere waarhede wat dikwels vermy word, want mense val hulle dikwels aan. Wat is hierdie waarhede wat vermy word?

  • Leer dat God se oordeel sal kom. Baie mense vermy hierdie onderwerp, want hulle is bang dit skrik mense af. As ons niks van God se oordeel sê nie, kan mense hulle eie begeertes volg.
  • Leer dat God elkeen van ons gaan oordeel. Mense moet hulle eie hulpeloosheid besef. God oordeel nie net “mense daarbuite” nie. As ons dit verstaan, verdiep ons verstaan van God se genade en barmhartigheid.
  • Leer dat hoop alleen in Jesus Christus te vinde is. Dit gaan nie oor wat ons doen nie, maar oor wat Jesus Christus reeds vir ons gedoen het. Mense moet besef dat hulle ‘n Verlosser nodig het.
  • Leer dat Christene nie die volheid van verlossing reeds in hierdie lewe sal geniet nie. Om te leer dat die voordele om Jesus te volg tot hierdie lewe beperk is, is verkeerd.
  • Leer hoe maklik dit is om onsself oor ons verhouding met God te mislei. Almal wat sê dat hulle Christene is, is nie Christene nie. selfs mense wat geestelik dood is, kan opgewonde raak oor sekere programme in die kerk. Daarom: Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe (2 Korintiërs 13:5).

Het ons hierdie dinge geleer in ons gemeente?

 

  • Let op jou lewe

‘n Verkeerde lewe is net so vernietigend soos verkeerde leer. Hierdie vrugtelose, daadlose geloof is nie ware geloof nie. Dit is dood en kan ons nie red nie. Mense kyk na ons. In die vroeë kerk was daar drie algemene foute wat steeds teenwoordig is. Kom ons kyk na hulle:

  • ‘n Kerk sonder heiligheid is ‘n fout. Christus het gesê dat ons heilig moet wees soos Hy heilig is. Maar dan mag ons nie onderrig oor sonde vermy nie. In baie gemeentes is daar geen aanspreeklikheid tussen lidmate nie, want die gemeente laat plek vir ons huidige kultuur se klem op individualisme. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie (1 Johannes 1:6). Hy gaan verder: Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ‘n leuenaar, en die waarheid is nie in Hom nie (1 Johannes 2:4). Die geloofsgemeenskap moet God se karakter weerspieël.
  • Die is ‘n fout om ‘n kerk sonder lyding te verkondig. Dan mislei ons mense oor waarvan God ons verlos het. Hy red ons van morele bankrotskap en die dood. Lyding is ‘n prominente tema in Petrus se eerste brief. As jy baie vals bekeerlinge wil hê, vertel vir hulle dat God ‘n gratis gawe sonder enige opoffering gee.
  • Dit is ‘n fout om ‘n kerk sonder liefde te verkondig. As liefde nie die gemeete kenmerk nie, sal dit nie ware Christene lok nie. Ons praat van liefde wat vir jou ongemaklik is. Oppas vir geestelike waarhede verkondig uit dooie harte.

 

 

 




God sal rus aan sy mense gee (Sefanja 3:13)

 

Jesus Christ comes to tell men that they have no enemies but themselves – Blaise Pascal

 

God sal rus aan sy mense gee (Sefanja 3:13)

Hulle sal die kudde wees wat wei en gaan lê en rus sonder dat iemand hulle skrikmaak. God gee hulle rus ten spyte van ‘’n kultuur vol spanning. Hoe kom, sal hulle rus kry? Dit is nie net die gevolg van die verwydering van die chaos nie, maar van die verwydering van sonde uit ons lewens. Geen mense wat onreg doen nie; geen mense wat lieg nie; geen valsheid uit hulle monde nie.

 

So baie van ons spanning is die gevolg van sonde. Soos die sonde uit ons lewens uitgewis word, kan ons in die vrede van God rus. God se teenwoordigheid, sy geregtigheid, sy heiligheid bring vrede. Jesus Christus se wonde is die toegang tot ons vrede. In die evangelie word ons sonde aan Christus oorgedra en sy geregtigheid aan ons. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21). Dit is hierdie merkwaardige oordrag wat ons in staat stel om te rus.

 

Ons kan ook sonder vrees rus. Dit verwys weer na die uitwissing van sonde en die herstel van alle dinge. Dit is wat die psalmis in Psalm 23 sê.