Kan ons maar kla?

 

The person who loves their dream of community will destroy community, but the person who loves those around them will create community.” Dietrich Bonhoeffer

 

Kan ons maar kla?

Kla is nie noodwendig verkeerd nie. Daar is ‘n gelowige en ‘n ongelowige manier om te kla. Die Bybel verwys dikwels na ongelowige kla as mor of murmureer, en waarsku dat dit iets is wat vermy moet word. Hierdie soort kla impliseer dat God nie goed of getrou of liefdevol of wys genoeg is nie. As Hy was, sou Hy ons beter hanteer het. Ongelowige kla is sonde, want dit sê dat God verkeerd is.

 

Gelowige kla, daarenteen, is ‘n eerlike uitdrukking van hoe dit voel om moeilikheid of angs of hartseer te ervaar. God moedig hierdie soort van kla aan. ‘n Goeie voorbeeld is Psalm 142:2 – 3: Ek roep na die Here om hulp, ek smeek die Here om genade, ek stort my klag voor Hom uit en vertel Hom van my nood.

 

Baie van hierdie soort klagtes kry ons in die klaagpsalms. In hierdie psalms stort die skrywers hulle angs, vrees, verlange, verwarring, teleurstelling ens teenoor God uit. Hierdie psalms gee uitdrukking aan die Here se barmhartigheid en ontferming (Jakobus 5:11). God wil hê dat ons ons klagtes aan Hom moet voorlê. Hy wil hê dat ons Hom presies moet vertel hoe ons voel. Maar Hy wil ook hê dat ons nie sy beloftes moet vergeet nie – eendag sal hierdie probleme ons nie meer teister nie. Dan sal ons soos die psalmis sê: Die regverdiges sal dankbaar om my kom staan wanneer U aan my goed doen (142:8).

 

Die psalms leer ons om op so ‘n manier te kla dat dit God eer. Hulle vertel ons egter ook van God se barmhartigheid teenoor ons. Ons sien dat ons nie so alleen is soos ons voel nie en dat God verstaan. Dit herinner ons ook aan die waarheid van Jesus se stelling: In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin (Johannes 16:33).

 

Kla teenoor God, maar moenie murmureer nie. Leer uit die psalms oor hoe om te kla.

 




‘n Heilige lewe (1)

 

There are no ordinary people. You have never talked to a mere mortal –  C. S. Lewis

 

‘n Heilige lewe (1)

Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie (Hebreërs 12:14)

‘n Heilige lewe is nie ‘n opsie nie – ons moet ons daarvoor beywer. Ons moet ons vir persoonlike heiligheid beywer, want daarsonder sal ons nie die Here sien nie. As jy die Here wil sien – in hierdie of in die ewige lewe – moet jy heilig leef. Word jou lewe gekenmerk deur ‘n strewe na heiligheid? Ons dink dikwels aan alles waarvan God ons verlos het. Is dit nie tyd om ook te dink aan waarvoor God ons verlos het nie?

 

Daar is baie Christene wat graag wil groei in heiligheid. Wat kan ons vir hulle sê om hulle op hierdie reis te help?

 

1 Korintiërs 15 is baie bekend, want daarin gee Paulus vir ons ‘n kort, kragtige opsomming van die evangelie. Soos hy dit verduidelik eindig sy opsomming in die opstanding van Jesus Christus. In vers 5 gee hy vir ons ‘n lys van almal wat Hom na sy opstanding gesien het. In vers 8 sê hy dat die opgestane Christus ook aan hom verskyn het. Paulus sien homself as die laaste (Christus het aan hom na al die ander verskyn) en die minste (hy het voorheen die kerk vervolg). Maar deur die genade van God is ek wat ek is (Vers 10). Alles wat hy is en doen is deur die genade van God.

 

Ons moenie genade teenoor persoonlike inspanning stel nie. In vers 10 sê Paulus nog twee dinge wat  alle Christene ter harte moet neem.

  • Ek het harder gewerk as hulle almal. Wat ek gedoen het, was die gevolg van harde werk. Maar onmiddellik voeg hy by:
  • Eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.

Ons werk is nie net ‘n reaksie op God se genade nie, maar ook die gevolg van God se genade.

 

Ons gaan volgende keer verder na ‘n heilige lewe kyk.

 

 

 




Globale sending

 

“[Your] zeal for heavenly life [is] a zeal which keeps a man entirely devoted to himself, and does not, even by one expression, arouse him to sanctify the name of God.” –  Calvyn

 

Globale sending

Ons hoor dikwels van die twee biljoen mense op aarde wat nog nie deur die evangelie bereik is nie. Daar word dus baie oor globale sending gepraat. Daar is ‘n paar onderliggende uitgangspunte waaraan ons eers aandag moet gee.

 

  1. Plaaslike bediening en sending is absoluut noodsaaklik in die lewe van die kerk.

Ons mag nie plaaslike bediening verwaarloos vir globale sending nie. Daar is mense in ons kerke wat seerkry. Daarom is plaaslike sending in ons gemeenskap ook belangrik. In elke gemeenskap is daar duisende mense wat Christus nie ken nie en hulle moet van Hom hoor. Ons moet dissipels maak daar waar ons woon en werk.

 

  1. Globale sending word verwaarloos.

Ongeveer 2 biljoen mense in die wêreld word as “onbereik” geklassifiseer. Hierdie mense het geen toegang tot die evangelie nie – geen kerk of Christen of Bybel beskikbaar nie. Jy word gebore, jy leef en jy sterf sonder om ooit die evangelie te hoor.

 

  1. Kerkleiers het die voorreg en verantwoordelikheid om voor te loop in globale sending

Sendingrade moet doen wat hulle doen, maar dit is die verantwoordelikheid van kerkleiers om die druk van die nasies te voel en die vlam vir God se globale heerlikheid in elke plaaslike gemeente aan te blaas

 

Ons moet die mense in ons plaaslike gemeente en plaaslike gemeenskap liefhê – plaaslike bediening en plaaslike sending. Die doel is dat alle mense een dag die evangelie sal ontvang en God in heerlikheid sal aanbid. Wat dryf dit in die hart van ‘n gemeente? Absolute vertroue in die soewereiniteit van God.

 




Vier teologiese waarhede uit Openbaring 5

 

At least five times the Faith has to all appearances gone to the dogs. In each of these five cases, it was the dog that died – G. K. Chesterton

 

Vier teologiese waarhede uit Openbaring 5

In hierdie gedeelte kry ons vier waarhede. Kom ons kyk na die vier waarhede:

  • Ons soewereine God hou die bestemming van die wêreld in die palm van sy hand

In vers 1 lees ons dat God in sy regterhand ‘n boekrol vashou. Hierdie boekrol, soos ons later sal hoor, bevat God se voorafbepaalde planne vir die toekoms. Dit bevat spesifiek die verloop van die geskiedenis tot by die einde van die wêreld en die voltrekking van God se koninkryk. Dit sluit in God se soewereine wil vir die hele skepping. Dit alles is in God se hand. God is soewerein oor die natuur, maar ook oor nasies; Hy hou die heersers van die wêreld in die palm van sy hand. Hy skep en onderhou alle dinge – ook die mens. Hy het die reg om sondaars te verlos en te verdoem. God betrek ons by sy sending, nie omdat Hy ons nodig het nie, maar omdat Hy ons liefhet.

 

  • Die toestand van die mens is hopeloos

Hier lees ons van die engel wat hardop uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek? Hierdie boek bevat God se verlossingsplan: die uitwissing van die bose, die oorwinning oor die dood en die finale verwydering van sonde. Dit sluit ook die koms van die koninkryk van God in. Nou die probleem: Niemand is in staat om die boek oop te maak nie. Wie kan al hierdie dinge teweeg bring? Johannes huil, want daar is niemand wat dit kan doen nie. Sonder Christus het die mens geen hoop nie.

 

  • Die beste nuus is dat die Lam heers as die soewereine Here oor alles

Maar dan sê een van die ouderlinge: Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak. Ons sien dus dat Christus oorwin het. Hoe het Hy die sonde en dood oorwin? Johannes kyk rond en sien voor die troon ‘n Lam – die Een wat geslag was. Hoe oorwin die Leeu? Deur as Lam te ly. Hy het die dood in my plek verduur en die dood in my plek oorwin. Hy het uit die graf met al die mag en gesag in hemel en op aarde opgestaan. Sy sewe horings is ‘n teken van sy mag en sy sewe oë ‘n teken van sy alsiendheid. Jesus neem die boek by God.

 

  • Die versoening van Christus is genadig en globaal

Nou sing die die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge ‘n nuwe lied oor hierdie wonderlike versoening. Christus het met u bloed mense vir God losgekoop uit elke stam en taal en volk en nasie. God het sy Seun gestuur om jou vir Hom los te koop – en ook uit uit elke stam en taal en volk en nasie. Daarom het Jesus ons uitgestuur om dissipels van al die nasies te maak.