Vertrou ek die evangelie?

 

It is from God that parents receive their children, and it is to God that they in turn ought to lead them (Dietrich Bonhoeffer)

 

Vertrou ek die evangelie?

Ek skaan my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo (Romeine 1:16)

Wat is die grootste hindernis vir die verspreiding van die evangelie? Daar is ‘n hele reeks antwoorde wat ons kan gee. Is ‘n belangrike oorsaak nie dalk Christene se gebrek aan vertroue in die evangelie nie? Kan mense sien dat ek vertroue in die evangelie het? Vertrou ons dat die evangelie mense se lewens kan verander? Is daar nie mense waar jy dink dat die evangelie alleen nie genoeg is om mense te verander nie – ek het nog iets nodig? Kom ons kyk na 1 Timoteus 1:12 – 17 om ons te help.

 

  1. Die groot verandering in een terroris se lewe

In vers 11 verwys Paulus na die evangelie van die heerlikheid van die goeie God. Hy sê dat hierdie evangelie aan hom toevertrou is en dat hierdie evangelie hom beïnvloed het. Hy onthou die persoon wat hy was. In vers 12 – 14 gee Paulus vir ons ‘n dramatiese voor en na prentjie van sy lewe. Voor sy bekering het hy Christus Jesus  belaster, vervolg en beledig. Hy het ‘n slegte verlede gehad. Hy was teenwoordig toe die skare vir Stefanus gestenig het. Hy was ‘n ywerige vervolger van die kerk. Later besef hy dat God genadig was omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. Wat het hom die krag gegee om te verander? Hy (Christus Jesus) het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel. In vers 14 sê hy: Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

 

  1. Die groot oorsaak vir Paulus se verandering

Die antwoord is die evangelie. Hy word ‘n apostel as gevolg van die goeie nuus. Die evangelie het aan sy grootste behoeftes voorsien. Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde. Hy kry baie meer as wat hy verdien het. Paulus sê dat die evangelie  ‘n betroubare woord is wat sonder voorbehoud aanvaar kan word. Ons kan die evangelie vertrou, want dit het in al Paulus se behoeftes voorsien. Maar wat is hierdie betroubare woord? Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Paulus sê ook dat die evangelie die grootste sondaars – van hulle is ek die grootste – kan verlos. Hierdie geld nie net vir Paulus nie – dit was net ‘n voorbeeld om ander te bemoedig om te glo. Verkondig ons die evangelie met soveel vertroue?

 

Hoe sal vertroue in die evangelie lyk?

  • Ons sal tyd met die grootste sondaars spandeer op soek na evangelie-geleenthede.
  • Ons sal die evangelie stadig en duidelik met ander deel – ons moet dit net loslaat.
  • Ons moet vrees dat ons dalk ontrou sal wees. Getrouheid lê in ons hande; vrugbaarheid lê in God se hande.
  • Ons sal by elke moontlike geleentheid die evangelie verkondig.
  • Ons sal versigtig wees met nuwe bekeerlinge en met ons metodes vir evangelisasie. Nie almal kom so dramaties soos Paulus tot bekering nie. Ons vertroue moet nie in ons metodes wees nie, maar in die evangelie.
  • Ons sal die evangelie in diepte bestudeer.
  • Ons verkondig die evangelie om oë oop te maak en nie om inligting oor te dra nie.
  • Ek sal gereeld vra: Is my vertroue in myself of in die krag van die evangelie?

 

  1. Die groot feesviering

Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. Paulus skryf hierdie vers as iemand wat onthou wat God hom in Christus gemaak het. Hy kan maar net juig. As ons sien hoe die Goeie Nuus in die lewens van mense werk, moet ons bly wees en feesvier.

 

Mag ons groot veranderinge in mense sien deur die evangelie.

 

 

 

 




Kan oordeel vermy word?

 

Autonomous reason …, reason as the final court of appeal, is the real core of sin, the secret heart of the contradiction in the nature of man.  — Emil Brunner

 

Kan oordeel vermy word?

In Sefanja 1 lees ons van die dag van die Here – die dag van oordeel – wat naby is. In Sefanja 2:3 lees ons egter: Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here. Hoe kan dit gebeur? Vra na die wil van die Here. Ons moet dit in nederigheid en gehoorsaamheid doen en na geregtigheid streef.

  • Soek die Here in nederigheid

Voor hulle bekering moet die volk eers nederig wees. Dit is ‘n sleutelelement in ons wandel met God. Sefanja sê nie net dat hulle nederig moet wees nie, maar dat hulle na nederigheid moet streef. Die volk was soos alle mense – hulle draai na hulleself. Ons natuurlike neiging is altyd van nederigheid na trots. Trots is die moeder van alle sonde. Die volk moet doodgaan aan hulleself en op God vertrou.

 

  • Soek die Here in gehoorsaamheid

Ons moenie net sonde erken en bely nie, ons moet ons gedrag verander. Hulle moet doen wat die Here wil. Maak nie saak hoe opreg hulle bedoelings is nie, as dit nie deur optrede gevolg word nie, is dit waardeloos. Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme (1 Samuel 15:22). Ons leef in ‘n tyd waar belydenis algemeen is, maar ‘n verandering in gedrag volg baie selde op ons belydenis.

 

  • Soek die Here in geregtigheid.

God is regverdig. As God regverdigheid soek, soek Hy wat reg is. Sefanja sê dat God se mense na geregtigheid moet streef – hulle moet meer en meer soos Christus word. Streef impliseer ‘n honger en ‘n najaag – iets wat nie dikwels met ons geestelike toestand geassosieer word nie. Ons is te apaties.

 

Hierdie vers herinner ons daaraan dat God goed is al is die tye moeilik. Oordeel kom, maar ook genade.

 

 




Josua, die nuwe leier

 

Commercial television is for profits not prophets – Os Guinness

 

Josua, die nuwe leier

In Josua 1:6 – 9 kry ons seker die grootste motiveringspraatjie in die Bybel. Moses het pas gesterf en nou word sy opvolger geroep om Israel in die beloofde land in te lei. Hierdie was ‘n militêre optrede wat duidelik risiko’s sou inhou. Daar was ‘n sterk vyandige weermag wat Josua sou ontstel het. Daarom bemoedig God hom.

 

Wat sou gebeur het as Josua hierdie opdrag geïgnoreer het? Waarskynlik sou Israel lewenslank in die woestyn rondgeswerf het. Maar Josu was ‘n man van geloof en moed. Hy aanvaar God se opdrag

 

Soos Josua kom ons ook elke dag voor probleme, wat ons geloof tot breekpunt beproef, te staan. Dit is juis dan wanneer God ons geloof slyp. As ons weier om Hom in moeilike omstandighede te volg, kan die gevolge vir ons geestelike groei rampspoedig wees. Wat is hierdie gevolge?

  • Jy sal nooit die persoon word wat God wil hê jy moet wees, word nie.
  • Jy beperk jou bruikbaarheid vir God.
  • Jy lewe ‘n lewe van ongehoorsaamheid.
  • Jy word deur vrees eerder as geloof beheer.
  • Jy kan jou beloning in die hemel en jou seëninge op aarde verloor.

 

Weier jy op een of ander manier God se roeping? God is betroubaar. Wat ook al sy aksieplan vir jou is, kan jy verseker weet dat Hy jou veilig daardeur sal lei.

 




‘n Tragedie het my getref

 

It is from God that parents receive their children, and it is to God that they in turn ought to lead them (Dietrich Bonhoeffer)

 

 ‘n Tragedie het my getref

Jy kan te enige oomblik tragiese nuus wat jou hele wêreld omkeer, ontvang. Dan is ons gedagtes vol vrae en emosies. Ons vra: Waaom het God dit toegelaat? Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense? Hoekom is daar so baie pyn in die wêreld? Daar is geen eenvoudige woorde wat ons kan sê wat die pyn wat mense voel, sal laat verdwyn nie. Daar is egter drie beloftes van God wat hoop en sterkte kan gee.

  1. Jy sal nie hier oor kom nie, maar hier deur kom.

Jy sal nooit oor die verlies van ‘n geliefde of kind kom nie. Daar is ‘n litteken wat jy sal dra tot in die ewigheid. Maar intussen sal God jou hierdeur dra en jou krag gee om te volhard deur die pyn. Die Bybel sê nêrens dat ons dit moet uitsorteer nie. Die Btybel sê wel dat ons moet glo, want God het reeds alles uitgesorteer.

 

  1. God is nie ver van jou pyn nie

Een van die verse in die Bybel wat ons vertrros, is: en Jesus het gehuil. God is nie ‘n gevoellose God wat net oordeel nie; Hy staan nie los van ons pyn nie. Hy is ‘n liefdevolle Vader en Vriend wat saam met ons loop – ons selfs dra as dinge baie moeilik vir ons is. Hy het belowe om ons nooit te verlaat nie. God se tydsbereking is selde dieselfde as ons tydsberekening, maar sy tydsberekening is altyd volmaak. Vertrou Hom.

 

  1. God kan iets goeds uit die tragedie laat kom

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Ons sien nie altyd hoe Hy die stukkende stukke neem en iets mooi daarvan maak nie. Ons kan wel vrede hê: op sy tyd sal Hy alles reg maak. Miskien gaan Hy jou nader aan Hom bring.

 

In ‘n tragedie moet jy nie hoop verloor nie. God is met jou; God is vir jou; God sal jou nooit alleen laat nie. Jy mag nou voel of jy alleen is, maar die arms wat die heelal gemaak het, omhels jou. Hy sal jou deur alles dra.