Moses maak ‘n keuse

 

No one has ever become poor by giving. -Anne Frank

 

Moses maak ‘n keuse

Toe Moses al ‘n volwasse man was, het hy op ‘n keer na sy eie mense toe gegaan en gesien dat hulle dwangarbeid verrig. Hy sien toe hoe een van sy eie mense, ‘n Hebreër, deur ‘n Egiptenaar geslaan word. Nadat Moses rondgekyk het en niemand gewaar het nie, het hy die Egipenaar doodgeslaan en hom onder die sand toegekrap (Eksodus 2:11 – 12).

Moses was ‘n prins in die paleis van die farao, maar diep in sy hart was hy steeds ‘n Israeliet. Hy glo in die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy sien hoe sy mense as slawe deur die Egiptenare mishandel word. Hy was in ‘n bevoorregte posidie, en kon dit geïgnoreer het.

 

Maar Moses se hart gaan uit na sy mense; Hy wil iets vir hulle doen. Wat hy gedoen het was die verkeerde ding. Maar sy hart was reg. Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê (Hebreërs 11:24 – 25).

 

God se slegste is steeds beter as die wêreld se beste. Wat is die moeilikste ding van Christen wees? Vervolging? Wat is die beste wat die wêreld ons kan bied? Sukses of roem of plesier? Dit is steeds slegter as wat die Christelike lewe vir ons kan bied.

 

Daar is kortstondige genieting in sonde – opwinding. Maar daar is gevolge. Moses besluit om die moeilike pad te loop eerder as om die beste wat Egipte vir hom kon aanbied te aanvaar.

 

 

 




Die verhaal van die donkie

 

“When I give food to the poor, they call me a saint. When I ask why the poor have no food, they call me a communist.” Dom Helder Camara, Katolieke aartsbiskop van Olinda en Recife, Brasilië

 

Die verhaal van die donkie

Die donkie word wakker. Hy dink terug aan die opwindendste dag in sy lewe. Nooit tevore het hy so trots gevoel nie. Hy loop dorp toe en kry ‘n groepie mense by die put. “Ek sal myself aan hulle wys,” dink hy. Maar hulle sien hom nie raak nie. Hulle gaan maar voort om water te skep en gee geen aandag aan hom nie.

 

“Gooi julle klere neer,” sê hy. “Weet julle nie wie ek is nie?” Hulle kyk na hom in verbasing. Iemand slaan hom op sy boud en sê hy moet aanbeweeg. “Treurige heidene!” sê hy vir homself. “Ek sal na die markplein toe gaan waar al die goeie mense is. Hulle sal my onthou.”

 

Hy stap na die markplein. “Die palmtakke! Waar is die palmtakke?´skreeu hy. “Gister het julle palmtakke voor my gegooi.” Daar gebeur dieselfde ding. Niemand gee enige aandag aan hom nie.

 

Seergemaak en verward gaan hy huis toe – na sy ma. Sy sê vir hom: “Dom kind. Besef jy nie dat sonder Hom jy net ‘n gewone donkie is nie?”

[Hierdie is ‘n storie Palm Monday van Rice.]

 




Ek praat met ateïste

 

It cannot be that there is a high appreciation of Jesus and a silent tongue about him (Spurgeon).

 

Ek praat met ateïste

Baie ateïste het sterk menings oor godsdiens, God en die mense wat Hom volg. Daarom is dit baie belangrik dat ons as Christene as ons die geleentheid kry om met hulle oor God te praat, foute moet vermy. Maar watter foute maak ons as ons met ateïste oor God praat?

  1. Ons oordeel baie vinnig hulle leefstyl en praat oor sonde

Natuurlik wil God nie hê dat ons moet sondig nie. As ons na Jesus se woorde luister sien ons dat Hy ten gunste daarvan is om eerder oor God se liefde vir mense te praat as oor hulle sonde. Daarom moet praat oor sonde en hulle lewenskeuses nie voorop in ons gesprek staan nie. Hoe kan ons hulle aanspreeklik teenoor God hou as hulle nie in Hom glo nie. Ons kan nie en ons moenie.

 

  1. Ons minimaliseer ‘n seer in hulle harte wat hulle verwag het dat God sal regmaak

Meeste ateïste het ‘n hoë muur tussen hulle en God gebou. Miskien was dit omdat hulle verwag het dat God ‘n geliefde van hulle sou help, maar Hy het nie.  Miskien omdat hulle gevoel het dat hulle nooit iets van God gehoor het nie. Miskien is dit ‘n Christen wat hulle teleurgestel het.

 

Ons moet aan hierdie sake aandag gee. Ons hoef nie die sake reg te maak nie, maar dit is belangrik dat ons daarna luister en dit nie sommer as iets kleinlik verwerp nie. Ons moenie God se motiewe probeer verduidelik nie. Dit is nie nou die tyd om oor God se groter plan te praat nie – ons praat nou oor hulle seerkry.

 

  1. Ons is nie voorbereid om oor geld en die kerk te praat nie

Ons lees gereeld van geldskandale in die kerk. As ‘n leraar te ryk is of as die kerk fondse wangebruik het, lees ons dit in die koerante. Ons kan dit nie ignoreer nie. Die probleem is dat ons dit meestal nie kan verduidelik nie. Wat ons moet doen, is om oor ons afkeur van sulke voorvalle te praat.

 

  1. Ons haas ons om oor God te praat

Oppas vir aggressiewe praat oor God op ontoepaslike tye. Om oor God, godsdiens en veral oor Jesus te praat, is sensitiewe sake em moet versigtig en met respek benader word. Ons leuse moet wees: As julle ‘n vraag het, is ek daar om te luister. Dit beteken nie dat ons geleenthede moet laat verbygaan nie, maar vra toestemming om daaroor te praat.

 

  1. Ons nooi hulle kerk toe in plaas van na ons huise toe

‘n Ywerige persoon met goeie bedoelings oefen druk uit op iemand om iewers te gaan waar hy nooit uit vrye wil sou gaan nie. Hoekom nooi ons hom nie eerder na ons huis toe nie? As jy wil hê dat hulle ‘n groot boodskap oor God moet sien en hoor, wys vir hulle jou familie en jou gasvryheid. As jy nie God vir hulle kan wys deur jou familie en gasvryheid nie, het jy nie die reg om hulle uit te nooi om ‘n erediens by te woon nie.

 

Ek dink ons onderskat die belang van mense te nooi om na ons huise te kom.

 




Waaroor moet Christene saamstem?

 

It is a good thing God chose me before I was born, because he surely would not have afterwards. —C.H. Spurgeon

 

Waaroor moet Christene saamstem?

Daar is verskille en teologiese argumente tussen denominasies, maar daar is sekere dinge waaroor alle Christene moet saamstem. Die probleem is dat konflik – oorloë, misdaad, haat … – die hoofberigte van koerante is. Wat ons selde in die hoofberigte kry, is dit wat goed is in die wêreld. Dieselfde gebeur in die Christelike kultuur. Ons hoor van geloofsveskille, gevegte oor teologie en skandale. Die kern van hierdie gevegte is dikwels interpretasie van die Bybel. Om oor verskille in interpretasie te praat, is maklik.

 

Daar is egter ook baie waaroor ons saamstem. Daar is baie wat ons bymekaar bring. Kom ons kyk na ‘n paar van hulle.

 

  1. God het die heelal gemaak

In die begin het God die hemel en die aarde geskep (Genesis 1:1)

Daar word baie, ook in Christelike kringe, oor die oorsprong van die aarde geskryf. Daar is baie verskillende interpretasies oor hoe God die aarde geskep het – die oerknal is ‘n voorbeeld – maar die feit dat God die aarde geskep het, word algemeen aanvaar.

 

  1. Christus is die Lig in die duisternis

Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Johannes 1:5)

Natuurlik is daar Christene wat baie slegte dinge gedoen het – soms lyk dit asof hulle niks beter as die res van die wêreld is nie. Tog hier is ons steeds – die kerk van Jesus Christus. Steeds probeer die kerk ‘n verskil in die wêreld te maak deur sy lig in donker plekke te skyn. Dit is nie as gevolg van ons nie, maar as gevolg van Christus. Hy is die lig wat in die duisternis skyn; Hy staan vas vir ewig. Hy is steeds die lig vir almal. Hy oorwin steeds die sonde en dood.

 

  1. Die Nagmaal bring eenheid

En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” (Matteus 26:26).

Natuurlik vier verskillende kerke die nagmaal verskillend. Maar te midde van al hierdie meningsverskille is daar ‘n gemene refrein: Neem, eet; dit is my liggaam. Dit is baie maklik om die verskille te beklemtoon, maar ons moet eerder die enheid beklemtoon. Christus lewe en almal van ons is sy liggaam. Almal van ons neem deel aan God se verlossingsverhaal.

 

  1. Ons is geroep om dissipels te maak

Gaan dus na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees … (Matteus 28:19)

Christene “doen” kerk op baie verskillende maniere. Hulle maak dissipels deur baie verskillende strategieë te gebruik. Ten spyte van die verskille doen al die verskillende tradisies dieselfde ding: hulle maak dissipels.

 

  1. Jesus kom weer

Hy wat dit alles getuig, sê: :Ja, ek kom gou!” (Openbaring 22:20).

Daar is baie verskillende sienings van die eindtyd en hoe dit sal lyk. Die presiese volgorde van die gebeure as Jesus Christus weer kom, is onseker. Een ding is egter seker: Hy kom beslis weer. Ons kan baie debatteer oor al die verskillende gebeure, maar nie oor die feit dat Hy wel gaan terugkom nie.

 

Selfs as die kerk sy verskillende teologiese sienings bespreek, moet ons altyd dit waaroor ons saamstem in gedagte hou – ons glo almal dieselfde kern.