Die Boodskap aan Sardis

 

“The Church must be forever building, for it is ever decaying within and attacked from without; for this is the law of life.” –T. S. Elliot

 

Die Boodskap aan Sardis

Word wakker En versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie (Openbaring 3:2). Hierdie woorde uit die boodskap aan die gemeente in Sardis geld ook vir ons. ‘n Tragedie wag op ons as ons nie luister na wat Jesus te sê het nie.

 

Jesus begin sy brief aan die gemeente in Sardis met sy diagnose: Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.  Die gemeente is positief deur die gemeenskap gesien, maar toe Jesus hulle ondersoek, was daar geen hartklop nie. Hulle het ‘n reputasie sonder lewe.

 

Vandag evalueer ons gemeentes op grond van getalle. Tog word hulle impak op die geestelike gesondheid skaars raakgesien. Dit beteken nie noodwendig dat alles verlore is nie. Die gemeente in Sardis was dood,  maar julle het darem ‘n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is. Jesus werk met diegene wie se harte vir Hom reg is en wat getrou aan hulle roeping is. Hy skryf nou medisyne voor vir die gemeente:

  1. Word wakker. Dit beteken hulle moet die teneerdrukkende werklikheid van hulle doodsheid erken. Hulle moet hulle eie swakhede en afname in invloed evalueer. Hulle moenie met die vals versekering dat hulle gesond is lewe as hulle in werklikheid dood is nie.
  2. Versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Diegene wat getrou gebly het, moet diegene wat geestelik lusteloos is, aanspoor en help. Daar is mense en programme in die kerk wat die moeite werd is om te hou – as hulle net nuwe lewe kan kry. In ons kerke vandag is daar baie wat ons bemoedig – daar is nog tekens van lewe. Maar dikwels is daar ook die dood.
  3. Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Baie mense – en gemeentes – het die evangelie vergeet. Dit is net as die evangelie duidelik verkondig en uitgeleef word dat ‘n gemeente kan voorkom dat hy irrelevant word.
  4. Bekeer julle. Draai die rug op sonde. Wat nodig is, is ‘n nuwe liefde vir Jesus Christus en erken dat die afgode wat ons aanbid vir Hom aanstoot gee. Pynlik, maar noodsaaklik. Die gemeente moet in die wêreld soos ‘n skip in die see wees, maar as die see in die skip kom, weet ons daar is moeilikheid.

 

Wat sê God vandag vir die gemeentes? Soos die mense van Sardis het ons ons klere besoedel. Dit verswak ons; dit verminder ons geloofwaardigheid om vir Hom te getuig. Ons het ons aan die kultuur uitverkoop en ons is blind vir ons eie sondes en kompromieë. Gemeentes moet nederig hulle geestelike toestand voor God evalueer; ons moet dat Jesus vir ons ‘n ware lesing van ons geestelike gesondheid gee. Dit moet deur bekering gevolg word – individueel maar ook die geloofsgemeenskap as geheel. Ons moet identifiseer en versterk wat nog oorgebly het.

 

Wat gebeur as ons dit nie doen nie? Luister na Jesus se warakuwing: As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ‘n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie.  Vandag is daar geen gemeente in Sardis nie. Maar ons moet ook die belofte wat Jesus aan die getroues maak, lees: Hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is … Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. Dan eindig Jesus sy boodskap aan die gemeente aan Sardis met die woorde: Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Luister ons?

 




Is ons verbruikers?

 

Nothing can be more cruel than that leniency which abandons other to sin. Nothing can be more compassionate than that severe reprimand which calls another Christian in one’s community back from the path of sin – Dietrich Bonhoeffer.

 

Is ons verbruikers?

As ons praat van ‘n verbruikersgesindheid in die kerk fokus ons gewoonlik op die gevare van afgodery – die versoeking om materiële dinge eerder as God die middelpunt van ons lewens te maak. As mense moet ons hulpbronne gebruik om te oorleef. Die gevaar is nie om te verbruik om te lewe nie, maar om te lewe om te verbruik. Ons moderne kultuur definieer verhoudings en optrede primêr deur ‘n matriks van verbruik. Die filosoof Baudrillard verduidelik: “Consumption is a system of meaning.” Ons heg waarde aan onsself en ander op grond van die dinge wat ons koop. Ons identiteit berus nou op die klere wat ons dra, die motor wat jy bestuur …  jy is wat jy verbruik.

 

As ons hierdie verstaan van die wêreld en onsself in die kerk inbring, gebeur twee baie negatiewe dinge.

  • God word ‘n verbruikersartikel. Sy waarde word bepaal deur hoe nuttig Hy vir die verbruiker is. Persoonlike begeertes en hulle vervulling oorheers alles. Alles en almal – insluitend God – bestaan om hierdie begeertes te bevredig. Dit is presies die teenoorgestelde van wat die Skrif ons leer. Ons word opgeroep om ons aan God te onderwerp en om in nederiheid saam met Hom te loop. ‘n Verbruikersmentaliteit maak van God ‘n nuttige instrument vir ons eie begeertes en verwagtings.
  • Jesus word tot ‘n etiket gereduseer. Toe die vroeë Christene verklaar het dat “Jesus is die Here” het hulle die populêre siening van die dag – “Die keiser is die Here” – teengestaan. Dit was ‘n proklamasie van Jesus se gesag en mag oor alle dinge. Maar nou is die verbruiker koning – nie Jesus nie. Die Christendom is nou net nog ‘n handelsmerk wat ons integreer met Apple en Starbucks om ons identiteit uit te druk. Ons verbruik Christelike handelsware – musiek, boeke, t-hemde, juweliersware. In plaas daarvan dat ons die waardes van God se koninkryk uitleef, deel ons die waardes van ons verbruikerskultuur. Ons identiteit as Christene word nou ‘n dun lagie vernis.

 

Nou kom ons voor moeilike vrae te staan. Probeer ons nie net om vir God te gebruik nie? Soek ons waarlik ‘n lewe saam met God? Is “Christen” bloot ‘n etiket waarmee ons ons identifiseer, maar dit het geen impak op ons lewe en gedrag nie? Verpak ons Jesus as ‘n verbruikersartikel en verkoop dit aan mense?

 




God se sending

 

Where Scripture speaks, God speaks – Augustinus

 

God se sending

Die kerk is baie geneig om teologie (hoe God is, wat Hy gesê en gedoen het) van sending (oor ons en wat ons doen) te skei. Maar ons sending word van God se sending afgelei. Ons teologie van God moet sy sending insluit. Christopher Wright sê dat baie mense missio Dei gebruik as verwysing na die optrede van God om te stuur. Doen ons dit ignoreer ons ‘n aantal belangrike temas wat noodsaaklik is vir ons verstaan van die volheid van God se sending en ons eie sending.

 

Missio Dei kan soos volg gedefinieer word: Die toewyding van God om Homself bekend te maak aan sy skepping met die doel om die skepping te verlos en te herstel tot sy regte verhouding met God. Hierdie verhaal van God wat Homself bekendstel, is ‘n belangrike storie in die Bybel. God het Hom aan Abraham bekend gemaak. Daarmee lanseer Hy sy groot agenda om al die nasies van die wêreld te seën.

 

In die Nuwe Testament vervul Jesus God se sending om Homelf bekend te stel. Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:2). Hulle kommunikeer kennis  van God se onsigbare eienskappe – soos sy ewige mag en teenwoordigheid.

 

Maar die mens het ook ‘n sending – om oor die aarde te heers en dit te versorg; In die Ou Testament het Israel ook ‘n sending gehad – om God se agent te wees in sy seën van al die nasies; Jesus het ‘n sending gehad – om die sending van Israel te vervul deur ons sonde aan die kruis te dra; die kerk het ook ‘n sending – om saam met God deel te neem aan die bymekaarmaak van die nasies.

 

Die sending van God beheer die storie van die Bybel vanaf die gebrokenheid van die volke (Genesis 11) tot by die genesing van die nasies ( Openbaring 21 – 22). Die oorkoepelende storie van die Bybel en die wêreld is God wat Hom openbaar. Dit is dan die motivering en doel van die kerk se sending. Die kerk se sending vloei direk voort uit God se sending Die kerk se aktiwiteite is die nederige deelname aan God se groot werk. God is op ‘n sending en ons is sy medewerkers.

 

 




Die verbasende genade van God

 

I live as though Christ died yesterday, rose again today, and is coming again tomorrow – Martin Luther.

 

Die verbasende genade van God

Geen leer in die Skrif is vir die mens kosbaarder as die leer van verlossing nie. Geen woord is belangriker vir die leer van verlossing as genade nie. Dat die soewereine God uit die hemel uitreik om sondaars wat dit nie verdien nie te red van die slawebande van sonde, van ’n geestelike dood en ewige skeiding van God, kan met net een woord beskryf word: genade.

 

Maar hierdie leer van verlossing is nie vandag gewild nie – veral die eis dat Jesus die enigste weg na God is. Ons moderne kultuur sien dit as te eng en beperkend, onverdraagsaam, liefdeloos en onwaardig van God soos ons dink Hy behoort te wees. Daar is veral drie idees wat tans die huidige godsdienstoneel ten opsigte van verlossing domineer:

  1. Universalisme en die verwante pluralisme. Daar is baie paaie – selfs ‘n onbeperkte aantal paaie – na God. Dit is die idee dat alle paaie na God lei en uiteindelik word alle mense gered en kom in die hemel. Ons kry dit onder andere by die New Age teologie.
  2. Inklusiwiteit. Hierdie idee bevestig dat Jesus die enigste Verlosser is, maar dit is moontlik om gered te word al het jy nog nooit op Hom vir jou verlossing vertrou nie. Dié idee sê vir ons dat ons verlos kan word deur ‘n positiewe reaksie op God se openbaring in die natuur en ons gewete. Hier kry ons ook ‘n geloof dat ons deur ons goeie werke gered kan word.
  3. Eksklusiwiteit. Hierdie is die ortodokse siening wat leer dat verlossing slegs kom deur persoonlike geloofstoewyding aan Jesus Christus as Verlosser en Here. Dit bevestig die uniekheid en finaliteit van God se openbaring in Jesus Christus. Hy alleen is die Verlosser. Net deur Hom kan ons gered word. God sou nie sy Seun gestuur het om aan die kruis te sterf as daar ‘n ander pad na verlossing was nie.