Laat die kreatiewe potensiaal in jou gemeente los

 

Die man wat bang is om te ly, kan nie aan Hom behoort wat gely het nie” – Tertullianus

 

Laat die kreatiewe potensiaal in jou gemeente los

By geleentheid het Napoleon na ‘n kaart van die wêreld gekyk. Hy wys na China en sê dat China ‘n slapende reus is – as hy eers wakker word, sal niemand hom stop nie. Is die kerk nie ‘n slapende reus nie? Elke Sondag sit die kerkbanke vol mense wat niks met hulle geloof doen nie behalwe om dit te behou nie.

 

‘n Aktiewe lidmaat beteken in meeste kerke iemand wat die eredienste bywoon en finansieel bydra. Daar word nie meer van hulle verwag nie Maar God verwag meer van Christene – Hy verwag dat elke Christen sy gawes en talente moet gebruik. As ons hierdie talent, hulpbron, kreatiwiteit en energie kan loslaat, sal die Christendom ontplof – dit sal groei soos nog nooit vantevore nie.

 

Hoekom is die entoesiasme in so baie kerke laag? Is dit nie omdat kerke kreatiwiteit ontmoedig nie? Goeie idees word afgeskiet met: “Ons het dit al vantevore probeer.” Soms het ‘n persoon ‘n baie goeie idee, maar hy het nie die leierskapsvaardighede om dit uit te voer nie. Bid dat God ‘n leier na vore sal bring. As jy al jou tyd spandeer om vir mense te sê waarom dinge nie gaan werk nie, sal hulle mettertyd nie meer probeer nie.

 

Die sleutel om kreatiwiteit te ontsluit, is volgens Rick Warren om gesag met verantwoordelikheid te delegeer. Mense reageer op verantwoordelikheid; hulle groei en ontwikkel as jy hulle vertrou. As jy mense altyd hanteer asof hulle onbekwaam is, sal jy hulle die res van jou lewe moet voed. Mense is net so kreatief soos die stelsel hulle toelaat om te wees. Mense wil ‘n bydrae maak; hulle wil weet dat hulle ‘n verskil kan maak; hulle wil betrokke wees. Om die beste in mense na vore te bring, moet jy vir hulle ‘n uitdaging gee – en as hulle slaag, moet jy vir hulle daarvoor krediet gee. Jy moet ook vir hulle die vryheid gee om foute te maak. Jy leer immers deur jou foute.

Om die beste in mense na vore te bring, moet jy ook vir hulle beheer gee. As ‘n gemeente wil groei, moet mense beheer afstaan – veral groter gemeentes.

 

As jy wil hê die gemeente moet groei, moet die leiers beheer afgee en die bediening aan die lidmate toevertrou. So many pastors are so afraid of wildfire that they spend all their time putting out every little camp fire that’ll warm up the church! (Rick Warren)

 

 




Moenie skaam wees vir die evangelie nie

 

For the inexperience of youth requires the practical wisdom of age to strengthen and direct it – Cicero

 

Moenie skaam wees vir die evangelie nie

Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie (2 Timoteus 1:8a)

Wat moet ons met die evangelie doen? Ten eerste moet ons nie skaam wees daarvoor nie. In die voorafgaande verse het Paulus vir Timoteus  herinner aan God se werk in hom wat enige lafhartigheid oorwin. In hierdie vers sien ons duidelik dat ons van die Here moet getuig. Ons verkondig nie ‘n idee nie, maar ‘n Verlosser.

 

Timoteus sit in Efese. Efese was ‘n stad vol afgode. Die kruisdood was vir baie in Efese ‘n skande. ‘n Verlosser wat aan ‘n kruis gesterf het, was vir hulle onsin. Ons moet eerder die passie van Polikarpus aangryp. Hy weier om Christus te verloën ten spyte van die wete dat hy daarvoor gemartel gaan word. Eighty and six years have I served Him, and He never did me any injury; how then can I blaspheme my King and my Savior.

 

Vandag word die idee dat die mense “sleg/sondig” is en ‘n Verlosser nodig het, gesien as onkundig, primitief of sommer net dwaas. So kry ons ook ander wêreldsienings, soos die nuwe ateïsme, wat God verwerp. Daar is ook die opkoms van ander godsdienste wat die Christendom nie goedgesind is nie. Daarom is Paulus se opdrag vandag steeds relevant. Onthou Jesus se eie woorde: Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir Hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader (Markus 8:38). Dit gaan hier oor Jesus en sy woorde.

 

Paulus vra ook dat Timoteus hom nie vir Paulus wat in die tronk sit, moet skaam nie. Hy sit immers om Jesus se ontwil in die gevangenis. Lafhartige gelowiges weier dikwels om met hulle medegelowiges wat opstaan vir Christus te assosieer. Paulus soek nie die goedkeuring van mense nie. Hy sit nie in die tronk om deur mense geloof te word nie, maar tot eer van sy Verlosser deur aan sy wil gehoorsaam te wees.

 

 




Uitdagings, keuses en gevolge

 

No nation has ever become great by war that has not ultimately been cast down by war. — Huldrych Zwingli

 

Uitdagings, keuses en gevolge

Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê (Hebreërs 11:24 – 25)

Daar is sekere besluite in ons lewens wat belangrik is: met wie ons gaan trou, watter beroep gaan ons volg, ens. Die belangrikste keuse is egter of jy vir Jesus Christus gaan volg.

 

In die lewe kry ons uitdagings, keuses en gevolge. Ons kom elke dag voor uitdagings te staan. Soms is dit ‘n geleentheid wat vir ons voordelig mag wees; soms is dit ‘n versoeking wat ons hopelik sal weerstaan. Dan is daar die keuse wat ons maak en die gevolge van daardie keuses. As ons goeie keuses maak sal die  gevolge goed wees. Die verkeerde keuses lei tot slegte gevolge.

 

Ons moet die regte keuses maak, want dit mag die verloop van ons lewens bepaal. Moses het besluit om eerder sy mede-Jode te help.  Hy verkies dit bo die kortstondige genieting van sonde te hê. Deur sy keuse word Israel gered uit die slawerny in Egipte. Nog iemand wat die regte keuse gemaak het, was Daniël.

 

Maar ons lees ook van verkeerde keuses. Adam se keuse kos hom die paradys; Esau se keuse kos hom sy geboortereg; koning Saul se keuse kos hom sy koninkryk; Judas se keuse kos hom sy apostelskap en sy lewe.

 

Ons lewenskeuses is tot in ewigheid bindend. Jy kan vandag keuses maak wat jou tot in ewigheid sal beïnvloed. Jy maak jou besluite en dan maak jou besluite jou.

 




Wat is die evangelie?

We poor mortals are not so constituted that we listen as carefully to what brings us to order as we do to what brings others. –  Huldrych Zwingli

 

Wat is die evangelie?

Uit 2 Timoteus kan ons die evangelie met ses beskrywings saamvat.

  1. Die evangelie is Christologies – dit gaan oor Christus. Sonder Hom is daar geen evangelie nie. Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig (2 Timoteus 2:8).
  2. Die evangelie is Bybels – God het sy verlossingswerk in Jesus Christus vir ons in die Skrif gegee. Jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus (3:15).
  3. Die evangelie is histories – Christus het in die geskiedenis van die mens gekom: Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus (1:10). Hy sal ook weer kom en my behoue in sy hemelse koninkryk bring (4:18). Hy gaan die drama wat in Genesis begin het, voltooi as Hy weer kom.
  4. Die evangelie is leerstellig – gelowiges heg groot waarde aan die waarhede van die Skrif. In 2 Timoteus lees ons van belangrike leerstellings: die belofte van lewe (1:1); God se soewereine genade (1:9);Christus wat die mag van die dood gebreek het (1:10); die inwoning van die Heilige Gees (1:14); die persoon en werk van Jesus Christus (2:8);  die verkiesing (2:10); die heerlikheid van Christus (2:10); die eenheid met Christus (2:11);  bekering (2:25); toekomstige belonings (4:8).
  5. Die evangelie is persoonlik – dit moet persoonlik in geloof ontvang word. Timoteus het dit van sy moeder en ouma ontvang.
  6. Die evangelie is prakties – dit het met die hele lewe te doen – familie, finansies, werk … Die evangelie het praktiese implikasies vir ons hele lewe. Die evangelie herinner ons aan ons posisie voor God, ons krag en ons ewige toekoms.