Psalm 119

The process of history is not haphazard. There is a purpose in it all. And the purpose is the purpose of God. —Leon Morris

 

Psalm 119

Hierdie is nie alleen die langste psalm (176 verse) nie, maar ook die psalm wat die onderwerp van die Skrif baie direk hanteer. Feitlik elke vers verwys op een of ander manier na God se woord. Die psalmis gebruik ‘n verskeidenheid woorde om God se woord te beskryf: gebooie, verordeninge, bevele, ens. Hierdie verwys na die Skrif soos dit destyds bestaan het – essensieel die Pentateug.

 

Hier het ‘n baie goeie voorbeeld van die Skrif wat oor die Skrif praat. Ons kry hier ‘n interaksie tussen die skrywer en die woord van God op vyf maniere.

  1. Vertrou die woord van God

Herhaaldelik sê die psalmis dat die Skrif waar is (Alles wat U gebied het staan vas – vers 151). Hy glo die woord – Ek stel my vertroue in u gebooie – vers 66. Ek vertou op u woord – vers 42. Sy gevolgtrekking is: Op u woord kan ‘n mens hom geheel en al verlaat – vers 160.

 

Hierdie stap is baie belangrik. As die gelowige nie werklik die woord van God vertrou nie, sal die volgende stappe van geen waarde wees nie.

 

  1. Bestudeer die woord van God

Die psalmis leer die woord – Gee my insig dat ek u gebooie kan verstaan – vers 73. Hy dink gereeld daaroor na. Hierdie stap volg natuurlik op die eerste een. As God se woord waar is en vertrou kan word, moet ons studente van sy woord wees.

 

  1. Gebruik die woord van God

Ons moet die woord as riglyn gebruik as die lewe vir ons moeilik is of ons uitdaag. Ons moet op die woord leun vir bemoediging en hoop. Die psalmis sê: U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers – vers 24. Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u woord beloof het – vers 28. Dit is my troos in my ellende – vers 50. Daarom sê hy: U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad – vers 105. God se woord lewe; dit is kragtig en aktief. Die Skrif is die plek waar God en die mens ontmoet.

 

  1. Hy verheug hom in die woord van God

Die psalmis het die woord lief. Neem tog in ag dat ek u bevele liefhet, Here –  vers 159. Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ‘n groot skat in die hande gekry het – vers 162. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond – vers 103. Die psalmis het passie, ywer en opgewondenheid vir God se woord. Hy het God se woord lief, want hy het vir God lief. Hoeveel van ons het passie, ywer en entoesiasme vir God se woord?

 

  1. Gehoorsaam God se woord

Die voorafgaande vier kenmerke lei natuurlik na hierdie kenmerk. Die psalmis wil God se woord volg, onderhou en vervul. Om God se woord te gehoorsaam is nie vandag ‘n gewilde konsep nie. Die psalmis onderhou die woord as gevolg van sy liefde vir God – nie om verlos te word nie.

 

Jesus het al hierdie kenmerke uitgeleef.

 

 




Bekering

A twig is brought to any form, but grown trees will not bow. How few are converted in old age! —John Flavel

 

Bekering

Wat is bekering? Baie mense sê dit beteken dat ons spyt is oor ons optrede van die verlede. Ander sê dit is spyt oor jou sonde plus ‘n begeerte om te verander. Om opreg spyt te wees vir jou sonde is deel van bekering, maar daar is nog ‘n belangrike aspek.

 

Toe Jesus sy prediking op aarde begin het, het Hy gesê: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15). Bekering beteken om om te draai, om rigting te verander. Bekering sonder verandering is onmoontlik.

 

Watter rigting moet ons dan volg?  Jesus se oproep tot bekering kom net na Jesus iets verkondig het: die koms van God se koninkryk; God se heerskappy wat in die wêreld inbreek. Sy koninkryk kom deur Jesus. Bekering beteken dus dat ons omdraai, die agenda van ons koninkryk agterlaat en die agenda van God se koninkryk aanvaar. Om te bekeer beteken jy teken aan vir God se koninkryk – jy word deel van sy mense.

 

Maar hoe moet ons op die agenda van God se koninkryk reageer? Daar is drie moontlikhede:

  1. Stel jou agenda teenoor dié van God. Dit is wat ons in Genesis 11 kry waar mense ‘n toring tot by die hemel wou bou en so ‘n naam vir hulleself maak. Hulle rig dus ‘n ander koninkryk op teenoor God se koninkryk. Baie mense is geneig om hulle eie koninkryk waar hulle in beheer van hulle lewens is, te vestig – ons agenda teenoor God se agenda.
  2. Voeg God se agenda by ons eie agenda. Ons het ons eie agenda, maar ons het van God se begeertes by ons eie gevoeg Ons voeg God se agenda by ons eie. Ons agenda staan langs dié van God.
  3. God se agenda verplaas ons eie agenda. Sy sendinghart word in ons sendinghart weerspieël; sy hoop en droom vir die wêreld word ons s’n; sy hart smelt saam met ons harte. Die Gees stel ons bekend aan God se plan; Hy wys vir ons waar God besig is om te werk en wat God wil doen en ons sluit by Hom aan. God se agenda word ons agenda.

 

Wie se agenda volg jy?

 




Ons is in ‘n geestelike oorlog betrokke

He who merely studies the commandments of God is not greatly moved.  But he who listens to God commanding, how can he fail to be terrified by majesty so great? – Martin Luther

 

Ons is in ‘n geestelike oorlog betrokke

Ons kan Paulus se finale opdrag aan Timoteus opsom in die woorde van 1 Timoteus 6:12: In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Reeds in 1:18 het Paulus vir Timoteus gesê dat hy die goeie stryd moet stry. Aan die begin en einde van die brief herinner Paulus vir Timoteus van die stryd/wedloop waarby ’n Christen betrokke moet wees. Timoteus moet besef dat hy in ’n stryd vir sy geloof gewikkel is. As volgelinge van Christus geld dit ook vir ons.

 

As ons Christus volg, is ons in ‘n geestelike oorlog betrokke – of ons dit nou besef of nie. Hierdie waarheid kry ons dwarsdeur die Skrif.

Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ’n stryd om lewe en dood geword het nie – Hebreërs 12:4.

Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus – 2 Timoteus 2:3.

In 2 Korintiërs 6:7 en 10:4 lees ons van die wapens van die gelowiges.

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug – Efesiërs 6:12

 

Elke Christen is in ‘n geestelike oorlog betrokke; sy geloof word op verskillende maniere aangeval. Die Christelike lewe is nie een van rustig voortvaar nie. Ons kan hierdie geestelike styd nie ligtelik opneem nie. In Luther se verwerking van Psalm 46 – ‘n Vaste Burg is onse God – verwys hy na Satan as die vors van duisternis. Die Satan wil God se heerlikheid onteer; God se evangelie verwring; God se mense vernietig. Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (1 Petrus 5:8). Ons vyand is nie almagtig nie, maar ons kan nie alleen teen hom staande bly nie.

 

Die omvang van die duiwel se geestelike oorlog is universeel – elke taal, volk, familie, ens. Betrokkenheid by hierdie geestelike oorlog is onvermydelik. Staan die duiwel teë (Jakobus 4:7). Geestelik onttrekking beteken outomaties geestelike mislukking.

 

Die stryd is universeel en onvermydelik, maar ook is dit krities belangrik dat ons ons vir die stryd voorberei, want die gevolge is ewig. Verloor ons hierdie stryd, verloor ons alles – selfs jou eie siel. Hoe ons hierdie stryd veg het ewige implikasies. Satan wil nie hê dat ons glo en die evangelie uitleef en verkondig nie. Slaag hy in jou lewe? Is jy bewus jy is in ‘n stryd?

 

 




Onderskei God se stem van ons lewensomstandighede

 

Let not widows be neglected.  After the Lord be thou their guardian – Ignatius.

 

Onderskei God se stem van ons lewensomstandighede

Elke gelowige wil van God hoor. My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My (Johannes 10:27). As dinge om ons gebeur, wil ons weet of dit God is. Is dit wat Hy my vra om te doen? God gebruik ons omstandighede om met ons te praat. Omdat God met Moses uit ‘n brandende bos gepraat het, verwag ons dat Hy ook met ons op ‘n wonderbaarlike manier sal praat. God praat egter dikwels in daardie stil oomblike of deur ander mense of deur gewone lewensomstandighede.

 

Waar begin dit? Met ‘n verhouding.  As jy nie ‘n verhouding met God in Jesus Christus het nie, gaan jy nie sy stem hoor nie. As ons ‘n verhouding met God het, hoe kan ons sy stem in ons omstandighede hoor? Ron Edmondson het ‘n paar gedagtes hieroor.

  1. Meet jou omstandighede teen die waarheid van God se woord

God sal Hom nooit weerspreek nie. Hy sal nooit met ons praat, ook nie deur ons omstandighede, wat sy woord weerspreek nie.

 

  1. God gebruik mense om sy stem te bevestig

Selfs in ons omstandighede stuur God mense oor ons pad om sy wil vir ons lewe te bevestig.

 

  1. Weet dat God ‘n plan het

‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (Spreuke 16:9). Ons moet lewe met ‘n doel – God se doel. God gebruik ons ondervindings om ons te vorm.

 

  1. Ondersoek jou omstandighede in die lig van God se oorkoepelende plan

Wees versigtig om ‘n beluit na een gebeurtenis of een stel omstandighede te neem. Kyk terug oor jou lewe, maar oor ‘n periode. In Jeremia 29:11 sê God dat Hy ‘n plan vir sy volk het, maar dit neem 70 jaar voor die volk uit ballingskap terugkeer. Dikwels roep God ons herhaaldelik voor ons werklik sy stem hoor.

 

  1. Moenie toelaat dat omstandighede jou verhoed om God se plan te hoor en te gehoorsaam nie

Soms lyk ons omstandighede maar donker, maar ons weet eers wat ons omstandighede beteken as ons van God gehoor het. Vrees is ‘n groot wapen in die hand van die duiwel – hy gebruik omstandighede om ons weg te lei van God.

 

  1. Vra vir God om jou sy perspektief op jou omstandighede te wys

Julle vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra (Jeremia 29:13). As ons in ons omstandighede van God wil hoor, moet ons intens luister.

 

  1. God se primêre doel om met ons te praat is sy ewige doelwitte

Ons beperk God dikwels tot hierde wêreld en vergeet dat Hy ‘n oneindige God is.

 

Om God se wil te ken, moet ons van Hom hoor en sy wil vir ons lewens ken. Ons moet leer hoe om sy stem te hoor. In die lawaai van hierdie wêreld moet ons versigtig luister om sy stem te onderskei. God praat nog steeds met ons. Doen alles in jou vermoë om sy stem te hoor.