Lasarus en die verkondiging van die evangelie

God is pleased to use ordinary people and ordinary conversations to do most of the heavy lifting in his kingdom. —Ed Welch

 

Lasarus en die verkondiging van die evangelie

Hoe beïnvloed die opstanding van Lasarus die menier waarop ons die evangelie deel? Die evangelie gaan nie daaroor om goeie mense godsdienstig te maak nie, maar om mense wat dood is weer te laat lewe.

 

In Johannes 11 lees ons van die dood en opstanding van Lasarus. Na Lasarus se dood kom Jesus daar aan – te laat in die oë van Lasarus se susters. Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Toe Maria by Jesus kom, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Daarna tree Hy op. Ons lees hiervan in Johannes 11:38 – 44. Sy gemoed skiet vol by die graf; Hy laat die klip voor die graf wegrol. Hy bid tot God en roep met ‘n harde stem uit. Die oorledene het uitgekom.

 

Geestelik is ons dood. Dooie mense kan niks doen nie. As ons geestelik dood is, kan ons niks doen wat reg in God se oë is nie. Dit help ons as ons die evangelie verkondig en dit besef, want ons besef dat ons almal op dieselfde vlak is. Baie nie-Christene glo dat Christene dink dat hulle beter as ander mense is. Die verhaal van Lasarus leer vir ons dat ons almal dood is en niks sonder God kan vermag nie. Ons begin almal op dieselfde plek – geestelik dood. Deur God se genade staan ons op tot die lewe. Net soos Lasarus het ons niks gedoen om ons te red nie. Daar is niks wat ons kan doen om onsself te red nie. Deur geloof in wat Jesus Christus vir ons gedoen het, word ons gered.

 

Onthou altyd dat die evangelie nie is: “Jy doen” nie, maar “Christus het gedoen”. Jou werk is om dit te verkondig aan die mense. Evangelisasie verskil dus van iemand werf vir ‘n godsdiens. In evangelisasie vertel jy vir mense wat die dooies weer lewend maak. Daarom is dit goeie nuus; daarom moet jy dit met ander deel.

 

 




Maak God se wraak ons wraakgierig?

The Word of God is clear; it is not that we have accepted God; rather, He has accepted us into His family. —Burk Parsons

 

Maak God se wraak ons wraakgierig?

Teenstanders teen die Christelike geloof verwys dikwels na die geweld en bloed in die Ou Testament. Mag al u vyande so omkom, Here, maar mag dié wat U liefhet wees soos die son wat in sy volle krag skyn. Dit kom uit Debora se oorwinningslied in Rigters 5. Moderne lesers voel dat God se wraak iets ontoepaslik is. Daar is veral twee besware hierteen:

  1. Ons sien nie altyd dat geregtigheid gedoen word nie.

Ons verlang dat God alles wat verkeerd is, moet regstel, maar daar is baie stories wat nie ‘n gelukkige einde het nie. Die korruptes loop rond terwyl die onskuldiges swaarkry. Solank as wat hierdie lewe ons enigste maatstaf is, sal geregtigheid ‘n onopgeloste probleem bly. Ja, die skuldiges bly dikwels ongestraf. Hierdie lewe is egter nie al wat daar is nie. Die Romeine en Jode het geglo dat dit die einde van die storie was toe hulle Jesus gekruisig het … dit was nie. Die einde van die storie kom nog. God is nog nie klaar met ons storie nie.

 

  1. Om te glo in ‘n wraakgierige God sal ons wraakgierig maak

Geweld lei tot geweld. Maar as ons weet wat God beplan, sal ons weet dat sy wraak presies die teenoorgestelde gaan bereik. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God (Romeine 12:19). God sal geregtigheid herstel. Ek kan van wraak vergeet.

 

Ons het genade en barmhartigheid aan die kruis ontvang; ons kan genade en barmhartigheid aan ander betoon.

 

 




Doeltreffende evangelisasie

The habit of introspection may be abused, to divert the eyes of the soul too much from Christ. —R.L. Dabney

 

Doeltreffende evangelisasie

Greg Stier, die president en stigter van Dare 2 Share Ministries, sê dat die kerk ‘n paar lesse by Starbucks oor doeltreffende evangelisasie kan leer. Daar is ongeveer 12 000 Strarbucks koffiewinkels strategies geleë in die VSA.  Hoe kan Starbucks aan die fisiese behoeftes van mense voldoen, maar die kerk kan nie voldoen aan die geestelike behoeftes van die mense nie? Daar is immers net 12000 Starbucks en meer as 300 000 Protestantse kerke.

 

Wat kan die kerk by Starbucks ten opsigte van evangelisasie leer?

 

1.     Leer meer baristas om uitstekende koffie te bedien – elke dag

So dikwels is die leraar die enigste barista (kelner) in die kerk – jy moet kerk toe gaan om die goeie nuus te ontvang. As ons na Efesiërs 4:11 – 12 kyk, is die hooftaak van die leraar  om God se mense vir sy werk toe te rus. Het jou gemeente ‘n plan om genoeg mense toe te rus om die evangelie aan ander te verkondig?

 

2.     Koop net die beste bone

Starbucks koop net die beste koffiebone. Ons moet seker maak dat ons net die beste evangelie verkondig. Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem. Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle verwarring bring. Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref (Galasiërs 1:6 – 8). So dikwels word ‘n evangelie in ons gemeentes verkondig wat geen evangelie is nie. Daarvolgens berus verlossing op dit wat ons doen in plaas van op dit wat Jesus reeds vir ons gedoen het. Hierdie evangelie doen niks aan mense se dors nie.

 

3.     Fokus op die demografie wat veral dors is

As ons die gemeenskap met die evangelie van God wil versadig, moet ons ons beste drinkgoed aan ons jeug voorsit. Die Rensselaer Polytechnic Institute het bevind dat as jy 10% van ‘n demografie 100% toegewy aan ‘n visie of saak of waardes kan kry, hulle die ander 90% sal beïnvloed.

 

4.     Skep ‘n kultuur van liefde in jou organisasie

Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede … Al die gelowiges was eengesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.  Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg (Handelinge 2:42 – 47). Mense is elke dag by die gemeente gevoeg. Hoekom? Hulle het nie geboue gehad nie, maar hulle het die goeie nuus boodskap en goeie nuus mense gehad. Daar was liefde en hoop onder hulle.

 

5.     Bly verbind aan die hoofkantoor om die jongste en grootste te kry

Starbucks winkels bly ingeskakel by die hoofkantoor om die jongste drankies, ontwerpe, ens te kry. Die Christen se hoofkantoor struikel nooit nie. Ons moet voortdurend met ons hemelse Vader kommunikeer om die wysheid wat ons nodig het om sy inisiatiewe te bestuur, te kry. Ons kommunikasielyn met God is gebed.

 

Ons kan natuurlik ander eieneskappe van Starbucks ook bestudeer, maar hierdie vyf staan uit.

 

 




Die evangelie

For every good reason there is to lie, there is a better reason to tell the truth (Bo Bennett).

Die evangelie

In 1 Timoteus 1:15 gee Paulus een van die beknopste, duidelikste beskrywings van die evangelie. Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos (1:15). Hier leer ons van die evangelie, die genade van God en die heerlikheid van God.

 

Christus Jesus het in die wêreld gekom. Dit beteken dat Hy ‘n mens geword het. Dit beteken nie dat Hy voor sy geboorte in Betlehem nie bestaan het nie. Hy het reeds bestaan as deel van die Drie-eenheid. In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom (Johannes 1:1 – 3). Hy wat van altyd bestaan het, kom na die wêreld as ‘n baba gebore in Betlehem. Hy wat in heerlikheid by die Vader was, word mens en kom na ons. Dit is sy menswording.

 

Maar hoekom het Jesus Christus gekom? Hy kom om die lewe te leef wat ons nie kon leef nie; om die dood wat ons verdien het, te sterwe; om in oorwinning oor die vyande uit die dood uit op te staan. So oorwin Hy die vyande was ons nie kon oorwin nie – die sonde en dood. Paulus sê dit is die waarheid. Anders as die dwaalleraars hou hy hom nie met mites en spekulasie besig nie. Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word (1:15).

 

Ons het nou gesien dat Christus Jesus gekom het om sondaars te verlos. Watter sondaars? Almal wat die evangelie aanvaar. Paulus sê dat hy die grootste sondaar van almal was, maar tog het Christus sy verdraagsaamheid aan hom betoon. Paulus dien as voorbeeld vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry (1:16). Die evangelie is dus persoonlik en universeel. Die Here oorlaai ons met genade, liefde en geloof. Ons moenie vergeet dat Paulus vantevore dié vervolger van die kerk was nie. Hy het sy lewe daaraan gewy om Christene in die tronk te gooi en dood te maak.

 

Paulus se voorbeeld vertel vir ons baie van God se genade. God se genade is onvoorwaardelik. Daar was niks in Paulus wat genade verdien het nie. Die oorsprong van sy verlossing was net in God. Dieselfde geld vir my en vir jou.

 

God se genade is ook doelgerig. In Paulus se lewe lei dit tot geloof en liefde (1:14). Dit is goeie nuus vir almal wat geglo het dat God hom nie kan verlos weens sy veelvuldige sondes nie. God neem die hoofvervolger van die kerk en maak hom die hoofsendeling van die kerk. God is geduldig – hy wag lank vir Paulus en Hy sal ook vir ons wag.

 

God se genade moet tot lof lei. Aan Hom wat vir ewig Koning is … kom toe die eer en heerlikheid tot in alle ewigheid. Paulus is oorweldig dat hy van so ‘n Koning genade kan ontvang. 1:17 leer ons iets van die heerlikheid van God.

  • Hy is vir ewig Koning. Hy is onsterflik; Hy word nie moeg nie; Hy verander nooit nie.
  • Hy is onverganklik en onsigbaar.
  • Hy is die enigste God.

 

Individuele gelowiges, plaaslike gemeentes en die kerk van God wêreldwyd gaan deur moeilike tye, maar die Hoof van die kerk, Christus, sal altyd in beheer bly. Teenstand en uitdagings mag kom, maar God is ewig en Hy sal ons lei, beskerm, reinig, heilig maak en behoue laat bly.