Paulus en sy briewe

 

If you understand it, it isn’t God – Augustinus

 

Paulus en sy briewe

Hierdie is ‘n voortsetting van ons bespreking van Mel Lawrenz se reeks: How to Understand the Bible.

Naas Jesus was daar nie ‘n invloedryker persoon in die vroeë Christendom as Paulus nie. Van die 27 boeke in die Nuwe Testament word 13 aan hom toegeskryf. Kyk net na ‘n kaart van sy sendingreise en jy sal verbaas staan oor die gebied wat hy gedek het. Maar ons moenie net geografies dink nie, maar ook kultureel.

 

Hy was ‘n Jood uit die stam van Benjamin. Hy word ‘n toegewyde Fariseër. Hy kom uit die stad Tarsus en word groot midde in die Grieks-Romeinse kultuur. Hy was ‘n Romeinse burger. Hierdie agtergrond beteken dat hy in staat was om die evangelie in stede te verkondig. Hy was gemaklik in Jerusalem en het geen probleem gehad om na plekke soos Kreta, Griekeland en Rome te beweeg nie. Sy aanpasbaarheid was ongelooflik. Hy praat met goewerneurs, magistrate, filosowe en handelaars.

 

Sy sterk sienings oor geloof in Jesus Christus kan teruggevoer word na sy bekering. In die Nuwe Testament is daar nie ‘n radikaler storie van persoonlike verandering as juis sy storie nie. Sy mede-Fariseërs het hom aangewys om die vroeë volgelinge van Jesus te ondersoek en te vervolg. Hy was teenwoordig toe die eerste Christen-martelaar, Stefanus, gestenig is. Op pad na Damaskus om meer van Christus se volgelinge te vervolg, ontmoet hy die opgestane Jesus. Hierdie ontmoeting verander sy hart en denke.

 

Dit was nie maklik vir die ander apostels om hierdie vervolger in hulle midde te verwelkom nie. Hulle het hom ook moeilik as leermeester aanvaar. Met verloop van tyd begin hy, saam met ‘n paar metgeselle, sy eerste groot reis.

 

Daar is ‘n groot verskeidenheid in Paulus se briewe. Vier skryf hy uit die tronk – Efesiërs, Filippense, Kolossense en Filemon. Terwyl hy aan die Filippense skryf glo hy dat sy teregstelling naby was. Filemon is aan ‘n persoon geskryf oor ‘n slaaf wat weggehardloop het. Efesiërs is waarskynlik aan ‘n hele aantal gemeentes geskryf.

 

Drie van die briewe staan bekend  as die pastorale briewe, want hulle bevat opdragte aan Paulus se medewerkers, Timoteus en Titus, oor hoe om orde en harmonie in die gemeente te beskerm. Hulle hanteer oor die korrekte onderrig van die evangelie. So kry ons die kwalifikasies van ouderlinge en diakens in hulle. Baie van hierdie onderrig word nog vandag in ons gemeentes gebruik.

 

Romeine is ‘n kragtige en omvattende beskrywing van die hele evangelie. Dit dek die skepping, sonde, verlossing en herstel.  In Galasiërs word klem gelê op genade. 1 en 2 Korintiërs gee vir ons insig in hoe Paulus die spanning in ‘n kerk met probleme hanteer. Hy roep mense op tot optrede. In 2 Korintiërs beskryf Paulus sy eie hartseer as gevolg van mense wat hom probeer diskrediteer.

 

Wat moet ons in gedagte hou as ons Paulus se briewe lees en probeer verstaan? Soos altyd moet ons by die konteks begin. Elke brief is geskryf met ‘n spesifieke gehoor en ‘n spesifieke doel in gedagte. As ons ‘n bietjie grawe kom ons agter watter dwaalleer die boek Kolossense hanteer. Ons leer ook hoe slawerny gelyk het, hoe die gesinslewe was en sekere eienskappe van die kultuur. Dan moet ons vra: Watter universele en tydlose waarhede kry ons hier – waarhede wat vandag nog geldig is?

 

Ons groet mekaar nie meer met ‘n soen nie, maar Christelike ordentlikheid is steeds belangrik. Ouderlinge as oorsieners van die gemeente geld steeds.

 

Die briewe brei die rykheid van die Skrif uit. Dit herinner ons daaraan dat die word van God waarheid in verhoudings is.




Wat wil jy hê?

 

Human language never can express adequately divine realities – Charles Gore

 

Wat wil jy hê?

Daniel Coleman het verskeie mense gevra: “Verduidelik vir my presies wat julle wil hê.” Ongelooflik, nie ‘n enkele persoon kon die vraag antwoord nie. Om te weet wat jy wil hê, is die beste manier om die versoeking om terselfderyd verskeie dinge te doen, te vermy.

 

Mense raak gefrustreerd deur hulle bediening, loopbaan, ens omdat hulle weet dat hulle iets wil hê, maar nie presies weet wat dit is nie. Die hoofrede waarom mense professioneel en persoonlik sukkel, is ‘n gebrek aan fokus. Hierdie gebrek aan fokus kan ‘n mens duur te staan kom, want nou is daar subtiele druk op jou om meer na te jaag.

 

Daar is ‘n subtiele druk om meer tyd te daaraan te spandeer om ons CV te bou; om meer blootstelling te kry; meer geld te maak. Uiteindelik verloor jy jou fokus.

 

Lees net Prediker. Die skywer jaag verskeie dinge na (2:1 – 11): plesier, wyn, groot ondernemings, huise bou, ens. Hy verloor fokus en jaag verskeie doelwitte, wat geen verband met mekaar het nie, na. Die skrywer was inwendig leeg. Hy kon nie die gat wat God in sy hart geplaas het met dinge vul nie; hy kon nie verstaan waarom dit nie vir hom tevredenheid gebring het nie. Hy probeer daardie leemte in sy hart met uitwendige dinge vul.

 

Uiteindelik bepaal hy wat werklik saak maak en wat hy wil hê Prediker 12. “As jy twee hase jaag, gaan albei wegkom.” Die gevaar van meer dinge najaag, is dat dit feitlik onbeperk is. Jesus, daarenteen, is die model van wat gebeur as jy fokus.

 

Jesus is in Nasaret en praat met die mense in die sinagoge (Lukas 4). Hy lees uit Jesaja en praat van sy salwing. Die mense van Nasaret, sy tuisdorp, verwerp hom. As sy gehoor nie gehou het van wat Hy te sê gehad het nie, het Hy eenvoudig aanbeweeg na die volgende dorp. Daar het Hy sy werk voortgesit. Niks sou Hom wegtrek van dit wat Hy gekom het om te doen nie.

 

Ons moet tyd in ons dagboeke inruim om te fokus op ons taak. Die probleem: Weet jy al wat jy wil hê?

 

 




Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (3)

 

Our failures are never big enough to interrupt God’s plans for us. —Dave Harvey

 

Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (3)

Ons het reeds na Paulus voor sy bekering en toe sy bekering bekyk. Vandag gaan ons na Paulus na sy bekering kyk.

 

  • Paulus na sy bekering: Getrou aan Jesus Christus

[Galasiërs 1:16b – 24]

  • Soos Paulus kan ons nou sê dat Christus in ons woon.

Christus woon in ons. Daar is nou ‘n nuwe “ek.” En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe (2:20). Ons het ‘n nuwe identiteit; ons het ‘n nuwe kragbron. Ons probeer nie meer in ons eie krag lewe nie.

 

  • Dit is ons verantwoordelikheid om Christus aan ander bekend te maak

Hoekom is Paulus geroep? Sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig. Paulus is nie net tot sy eie voordeel bekeer nie. Sy bekering kom met ‘n opdrag – net soos ons bekering. Paulus se lewe was nie maklik nie, maar dit was doelgerig. Ons sou ook ‘n doelgerigte, moeilike lewe bo ‘n betekenislose lewe verkies. Paulus vertel van sy eie ondervinding. Hy is bekeer en toe is hy vir ‘n lewe as evangelis voorberei. Geen mens was nodig om sy boodskap te bevestig nie. Tye van stille voorbereiding is vir elkeen van ons noodsaaklik. Tye van wag is nie tye wat vermors is nie.

 

Dink na oor die storie van Paulus se bekering:

  • Voor sy bekering: Hy was ‘n fanatikus op die verkeerde pad.
  • Bekering: Alles as genade
  • Na sy bekering: Getroue verkondiging van Jesus wat sy boodskap vir hom gegee het

 

Paulus se storie vertel vir ons dat niemand buite die genade van God se bereik is nie. Hierdie boodsakp kom net van God – dit is nie goeie raad van ‘n mens nie, maar goeie nuus van God.

 

 




Vrae om my dag mee te begin en te eindig

 

Forbid us something, and that thing we desire –  Geoffrey Chaucer

 

Vrae om my dag mee te begin en te eindig

Judge someone by their questions, rather than by their answers – Voltaire

Jesse Lyn Stoner sê dat ons vrae die gehalte van ons antwoorde bepaal. Hulle bepaal die gehalte van jou dag. ‘n Goeie vraag bring jou veel verder as ‘n vinnige antwoord.

 

Begin jou dag met fokus en energie deur ‘n paar oomblikke te gebruik om hierdie drie vrae te antwoord:

  1. Wat sal my vandag vreugde verskaf?
  2. Wat wil ek vandag bereik wat my opgewonde maak?
  3. Wie het vandag my hulp nodig?

 

Jou dag sal meer betekenis hê en op ‘n beter noot eindig as jy tyd inruim om die volgende vrae voor jy gaan slaap, te antwoord:

  1. Van dit wat ek vandag gedoen het, waarop is ek trots?
  2. Vir wie is ek lief?
  3. Waarvoor is ek dankbaar?

 

Natuurlik is hierdie vrae net voorbeelde. Wat wel belangrik is, is die beginsel om vrae aan die begin en einde van jou dag te vra. Dink aan vrae wat die beste vir jou sal werk. Moenie vrae vra waarop jy net “ja” of “nee” kan antwoord of wat net een regte antwoord het nie. Die beste vrae is daardie vrae wat jou laat dink.