Die tien gebooie (5)

Where Scripture speaks, God speaks –  Augustinus.

 

Die tien gebooie (5)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

 

(v) Die Vyfde Gebod

Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Letterlik beteken eer om die gewig van iets te erken – mense moet dus die regte gewig (eerbied) vir die posisie van hulle ouers gee. Later lees ons dat mense wat hierdie gebod verontagsaam die doodstraf kan kry (Levitikus 20:9). Eer jou vader en moeder, en alle gesagsfigure, in die algemeen.

 

Wat leer ons hier van God? Ons leer van sy gesag en sy voorsiening. Die laaste gedeelte van die vers dien as motivering om die gebod te onderhou. Dit verwys na God se vrygewigheid. Maar as vaders moet ons ook vir God, die volmaakte vader, naboots.

 

(vi) Die Sesde Gebod

Jy mag nie moord pleeg nie.

Dit sluit in doelbewuste, vooraf beplande moord sowel as nie-doelbewuste moord in. God maak dit baie duidelik dat die lewe heilig is. Ons mag nie moord pleeg nie, want net God gee lewe en mense is na sy beeld gemaak. Jesus brei hierdie gebod uit in sy bergrede: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank (Matteus 5:22).

 

(vii) Die Sewende Gebod

Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

Hierdie gebod gaan oor seksuele reinheid veral in die huweliksverhouding. In sy bergrede het Jesus ook hierdie gebod uitgebrei: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg (Matteus 5:28). Die onderliggende beginsel is ‘n rein hart.

 

Hierdie gebod herinner ons aan God se trou en heiligheid – God is heilig en Hy verwag dat sy mense ook heilig moet wees. Hulle moet sy woord oor verhoudings getrou navolg.

 

(vii) Die Agste Gebod

Jy mag nie steel nie.

Jy mag nie iets neem wat nie aan jou behoort nie. Dit kan op baie verskillende maniere gebeur. Adam en Eva het geneem van dit wat nie aan hulle behoort het nie – die vrug van die boom in die tuin van Eden. In plaas van steel, moet ons dankbare harte hê wat hulle verbly in wat God vir ons voorsien het. Ons moet goeie rentmeesters wees van dit wat God aan ons gegee het. Ons moet altyd onthou dat wat ons het nie ons s’n is nie, maar alles behoort aan God wat alles aan ons gegee het. Ons moet ook vryelik aan ander gee.

 

God is ons voorsiener. Omdat Hy alles wat ons nodig het aan ons gee, mag ons nie steel nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar in God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet (1 Timoteus 6:17).

 

(ix) Die Negende Gebod

Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie.

Hierdie gaan nie net oor die vertel van leuens nie. Dit het ook te doen met getuienis in ‘n hof. Die getuie moet eerlike getuienis gee. Maar hierdie gebod is nie beperk tot die hofsaal nie – niks val buite die hofsaal van God nie. Hierdie gebod onderstreep God se kenmerk van waarheid.

 

(x) Die Tiende Gebod

Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Hierdie gebod beklemtoon die verwronge begeertes en gevoel van ontevredenheid van die mens. In plaas van ‘n dankbare hart begeer hierdie mense dit wat ander het. Begeerte gaan oor die hart. Dit mag of mag nie tot optrede lei nie, maar selfs as jy nie optree nie, is dit verkeerd. Ons begeerte moet na God wees.

 

Hierdie gebod leer ons van God se trou, goedheid en voorsiening. Ons hoef ons nie oor God se voorsiening aan ons of ‘n ander mens se goed te bekommer nie – ons Vader weet wat ons nodig het en bevredig ons diepste verlange.

 

Ons moet die gebooie verstaan en sien hoe God Hom in hulle geopenbaar het – hulle weerspieël sy heilige karakter. Dit is daarom nie net ‘n lys reëls nie.

Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by (Psalm 119:97)

 

Volgende keer gaan ons kyk na hoe Jesus die tien gebooie vervul het

 

 




Bonhoeffer as leier (1)

 

It is not the glorious battlements, the painted windows, the crouching gargoyles that support a building, but the stones that lie unseen in or upon the earth. It is often those who are despised and trampled on that bear up the weight of a whole nation.” — JOHN OWEN

 

Bonhoeffer as leier (1)

Een aand, na sy jong studente by die ondergrondse opleidingskool, Finkenwalde, klaar was met hulle aandete gaan Dietrich Bonhoeffer kombuis toe om die skottelgoed te was. Hy werk alleen; hy versoek die studente om hom te kom help. Die studente luister nie. Toe niemand hom kom help nie, sluit hy die kombuisdeur.

 

Toe die studente besef wat hy gedoen het, voel hulle sleg en bied aan om hom te help. Die deur bly gesluit en Bonhoeffer maak die werk alleen klaar. Sy les was eenvoudig: diens en leierskap kan nie van mekaar geskei word nie.

 

Die studente by Finkenwalde het heelwat sulke ondervindings gehad. In sy begeerte om hulle te leer, sou Bonhoeffer iets ongewoon doen of ‘n ongewone opdrag gee. Hiermee wou hy die radikale aard van leef in die koninkryk van God beklemtoon. Om dissipels vir Jesus in hierdie onderstebo koninkryk te maak, vereis soms hiperbool en dramatiese gebeure. Soms beteken dit dat die leier in die kombuis die skottelgoed moet doen.

 

 




Die tien gebooie (4)

The saints are like to iron, which by use is somewhat worn and diminished, but by lying still, unoccupied, is eaten more with rust and canker.  — Heinrich Bullinger

 

Die tien gebooie (4)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

Ons kom nou by die tien gebooie self. Ons gaan hulle nie volledig behandel nie – ‘n volledige reeks hieroor is op die webblad beskikbaar

 

Vir elke gebod moet ons twee vrae vra:

  • Wat beteken die gebod?
  • Wat leer die gebod ons van God?

 

  • Die Eerste Gebod

Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Hierdie gebod aanvaar dat daar net een ware God is. Dit hanteer die probleem van die menslike hart: afgodery. Almal aanbid iemand of iets. As ons daardie iemand/iets in God se plek plaas, is dit afgodery. Afgode verwys nie net na die heidense afgode nie, maar ook na afgode in die harte van mense. Hulle sal ons nooit bevredig nie; net God kan die menslike hart bevredig. Wat leer ons van God in hierdie gebed? Hy is ‘n jaloerse God – Hy deel nie sy heerlikheid met ander nie.

 

  • Die Tweede Gebod

Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

Beelde is mensgemaakte voorwerpe; hulle is onpersoonlik, kragteloos – hulle kan nie hoor of praat nie; hulle is dood. Weereens word God se jaloesie en oppermag hier beklemtoon. Hier kry ons ook vermelding van ‘n liefdevolle God. ‘n Liefdevolle God is die fondament waarop alles anders gebou word.

 

  • Die Derde Gebod

Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

Die fokus in hierdie gebod is die Naam van die Here. Dit het dus te doen met alles wat met sy Naam verband hou. God moet gewaardeer word; Hy is die hoogste eer waardig. God het self sy Naam vir Hom gegee. Jy mag sy Naam nie misbruik nie. Dit beteken nie net om nie God se Naam te gebruik nie. Mense wat sê dat hulle sy volgelinge is, moet sy Naam verheerlik deur te leef op ‘n wyse wat Hom eer. Dit beteken ook ons Mag nie God se Naam valslik of betekenisloos gebruik nie. Ons kry dit byvoorbeeld in aanbidding waar mense woorde sing sonder om eers aan God te dink. As Christene dra ons sy Naam. Op hierdie wyse is sy reputasie aan ons verbind – ons moet dus vir Hom en sy heerlikheid leef.

 

  • Die Vierde Gebod

Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag ht Hy gerus, en daarom het die Here dit as ‘n gereelde rusdag geheilig.

Die basis vir hierdie gebod is die skepping. Dit beskryf hoe God die hemel en aarde gemaak het en toegerus het. Ons kry hierdie gebod ook in Deuteronomium 5:12 – 15. Daar word dit aan die uittog uit Egipte verbind – God se voorsiening om Israel uit Egipte te bevry.

 

Die fokus in hierdie gebod is op rus, onthou en aanbid. Ons moet God se skepping en sy verlossing uit Egipte onthou – God se skeppings- en verlossingswerk Die vroeë kerk het die eerste dag van die week gekies as hulle dag vir rus en aanbidding. Dit hou natuurlik verband met Jesus se opstanding. Net soos die verlossing uit Egipte die hart van die Ou Testamentiese Sabbat was, net so is die Sondag die herinnering van die verlossing deur Jesus Christus. Jesus het die rus vir diegene wat in Hom glo, verkry. Ons kan stry oor die dag, maar nie oor die beginsel nie – dit is God se gawe aan ons.

 

Daar is nog iets wat ons moet raaksien: Ses dae moet jy werk. God het ons gemaak om te werk. As jy tydens die week hard werk, verdien jy ‘n rusdag.

 

Wat leer ons in hierdie gebod van God? Hy is ‘n God wat werk en rus; Hy is die Skeppergod; Hy is die ewige God; Hy is die God wat verlos.

 




Die Messias

“A half-truth masquerading as the whole truth becomes a complete untruth.” – J.I. Packer,

 

Die Messias

In 1742 nader ‘n groep welsynsorganisasies in Dublin vir Handel om vir hulle ‘n werk te komponeer vir ‘n konsert, Hulle wou geld insamel om mans wat weens skuld in die tronk was, vry te laat. Hulle sou verseker dat Handel ‘n redelike kommissie kry. Hy begin die Messias op 22 Augustus 1741 komponeer. Binne  ses dae was Deel I voltooi. Na nog nege dae was deel II klaar en na ‘n verdere nege dae Deel III. Na nog twee dae was die orkestrasie voltooi. Tydens hierdie tyd het hy selde sy kamer verlaat en feitlik niks geëet nie.

 

In 24 dae het hy 260 bladsye gekomponeer. Toe hy klaar was met die Halleluja-koor sê hy: “Ek dink ek het die hele hemel voor my gesien – en die grootte God.” Maar die uitvoering van die stuk veroorsaak baie polemiek. Jonathan Swift (die skrywer van Gulliver’s Travels en toe deken van die St Patrick katedraal) was hewig ontsteld en het sy musikante verbied om aan die uitvoering deel te neem. Die premiere was op 13 April 1742 in die Fishamble Street Musick Haal. Dit was ‘n sensasie. Meer as 700 mense woon dit by. Die aanvraag vir kaartjies was so groot dat die mans gevra is om nie hulle swaarde te dra nie. Die vrouens mag ook nie hoepels in hulle rokke gedra het nie. So kon hulle ‘n verdere honderd mense in die saal kry. Hulle samel 400 pond in en daarmee kon hulle 142 mans uit die tronk vrylaat.

 

Handel se beroemste werk spruit voort uit sy bereidwilligheid om ‘n organisasie wat welsynswerk in ‘n tronk gedoen het, te help.