Die tien gebooie (3)

You can safely assume that you’ve created God in your own image when it turns out that God hates all the same people you do. -Anne Lamott

Die tien gebooie (3)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

In die vorige blog het ons na Israel se roeping gekyk. Ons kyk nou na God se heiligheid.

 

(ii) Die heiligheid van God

[Eksodus 19:7 – 25]

Moses het vir die leiers van die volk alles vertel wat die Here hom beveel het. Die volk antwoord soos een man: Alles wat die Here gesê het, sal ons doen. Ons sal gou agterkom dat hulle hierdie belofte verbreek het. God sê dat Hy in ‘n donderwolk sal kom en dat die volk sal hoor as Hy met Moses praat.

 

Die volk moes hulle eers reinig vir hulle ontmoeting met God. Met dagbreek die derde dag verskyn God met donderslae, weerligte en ‘n donker wolk op die berg. Daar was die klank van ‘n ramshoring en die berg het gebewe. En die mense? Hulle het gebewe. Die mense moes na die voet van die berg toe gaan, maar mag nie aan die berg geraak het nie. Die hele berg was gehul in rook. God het in vuur daarheen afgekom. God roep Moses na die top van die berg. Die volk moes nie na Hom gekyk het nie, want dan sou hulle gesterf het. Ook die priesters moes op ‘n afstand bly. Dan sê God vir Moses om af te gaan en vir Aäron te gaan haal. God is besig om vir hom as hoëpriester voor te berei.

 

In die Nuwe Testament is Moses saam met Elia, drie dissipels en Jesus op die berg van verheerliking. Daar was ook ‘n wolk en daar sê God dat Jesus sy geliefde Seun is en dat hulle na Hom moet luister. Om ons na die heiligste plek te lei, het ons ook ‘n Hoëpriester deur God gekies: Jesus Christus. Ook ons moet in ontsag en eerbied staan voor God se heiligheid. As Nuwe Testamentiese gelowiges kan ons deur Jesus Christus in die teenwoordigheid van God kom. Jesus Christus is die Middelaar van die nuwe verbond. Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur (Hebreërs 12:28 – 29). Deur Christus is ons nou op die berg.

 

Moses is toe af na die volk toe om alles vir hulle te gaan sê. Moses en die volk was nou gereed om die tien gebooie te ontvang. Dink altyd aan die heilige God wat hierdie woorde gespreek het. Hy is ontsagwekkend in sy heiligheid en tog verbasend in sy genade. Hy het in vuur afgekom, maar Hy het ons ook op arendsvlerke gered. Sy gebooie is  ‘n goddelike gawe van ‘n genadige God wat red. Moenie die God wat vir ons die tien gebooie gegee het, miskyk nie. Ons God praat. Sien ons ons behoefte aan Hom en sy woord?

 

In die volgende blogs gaan ons na die gebooie self kyk.

 

 

 




Gehoorsaamheid is ons beste getuienis.

 

Tolerance isn’t about not having beliefs. It’s about how your beliefs lead you to treat people who disagree with you – Tim Keller

Gehoorsaamheid is ons beste getuienis.

In Titus 2 gee Paulus raad aan ouer mans, ouer vroue, jonger mans en jonger vrouens. Die raad aan elke groep verskil, maar daar is tog ‘n gemeenskaplike tema: Paulus moedig hulle tot buitengewone gehoorsaamheid aan al word daar na alledaagse dinge verwys.

 

Buitengewone gehoorsaamheid in gewone omstandighede is belangrik.

  1. Ons alledaagse gehoorsaamheid is ons beste getuienis

As ons kyk na die waardes in Titus 2:1 – 6 is daar ‘n paar wat ons vandag as oud-modies sou beskou – dinge soos selfbeheer en onderwerping. Ons mag nog dink dat selfbeheer goed is, maar ons leef dit nie uit nie. Onderwerping? Ons kultuur loof diegene wat hulle harte volg en hulle nie aan konvensies steur nie. Wat dit beteken is dat as mense leef soos Paulus hier aanbeveel, sal die wêreld dit raaksien … en dit aantreklik vind as dit uitgeleef word. Dit is hierdie alledaagse gehoorsaamheid – in ons huwelik en werk en skool – wat God verheerlik en sy genade aan die wêreld demonstreer.

 

  1. Die beste getuienis vir die evangelie gebeur deur die alledaagse

Paulus was ‘n sendeling. Sy lewe was vol dramatiese opofferings. So as hy opdragte aan Titus gee, sou ‘n mens dinge soos “Gee al jou geld weg” of “Verlaat jou huis en gaan verkondig die evangelie oorsee,” verwag. Maar hy hanteer die alledaagse gebeurtenisse by die huis. Jou Christenskap word ten beste gemeet deur daardie verhoudings wat niemand sien nie. Vir baie mense is dit ‘n skrikwekkende gedagte. It is the mark of a hypocrite to be a Christian everywhere but home (Robert Murray M’Cheyne). Wonderbaarlike krag kom deur gewone trou.

 

  1. Buitengewone gehoorsaamheid vloei direk uit die evangelie

Nadat Paulus die voorbeelde van alledaagse gehoorsaamheid genoem het, sê hy: Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.  Dit voed ons op om die goddelike leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te leef (Titus 2:11 – 12). Wat gee aan ons die krag om ‘n goddelike leefwyse te leef? Die genade van God gee aan ons die krag om ons rug op die sonde te draai.

 

Ons moet opwaarts kyk na die heerlikheid van God; ons moet terugkyk na die prys wat Hy vir ons betaal het; ons moet vorentoe kyk na wat Hy met ons wil doen.

 




Die tien gebooie (2)

We cannot embrace the doctrines of grace without embracing the disciplines of grace. —Curtis Woods

Die tien gebooie (2)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

In die vorige blog het ons na die gewer van die tien gebooie gekyk. Daaruit volg twee aspekte wat verder bespreek moet word:

  • Die roeping; en
  • God se heiligheid

Daarna gaan ons volgende keer kyk.

 

  • Die roeping

[Eksodus 19:1 – 6]

Sinai sou Moses aan sy eerste ontmoeting met God in die brandende bos herinner het. Terwyl die mense kamp opslaan, klim Moses teen die berg op. God praat met hom en vertel hom wat om vir die volk te sê: Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra het en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat my as priesters dien en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.

 

Hier stel God die voorwaardes vir die verhouding. God roep hulle (en vir ons) om te glo en gehoorsaam te wees. Eers verlos Hy ons; dan gee Hy sy woord aan ons; dan verwag Hy dat ons tot sy heerlikheid sal leef. Diegene wat glo en sy woord gehoorsaam, sal sy eiendom wees. Die hele aarde behoort immers aan My. Daar is net een God op die hele wêreld. Israel moet God as priesters dien en ‘n gewyde nasie wees. Hulle moet die weë van God se koninkryk aan die ander nasies bekend maak.

 

Presies dieselfde geld vir Christene: Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.  Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is … Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petrus 2:4 – 6, 9). Ons is priesters; ons kan mense in gebed na God toe neem; ons kan God na mense neem in ons getuienis. Dit is ons roeping.

 

In die volgende blog gaan ons na God se heiligheid kyk.

 

 

 




Ek vra om verskoning

 

Many of us cannot reach the mission fields on our feet, but we can reach them on our knees. —T.J. Bach

 

Ek vra om verskoning

Dit klink snaaks, maar baie mense weet nie hoe om om verskoning te vra nie. Ons moet die verskil tussen ‘n opregte, nederige verskoning en bestuur van jou eie beeld ken. Daar is veral vyf foute wat ons maak as ons om verskoning vra.

  • Ek is jammer vir almal

‘n Verskoning word beperk tot die persoon of persone wat direk deur jou verkeerde optrede geraak is. As jy ‘n lidmaat seergemaak het, teken jy nie verskoning teenoor die hele gemeente aan nie, maar spesifiek teenoor daardie lidmaat,

 

  • Ek is jammer vir alles

Vra verskoning vir wat jy verkeerd gedoen het. Die verskoning moet spesifiek wees.

 

  • Ek is jammmer as …

Ek is jammer as my verkeerde gedrag vir jou seergemaak het … Eintlik is dit nie ‘n verskoning nie. Laat jou jammer jou jammer wees – los die as.

 

  • Ek is jammer, maar …

Ek is jammer ek was so onbeskof, maar ek was moeg. Al bevat dit die woordjie jammer is dit nie eintlik ‘n verskoning nie. Sodra jy die woord “maar” byvoeg, is dit nie meer ‘n verskoning nie.

 

  • Ek is jammer … uiteindelik

Geregtigheid wat uitgestel word, is nie meer geregtigheid nie. Net so met ‘n verskoning. Moenie die fout maak deur te lank te wag voor jy ‘n verskoning aanteken nie. Vra so gou as moontlik om verskoning.

 

Op een of ander stadium gaan almal van ons ‘n fout maak en om verskoning moet vra. Vermy hierdie vyf basiese foute.