Hoe moet ons die Briewe van die Nuwe Testament lees?

 

The wilderness is the Oxford and Cambridge of God’s students” – Spurgeon

 

Hoe moet ons die Briewe van die Nuwe Testament lees?

Hierdie is ‘n voortsetting van Mel Lawrenz se reeks oor Understanding the Bible.
In die briewe in die Nuwe Testament lees ons in werklikheid ander mense se pos. Vir 2000 jaar al lees ons die briewe as deel van die Skrif – God se woord vir ons. Terselfdertyd, was die briewe persoonlike skrywes vir spesifieke mense of gemeentes – dikwels in reaksie op spesifieke behoeftes. Ons kan die briewe net verstaan as ons probeer ontdek wat agter hulle woorde lê.

 

Sommige briewe lees soos goed beredeneerde verhandelings – die Brief aan die Romeine. Ander soos 1 en 2 Korintiërs is intiem verbind aan die behoeftes van die gelowiges in die kerk van Korinte. Hulle het oënskynlik aan Paulus geskryf en sekere vrae gevra: Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het (1 Korintiërs 7:1). Hy reageer dan punt vir punt. Vroeër in die brief het hy op sekere mondelinge verslae oor wat in die gemeente aangaan, gereageer.

 

‘n Wye reeks omstandighede het aanleiding tot die skryf van die briewe gegee. Die bedreiging van vals onderrig, vrees oor die einde van die wêreld, verwarring oor die dood, swak leierskap, ens. Sommige briewe kan as slegs bemoediging gesien word; ander (Romeine en Hebreërs) gee ‘n uitgebreide teologiese perspektief. Sommige briewe bekleemtoon ‘n spesifieke teologiese punt soos genade in Galasiërs. Dit gaan oor geloof en gedrag.

 

In baie gevalle het ons agtergrondskennis nodig om die briewe te verstaan. Ons moet iets van slawerny in die eerste eeu weet as ons die Brief aan Filemon wil verstaan. As ons die briewe lees, moet ons verkieslik die indeling in hoofstukke en verse ignoreer en langer gedeeltes lees. As ons ‘n brief van ‘n geliefde kry, lees ons tog nie een paragraaf per dag nie.

 

Om die Bybel in konteks te lees, is ‘n teken van respek vir God? Hoekom? Dan verstaan ons dit beter. Die briewe van die Nuwe Testament is nie aan ons gerig nie, maar hulle is vir ons. Ons moet hulle waardeer.

 

 




Geïrriteerde mense

 

Going through the wilderness was not necessary for Israel’s salvation, but it was necessary for their sanctification – Ryken

 

Geïrriteerde mense

Mense van wie ons hou, is maklik om mee oor die weg te kom. Gewoonlik voel ons beter as ons ‘n tydjie saam met hulle gespandeer het – nie dat hulle ons nie soms kwaad maak en woorde laat sê waaroor ons later spyt is nie. Dit is moeilik om by geïrriteerde mense te wees. Kom ons kyk na enkele kenmerke van hierdie mense.

 

  • Geïrriteerde mense verdedig en is agterdogtig

As ons by hulle is, voel dit gedurig asof ons op dun ys beweeg. Hulle reageer op klein dingetjies; hulle voel dat wat ons sê ‘n aanval op hulle is. Hulle is dikwels agterdogtig oor mense se ware motiewe. Hulle voel dat baie van die gesprekke en gelag op hulle gerig is.

 

  • Geïrriteerde mense se woorde en optrede maak seer

Hierdie mense hou nie terug as hulle hulle menings uitspreek nie – dikwels op ‘n neerhalende manier. Hulle verdedig hulleself deur te sê ander moenie so liggeraak wees nie – dit is tyd dat hulle die waarheid hoor. Hulle besef nie dat die waarheid tog in deernis oorgedra kan word nie. Uiteindelik luister ons nie meer na wat hulle sê nie – ons hoor net die kwetsende woorde.

 

  • Dit is moeilik om geïrriteerde mense lief te hê

Jy gaan nie sommer ‘n turksvy teen jou vasdruk nie. As jy dit nog probeer, sal dit net een maal wees en nooit weer nie. Dit is ‘n uitdaging om geïrriteerde mense lief te hê – na ‘n tydjie gooi ons die handdoek in. Die probleem is dat soos mense hulle van hierdie geïrriteerde mense onttrek, word hulle meer en meer geïrriteerd – niemand hou van my nie.

 

Geïrriteerde mense moet van die dorings probeer ontslae raak. Dit sal jou meer kwesbaar maak en in die proses kan jy seerkry. Maar, aan die ander kant, open dit die moontlikhede vir kwaliteitsverhoudings. Aanvaar hierdie mense; aanvaar hulle pogings om te verander al is dit maar gebrekkig. Onthou iets of iemand is die oorsaak dat hulle so geïrriteerd is.

 




Verlossing en sending (3)

 

Grace is not simply leniency when we have sinned. Grace is the enabling gift of God not to sin. Grace is power, not just pardon. —John Piper

 

Verlossing en sending (3)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

(Eksodus 1 en 2)

God is vasberade om Israel uit die onderdrukking te red. Maar verlossing vereis sending. Ons sending word van God se sending afgelei. In hierdie gedeelte sien ons dat God sy mense van slawerny – polities, sosiaal, ekonomies, geestelik – verlos het. Ons moet hierdie selfde bekommernis met God deel. Ons moet ook op die dringende fisiese en geestelike nood van die mense om ons reageer.

 

  • Gee om vir fisiese behoeftes

Hier kry ons nie net evangelisasie sonder enige sosiale optrede nie. Ons moenie die geestelike nood so beklemtoon dat ons die fisiese nood ignoreer nie. Onthou hierdie was werklike mense verslaaf deur ‘n werklike tiran. Hulle kon nie aanbid as hulle sewe dae ‘n week moes werk nie. Verkondiging is die belangrikste taak van die kerk, maar ons kan nie dade van barmhartigheid en geregtigheid ignoreer nie. Soms kan mense nie ons boodskap hoor voordat hulle van fisiese ongeregtighede vrygestel word nie. Geregtigheid is liefde in die openbaar. As ons mense werklik liefhet sal ons hulle van die evangelie vertel terwyl ons na hulle fisiese behoeftes omsien. Hier is ‘n hele aantal sake van belang:

  • Die Nuwe Testament verplaas nie die fisiese aspekte van die eksodus met geestelike aspekte daarvan nie. Ook in die Nuwe Testament gaan dit oor woord en daad.
  • God het nie verander nie. God is steeds bekommerd oor ware ongeregtigheid. Jesus het die Fariseërs gekritiseer, want hulle het belangrike sake soos barmhartigheid en geregtigheid geïgnoreer (Matteus 23:23). Ons sien God se liefde en geregtigheid aan die kruis. God is regverdig en sy mense moet Hom navolg.
  • Dit is verkeerd om te dink dat wat God vir Israel gedoen het, nie is wat Hy vir ander mense ook sal doen nie. Onthou God het Israel gekies sodat hulle ‘n seën vir ander kan wees. Hy kies hulle en tree op vir hulle sodat ander mense kan weet hoe Hy is. God is altyd teen onderdrukkers. Israel is ‘n model om vir ons daaraan te herinner dat God in hierdie wêreld werk. Israel is ‘n voorbeeld van God se barmhartigheid en geregtigheid vir almal om te sien.
  • Ons moenie die oproep vir sosiale optrede ignoreer nie – die vroedvroue word vir hulle optrede geëer. Hulle tree op as voorbeelde vir ons – ons moet ook die swakkes en kwesbares beskerm.

 

  • Gee om vir geestelike behoeftes

Hierdie gedeelte gaan nie oor sosiale optrede sonder evangelisasie nie. God wou Israel bevry dat hulle Hom kan dien en aanbid. Ons het ‘n geïntegreerde Bybelse model nodig. Dit neem in aanmerking dieselfde breë kommer wat God vir sy mense het. Ons moet evangeliseer om mense van hulle slawebande aan sonde te bevry. Maar ons moet ook vir die onderdruktes veg deur te veg vir geregtigheid.

 

 




Verlossing en sending (2)

 

You can plan for a hundred years, but you don’t know what will happen the next moment – Neem Karoli Baba

 

Verlossing en sending (2)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

(Eksodus 1 en 2)

God is vasberade om Israel uit die onderdrukking te red. Maar wat was God se motief om Israel te verlos?

 

In Eksodus 2:23 – 25 lees ons van God se motief vir die verlossing van Israel. Hierdie gedeelte begin met: Die koning van Egipte het te sterwe gekom. Nou kon Moses na Egipte terugkeer. Ten spyte van ‘n nuwe farao verander die omstandighede van die Israeliete nie: Die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. Hier lees ons hoekom God opgetree het:

  • God weet alles van die onderdruktes. Die Israeliete se geroep gaan op tot God. God hoor dit; Hy het die nood van die Israeliete gesien.  Ons kry God se vermoë om te sien en te hoor dwarsdeur die Skrif. God is bekend met hulle swaarkry. Omdat Hy weet, tree Hy op.
  • God onthou sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy dink aan sy onbreekbare belofte aan hulle. Later, op die regte tyd, dink God weer aan sy verbond om al die nasies deur Israel te seën en stuur vir Jesus. As ons aan God deur Jesus Christus behoort, is ons deel van sy ewige verbond.

 

God se motief om mense te verlos, het nog nie verander nie. God weet alles van almal wat swaarkry en onderdruk word. Maar God onthou ook dat gelowiges deel is van sy nuwe verbond.